Is afluistery hier om te bly?
Dalk luister hulle heimlik na jou gesprekke.
Miskien weet hulle van jou intieme geheime. Het jy planne vir volgende naweek? Hulle weet dalk reeds daarvan. Wie is hulle? Hulle is mense wat dit hulle stokperdjie maak om koordlosetelefoon-gesprekke te monitor. As hulle wil, kan hulle ’n geskrewe verslag hou van inligting soos jou kredietkaartnommer, waar jy werk en jou salaris. Trouens, hulle het dikwels ’n boek waarin hulle die name aanteken van mense wat gereeld koordlose telefone gebruik.
Dalk ken jy hulle, of dalk nie. Hulle kan net ’n paar huise van jou af woon of kilometers daarvandaan. In die meeste lande is daar niks onwettigs in verband met hierdie stokperdjie nie, en dit is heel maklik om dit te beoefen.a
Vir ’n paar honderd rand kan ’n mens ’n aftasradio koop en dit aan ’n buite-antenna koppel. Die aftaster kan seine van ’n groot verskeidenheid draadlose kommunikasieapparate opvang. Party stokperdjieryers verkies om draagbare aftasters te gebruik. Hulle is lig en klein genoeg sodat dit gerieflik is om net in die buurt rond te loop en in te luister.
Onder gunstige atmosferiese toestande kan ’n operateur met ’n aftaster na ’n oproepstelsel van ’n nabygeleë hospitaal, die polisie se radiogesprekke en tuisinterkomstelsels luister. Wanneer draadlose mikrofone gebruik word, soos in party teateropvoerings, kan die seine maklik deur ’n aftaster opgevang word. Party stokperdjieryers is selfs toegerus om gesprekke tot 100 kilometer van hulle af af te luister!
Wat kan jy doen om te verhoed dat hierdie stokperdjieryers met hulle aftasters op jou privaatheid inbreuk maak? As jy jou koordlose telefoon vryelik gebruik, is daar nie veel wat jy kan doen nie. Daar is natuurlik duur toerusting wat telefoonoproepe kan verwar. Maar dit sal vereis dat jy sowel as die mense wat jy bel sulke toerusting het.
Daar is egter een ding wat jy kan doen. Wanneer jou gesprekke vertroulik is, moet jy nie draadlose apparate soos koordlose telefone gebruik nie. En sorg dat die ander party ook hierdie voorsorgmaatreëls tref. Anders sal jou geheime in die lug sweef en iemand sal kan inluister.
Een ding wat jy nie kan doen nie, is om hulle stokperdjie weg te neem. Al maak jy dit vir hulle moeilik om jou af te luister, kan hulle maklik iemand anders vind. Solank mense draadlose apparate koop en dit gebruik om met ander te praat, is hierdie afluisterstokperdjie, reg of verkeerd, hier om te bly!
[Voetnoot]
a In party lande, soos die Verenigde State, is dit onwettig om gesprekke oor sellulêre telefone te monitor, maar nie om gesprekke te monitor wat op ’n koordlose telefoon gemaak word nie.