Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 1/8 bl. 23-25
  • Wasji—Japan se antieke handgemaakte papier

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wasji—Japan se antieke handgemaakte papier
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Lang geskiedenis
  • Hoe wasji gemaak word
  • ’n Tradisie wat voortleef
  • Origami—Die kuns om papier te vou
    Ontwaak!—2004
  • Die ontwykende papierlose kantoor
    Ontwaak!—1999
  • Hout wat help om mense wakker te hou!
    Ontwaak!—1990
  • Die ingenieursvernuf van die papierwesp
    Ontwaak!—2012
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 1/8 bl. 23-25

Wasji—Japan se antieke handgemaakte papier

Deur Ontwaak!-medewerker in Japan

WANNEER jy in ’n tradisionele Japannese huis ingaan, loop jy deur ’n netjiese tralieskuifdeur. As jy eers binne is, sal jy moontlik ’n versierde vouskerm sien. In die vertrek sal jy miskien ander versiersels sien, soos poppe, lang rolle papier met skilderwerke of kalligrafie daarop teen die mure, lampskerms en sierlike houers of dose. Hierdie verskillende voorwerpe het almal een ding gemeen—hulle is gemaak van wasji—die veelsydige Japannese handgemaakte papier.

’n Lang geskiedenis

Die Japannese het die papiermaakkuns in die sewende eeu G.J. van China af ingebring. Handgemaakte wasji was meer as duisend jaar lank Japan se enigste papier. In sommige streke het hele dorpies hulle bestaan uit die maak van papier gemaak; party van hulle het uit eie reg bekendheid verwerf vir die hoë gehalte papier wat hulle gemaak het.

Die maak van papier in Japan het teen die tweede helfte van die 19de eeu sy goue tydperk bereik. Ongeveer duisend papierfabrieke het deur die hele land gefloreer. Maar die maak van wasji, asook ander handwerkindustrieë, het met die koms van die industriële omwenteling begin kwyn. Maar die tradisie van handgemaakte wasji word selfs vandag nog in sekere gebiede vir sy kunswaarde beoefen.

Hoe wasji gemaak word

Die Chinese het hulle papier van sy, linne, ou katoenlappe, visnette en die bas van die moerbeiboom gemaak. Die Japannese papiermakers het eers dieselfde bestanddele gebruik. Later het hulle met stowwe geëksperimenteer wat vir hulle vryelik beskikbaar was, soos die binnelaag van die mitsoemata-boom (papiermoerbeiboom) se bas, gampi (’n Japannese bergplant) en selfs bamboes.

Die grondstof moet eers tot ’n veselrige pap verwerk word. Dit is ’n moeisame proses wat deeglik gedoen moet word en wat vereis dat ’n mens die grondstof fynstamp, stoom, skraap, week, afstroop en op ander maniere verwerk. Die pap wat verkry word, word met water gemeng sodat die vesels vryelik bo-op kan dryf.

In ’n tipiese werkswinkel waar gampi gebruik word, hurk vroue om groot houtbalies vol water. Hulle was en skei die gampi-vesels met hulle hande in die water totdat ’n egalige suspensie verkry word.

’n Ander werker laat sak ’n groot, fyn sif wat in ’n stewige houtraam gespan is in hierdie waterige mengsel. Wanneer die raam opgelig word, dreineer die water en bly die fyn vesels op die sif agter en kleef hulle saam om ’n vel wasji te vorm. Die ware deskundige sal ’n mens daarop wys dat ’n goeie vel wasji gemaak word deur die sif verskeie kere in ’n dun mengsel te laat sak pleks van dit in een stap van ’n dik mengsel te maak.

Die sif word dan op ’n groot tafel omgekeer. Die werker neem die kant van die sif wat naaste aan hom is, lig dit versigtig op en laat die nat vel wasji op die tafel agter. Die doopproses word herhaal en ’n nuwe vel word bo-op die eerste een neergelê. Die velle word een vir een gemaak, en spoedig is daar ’n druppende hoop nat papier.

Om te keer dat die velle aanmekaar vassit, word tororo, ’n slymerige stof wat van die wortels van ’n sekere soort hibiskus gemaak word, by die water gevoeg. Die bymiddel verminder ook die vloeibaarheidsgraad van die water, wat dit dus stadiger deur die sif laat dreineer. Dít laat die vesels beter saampak. ’n Ervare wasji-maker kan deur te voel vasstel wanneer die digtheid net reg is.

In die ou dae is velle afsonderlik op ’n blad uitgelê en in die son uitgedroog. Hoewel hierdie metode nog gebruik word, droog die meeste wasji-fabrieke hulle papier uit op verhitte vlekvryestaalplate.

’n Tradisie wat voortleef

Hoewel wasji nie meer die vernaamste skryfpapier in Japan is nie, beklee dit nog sy plek in die kunswêreld. Trouens, daar word dikwels daarna verwys as kunspapier vanweë die talle tradisionele en kunstige papierprodukte wat daarvan gemaak word.

Delikate prentjies van blomme, bome, voëls, landskappe en ander ontwerpe word gemaak deur stroke wasji van verskillende kleure aanmekaar te plak. Houtsnee-afdrukke op wasji deur beroemde Japannese kunstenaars, soos Hirosjige en Hokoesai, is wêreldbekend. Wasji word ook in ’n ander skildervorm genaamd nihonga gebruik. ’n Poeiermengsel van klip en gekleurde glas in ’n waterige pasta word geverf op velle wasji van 1,8 vierkante meter of groter, wat spesiaal vir hierdie soort skilderwerk gemaak is. Hierdie unieke papier word ook gebruik om handsakke, beursies, waaiers, sambrele, vlieërs, lanterns en papierpoppe te maak, asook groter voorwerpe, soos afskortings en skerms. Om belangstelling in hierdie kunsvorm te bevorder, word uitstallings van volkskuns gehou en gee hedendaagse wasji-makers handwerkklasse.

Die goue tydperk van Japannese wasji is nou deel van die geskiedenis. Nogtans leef die tradisie voort om die lewe van mense in ’n besige, gemoderniseerde samelewing te verryk.

[Prente op bladsy 23-25]

Tipiese “wasji”-voorwerpe:

bladsy 23, ontwerp van ’n berg op koevertpapier;

bladsy 24, papierpoppe, eetstokkies wat met “wasji” versier is, asook bladwysers;

bladsy 25, “origami”-voël, waaier en kimonoversiersels

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel