Van ons lesers
Eetversteurings Hoe wens ek tog my gesin kon “Hoe om diegene met eetversteurings te help” (22 Februarie 1992) jare gelede gelees het. Ek sukkel al 35 jaar lank, vandat ek 9 jaar oud is, met anorexia. Die artikel het die belangrikste kwessies noukeurig en kortliks bespreek. Trouens, julle meld dinge wat my geliefdes eers na jare van voorligting begryp het! Ek weet die artikel sal talle besorgde vriende en gesinslede van mense met eetversteurings help.
C. S., Verenigde State
Ongebore kinders Ek geniet al baie jare lank julle wetenskaplike en natuurartikels. Die artikel “’n Mens begin al in die baarmoeder leer” (22 Januarie 1992) was vir my besonder interessant. Dit is werklik verbasend hoe wonderlik en kompleks die brein is. En die foto van die agt weke oue embrio is asemrowend mooi. Die artikel het my hart gevul met waardering oor hoe wonderlik ek gemaak is!
J. J., Verenigde State
Motorfietse In julle artikel “Motorfietse—Hoe gevaarlik is hulle?” (8 April 1992) raai julle motorfietsryers aan om glimstroke op hulle helms te plak. Hierdie raad kan dodelik wees as die helm, soos dit met baie helms die geval is, van polikarbonaat of soortgelyke stowwe gemaak is. Kleefstowwe en verf val dié materiaal aan sodat dit bros word. Tydens ’n ongeluk kan die helm versplinter en die ryer geen beskerming bied nie. Dit sal raadsamer wees om ’n helm te koop wat reeds helderkleurig is.
S. J. H., Engeland
Ons waardeer hierdie veiligheidswenk. Dit sal verstandig wees om die instruksies van die vervaardiger te lees voordat enige sulke veranderinge aangebring word.—RED.
Ek het die artikel waardeer. Die pa van my drie kinders het onlangs gesterf nadat ’n onderdeel van sy motorfiets gebreek het en olie op die agterste band gemors het. Hy was drie weke lank in ’n koma nadat hy ’n ernstige breinoperasie ondergaan het. Dit is vanselfsprekend dat ek hierdie artikel sal onthou en in die toekoms sal gebruik as my seun ooit motorfiets wil ry.
M. G., Verenigde State
Kakkerlakke Ek lees julle tydskrif al agt jaar lank en wil julle graag prys vir die verskeidenheid artikels wat julle oor huiswerk publiseer. Ek dink veral aan die artikel “Die taai kakkerlak” (22 Januarie 1992). Behalwe dat dit baie goed geskryf is, leer dit ons ook hoe om van hierdie insek ontslae te raak. Ek volg die instruksies en sal binnekort hulle lastige besoeke aan my huis stopsit.
A. F. A. A., Brasilië
Elektroniese afluistery Ek het die artikel “Is afluistery hier om te bly?” (8 Desember 1991) met belangstelling gelees. Maar dit het my omgekrap om uit te vind dat aftasradio’s misbruik word. Dit maak ’n mens werklik kwaad om te dink dat mense ander persone se gesprekke sal afluister. Ek is ’n amateur-radio-operateur en luister dikwels met ’n aftaster na uitsendings vanaf skepe en klein bote. Iemand met ’n aftaster kan iemand wat op see om hulp roep se lewe red. Verduidelik daarom asseblief aan julle lesers dat nie alle mense wat aftasters besit afluisteraars is nie.
R. P., Engeland
Blokkiesraaisel Aangesien die blokkiesraaisel wat in julle nommer van 8 Februarie 1992 verskyn die eerste is wat julle in ’n hele ruk gepubliseer het, wil ek graag verduidelik waarom die blokkiesraaisels so nuttig is. My seun ly aan ’n kwaal wat lees en skryf vir hom moeilik maak. Hy kan egter julle blokkiesraaisels invul. Dit laat hom voel hy verrig iets en het hom gehelp om die volgorde van die Bybelboeke te leer. Soos julle kan sien, is julle harde werk baie nuttig.
C. G., Duitsland