Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 4/22 bl. 4-7
  • Die soektog na ’n doel

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die soektog na ’n doel
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die soektog na ’n doel
  • Wat maak die lewe sinvol?
  • Frustrasies en teleurstellings
  • Wie kan vir ons sê?
    Wat is die doel van die lewe—Hoe kan jy dit vind?
  • Streef ’n sinvolle doel in die lewe na
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Die ware doel van die lewe
    Ontwaak!—1992
  • Het die lewe ’n doel?
    Wat is die doel van die lewe—Hoe kan jy dit vind?
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 4/22 bl. 4-7

Die soektog na ’n doel

SEDERT Charles Darwin se tyd het bioloë geweldige druk op mense uitgeoefen om die teorie te aanvaar dat die lewe, as gevolg van evolusie, basies sinloos is. Maar baie verwerp hierdie teorie instinktief. ’n Jong getroude paartjie wat na hulle pragtige pasgebore baba kyk, sal moeilik glo dat hierdie nuwe lewe sinloos is. Vir hulle is dit ’n wonderwerk, iets wonderliks wat hulle lewe verryk.

Selfs party wetenskaplikes stem nie saam dat die lewe ’n sinlose ongeluk is nie. Waarom nie? As gevolg van dit wat The Encyclopedia Americana “die buitengewone graad van kompleksiteit en organisasie in lewende skepsele” noem. Die Americana sê voorts: “Blomme, insekte of soogdiere toon by nadere ondersoek ’n amper ongelooflik presiese rangskikking van dele.”

In die lig van sulke kompleksiteit en pragtige organisasie—wat selfs in die eenvoudigste lewende skepsele gesien kan word—is hierdie woorde van die Suid-Afrikaanse wetenskaplike dr. Louw Alberts in die Cape Times aangehaal: “Dit verskaf my meer intellektuele bevrediging om te aanvaar dat daar ’n God is as om net te aanvaar dat dit [die lewe] per toeval ontstaan het.” Wat die chemiese samestelling van lewende organismes betref, het die Britse sterrekundige sir Bernard Lovell geskryf: “Die moontlikheid dat . . . ’n toevallige gebeurtenis tot die ontstaan van een van die kleinste proteïenmolekules gelei het, is ondenkbaar klein. . . . Dit is in werklikheid nul.”

Sterrekundige Fred Hoyle het in ’n soortgelyke trant geskryf: “Die hele raamwerk van die ortodokse biologie meen nog dat die lewe toevallig ontstaan het. Maar namate biochemici al hoe meer oor die ontsagwekkende kompleksiteit van die lewe ontdek, is dit duidelik dat die kanse dat dit per toeval ontstaan het so klein is dat dit heeltemal buite rekening gelaat kan word. Die lewe kon nie per toeval ontstaan het nie.”

Wat beteken dit? As die lewe nie per ongeluk ontstaan het nie, moes dit ontwerp gewees het. En as dit die geval is, moes dit ’n Ontwerper gehad het. En wat ’n Ontwerper! Die psalmis het tereg gesê: ‘Op ’n vreesinboesemende wyse is ek wonderbaar gemaak’ (Psalm 139:14, NW). Maar hoe raak dit die kwessie of die lewe ’n doel het of nie?

Wel, mense ontwerp en maak ook dinge. Hulle vervaardig straalvliegtuie. Hulle rig olieraffinaderye op. Hulle rig elektriese kragsentrales op. En hulle maak tallose ander dinge wat van groter of kleiner kompleksiteit is. Maar mense ontwerp en bou nie sulke ingewikkelde dinge sonder ’n rede nie. Alles word met ’n spesifieke doel gemaak.

Aangesien niks wat mense al ooit gemaak het met die ontsagwekkende kompleksiteit van lewende dinge vergelyk kan word nie, sou die Ontwerper van die lewe beslis nie lewe geskep het sonder dat hy die een of ander doel in gedagte gehad het nie. Dit is die opperste dwaasheid om te glo dat ons “wonderbaar gemaak” is en toe sonder leiding en rigting en sonder ’n doel laat staan is.

Die soektog na ’n doel

Die feit dat die Skepper mense geskep het om ’n doel te verwesenlik word ook sterk ondersteun deur die feit dat ons as mense instinktief ’n doel in ons lewe soek. Gilbert Brim, ’n sielkundige, het gepraat oor ’n mens se instinktiewe behoefte aan ’n doel toe hy gesê het: “Baie mense vind geleenthede om persoonlik te ontwikkel, asook uitdagings, in hulle werk. Maar diegene wat nie kan nie, sal spesiale uitdagings en sukses op ander gebiede soek: deur gewig te verloor, die sesyster-hou op ’n afdraand te bemeester, die volmaakte omelet te bak of avontuur te soek—hetsy dit hangswewery is of om te eksperimenteer met kossoorte waarmee hulle onbekend is.” Psigiater Viktor Frankl het selfs gesê: “Die strewe om sin in ’n mens se lewe te vind, is die vernaamste dryfkrag in die mens.”

Kom ons bespreek ’n paar doelwitte wat mense vir hulle in die lewe stel.

Wat maak die lewe sinvol?

Toe een jong tiener gevra is wat haar doel in die lewe is, het sy gesê: “My droom is net om ’n mooi woonstel, ’n mooi motor en ’n oulike ou vir die motor te hê. Ek stel net in my eie begeertes belang. In my lewe is ék die belangrikste. Ek wil dit hê wat mý gelukkig sal maak, nie dit wat die hele gemeenskap gelukkig sal maak nie.” As jy dink dat dit selfsugtig klink, is jy reg. Dit is. Maar ongelukkig is hierdie gesindheid niks ongewoons nie.

Maar bevredig die uitsluitlike strewe na materiële dinge en plesier die behoefte aan ’n sinvolle lewe? Nee. Wanneer plesier ons enigste doelwit is, is plesier onbevredigend. Mense wat plesier die belangrikste doelwit in die lewe maak, stem gewoonlik uiteindelik in hulle hart saam met die woorde van ’n ryk eertydse koning wat sy mag en rykdom gebruik het om verskeie aspekte van plesier wat destyds beskikbaar was op die proef te stel. Luister na die slotsom waartoe hy gekom het:

“Ek het vir my ook silwer en goud versamel, en ’n eiendom van konings en provinsies; ek het vir my sangers en sangeresse verskaf en die genoeëns van die mensekinders: lieflinge in menigte. . . . En kyk, dit was alles tevergeefs en ’n gejaag na wind.”—Prediker 2:8, 11.

Baie verkry bevrediging uit ’n loopbaan of deur hulle verstandelike of liggaamlike krag te gebruik om skynbaar lonende doelwitte te bereik. Maar na ’n rukkie voorsien ’n loopbaan nie heeltemal in die behoefte daaraan om ’n doel in die lewe te hê nie. Peter Lynch, wat as ’n “beleggingsgenie” beskryf word, het sy winsgewende loopbaan prysgegee toe hy besef het dat daar iets belangriks in sy lewe ontbreek het. Wat was dit? Sy verhouding met sy gesin. Hy het erken: “Ek het baie gehou van dit wat ek gedoen het, maar ek, asook ander, het tot ’n slotsom gekom: Waarom . . . doen ons dit? Ek weet van niemand wat op sy sterfbed gewens het dat hy meer tyd op kantoor deurgebring het nie.”

’n Tienermeisie het dus ’n mate van balans getoon toe sy oor haar doelwitte in die lewe gedink en gesê het: “Een van my drome is om ’n loopbaan te hê. Maar ek dink my grootste droom is om ’n gelukkige gesin te hê.” Ja, ons gesin kan die lewe sinvol en doelgerig maak. ’n Jong getroude vrou het gesê: “Ek het baie vroeg in my lewe besef dat ouerskap by die mens ingebore is, dat dit een van die dinge is wat die lewe sinvol maak, en ek het dit nooit bevraagteken nie.”

Ander soek na ’n doel in die lewe deur ander dinge na te strewe. Party—onder wie daardie wetenskaplikes wat beweer dat die lewe ’n sinlose ongeluk is heel waarskynlik tel—vind ’n doel deur kennis na te strewe. Evolusionis Michael Ruse het geskryf: “Ons het ’n dors na kennis, en dit verhef ons bo die diere. . . . Een van ons grootste behoeftes en pligte is om al die wysheid van die verlede, asook ons ywer en ons suksesse, aan ons kinders oor te dra. . . . Die soektog na kennis, en die suksesse, is een van die voortreflikste eienskappe van die menslike natuur.”

Sommige vind dat dit hulle lewe sinvol maak wanneer hulle hulle vir ’n saak beywer. Hulle beywer hulle vir die bewaring van skaars diersoorte. Of hulle trek te velde teen besoedeling en die vernietiging van die omgewing. Mense wat vir ander omgee, veg vir die regte van kinders of beywer hulle vir die dakloses of die armes. Of hulle beywer hulle daarvoor om die toename in dwelmverslawing te voorkom. Sulke mense doen dikwels baie goeie werk, en wat hulle doen, maak hulle lewe sinvol.

Frustrasies en teleurstellings

Maar ons moet erken dat mense dikwels gefrustreerd raak wanneer hulle doelwitte nastrewe, al is die doelwitte die moeite werd. Ouers wat hulle kinders met baie liefde en moeite grootmaak, verloor hulle partykeer as gevolg van ongelukke, misdaad, siekte of dwelmverslawing. Of wanneer die kinders grootword, kan hulle deur die selfsugtige gees van hierdie wêreld beïnvloed word en beantwoord hulle nie hulle ouers se liefde nie.

Diegene wat onselfsugtig werk om die omgewing te verbeter word dikwels gefrustreer deur kommersialisme of deur die feit dat ander net nie omgee nie. Diegene wat hulle daarvoor beywer om die armes se situasie te verbeter word deur die ontsaglike omvang van die taak oorweldig. Iemand wat sy loopbaan bevredigend vind, voel gefrustreerd wanneer hy op ’n sekere ouderdom móét aftree. ’n Navorser wat die strewe na kennis heeltemal bevredigend vind, is gefrustreerd wanneer sy lewe ten einde loop en daar nog so baie onbeantwoorde vrae is. ’n Man wat sy hele lewe gebruik het om ’n fortuin te maak vind dat hy dit uiteindelik aan ander moet nalaat.

Die eertydse koning wie se woorde vroeër aangehaal is, het ván hierdie frustrasies so beskryf: “Ek het gehaat al my arbeid wat ek onder die son met moeite verrig het, dat ek dit moet oorlaat aan ’n mens wat ná my sal kom. En wie weet of hy ’n wyse sal wees of ’n dwaas? Tog sal hy heers oor al my arbeid wat ek met moeite verrig en met wysheid verwerf het onder die son.”—Prediker 2:18, 19.

Is die lewe dan op die duur sinloos soos hierdie woorde wat tog so waar is blykbaar impliseer? Is die verskillende doelwitte wat mense nastrewe maar net iets wat help om hulle die 70, 80 of 90 jaar van hulle lewe besig te hou? Is hierdie doelwitte daarbenewens basies sinloos? Nee. Hulle dui in werklikheid op iets baie belangriks wat die wyse betref waarop ons geskep is, en hulle lewer bewys dat die lewe inderdaad ’n baie wonderlike doel het. Maar hoe kan ons hierdie doel vind?

[Prente op bladsy 7]

Party vind dat die strewe na kennis hulle lewe sinvol en doelgerig maak

Mense bou nie komplekse dinge sonder om ’n spesifieke doel daarvoor te hê nie

[Erkenning]

NASA photo

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel