Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 4/8 bl. 10-12
  • Motorfietse—Hoe gevaarlik is hulle?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Motorfietse—Hoe gevaarlik is hulle?
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die grootste aantrekkingskrag
  • ‘Moet ek ’n motorfiets ry?’
  • Goeie oordeel
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1992
  • Hulle was oortuig van Jehovah se liefde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1992
  • My lewe het net om myself gedraai
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 4/8 bl. 10-12

Motorfietse—Hoe gevaarlik is hulle?

Deur Ontwaak!-medewerker in Japan

SOESOEMOE het onverstoord op sy veldfiets gery toe hy skielik ’n motor voor hom sien inry. Die volgende ding wat hy gesien het, was ’n huis se dak toe hy deur die lug geskiet is. Hy het op sy kop en skouers geland. ’n Kraak in die middel van sy helm het verraai hoe erg die botsing was. Hy het die ongeluk oorleef, maar sy been is gebreek en heeltemal omgebuig.

Soesoemoe se ongeluk is nie uniek nie. The Globe and Mail van Kanada sê dat 166 000 Amerikaners in een jaar weens motorfietsongelukke in hospitale opgeneem is. “Van hulle het 4 700 gesterf. Baie ander is vermink.” Dieselfde bron sê dat motorfietsongelukke in Kanada oor ’n tydperk van tien jaar verdubbel het. En in 1989 het 2 575 motorfietsryers in Japan hulle lewe verloor. Buiten bromfietsryers was meer as 70 persent van diegene wat gesterf het jongmense tussen die ouderdom van 16 en 24.

Hoe vergelyk hierdie syfers met motorongelukstatistiek? Versekeringsmaatskappye beweer dat die sterftesyfer oor dieselfde afstand in sommige lande ongeveer nege keer so hoog is vir motorfietsryers as vir mense wat in ’n motor ry. Wat veroorsaak hierdie hoër sterftesyfer? Consumer Reports verskaf drie redes: (1) Dit is moeiliker om ’n motorfiets raak te sien as ’n motor. (2) ’n Motorfiets bied min of geen beskerming aan sy ryer nie. (3) Dit verg vernuf om ’n motorfiets te hanteer—as hy gly, val ’n mens maklik. Dit is geen wonder nie dat baie mense meen motorfietse is gevaarlik. Ander stem nie saam nie. Hulle sê dat dit voordele inhou om ’n motorfiets te ry. Wat dink jy?

Dit is weliswaar moeilik om ’n ekonomieser vervoermiddel as die motorfiets te kry. Die motorfiets is bekend vir sy brandstofbesparing. Consumer Reports sê ’n mens kan met ’n middelslagmotorfiets 25 tot 30 kilometer per liter brandstof aflê. Daarbenewens het ’n motorfiets net twee bande. Ander voordele is: dit hanteer maklik in verkeer, daar is geen parkeerprobleme nie en dit kos baie minder as ’n motor. Maar daar is nogtans mense wat ’n motorfiets verkies al kan hulle dit bekostig om ’n duur motor te ry. Waarom?

Die grootste aantrekkingskrag

Die meeste motorfietsliefhebbers erken dat die opwinding wat met motorfietsryery gepaardgaan die grootste aantrekkingskrag van motorfietse is. “Miskien is dit die geluid wat hulle maak”, sê ’n motorfietsentoesias. Die diep gebrul van ’n Engelse tweesilinder, die skril gefluit van ’n Japannese tweeslagenjin of die egalige gebrom van ’n groot meersilinder-vierslagenjin—almal is soos strelende musiek in motorfietsliefhebbers se ore.

Vir ander motorfietsryers is dit die gevoel van vryheid en beheer. Een sê: ‘Dit is opwindend om daardie masjien onder jou te voel en te weet dat dit op elke gier of impuls van jou sal reageer, om skuins te lê om die draaie en te weet dat jy daarop kan vertrou om jou by jou bestemming te bring.’ Hierdie kombinasie van klank, spoed en vryheid hou dalk vir jou ook bekoring in. Maar daar bestaan ’n gevaar. ’n Mens kan aan hierdie opwinding verslaaf raak.

Jongmense veral verkeer in gevaar. “Jy voel bang wanneer jy ’n skerp draai sien”, sê ’n voormalige lid van ’n motorfietsbende, “maar dit is opwindend wanneer jy teen ’n hoë spoed om die draai gaan sonder om te gly. Ek het altyd vir nog skerper draaie gesoek en nog vinniger om hulle gegaan.” Josjio, wat versot was op motorfietsryery, sê: “Ek het gery, of dit nou gereën het en of die son geskyn het, omdat dit my goed laat voel het. Dit was vir my soos ’n dwelmmiddel.” En Soesoemoe, wat vroeër gemeld is, sê: “Ek het nie omgegee of dit my sou doodmaak of nie—ek moes net ry.” Hy het dus weer gery selfs voor die gips van sy gebreekte been verwyder is. Hy erken: “Ek was verslaaf.”

‘Moet ek ’n motorfiets ry?’

Wanneer jy dit dus oorweeg om ’n motorfiets te ry, moet jy hierdie aspekte van bekoring en veiligheid teen mekaar opweeg. En as jy ’n Christen is wat waarde heg aan ’n rein gewete en wat die Bybel respekteer, is daar ook verskeie tekste wat jy in ag sal wil neem.

Spreuke 6:16-19 noem byvoorbeeld sewe dinge wat Jehovah haat. Een van hulle is “hande wat onskuldige bloed vergiet”. ’n Wet wat aan die eertydse nasie van Israel gegee is, vertel ons meer oor Jehovah se beskouing van die vergieting van onskuldige bloed. Die wet lui: “As die bees tevore al stoterig gewees het en sy baas gewaarsku was, maar dit nie opgepas het nie, en dit ’n man of ’n vrou doodmaak, moet die bees gestenig word, en sy baas moet ook gedood word” (Exodus 21:29). Met ander woorde, ons is aanspreeklik vir ons besittings.

As jy dit dus oorweeg om ’n motorfiets aan te skaf, moet jy jou afvra hoe jy dit sal hanteer en watter soort motorfiets jy sal kies. Sal jy een van die kragtige, potensieel gevaarlike motorfietse kies wat vir hoë snelhede ontwerp is en dikwels by noodlottige ongelukke betrokke is? Sal jy, indien dit die geval is, vry van bloedskuld wees as jy in ’n ongeluk betrokke is? Al beseer jy niemand anders nie, wat van jou eie lewe? Sal jy respek vir die gawe van die lewe toon as jy net vir die opwinding daarvan om gevaarlike draaie jaag?

Hierdie beginsel geld ook vir die instandhouding van jou motorfiets, as jy een het of een koop. Jou motorfiets kan as ’t ware in ’n ‘stoterige bees’ verander as jy nie die remme in ’n goeie toestand hou nie. Daarbenewens behoort jy die ketting en die enjin na te gaan elke keer voordat jy die motorfiets ry. En wat van die oorlas wat jy vir jou bure is wanneer jy roekeloos bestuur en ’n geraas maak?

As jy ’n motorfietsentoesias is, hou jy heel moontlik van die geluid van die fiets se enjin, maar nie almal voel soos jy daaroor nie. Trouens, vir sommige mense is die geluid só irriterend dat hulle met geweld daarop gereageer het. Die koerant Nara Sjimboen sê dat een ontstoke man in Japan ’n verbygaande motorfiets met ’n stuk hout gegooi het. Die ryer, ’n 16-jarige motorfietsbendelid, het gesterf. Nog ’n persoon, sê die koerant Asaji Sjimboen, het ’n tou gespan oor ’n pad waar motorfietsbendes dikwels ry. Die tou het ’n jong motorfietsryer teen sy nek gevang en hy het verwurg. En toe die koerant sy lesers gevra het om te sê wat hulle dink van die geraassteurnis wat motorfietse veroorsaak, het sommige lesers gesimpatiseer met diegene wat só teen die motorfietsryers opgetree het.

Die Bybel veroordeel natuurlik sulke gewelddadige optrede. Maar aan die ander kant moet motorfietsryers nie ander irriteer deur met motorfietse sonder geluiddempers deur woongebiede te ry, soos motorfietsbendes soms doen nie. Per slot van rekening behoort ons almal te wil lewe volgens die wet wat Jesus Christus aan sy volgelinge gegee het: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”—Mattheüs 22:39.

Goeie oordeel

Beteken dit dat jy nie ’n motorfiets moet ry nie? Nee, maar goeie oordeel is nodig. Vir baie mense is ’n motorfiets ’n bekostigbare, gerieflike en aangename manier om te kom waar jy wil wees. Maar in sommige lande gebruik mense motorfietse meestal vir ontspanning. Dit kan genotvol wees, maar ’n mens moet versigtig wees. Moenie toelaat dat ’n voorliefde vir spoed en krag die oorhand oor jou gesonde oordeel kry nie.

Sommige wat nét vir hulle motorfiets gelewe het, het veranderinge in hulle lewe aangebring. Die belangrikste ding in hulle lewe is nou om God te behaag. Josjio het byvoorbeeld kragtige motorfietse gery. Vandag sê hy: “Toe ek vir opwinding gery het, het ek net myself behaag. Nou smaak ek die vreugde van mededeelsaamheid deur as ’n Christenbedienaar te dien.” Aangesien Josjio weet dat hy hom nie kan beheers as hy eers op ’n motorfiets klim nie, het hy nie sy lisensie hernieu nie.

’n Voormalige lid van ’n motorfietsbende in Hokkaido, Japan, sê: “Ek het motorfiets gery om aandag te trek. Ek het dwelmmiddels gebruik as gevolg van slegte omgang met motorfietsbendelede.” Maar hy het oor die toekoms begin dink. Hy het verskillende godsdiensgroepe ondersoek en uiteindelik die waarheid gevind deur die Bybel saam met Jehovah se Getuies te bestudeer.

En wat van Soesoemoe? Dit is nie meer vir hom die belangrikste ding in sy lewe om ’n motorfiets te ry nie. Soesoemoe, asook die twee motorfietsentoesiaste wat vroeër genoem is, dien nou as voltydse Christenbedienaars. Een van hulle het sy kragtige motorfiets vir ’n bromfiets verruil en gebruik dit om Bybelwaarhede aan ander te verkondig.

Ja, die motorfiets kan ’n doeltreffende vervoermiddel wees, maar dit moet te alle tye met versigtigheid en met respek vir ander se gevoelens gebruik word.

[Venster op bladsy 12]

VEILIGHEIDSWENKE VIR DIEGENE WAT WEL ’N MOTORFIETS RY

▪ Ry uiters versigtig: Dit verg vernuf en baie goeie koördinasie om te stuur, te versnel en te rem.

▪ Vermy die middel van enige baan: Dit is waar afvalstowwe en olie wat van motors drup, opgaar.

▪ Dra die regte klere: Sorg dat jy ’n helm dra. Handskoene, ’n baadjie en stewels sal jou ook beskerm.

▪ Ry altyd met jou voorlig aan: As verkeerswette in jou land dit toelaat, moet jy dit selfs in die dag doen. Motoriste sal jou makliker kan raaksien.

▪ Plak glimstroke op jou helm: Dit maak jou snags meer sigbaar.

▪ Bestuur op ’n verdedigende manier: Moenie verwag dat motorbestuurders jou in ag sal neem nie.

▪ Moenie ’n motorfiets ry wanneer jy onder die invloed van alkohol of dwelms is nie

▪ Kies ’n motorfiets wat jy kan hanteer

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel