Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 3/8 bl. 3-6
  • Die soektog na speserye, goud, bekeerlinge en roem

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die soektog na speserye, goud, bekeerlinge en roem
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die droom neem vorm aan
  • Die reis na die onbekende
  • Ontdekking en teleurstelling
  • Die verlore paradys
  • Die ware Nuwe Wêreld wag om ontdek te word
    Ontwaak!—1992
  • ’n Botsing van kulture
    Ontwaak!—1992
  • Goud—die geheimsinnige bekoring daarvan
    Ontwaak!—1998
  • Besluite wat vastelande verdeel het
    Ontwaak!—2015
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 3/8 bl. 3-6

Die soektog na speserye, goud, bekeerlinge en roem

“TIERRA! Tierra!” (Land! Land!) Hierdie jubelende uitroep het op 12 Oktober 1492 die stilte van die nagwaak verbreek. ’n Matroos op die Pinta het die dowwe silhoeët van ’n eiland gewaar. Die eindelose reis van die skepe Santa María, Pinta en Niña is eindelik met sukses bekroon.

Met dagbreek het Columbus, sy twee kapteins en ander amptenare aan wal gestap. Hulle het God gedank en die eiland in die naam van Spanje se monarge, Ferdinand en Isabella, in besit geneem.

Columbus se droom is bewaarheid. Hy het nou daarna uitgesien om goud te ontdek (die goue neusringe van die inboorlinge het nie onopgemerk verbygegaan nie) en seëvierend na Spanje terug te keer. Die westelike roete na Indië was syne, het hy gedink, en die frustrasie van die afgelope agt jaar kon vergeet word.

Die droom neem vorm aan

Aan die einde van die 15de eeu was daar in Europa ’n groot aanvraag na twee handelsartikels: goud en speserye. Goud was nodig om weeldeartikels uit die Ooste te koop, en speserye uit die Ooste het eentonige maaltye gedurende die lang wintermaande smaaklik gemaak. Europese handelaars wou direkte toegang hê tot lande waar sulke handelsware verkry kon word.

Die Portugese handelaars en seevaarders was besig om ’n handelsmonopolie met Afrika tot stand te bring, en hulle het uiteindelik ’n roete via Afrika en die Kaap die Goeie Hoop na die Ooste gevind. Terselfdertyd het die Italiaanse seevaarder Columbus se kop weste toe gestaan. Hy het geglo dat die kortste roete na Indië en sy gesogte speserye oor die Atlantiese Oseaan was.

Agt vermoeiende jare lank het Columbus van die een koninklike hof na die ander gegaan voordat hy eindelik die steun van Spanje se koning en koningin verkry het. Op die ou end het sy vaste oortuiging geseëvier oor skeptiese heersers en onwillige matrose. Die twyfelaars het hulle redes gehad. Columbus se projek was nie sonder gebreke nie, en hy het vermetel daarop aangedring dat hy benoem word tot “Groot Admiraal van die Oseaan” en tot lewenslange goewerneur van alle lande wat hy sou ontdek.

Maar dit was hoofsaaklik sy berekenings wat die besware ontlok het. Teen daardie tyd het die meeste geleerdes nie die feit betwis dat die aarde rond is nie. Die vraag was: Hoe groot is die oseaangedeelte wat Europa en Asië van mekaar skei? Columbus het gemeen dat Cipango, of Japan—waarvan hy gelees het in die verslag van Marco Polo se reis na China—sowat 8000 kilometer wes van Lissabon, Portugal, gelê het. Hy het Japan gevolglik in die gebied geplaas wat nou as die Karibiese See bekend staan.a

Koninklike kommissies in Spanje sowel as in Portugal het Columbus se onderneming as onverstandig afgemaak, hoofsaaklik weens die feit dat Columbus te optimisties was wat sy skatting van die afstand tussen Europa en die Verre-Ooste betref het. Die moontlikheid dat daar ’n groot vasteland tussen Europa en Asië kon wees, het blykbaar by niemand opgekom nie.

Maar Columbus, wat die ondersteuning van vriende in die Spaanse hof geniet het, het deurgedruk, en gebeurtenisse het in sy guns verloop. Die moontlikheid dat die Ooste tot die Katolieke geloof bekeer kon word, was aanloklik vir koningin Isabella van Kastilië, ’n vurige Katoliek. Toe Granada in die lente van 1492 deur die Katolieke heersers verower is, het Katolisisme die godsdiens van die hele Spanje geword. Dit het gelyk of die tyd ryp is om geld te waag op ’n onderneming wat op godsdiensgebied sowel as op ekonomiese gebied groot voordele kon inhou. Columbus het die koninklike toestemming verkry en die kontant wat hy nodig gehad het.

Die reis na die onbekende

’n Klein vloot van drie skepe is sonder versuim in gereedheid gebring, en op 3 Augustus 1492 het Columbus uit Spanje vertrek met ’n bemanning van altesaam sowat 90 man.b Nadat hulle hulle voorraad in die Kanariese Eilande aangevul het, het die skepe op 6 September weswaarts na “Indië” toe vertrek.

Dit was ’n moeilike reis vir Columbus. Verwagtinge is gewek en dan weer verydel deur gunstige en ongunstige winde. Ondanks die feit dat hulle soms seevoëls gesien het, was daar steeds niks op die westelike horison sigbaar nie. Columbus moes sy matrose se moreel voortdurend versterk met beloftes van land en rykdom. Toe hulle, volgens Columbus se “persoonlike berekening”, sowat 3200 kilometer op die Atlantiese Oseaan uit was, het hy die syfer 2819 kilometer vir die skip se stuurman gegee. Toe het hy in die skip se logboek geskryf: “Ek het nie hierdie syfer [3413 kilometer] aan die manne gegee nie, omdat hulle bang sou word as hulle besef het dat hulle so ver van die huis af is” (The Log of Christopher Columbus, vertaal deur Robert H. Fuson). Dit was baie keer net sy onverfloude vasbeslotenheid wat verhinder het dat die skepe terugdraai.

Terwyl die dae verbygekruip het, het die matrose al hoe rusteloser geword. “Die manne is ontevrede oor my besluit, want hulle hou aan om te murmureer en te kla”, het Columbus geskryf. “Ondanks hulle knorrigheid het ek vasbeslote weswaarts voortgeseil.” Teen 10 Oktober, na meer as ’n maand op see, het die klagtes op al drie skepe toegeneem. Die matrose is net tot bedaring gebring deur Columbus se belofte dat hy sou omdraai as hulle nie binne drie dae land bereik nie. Maar toe hulle die volgende dag ’n groen takkie vol blomme uit die see gehaal het, is hulle geloof in hulle admiraal herstel. En toe die son die volgende dag (12 Oktober) opkom, was ’n tropiese eiland met sy welige plantegroei ’n lus vir die oë van die seemoeë matrose. Hulle epogmakende reis het aan sy doel beantwoord!

Ontdekking en teleurstelling

Die Bahamas was idillies. Die naakte inboorlinge, het Columbus geskryf, was “frisgeboude mense, met mooi liggame en baie mooi gesigte”. Maar nadat hulle twee weke lank die tropiese vrugte geniet het en goedere met die vriendelike inwoners uitgeruil het, het Columbus verder gegaan. Hy was op soek na goud, die vasteland Asië, bekeerlinge en speserye.

’n Paar dae later het Columbus Kuba bereik. “Ek het nog nooit enigiets gesien wat so pragtig is nie”, het hy opgemerk toe hy op die eiland aan wal gegaan het. Vroeër het hy in sy logboek geskryf: “Ek is nou seker dat Kuba die Indiese naam vir Cipango [Japan] is.” Hy het dus twee verteenwoordigers afgevaardig om die khan (die heerser) te gaan spreek. Die twee Spanjaarde het nie goud of Japannese gevind nie, hoewel hulle verslae teruggebring het van ’n eienaardige gewoonte onder die inboorlinge, die gewoonte om tabak te rook. Columbus was nie ontmoedig nie. “Daar is ongetwyfeld baie goud in hierdie land”, het hy homself verseker.

Die odyssee het voortgeduur, hierdie keer ooswaarts. Hy het ’n groot bergagtige eiland naby Kuba ontdek wat hy La Isla Española (Hispaniola) genoem het. En uiteindelik het die Spanjaarde ’n redelike hoeveelheid goud gevind. Maar ’n paar dae later het ’n ramp hulle getref. Sy vlagskip Santa María het op ’n sandbank gestrand en kon nie weer vlot gemaak word nie. Die inboorlinge het die bemanning gewillig gehelp om alles moontlik te red. “Hulle het hulle naaste lief soos hulleself, en hulle het die sagste en vriendelikste stemme in die wêreld en hulle glimlag altyd”, het Columbus gesê.

Columbus het besluit om ’n klein nedersetting op Hispaniola te vestig. Vroeër het hy onheilspellend in sy logboek geskryf: “Hierdie mense is baie onbedrewe met wapens. . . . Met 50 manne kan jy almal onderwerp en hulle laat doen wat jy wil hê.” Hy het ook ’n godsdienstige kolonisasie in die vooruitsig gestel: “Ek het groot vertroue in Onse Heer dat U Hoogheid hulle almal tot die Christelike godsdiens sal bekeer en hulle almal aan u sal behoort.” Nadat die nedersetting gevestig is in ’n plek wat hy La Villa de la Navidad (Die Stad van die Geboorte) genoem het, het Columbus besluit dat hy en die res van sy manne inderhaas met die nuus van hulle groot ontdekking na Spanje moes terugkeer.

Die verlore paradys

Die Spaanse hof was verheug toe die nuus van Columbus se ontdekking hulle eindelik bereik het. Hy is oorval met eerbewyse en is aangemoedig om ’n tweede ekspedisie so gou moontlik te organiseer. Intussen het Spaanse diplomate sonder versuim opgetree om van die Spaanse pous, Alexander VI, die reg te verkry om al die lande wat Columbus ontdek het te koloniseer.

Die tweede ekspedisie, in 1493, was ’n ambisieuse ekspedisie. ’n Vloot van 17 skepe het meer as 1200 koloniste gedra, waaronder priesters, boere en soldate—maar geen vroue nie. Die bedoeling was om die nuwe lande te koloniseer, die inboorlinge tot Katolisisme te bekeer, en natuurlik sou enige goud of speserye wat hulle dalk ontdek het baie welkom wees. Columbus wou ook sy soektog na die seeweg na Indië voortsit.

Hoewel hulle nog eilande ontdek het, waaronder Puerto Rico en Jamaika, het die frustrasie toegeneem. La Navidad, die oorspronklike kolonie in Hispaniola, is uitgedun deur hewige gevegte onder die Spanjaarde self, en toe is dit feitlik heeltemal uitgewis deur die eilandbewoners wat woedend was oor die hebsug en onsedelikheid van die koloniste. Columbus het ’n beter plek gekies vir ’n groot, nuwe kolonie en toe sy soektog na die roete na Indië voortgesit.

Nadat hulle nie daarin kon slaag om om Kuba te vaar nie, het hy besluit dat dit die vasteland Asië—miskien Maleia—moes wees. Soos The Conquest of Paradise sê, het Columbus “besluit dat die hele bemanning onder eed moet verklaar dat die kus waarlangs hulle gevaar het . . . geensins die kus van ’n eiland was nie maar dat dit in werklikheid ‘die vasteland van die begin van Indië’ was”. Toe hy na Hispaniola terugkeer, het Columbus gevind dat die nuwe koloniste hulle nie beter gedra het as die vorige koloniste nie, en dat hulle die vroue verkrag het en slawe van die seuns gemaak het. Columbus het self die vyandigheid van die inboorlinge vererger deur 1500 van hulle bymekaar te maak, waarvan 500 as slawe per skip na Spanje gestuur is; hulle het almal binne ’n paar jaar gesterf.

Nog twee reise na die Wes-Indiese Eilande het Columbus se rykdom nie juis vermeerder nie. Goud, speserye en die seeweg na Indië het hom ontwyk. Maar die Katolieke Kerk het sy bekeerlinge gekry, kom wat wil. Columbus se administratiewe vermoëns was nie so goed soos sy talente as seevaarder nie, en sy swak gesondheid het hom outokraties en selfs wreed gemaak teenoor dié wat hom mishaag het. Die Spaanse heersers was verplig om hom met ’n bekwamer goewerneur te vervang. Hy het die oseane oorwin, maar het op land die onderspit gedelf.

Kort nadat hy sy vierde reis voltooi het, het hy in die ouderdom van 54 gesterf, ’n ryk maar verbitterde man wat steeds volgehou het dat hy die seeweg na Asië ontdek het. Dit sou aan die nageslag oorgelaat word om die ewigdurende eer aan hom te bewys waarna hy sy hele lewe lank so gesmag het.

Maar die roetes wat hy vasgestel het, het die weg gebaan vir die ontdekking en kolonisasie van die hele Noord-Amerikaanse vasteland. Die wêreld het drasties verander. Sou dit ten goede wees?

[Voetnote]

a Hierdie fout was die gevolg van twee groot misrekenings. Hy het geglo dat Asië se grondgebied baie verder oos gestrek het as wat dit wel strek. En hy het ook onwetend die omtrek van die aarde met 25 persent verminder.

b Daar word geskat dat die Santa María ’n bemanning van 40 gehad het, die Pinta 26 en die Niña 24.

[Kaart/Prent op bladsy 6]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

COLUMBUS SE ONTDEKKINGSREIS

SPANJE

AFRIKA

Atlantiese Oseaan

VERENIGDE STATE

Bahamas

Kuba

Hispaniola

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel