Jongmense vra . . .
Wat moet ek doen as my gesin arm is?
DIE plakkersdorp in Suid-Afrika waar George grootgeword het, wek nie aangename herinneringe by hom nie. “Ons het in ’n tipiese mukhukhu-huis gebly—net ’n sinkpondokkie met twee kamers”, sê hy. Hy het een van die kamers met sy agt broers en susters gedeel. Gedurende die wintermaande het hy die winterwind getrotseer om water te gaan haal by die enkele kraan wat die hele gemeenskap bedien het. “Maar wat ek die minste daarvan kon verdra om arm groot te word”, sê George, “was om te sien hoe my pa hom afsloof net om ons aan die lewe te hou. Ek was verbitterd omdat dit gelyk het of daar geen uitweg is nie.”
Ekonomiese ontberings is ’n leefwyse in ontwikkelende lande. En selfs in welvarende Westerse lande is daar skokkende getalle arm mense. Miskien is jy een van hulle. Dit voel miskien vir jou of jy, soos George, in armoede vasgevang is. Hoewel sulke gevoelens begryplik is, kan hulle jou op maniere laat optree wat die probleme van armoede kan vererger pleks van dit te verlig.
Die lokval van ontsnapping
’n Verstommende aantal arm jongmense probeer aan die pyn van armoede ontsnap deur hulle sinne met drank en dwelms te verdoof. Navorser Jill Swart sê die straatkinders in een stad in Suider-Afrika “asem nie gomdampe in net vir die genot daarvan nie. Hulle gebruik dit om . . . aan koue, eensaamheid en honger te ontsnap.”
Maar hoe voel hierdie jongmense wanneer hulle weer by hulle sinne kom en die dwelmvlug verby is? Jill Swart het simptome gedokumenteer, soos “hewige depressie”, “aggressie”, “skielike luimveranderings”, “verswakte gesigsvermoë” en ’n menigte ander fisiese kwale wat beslis nie as gesonde “ontsnapping” aan armoede beskryf kan word nie.
Die wyse koning Salomo het gesê: “’n Drinker . . . sal arm word, en slaperigheid laat stukkende klere dra” (Spreuke 23:21). Dit sal nie die probleem laat verdwyn as ’n mens aan die werklikhede van armoede probeer ontsnap deur jou geestestoestand met alkohol, gom of dwelms te verander nie. (Vergelyk Spreuke 31:7.) Soos Maria, ’n 16-jarige meisie uit ’n arm enkelouergesin in Suid-Afrika, gesê het: “Om aan die werklikheid te probeer ontsnap, veroorsaak meer probleme as wat dit oplos.” Daarbenewens dryf die hoë koste daarvan om sulke dodelike gewoontes te onderhou ’n mens dieper in die armoede in. Alleenlik wanneer ’n arm jongmens sy situasie vierkant onder die oë sien, kan hy hoop om dit te bowe te kom.
Woede en frustrasie
Aangesien baie jongmense woede ervaar omdat hulle in armoedige omstandighede vasgevang is, gee hulle uiting aan hierdie woede deur geweld, vernielsug, diefstal en ander vorme van jeugmisdaad. The World Book Encyclopedia sê dat sulke jongmense dit beskou as die “enigste manier om aan verveeldheid, armoede en ander probleme te ontsnap”. George, wat vroeër gemeld is, sê dat sommige van sy portuurs woede en frustrasie ervaar het en by bendes aangesluit het wat die buurt geterroriseer het. Hy sê verder dat “hulle hoofsaaklik gebaklei en gesteel het om aan die lewe te bly”. Nog ander jongmense probeer om armoede die hoof te bied deur by winsgewende onwettige bedrywighede betrokke te raak, soos om dwelms te verkoop of daarmee te smokkel.
Maar pleks van armoede te verlig, vererger misdaad sake net. Energie wat vir nuttige bedrywighede gebruik kan word—soos om ’n nuttige vaardigheid of vak aan te leer—word verkwis. In plaas van sy situasie te verbeter, stel die weerspannige jongmens hom eenvoudig aan verdere fisiese en emosionele trauma bloot. Party jongmense beland in die tronk—of verloor hulle lewe weens geweld. Soos koning Salomo gewaarsku het: “Armoede en skande is vir hom wat die tug verwerp.”—Spreuke 13:18.
Hulpeloos en wanhopig
Voortdurende gevoelens van nutteloosheid en minderwaardigheid is miskien die skadelikste spore wat armoede op ’n jongmens kan afdruk. Die intensiteit van armoede het vir baie enige hoop vernietig om hulle lewenstandaard op enige gebied te verbeter. The World Book Encyclopedia sê dat jongmense dikwels “dieselfde gevoelens van hulpeloosheid en wanhoop ontwikkel as wat hulle ouers ontwikkel het”. Uiteindelik kan ’n “kultuur van armoede” intree, waarvan die slagoffers hulle in ’n leeftyd van ellende berus.
Maar sal dit jou situasie verbeter as jy jou oorgee aan gevoelens van hulpeloosheid en wanhoop? Nee! Dit laat die bose kringloop van armoede in werklikheid net voortduur. Soos ’n ou spreuk dit gestel het: “Wie op die wind ag gee, sal nie saai nie; en wie na die wolke kyk, sal nie oes nie” (Prediker 11:4). As ’n boer net die negatiewe moontlikhede sou raaksien—die wind wat sy saad kan wegwaai of die reën wat sy gesaaides kan klam maak—sal hy nie die nodige stappe doen nie. Jy kan insgelyks alle pogings om jouself te verbeter verydel as jy jou aandag net op negatiewe gevoelens toespits.
Koning Salomo het dus verder hierdie raad gegee: “Saai jou saad in die môre, en laat teen die aand jou hand nie rus nie; want jy weet nooit watter een sal geluk nie” (Prediker 11:6). Ja, tree liewer positief op as om deur ’n vrees vir mislukking of ’n gevoel dat dinge hopeloos is, gekortwiek te word! Daar is dinge wat jy kan doen om jou te help om negatiewe gevoelens geleidelik met positiewe gevoelens te vervang.
Bou selfrespek op
Beskou die 11-jarige James. Hy woon saam met sy ma en sy suster in ’n plakkerskamp naby Johannesburg. Hulle besit amper geen materiële dinge nie. James help elke naweek as vrywilliger met die bou van ’n plaaslike Koninkryksaal van Jehovah se Getuies. Dit neem nie alleen tyd in beslag wat andersins stadig sou verbygaan nie, maar dit laat hom ook voel dat hy iets bereik. James sê met ’n breë glimlag: “Na ’n dag van saalbou het ek hierdie diep gevoel van tevredenheid hierbinne!” Al is hierdie jongmens so arm het hy steeds waardevolle bates: tyd en energie.
Nog ’n nuttige bedrywigheid is die Bybelopvoedkundige werk wat van huis tot huis gedoen word (Mattheüs 24:14). Talle jong Getuies van Jehovah neem gereeld aan daardie werk deel. Deur dit te doen, gee hulle nie alleen vir ander ’n hoop op ’n beter lewe in die toekoms nie, maar hulle versterk hulle eie gevoelens van selfrespek, eiewaarde en waardigheid. ’n Mens maak weliswaar nie geld daaruit as jy sulke werk doen nie. Maar dink aan die boodskap wat Jesus Christene in die eertydse gemeente van Smirna gegee het. Hulle was op materiële gebied taamlik arm, maar vanweë hulle diep geestelikheid kon Jesus vir hulle sê: “Ek ken jou werke en verdrukking en armoede—maar jy is ryk.” Omdat hulle daadwerklik geloof in Jesus se vergote bloed beoefen het, sou hulle uiteindelik die grootste rykdom verkry wanneer hulle die kroon van die ewige lewe ontvang.—Openbaring 2:9, 10.
Dit is nie maklik om arm groot te word nie. Daar is nietemin geen rede om skaam, hulpeloos of wanhopig oor jou situasie te voel nie. Armoede bestaan omdat “die een mens heers oor die ander tot sy ongeluk” (Prediker 8:9). Die bewyse is daar dat God binnekort die administrasie van die aarde se aangeleenthede gaan oorneem en dat hy armoede en die verwoestende gevolge daarvan gaan verwyder (Psalm 37:9-11). Sy Seun, Christus Jesus, sal miljarde mense in die aardse Paradys inlei, net soos hy aan die bedroefde kwaaddoener beloof het wat geloof in hom uitgespreek het terwyl hulle sterwend aan die teregstellingspale gehang het (Lukas 23:43, NW). Daar is nietemin talle praktiese dinge wat jy intussen kan doen om armoede te bowe te kom. Dit sal in ’n volgende nommer bespreek word.
[Venster op bladsy 20]
‘Ek het deur armoede vasgevang gevoel’
George was ’n jong man in Afrika wat baie graag op skool wou bly en sy basiese opvoeding wou voltooi. Hy het gemeen as hy dít doen hy ’n werk sou kon kry wat goed betaal en wat hom en sy gesin uit armoede sou verlos. Maar dinge het nie so uitgewerk nie. Sy gesin het in so ’n ernstige geldnood beland dat George, na net ses jaar op skool, verplig gevoel het om die skool te verlaat en te gaan werk. Hy het eindelik werk gekry waar hy kratte vir ’n bottelary gemaak het en net 14 rand per week verdien het. Sy hele loon is gebruik om sy gesin te onderhou.
“Hoewel ek deur armoede vasgevang gevoel het”, sê George, “het ek besef dat dit glad nie sou help as ek by ’n bende aansluit of steel om aan die lewe te bly nie. Vandag is baie van diegene in my ouderdomsgroep wat dit gedoen het óf hopelose mislukkelinge wat aan drank en dwelms verslaaf is, óf hulle is in die tronk. Party is selfs dood as gevolg van hulle lewenstyl.”
Toe het George met Jehovah se Getuies in aanraking gekom. “Een van die eerste dinge wat ek opgemerk het”, sê George, “was dat almal by die Christelike vergaderinge beleef met my kom gesels het.” Hy voeg by: “Ek het geleidelik die vertroue en selfrespek gekry wat ek voorheen nie gehad het nie.” George het ook baie vertroosting geput uit Bybeltekste soos Psalm 72:12, 13 wat sê: “Want hy [die Messiaanse Koning] sal die behoeftige red wat daar roep om hulp . . . Hy sal hom ontferm oor die arme en behoeftige, en die siele van die behoeftiges sal hy red.” Die Bybel se beloftes het hom met hernieude belangstelling en hoop in die lewe vervul.
As jy George vandag sien, sal jy nooit raai watter stryd dit vir hom was om sy gevoelens van hulpeloosheid en wanhoop in ’n positiewe beskouing te verander nie. Hy is gelukkig getroud en dien nou as presiderende opsiener in ’n gemeente van Jehovah se Getuies in Soweto.
[Prente op bladsy 19]
Dit is baie beter om jou tyd en energie te gebruik om iets lonends te doen as om jouself aan gevoelens van wanhoop oor te gee