Kerk se belydenis openbaar diepe verdeeldheid
“EK BELY voor u en voor die Here nie net my eie sonde en skuld . . . nie, maar—plaasvervangend—waag ek dit ook om dit in die naam van die NG Kerk te doen.” Professor Willie Jonker, ’n vername predikant van die NG Kerk, het op 6 November 1990 by Rustenburg hierdie opsienbarende openbare belydenis voor ’n nasionale kerkeberaad gedoen. En na watter sondes het professor Jonker verwys? Na “die politieke, maatskaplike, ekonomiese en strukturele onregte wat . . . gepleeg is” as gevolg van die Suid-Afrikaanse apartheidsbeleid.
“Ek voel vry om juis dit te doen”, het die professor voortgegaan, “want die NGK het op sy pas afgelope Sinode apartheid tot sonde verklaar en sy eie skuld bely.” Maar die wydverspreide reaksie op professor Jonker se belydenis dui daarop dat baie kerkgangers sterk verskil met hulle kerk se verklarings oor apartheid.
Die rede vir die geskil is dat die NG Kerk van Suid-Afrika, wie se lidmate hoofsaaklik wit Afrikaners is, al lank met apartheid geassosieer word.
Maar in Oktober 1986 het die kerksinode ’n dramatiese beleidsverandering gemaak deur te verklaar dat kerklidmaatskap oop is vir alle rasse en dat die kerk verkeerd was om die apartheidsbeleid te probeer regverdig deur die Bybel te gebruik. In 1990 het die sinode boonop verklaar dat die kerk “hom al baie vroeër duidelik van dié siening [moes] gedistansieer het” en dat dit ‘sy versuim erken en bely’.
Professor Jonker se belydenis het ’n geskil ontketen, wat ’n diepe verdeeldheid in die kerk se siening oor apartheid openbaar. Trouens, die skeuring kom blykbaar voor op alle vlakke van die kerk, van die lekedom tot by die voormalige voorsitter van die Algemene Sinode. In reaksie op professor Jonker se belydenis het Willie Potgieter, ’n predikant van die NG Kerk, gemeen dat dit “ongevoelig [is] om skielik so ’n ding te doen”. Hy het gesê dat byna die helfte van sy gemeente apartheid steeds as ’n Christelike model beskou wat kan werk.
Dit is verstaanbaar dat baie lidmate van die NG Kerk ontsteld is oor hierdie verdeeldheid. ’n Ontevrede lidmaat het aan ’n Johannesburgse koerant, Beeld, geskryf: “Dit is tyd dat ons . . . op ons knieë gaan en om vergifnis smeek vir ons sondige verdeeldheid en al die lelike dinge wat ons van mekaar sê.”
Maar dit is onwaarskynlik dat so ’n versoening sal plaasvind. Die NG Kerk is ook nie die enigste kerk in Suid-Afrika wat met sulke verdeeldheid geteister word nie. Die getwis van hierdie sogenaamde Christene staan beslis in skerp kontras met die liefde en eenheid wat volgens Jesus ’n kenmerk van sy ware volgelinge sou wees.—Johannes 17:20, 21, 26; vergelyk 1 Korinthiërs 1:10.