Jongmense vra . . .
Hoe kan ek armoede die hoof bied?
GREGORY, ’n jong man uit Oos-Europa, het homself as taamlik arm beskou. Hy kon nie duur klere of hoëtroustelle bekostig soos sommige Westerse jongmense nie. Gregory het mettertyd gefrustreerd geraak met toestande in sy eie land en het na Oostenryk geïmmigreer.
Duisende kilometer daarvandaan het Loyiso, ’n jong seun van ’n plattelandse dorpie in Suider-Afrika, gewoon. Loyiso, wat saam met sy gesin in ’n hut gewoon het, het die jongmense in ’n nabygeleë dorp beny wat wonderlike “luukshede”—lopende water en elektrisiteit—gehad het.
Vasco, ’n jong man uit Afrika, sou nietemin gedink het dat Loyiso en Gregory ryk is. Vasco, wat deur ’n burgeroorlog in sy omgewing bedreig is, het baie kilometers deur gevaarlike bosgebied in Afrika gestap net om aan die lewe te bly.
“Armoede” is dus ’n relatiewe term, wat verskillende dinge in verskillende lande en kulture beteken. Een Engelse woordeboek definieer “armoede” as enigiets van ’n “nypende tekort aan lewensbenodigdhede tot ’n gebrek aan materiële geriewe”. Hoe arm jy ook al mag wees, dit stem ’n mens tot nadenke wanneer jy besef dat daar waarskynlik ander is wat selfs groter gebrek as jy ly. Dit bring nogtans nie veel vertroosting nie wanneer daar vir jou gesê word dat ander dit slegter het as jy, as jy nie eers ordentlike klere het om skool toe te dra nie of ’n behoefte het aan die basiese dinge soos lopende water.
Die Bybel romantiseer derhalwe nie armoede nie. Dit erken eerder realisties: “Die ondergang van die behoeftiges is hulle armoede” (Spreuke 10:15). Maar ’n vorige artikel het getoon dat ’n jongmens sommige van die slaggate van armoede, soos misdaad, kan vermy.a As jy jou inspan, kan jy ’n gesonde en hoopvolle beskouing van die lewe aankweek. Maar wat is sommige ander maniere waarop ’n mens die daaglikse druk van armoede die hoof kan bied?
Die strik van afguns
“Dit sou nie so erg gewees het as ons almal arm was nie”, kla ’n 17-jarige jong man Zanele uit Afrika. “Maar wanneer jy ander op TV of elders sien wat soveel meer as jy het, is dit moeilik om dit te aanvaar.”
As ’n mens die groot ekonomiese en sosiale kloof in ag neem wat mense vandag verdeel, is dit beslis nie verbasend dat Zanele so voel nie. En as ’n mens dink aan hoe die media skaamteloos met rykdom en materialisme te koop loop, sal jy miskien ook ’n steek van afguns voel wanneer jy sien hoe ryker jongmense lewe (Jakobus 4:5). ’n Duitse spreuk waarsku nietemin: “Afguns verteer net sy eie hart.”—Vergelyk Spreuke 14:30, NW.
Dit is natuurlik nie noodwendig verkeerd om beter lewensomstandighede te wil hê nie. Maar armoede is ’n kenmerk van Satan se verdorwe stelsel van dinge, en net God kan—en gaan—die wêreld se ongeregtighede regstel. As jy in ’n verarmde land woon, is daar miskien nie veel wat jy kan doen om jou situasie te verbeter nie. En selfs al doen geleenthede hulle op ekonomiese gebied voor, moet ’n mens Salomo se woorde in Prediker 4:4 in gedagte hou: “Ek het ook geleer waarom mense so hard werk om sukses te behaal: Dit is omdat hulle die dinge beny wat hulle naaste het. Maar dit is nutteloos. Dit is soos ’n gejaag na wind.”—Today’s English Version.
Wanneer jou doelwit rykdom tot elke prys is, kan jy maklik in die versoeking kom om jou sedelike standaarde prys te gee. Boonop kan omstandighede waaroor jy geen beheer het nie jou swaar verdiende geld vinnig uitput—en jou armer as tevore laat. Spreuke 23:4, 5 waarsku dus: “Vermoei jou nie om ryk te word nie . . . Sou jy jou oë daarop laat afvlieg? Maar weg is dit! want skielik maak dit vir hom vlerke en vlieg soos die arend na die hemel toe!”
Stel vas wat jou bates is
Beteken dit dan dat ’n mens jou eenvoudig aan wanhoop moet oorgee? Beslis nie! ’n Positiewe stap wat jy kan doen, is om jou toe te spits op jou bates en nie op wat jy kortkom nie. Jy het weliswaar miskien min besittings. Maar dr. Tony Lake sê in sy boek Relationships dat “iemand wat finansieel arm is, dalk ander hulpbronne het, soos ’n liefdevolle gesin, vriendelike bure of ’n gelukkige omgewing om in te woon”. Sulke bates is in werklikheid baie waardevoller as geld! ’n Spreuk sê: “Liewer ’n porsie groente waar liefde by is, as ’n vetgevoerde bees en haat daarby” (Spreuke 15:17). Jong Christene het nog ’n waardevolle bate: die hulp van “die broederskap”.—1 Petrus 2:17.
Jy kan miskien ook probeer om jou materiële besittings in ’n positiewer lig te beskou. Jy woon nou weliswaar in ’n eenvoudige, moontlik selfs primitiewe, huis. Jy dra miskien ou, verslete of gelapte klere. En jy smag miskien na ’n interessanter dieet. Maar het jy deftige klere of ’n spoggerige huis nodig om God te behaag? Het jy ryk kos nodig om aan die lewe of gesond te bly? Natuurlik nie! Soos die apostel Paulus gesê het: “As ons voedsel en klere het, behoort dit vir ons genoeg te wees.”—1 Timotheüs 6:8, TEV.
Eldred, ’n Suid-Afrikaanse man wat in ’n arm gesin grootgeword het, sê: “Ons het net aanvaar dat die gesin se begroting knap is en dat ons nie alles kon kry wat ons wou hê nie.” Eldred sê toe sy skoolbroeke verslete geraak het, het sy ma hulle eenvoudig gelap. Mettertyd was daar amper meer lapplekke as oorspronklike materiaal oor! “Ek moes ’n bietjie tergery verduur”, erken Eldred. “Maar die belangrikste was dat ons klere skoon en dienlik was.”
Spaarsaamheid in die huis
Jy kan ook praktiese stappe doen om jou situasie te verbeter. Die Bybel praat van diegene wat onverstandig “hulle geld so vinnig uitgee as wat hulle dit kry” (Spreuke 21:20, TEV). Toon dus dat jy verstandig is deur nie kos, geld of enigiets anders in die huis te mors nie. (Vergelyk Johannes 6:12.) Dobbelary, drankmisbruik, rook—dit is gewoontes wat nie net geld mors nie maar jou ook God se onguns op die hals haal (2 Korinthiërs 7:1). As ander gesinslede in hierdie opsig onverstandig optree, moet jy deur jou eie optrede vir hulle ’n voorbeeld stel.—Vergelyk 1 Timotheüs 4:12.
Nog ’n manier om tot jou gesin se welstand by te dra, is om jou ouers by die huis te help. Bied aan om te help om kos te maak, die huis skoon te maak, herstelwerk en tuinwerk te doen. Dit sal jou ’n bevredigende gevoel gee dat jy iets bereik.
Ekstra inkomste
Sommige jongmense dra regstreeks by tot die gesin se inkomste deur deeltydse werk te doen. Loyiso, wat vroeër gemeld is, het groente verkoop; hy het die groente op ’n stukkie grond agter sy huis gekweek. Die vars opbrengs het ook gehelp om sy gesin te voed. “Wie sy land bewerk, het volop brood”, sê Spreuke 28:19. Loyiso het gevind dat hierdie woorde waar is.
Sommige jongmense neem die inisiatief om klere, kos en vuurmaakhout te verkoop. Ander doen eenvoudige huishoudelike herstelwerk of werk as boodskapjonges en kinderoppassers.
Skool en armoede
Volgens die 1989 Britannica Book of the Year het talle armer jongmense gemeen dat hulle “nie veel sal bereik deur op skool te bly nie”. In baie lande is onderwysfasiliteite dikwels beknop en swak toegerus. En wanneer jongmense swak werkgeleenthede opweeg teen sommige van die vinnige maar onwettige maniere om geld te maak, verloor party alle begeerte om skool te gaan.
’n Gebrek aan opvoeding versterk egter net die greep van armoede. Dit verg dalk selfdissipline, maar die verstandigste besluit is om op skool te bly! Beskou die Howrah-stadsgebied, ’n krotbuurt in Kalkutta, Indië. Dáár woon 800-000 mense in volslae armoede. Die meeste van die kinders doen nederige werk gedurende die dag; tog gaan baie van hulle aandskool toe om skoolopleiding te kry. Al is dit dus moeilik om skool toe te gaan, moet jy nie tou opgooi nie. ’n Skoolopleiding kan jou help om kommunikasie- en denkvermoëns te ontwikkel—vaardighede wat jou eendag kan help om werk te kry.
Vestig jou oë op die toekoms
“Rykes en armes ontmoet mekaar, die HERE het hulle almal gemaak” (Spreuke 22:2). Daardie feit het duisende jong Getuies van Jehovah al gehelp om armoede met welslae die hoof te bied. Hulle besef dat geluk nie van ’n mens se materiële besittings afhang nie, maar van jou vriendskap met Jehovah God, wat almal aanvaar wat hom wil dien—of hulle nou ryk of arm is. God bied die hoop op lewe in ’n toekomstige nuwe wêreld wat vry sal wees van nypende armoede.—2 Petrus 3:13; Openbaring 21:3, 4.
Intussen moet jy jou bates verstandig gebruik. Hou jou oë op die toekoms gevestig. Maak geestelike skatte bymekaar (Mattheüs 6:19-21). Beskou die manier waarop jy armoede te bowe kom as ’n uitdaging—een wat jy met welslae die hoof kan bied.
[Voetnoot]
a Sien ons nommer van 22 Januarie 1992.
[Prente op bladsy 26]
Om wense te koester, sal nie jou situasie verbeter nie, maar harde werk op skool kan