’n Chileense drama laat Christelike liefde gedy
Deur Ontwaak!-medewerker in Chile
DIE noorde van Chili is bekend vir sy droë Atakama-woestyn met sy groot onbewoonde gebiede wat tot op die horison strek. Reën is so ’n ongewone verskynsel dat dít wat die meeste mense mis sou noem in hierdie verlate gebied tussen die Stille Oseaan en die Andesgebergte as reën geklassifiseer word. Vanweë hierdie klimaatstoestande is die meeste huise nie teen reën bestand nie, en selfs waar dit nou en dan reën—miskien een keer elke vyf jaar—doen die meeste mense totdat dit reën nooit die moeite om uit te vind of hulle dak lek nie. Hierdie feit het waarskynlik baie lewens gered in Antofagasta, ’n stad met ongeveer 250000 inwoners.
Maandagaand, 17 Junie 1991, het baie mense gereedgemaak vir ’n nag se rus toe dit hard begin reën het. Baie huise se dakke het gelek, en mense het dus, pleks van te gaan slaap, probeer om lekplekke reg te maak of te keer dat te veel skade aangerig word—hulle het nie gedink dat iets baie ergers binne ’n paar uur sou gebeur nie.
Vroeg die volgende oggend het drie groot modderstrome miljoene tonne grond teen ’n spoed van 30 kilometer per uur verskuif en die lewens van nagenoeg 85 mense geëis, omtrent 700 beseer en die huise van meer as 30 000 vernietig of beskadig!
Angs in ’n see van modder
In Antofagasta is daar tien gemeentes van Jehovah se Getuies met ongeveer 1400 lede, en gevolglik was daar groot besorgdheid oor hulle welstand. Hoe bly was ons om te hoor dat nie een hulle lewe verloor het nie, hoewel een suster ernstige beserings opgedoen het toe sy byna drie kilometer ver deur die modder meegesleur is. Toe die reddingspanne op haar afgekom het, het hulle gedink dat sy dood is, totdat ’n verpleegster opgemerk het dat sy asemhaal en toe sy nader gaan, gehoor het hoe sy roep: “Jehová, Jehová.” Sy het ’n aansienlike hoeveelheid modder gesluk en daarom het hulle haar inderhaas na die hospitaal geneem om haar teen infeksie te behandel.
Die huise van ongeveer 70 persent van die gesinne in die Oriente-gemeente is vernietig of ernstig beskadig. Ander gesinne in die Costanera- en Corvallis-gemeentes se huise is ook ernstig beskadig aangesien die modder in party gebiede dakhoogte bereik het of in die huise ingevloei en die kamers tot 1,5 meter diep met modder gevul het. In een huis het ’n moeder en haar twee jong kinders op hulle bed in ’n see van modder gedryf terwyl die modder hulle stadig na die plafon toe gestoot het; hulle is deur die vrou se vader gered toe hy dit reggekry het om deur die dak te breek. Ander in relatief veilige plekke het gedink dat die einde naby is terwyl hulle na die gedreun van die modderstrome geluister het wat alles in hulle pad vernietig het en terwyl hulle die veraf angsroepe in die koue donkerte van die nag gehoor het.
Iets waardevoller as besittings
Hoewel hulle baie van hulle besittings verloor het, het die Getuies ’n merkwaardige gees geopenbaar. Een Getuie het vertel hoe verbaas haar vriende en kollegas was om te sien hoe opgewek sy was ten spyte van haar groot materiële verlies. Sy het vir hulle gesê dat materiële dinge by die letter z sou staan as hulle volgens hulle belangrikheid in die alfabet geplaas moes word. Sy was bly dat sy die ramp oorleef het en dat sy en haar hele gesin nog geleef het.
’n Ander moeder, wat van haar dogters af weggeskeur is en twee van hulle, asook haar eie lewe, amper verloor het, het vurig tot Jehovah gebid dat sy, as sy vroeg in die opstanding tot die lewe kon terugkeer, as kok wil dien terwyl ander werk om die aarde te herstel! Sy het die ramp oorleef, en waar dink jy is sy gevra om in die daaropvolgende dae te werk? Ja, in ’n kombuis wat die Getuies opgerig het om honderde maaltye te voorsien aan Jehovah se Getuies en bure wat hulle huise verloor het!
Christelike liefde in aksie
Die liefdevolle Getuies in Calama en Iquique het reëlings getref om brood, water, klere en ander noodsaaklike items na Antofagasta te stuur. Die takkantoor van die Wagtoringgenootskap het ook vir hulp gereël, en kort daarna het klere, komberse, beddens, kombuistoerusting, voedsel en ander items begin opdaag. Hoe roerend was dit tog om te sien dat baie items wat geskenk is nie tweedehands of oorskiet was nie, maar splinternuut was! Kort daarna was die Genootskap se twee vragmotors en ’n derde een van Rancagua af met ongeveer 14 ton goedere op pad na Antofagasta, nagenoeg 1400 kilometer na die noorde. Hoewel dit bekend gemaak is dat dit nie meer nodig is om addisionele items te skenk nie, het voorrade steeds opgedaag. Gevolglik moes ’n ekstra vragmotor gehuur word om nog 16 ton goedere te vervoer! Hierdie voorrade is gulhartig met bure gedeel wat nie Getuies is nie.
Hoewel die huis van een Getuie-gesin in een van die gebiede geleë was wat die swaarste getref is, is dit nie erg beskadig nie. Hulle het gou hulle liefde vir hul naaste getoon deur 9 Getuie-gesinne, asook 70 ander bure wat nie Getuies is nie, in hulle huis te ontvang, baie van die mense wat daar opgedaag het, was met modder bedek en het nie ander klere gehad nie. Die Getuies het al die klere en komberse wat hulle gehad het beskikbaar gestel.
Baie mense het van hulle tyd, geld en energie gegee om te help. Hoewel dit vir Chili ’n tragedie van enorme afmetings was, het Jehovah se volk weer eens hulle eenheid en broederlike besorgdheid getoon, en daar is selfs ’n geldelike skenking van so ver as Texas in die Verenigde State ontvang. Een persoon het die noodleniging van twee weke in Antofagasta só opgesom: “Nog nooit het ons ’n byeenkoms van 13 dae gehad met soveel werklike dramas, met soveel blyke van liefde en met soveel broers wat hulle dienste beskikbaar gestel het soos gedurende die afgelope paar dae nie.”