Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 3/8 bl. 7-10
  • ’n Botsing van kulture

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Botsing van kulture
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die verloop van die handel
  • Nuwe gewasse en nuwe voedselsoorte
  • Rassisme en onderdrukking
  • Godsdienskolonisasie
  • Anders, maar nie heeltemal nuut nie
  • Die soektog na speserye, goud, bekeerlinge en roem
    Ontwaak!—1992
  • Besluite wat vastelande verdeel het
    Ontwaak!—2015
  • ’n Nuwe boodskap vir ’n Nuwe Wêreld
    Ontwaak!—1994
  • Die ware Nuwe Wêreld wag om ontdek te word
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 3/8 bl. 7-10

’n Botsing van kulture

SOWAT vyfhonderd jaar gelede was Spaanse diplomate in ’n klein dorpie in die hartland van Kastilië in ’n woordestryd met hulle Portugese eweknieë gewikkel. Teen 7 Junie 1494 is hulle verskille uitgestryk en is ’n formele verdrag—die Verdrag van Tordesillas—gesluit. Vandag praat honderde miljoene mense in die Westelike Halfrond Spaans of Portugees as gevolg van daardie ooreenkoms.

Die verdrag het pouslike bulle van die vorige jaar, waardeur die onontdekte wêreld tussen die twee Iberiese lande verdeel word, opnuut bevestig. ’n Noord-suid lyn is “[1 850 kilometer] wes van die Kaap-Verdiese Eilande” vasgestel. Spanje kon die lande wat wes van daardie lyn ontdek is (Noord- en Suid-Amerika, met uitsondering van Brasilië) en Portugal al die lande oos daarvan (Brasilië, Afrika en Asië) koloniseer en bekeer.

Nadat hulle die pouslike seën ontvang het, het Spanje en Portugal—met ander Europese lande kort op hulle hakke—met hulle planne begin om die oseane en daarna die wêreld te beheer. Vyftig jaar nadat die verdrag gesluit is, is seeroetes oor die oseane vasgestel, die vernaamste kontinente met mekaar verbind en het afgeleë koloniale ryke begin ontstaan.—Sien venster, bladsy 8.

Hierdie ontdekkingsontploffing het verreikende gevolge gehad. Handel- en landboustelsels is totaal hervorm, die rasse- en godsdiensgrense van die wêreld is ook verander. Maar dit was goud wat gebeure aan die gang gesit het.

Die verloop van die handel

Columbus het gelyk gehad. Die goud was wel daar, hoewel hy self baie min gevind het. Kort voor lank het galjoene ontsaglike hoeveelhede gesteelde Amerikaanse goud en silwer na Spanje begin vervoer. Die rykdom was egter kortstondig. Die invloeiing van groot hoeveelhede edele metale het rampspoedige inflasie veroorsaak, en die surplus aan geredelik verkrygbare geld het die Spaanse nywerheid gekniehalter. Aan die ander kant het die goud uit die Amerikas die groeiende internasionale ekonomie ’n hupstoot gegee. Geld was beskikbaar om eksotiese goedere te koop, wat deur skepe heen en weer van die uithoeke van die wêreld vervoer is.

Teen die einde van die 17de eeu kon ’n mens Peruaanse silwer in Manila, Chinese sy in Mexikostad, goud uit Afrika in Lissabon en Noord-Amerikaanse pelse in Londen kry. Toe weeldeartikels eers die weg gebaan het, is stapelprodukte soos suiker, tee, koffie en katoen in immer toenemende hoeveelhede oor die Atlantiese en Indiese Oseaan vervoer. En eetgewoontes het begin verander.

Nuwe gewasse en nuwe voedselsoorte

’n Mate van dank kan aan Inka- en Asteekse boere gaan vir Switserse sjokolade, Ierse aartappels en Italiaanse pizza. Sjokolade, aartappels en tamaties is net drie van die nuwe produkte wat in Europa aangekom het. Dikwels het dit ’n ruk geduur voordat die nuwe smake, vrugte en groente ingang gevind het by mense, hoewel Columbus en sy bemanning van die begin af entoesiasties oor pynappels en patats was.—Sien venster, bladsy 9.

Sommige gewasse uit die Ooste, soos katoen en suikerriet, het gewilde gewasse in die Nuwe Wêreld geword, terwyl die Suid-Amerikaanse aartappel eindelik in baie Europese huishoudings ’n belangrike voedingsbron geword het. Hierdie uitruiling van gewasse het nie net voorsiening gemaak vir ’n groter verskeidenheid in die internasionale kookkuns nie; dit het ’n drastiese verbetering in voeding meegebring, wat in die 19de en 20ste eeu tot die ontsaglike groei van die wêreldbevolking bygedra het. Maar die landbourevolusie het ook ’n skadusy gehad.

Rassisme en onderdrukking

Die koloniste kon ryk word uit die nuwe kontantgewasse, soos katoen, suiker en tabak, mits hulle genoeg goedkoop arbeid gehad het om hulle grond te bewerk. En die inboorlingbevolking was die vanselfsprekende bron van mannekrag.

Die blanke koloniste het die inboorlinge bloot as diere beskou wat kan praat, ’n vooroordeel wat gebruik is om die feit te regverdig dat hulle in werklikheid slawe was. Hoewel ’n pouslike bul van 1537 tot die gevolgtrekking gekom het dat die “Indiane” inderdaad “werklike mense met ’n siel” is, het dit min gedoen om ’n einde aan die uitbuiting te maak. Soos ’n onlangse Vatikaanse dokument sê, “het rassediskriminasie met die ontdekking van Amerika begin”.

Wrede behandeling, asook die verspreiding van “Europese siektes”, het die bevolking grootliks uitgedun. Volgens sommige skattings het dit binne ’n tydperk van honderd jaar met tot 90 persent afgeneem. In die Karibiese See-gebied is die inboorlinge byna heeltemal uitgewis. Toe die plaaslike mense nie meer gedwing kon word om te werk nie, het die landhere elders na sterk, gesonde plaaswerkers gaan soek. Die Portugese, wat reeds goed gevestig was in Afrika, het met ’n bose oplossing gekom: die slawehandel.

Weer eens het rassevooroordeel en hebsug geweldig baie lyding veroorsaak. Teen die einde van die 19de eeu het konvooie slaweskepe (meestal Britse, Nederlandse, Franse en Portugese slaweskepe) moontlik al meer as 15 miljoen slawe uit Afrika na die Amerikas vervoer!

Dit is nie verbasend nie dat talle Amerikaanse inboorlinge weens die rassisme wat met die ontdekking van Amerika deur die blankes gepaardgegaan het diep gegrief gevoel het. ’n Indiaan van Noord-Amerika het gesê: “Columbus het nie die Indiane ontdek nie. Ons het hom ontdek.” Die Mapuche-Indiane van Chili maak eweneens beswaar dat ‘daar nie werklik ’n ontdekking of ’n geloofwaardige bekering was nie, maar eerder ’n skending van hulle erfgebied’. Soos hierdie opmerking aandui, was godsdiens nie sonder skuld nie.

Godsdienskolonisasie

Die godsdiens- en politieke kolonisasie van die Nuwe Wêreld het hand aan hand gegaan.a Sodra ’n gebied verower is, is die inboorlingbevolking verplig om Katoliek te word. Soos Katolieke priester en geskiedskrywer Humberto Bronx verduidelik: “Aanvanklik het hulle sonder mondelinge onderrig gedoop, in werklikheid met geweld. . . . Heidense tempels is in Christenkerke of kloosters omskep; afgode is deur kruise vervang.” Dit is nie verbasend nie dat sulke arbitrêre “bekering” ’n vreemde vermenging van Katolieke en tradisionele godsdiens wat vandag nog bestaan tot gevolg gehad het.

Ná die verowering en “bekerings” is gehoorsaamheid aan die kerk en sy verteenwoordigers streng afgedwing, veral in Mexiko en Peru waar die Inkwisisie ingestel is. Sommige opregte geestelikes het teen die onchristelike metodes beswaar gemaak. Dominikaanse ordebroeder Pedro de Córdoba, ’n ooggetuie van die kolonisasie van die eiland Hispaniola, het die situasie só betreur: “Met sulke goeie, gehoorsame en sagmoedige mense dink ek dat ’n kerk gestig kan word wat net so goed is soos die oorspronklike kerk, as daar maar net predikers sonder die krag en geweld van hierdie jammerlike Christene onder hulle kon ingaan.”

Anders, maar nie heeltemal nuut nie

Sommige beskou die ontdekking, kolonisasie en bekering van Amerika as ’n “botsing tussen twee beskawings”. Ander beskou dit as “uitbuiting”, terwyl ’n paar dit ronduit as “verkragting” veroordeel. Hoe dit ook al beskou mag word, dit was ongetwyfeld die begin van ’n nuwe tydperk, ’n tydperk van ekonomiese groei en tegnologiese ontwikkeling, al was dit ten koste van menseregte.

Dit was die Italiaanse seevaarder Amerigo Vespucci wat in 1505 die term die “Nuwe Wêreld” geskep het om die nuwe vasteland te beskryf. Baie aspekte was ongetwyfeld nuut, maar die fundamentele probleme van die Ou Wêreld het ook in die Nuwe Wêreld voorgekom. Die vrugtelose pogings van so baie Spaanse oorwinnaars om die legendariese eldorado, ’n plek van goud en oorvloed, te vind, toon dat die mens se strewe nie bevredig is met die ontdekking van ’n nuwe vasteland nie. Sal dit ooit bevredig word?

[Voetnoot]

a Die begeerte om die Nuwe Wêreld te bekeer, is selfs gebruik om militêre geweld te regverdig. Francisco de Vitoria, ’n vooraanstaande Spaanse teoloog van die dag, het aangevoer dat, aangesien die pous die Spanjaarde toestemming gegee het om die evangelie in die Nuwe Wêreld te verkondig, hulle die reg gehad het om teen die Indiane oorlog te voer om daardie reg te verdedig en te bevestig.

[Venster op bladsy 8]

Columbus, voorloper van die eeu van ontdekking

GEDURENDE die 50 jaar ná Columbus Amerika ontdek het, het die wêreldkaart heeltemal verander. Spaanse, Portugese, Italiaanse, Franse, Nederlandse en Engelse matrose, wat nuwe roetes na die Ooste gesoek het, het nuwe oseane en nuwe vastelande ontdek. Teen 1542 was net die vasteland van Australië en Antarktika nog nie ontdek nie.

Suid-Amerika Eers het Columbus en kort daarna Ojeda, Vespucci en Coelho die kuslyn van Sentraal- en Suid-Amerika in kaart gebring (1498-1501).

Noord-Amerika Cabot het Newfoundland in 1497 ontdek, en Verrazano het in 1524 die Ooskus van Noord-Amerika ontdek.

Vaart rondom die wêreld Magelaan en Elcano, wat ook die Filippynse Eilande ontdek het ná ’n epiese reis oor die uitgestrekte Stille Oseaan (1519-1522), was die eerste mense wat om die wêreld gevaar het.

Die seeweg na Indië via die Kaap die Goeie Hoop Nadat Vasco da Gama om die suidpunt van Afrika gevaar het, het hy in 1498 in Indië aangekom.

Die Verre-Ooste Portugese seevaarders het Indonesië teen 1509, China teen 1514 en Japan in 1542 bereik.

[Venster/Prent op bladsy 9]

Plante wat die wêreld se spyskaarte verander het

DIE ontdekking van Amerika het ’n omwenteling in die wêreld se eetgewoontes teweeggebring. Die Ou Wêreld en die Nuwe Wêreld het teen ’n vinnige tempo gewasse uitgeruil, en baie plante wat deur die Inkas en die Asteke gekweek is, is nou van die wêreld se belangrikste gewasse.

Die aartappel. Toe die Spanjaarde in Peru aangekom het, was die aartappel die grondslag van die Inkas se ekonomie. Die aartappel het ook in die Noordelike Halfrond gefloreer, en binne twee eeue het dit die hoofvoedsel van baie Europese lande geword. Sommige geskiedkundiges skryf selfs die vinnige bevolkingsgroei wat met die industriële omwenteling in Europa gepaardgegaan het toe aan hierdie nederige maar voedsame knol.

Die patat. Columbus het op sy eerste reis patats vir die eerste keer gesien. Hy het gesê hulle lyk amper soos “groot wortels” en “smaak net soos kastaiings”. Die patat is nou ’n hoofvoedsel van miljoene mense in ’n groot gedeelte van die aarde.

Mielies. Die verbouing van mielies was vir die Asteke so belangrik dat hulle dit as ’n simbool van die lewe beskou het. Tans is mielies naas koring die gewas wat wêreldwyd die meeste aangeplant word.

Die tamatie. Die Asteke sowel as die Majas het die xitomatle (wat later tomatl genoem is) verbou. Teen die 16de eeu is die tamatie in Spanje en Italië gekweek, waar gazpacho, pasta en pizza gunstelinggeregte geword het. Ander Europeërs is egter eers teen die 19de eeu daarvan oortuig dat dit heilsame eienskappe besit.

Sjokolade. Sjokolade was die Asteekse heerser Montezuma II se gunstelingdrank. Toe Cortés in Mexiko aangekom het, was die kakaobone waaruit sjokolade gemaak is so hoog aangeskryf dat hulle as geld gebruik is. In die 19de eeu, toe suiker en melk bygevoeg is om die smaak te verbeter, het sjokolade as ’n drankie sowel as ’n peuselhappie in soliede vorm ’n internasionale treffer geword.

[Prent]

Aankoms van Columbus in die Bahamas, 1492

[Erkenning]

Courtesy of the Museo Naval, Madrid, (Spain), and with the kind permission of Don Manuel González López

[Prent op bladsy 7]

Copy of the Treaty of Tordesillas.

[Erkenning]

Courtesy of Archivo General de Indias, Sevilla, Spain

[Prent op bladsy 10]

Mexikaanse slagoffers van die Katolieke Inkwisisie

Mural entitled “Mexico Through the Centuries,” original work by Diego Rivera.

[Erkenning]

National Palace, Mexico City, Federal District, Mexico

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel