Deel 2
Wie kan vir ons sê?
1, 2. Wat is die beste manier om uit te vind met watter doel iets ontwerp is?
1 Wie kan vir ons sê wat die doel van die lewe werklik is? Wel, as jy ’n masjienontwerper besoek en sien hoe hy aan ’n ingewikkelde masjien werk wat jy nie herken nie, hoe kan jy uitvind waarvoor dit gemaak word? Die beste manier sal wees om die ontwerper te vra.
2 Wat dan van die wonderlike ontwerp wat ons oral om ons op die aarde sien, soos in alle lewende dinge, selfs in die kleinste lewende sel? Ook die veel kleiner molekules en atome binne-in die sel is wonderlik ontwerp en ordelik. Om nie eens te praat van die wonderlik ontwerpte mensebrein nie. En wat van ons sonnestelsel, ons Melkwegstelsel en die heelal? Het al hierdie ontsagwekkende ontwerpe nie ’n Ontwerper nodig gehad nie? Hy sal ons tog sekerlik kan vertel waarom hy sulke dinge ontwerp het.
Het die lewe per toeval ontstaan?
3, 4. Hoe waarskynlik is dit dat die lewe per toeval ontstaan het?
3 The Encyclopedia Americana het melding gemaak van “die buitengewone graad van kompleksiteit en organisasie in lewende skepsele” en gesê: “Blomme, insekte of soogdiere toon by nadere ondersoek ’n amper ongelooflik presiese rangskikking van dele.” Die Britse sterrekundige sir Bernard Lovell het met verwysing na die chemiese samestelling van lewende organismes geskryf: “Die waarskynlikheid dat . . . ’n toevallige gebeurtenis tot die ontstaan van een van die kleinste proteïenmolekules gelei het, is ondenkbaar klein. . . . Dit is in werklikheid onmoontlik.”
4 Die sterrekundige Fred Hoyle het eweneens gesê: “Die hele raamwerk van die ortodokse biologie meen nog dat die lewe toevallig ontstaan het. Maar namate biochemici al hoe meer oor die ontsagwekkende kompleksiteit van die lewe ontdek, is dit duidelik dat die kanse so klein is dat dit per toeval ontstaan het dat ’n mens dit heeltemal buite rekening kan laat. Die lewe kon nie per toeval ontstaan het nie.”
5-7. Hoe bevestig die molekulêre biologie dat lewende dinge nie per toeval kan ontstaan nie?
5 Molekulêre biologie, een van die meer onlangse wetenskaplike studierigtings, is die studie van lewende dinge op die vlak van gene, molekules en atome. Die molekulêre bioloog Michael Denton sê die volgende oor wat ontdek is: “Die eenvoudigste soort sel wat aan die mens bekend is, is só kompleks dat dit onmoontlik is om te aanvaar dat so iets net skielik deur die een of ander buitengewone, heeltemal onwaarskynlike gebeurtenis saamgeflans is.” “Dit is nie net die kompleksiteit van lewende stelsels wat so ’n groot uitdaging bied nie, maar daar is ook die ongelooflike vindingrykheid wat so dikwels in hulle ontwerp geopenbaar word.” “Op ’n molekulêre vlak kan . . . die vindingrykheid van die biologiese ontwerp en die volmaaktheid van die doelwitte wat bereik is die duidelikste gesien word.”
6 Michael Denton sê voorts: “Oral waar ons kyk, ongeag hoe diep ons kyk, vind ons ’n verfyndheid en vindingrykheid van ’n uiters voortreflike gehalte, wat lynreg in stryd is met die idee van toeval. Kan ’n mens werklik glo dat toevallige prosesse ’n werklikheid kon voortbring, waarvan die kleinste element—’n funksionele proteïen of geen—komplekser is as enigiets wat ons self kan skep, ’n werklikheid wat absoluut die teenoorgestelde van toeval is, wat in alle opsigte enigiets oortref wat deur die intelligensie van die mens voortgebring is?” Hy sê ook: “Tussen ’n lewende sel en die ordelikste niebiologiese stelsel, soos ’n kristal of ’n sneeuvlokkie, is daar die grootste en mins oorbrugbare kloof denkbaar.” En ’n professor in fisika, Chet Raymo, sê: “Ek is verstom . . . Dit lyk of elke molekule wonderbaarlik vir sy eie taak ontwerp is.”
7 Molekulêre bioloog Michael Denton kom tot die gevolgtrekking dat “diegene wat steeds dogmaties die idee voorstaan dat al hierdie nuwe werklikhede die gevolg van blote toeval is” aan ’n mite glo. Trouens, hy noem die Darwinistiese opvatting dat lewende dinge per toeval ontstaan het “die grootste kosmogoniese mite van die twintigste eeu”.
Ontwerp vereis ’n ontwerper
8, 9. Toon deur ’n illustrasie dat alles wat ontwerp is ’n ontwerper moet hê.
8 Die kanse dat nielewende materie per toeval, deur die een of ander lukrake ongeluk, lewendig geword het, is so gering dat dit eenvoudig onmoontlik is. Nee, al die voortreflik ontwerpte lewende dinge op aarde kon nie per toeval ontstaan het nie, aangesien alles wat ontwerp is ’n ontwerper moet hê. Weet jy van enige uitsonderings? Daar is nie uitsonderings nie. En hoe komplekser die ontwerp is, hoe bekwamer moet die ontwerper wees.
9 Ons kan dit ook soos volg toelig: Wanneer ons ’n skildery sien, aanvaar ons dit as bewys dat daar ’n skilder is. Wanneer ons ’n boek lees, aanvaar ons dat daar ’n skrywer is. Wanneer ons ’n huis sien, aanvaar ons dat daar ’n bouer is. Wanneer ons ’n verkeerslig sien, weet ons dat daar ’n wetgewende liggaam is. Al daardie dinge is met ’n doel gemaak deur die mense wat hulle gemaak het. En hoewel ons nie alles weet omtrent die mense wat hierdie dinge ontwerp het nie, twyfel ons nie dat die mense bestaan nie.
10. Watter bewys is daar dat ’n Opperontwerper bestaan?
10 Die bewys dat ’n Opperontwerper bestaan, kan eweneens in die ontwerp, orde en kompleksiteit van lewende dinge op aarde gesien word. Hulle dra almal die stempel van ’n Opperintelligensie. Dit is ook die geval met die ontwerp, orde en kompleksiteit van die heelal met sy miljarde sterrestelsels, wat elkeen miljarde sterre bevat. En al die hemelliggame word beheer deur presiese wette, soos die wette van beweging, hitte, lig, klank, elektromagnetisme en swaartekrag. Kan daar sonder ’n wetgewer wette wees? Die vuurpylwetenskaplike dr. Wernher von Braun het gesê: “Die natuurwette van die heelal is so presies dat ons heel maklik ’n ruimtetuig kan bou om maan toe te vlieg en die vlugtyd op ’n breukdeel van ’n sekonde akkuraat kan bepaal. Iemand moes hierdie wette daargestel het.”
11. Waarom moet ons nie die bestaan van ’n Opperontwerper ontken net omdat ons hom nie kan sien nie?
11 Ons kan weliswaar nie die Opperontwerper en -wetgewer met ons letterlike oë sien nie. Maar ontken ons dat dinge soos swaartekrag, magnetisme, elektrisiteit of radiogolwe bestaan net omdat ons hulle nie kan sien nie? Nee, ons ontken dit nie, omdat ons die uitwerking van hierdie dinge kan sien. Waarom moet ons dan ontken dat ’n Opperontwerper en -wetgewer bestaan net omdat ons hom nie kan sien nie, terwyl ons wel die resultate van sy wonderbaarlike handewerk kan sien?
12, 13. Wat toon die feite omtrent die Skepper se bestaan?
12 Paul Davies, ’n professor in fisika, kom tot die slotsom dat die mens se bestaan nie aan blote toeval toegeskryf kan word nie. Hy sê: “Ons is werklik bedoel om hier te wees.” En hy sê aangaande die heelal: “Ek het deur my wetenskaplike werk al hoe meer begin glo dat die fisiese heelal met ’n vernuf saamgestel is wat so verstommend is dat ek dit nie net as ’n blote feit kan aanvaar nie. Dit lyk vir my of die verduideliking daarvoor baie dieper moet lê.”
13 Die feite toon dus dat die heelal, die aarde en die lewende dinge op die aarde nie net per toeval kon ontstaan het nie. Hulle getuig almal stilswyend van ’n hoogs intelligente, magtige Skepper.
Wat die Bybel sê
14. Tot watter slotsom kom die Bybel omtrent die Skepper?
14 Die Bybel, die mensdom se oudste boek, kom tot dieselfde slotsom. Die Bybelboek Hebreërs, wat deur die apostel Paulus geskryf is, sê byvoorbeeld vir ons: “Want elke huis word deur iemand gebou, maar Hy wat alle dinge gebou het, is God” (Hebreërs 3:4). Die laaste boek van die Bybel, wat deur die apostel Johannes geskryf is, sê ook: “U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape.”—Openbaring 4:11.
15. Hoe kan ons sommige van God se eienskappe sien?
15 Die Bybel toon dat, hoewel ons God nie kan sien nie, ons kan sien watter soort God hy is deur die dinge wat hy gemaak het. Dit sê: “[Die Skepper se] onsigbare eienskappe, dit wil sê sy ewige krag en godheid, is reeds van die begin van die wêreld af vir die oë van die verstand sigbaar in die dinge wat hy gemaak het.”—Romeine 1:20, The New English Bible.
16. Waarom moet ons bly wees dat mense God nie kan sien nie?
16 Die Bybel neem ons dus van die gevolg na die oorsaak. Die gevolg—die ontsagwekkende dinge wat gemaak is—getuig van die intelligente, magtige Oorsaak: God. Daarbenewens kan ons dankbaar wees dat hy onsigbaar is, aangesien hy as die Skepper van die ganse heelal ongetwyfeld so magtig is dat mense van vlees en bloed nie kan verwag om hom te sien en dit te oorleef nie. En dit is juis wat die Bybel sê: “Geen mens kan [God] sien en bly lewe nie.”—Exodus 33:20.
17, 18. Waarom moet die konsep van ’n Skepper vir ons belangrik wees?
17 Die konsep van ’n Groot Ontwerper, ’n Opperwese—God—behoort vir ons baie belangrik te wees. As ons deur ’n Skepper gemaak is, moes hy tog sekerlik ’n rede, ’n doel, gehad het toe hy ons geskep het. As ons geskep is om ’n doel in die lewe te hê, dan is daar rede om te hoop dat dinge in die toekoms vir ons beter sal wees. Anders leef en sterf ons net sonder hoop. Dit is dus baie belangrik dat ons uitvind wat God se doel vir ons is. Dan kan ons besluit of ons in ooreenstemming daarmee wil lewe of nie.
18 Die Bybel sê ook dat die Skepper ’n liefdevolle God is wat baie vir ons omgee. Die apostel Petrus het gesê: “Hy sorg vir julle.” (1 Petrus 5:7; sien ook Johannes 3:16 en 1 Johannes 4:8, 16.) Een manier waarop ons kan sien hoeveel God omgee, is deur te kyk na die wonderbaarlike wyse waarop hy ons verstand en liggaam geskep het.
“Op ’n wonderbaarlike wyse geskep”
19. Op watter waarheid vestig die psalmis Dawid ons aandag?
19 Die psalmis Dawid het in die Bybel erken: “U het my op ’n wonderbaarlike wyse geskep” (Psalm 139:14, NAV). Dit is beslis waar, want die Opperontwerper het die mensebrein en -liggaam wonderlik ontwerp.
20. Hoe beskryf ’n ensiklopedie die mensebrein?
20 Jou brein is byvoorbeeld baie komplekser as enige rekenaar. The New Encyclopædia Britannica sê: “Die oordraging van inligting binne die senuweestelsel is komplekser as die grootste telefoonsentrales; die brein se vermoë om probleme op te los, is baie groter as dié van die kragtigste rekenaars.”
21. Tot watter gevolgtrekking moet ons kom wanneer ons sien wat die brein doen?
21 Honderdmiljoene feite en beelde word in jou brein gestoor, maar dit is nie bloot ’n stoorplek van feite nie. Met behulp daarvan kan jy leer om te fluit, brood te bak, ander tale te praat, ’n rekenaar te gebruik of ’n vliegtuig te vlieg. Jy kan jou voorstel hoe ’n vakansie gaan wees of hoe lekker ’n vrug sal smaak. Jy kan dinge ontleed en maak. Jy kan ook planne maak, dinge waardeer, liefde betoon en jou gedagtes oor die verlede, die hede en die toekoms laat gaan. Aangesien ons as mense nie iets soos die ontsagwekkende mensebrein kan ontwerp nie, het die Een wat dit ontwerp het beslis baie groter wysheid en vermoëns as enige mens.
22. Wat erken wetenskaplikes aangaande die mensebrein?
22 Wetenskaplikes erken die volgende aangaande die brein: “Dit is heeltemal duister hoe hierdie funksies deur hierdie wonderlik saamgestelde, ordelike en ongelooflik ingewikkelde stuk masjinerie verrig word. . . . Mense sal dalk nooit al die individuele raaisels van die brein oplos nie” (Scientific American). En fisikaprofessor Chet Raymo sê: “Om die waarheid te sê, weet ons steeds nie veel oor hoe die mens se brein inligting stoor of hoe dit dinge na willekeur kan herroep nie. . . . Daar is tot ’n honderdmiljard senuselle in die mensebrein. Elke sel kommunikeer met duisende ander selle deur ’n stelsel van sinapsevertakkings. Die moontlike onderlinge verbindings is verstommend ingewikkeld.”
23, 24. Noem ’n paar wonderlik ontwerpte liggaamsdele, en watter kommentaar het ’n ingenieur gelewer?
23 ’n Mens se oë is sekuurder en het groter aanpasbaarheid as enige kamera; trouens, hulle is voloutomatiese, kleurrolprentkameras met outomatiese fokusinstelling. Jou ore kan verskillende geluide waarneem en help jou om rigting te bepaal en jou ewewig te behou. Jou hart is ’n pomp met vermoëns wat die beste ingenieurs nog nie kon naboots nie. Ander wonderlike liggaamsdele is: jou neus, tong en hande sowel as jou bloedsomloop- en spysverteringstelsel, om maar ’n paar te noem.
24 ’n Ingenieur wat gehuur is om ’n groot rekenaar te ontwerp en te bou, het gevolglik geredeneer: “As my rekenaar ’n ontwerper moes hê, hoeveel te meer dan my liggaam, daardie ingewikkelde fisio-chemies-biologiese masjien—wat weer net ’n baie klein deeltjie van die byna grenslose kosmos is?”
25, 26. Wat sal die Groot Ontwerper vir ons kan vertel?
25 Net soos mense vliegtuie, rekenaars, fietse en ander toestelle met ’n doel maak, moes die Ontwerper van die mens se brein en liggaam ’n doel gehad het toe hy ons ontwerp het. En hierdie Ontwerper moet groter wysheid as mense hê, aangesien nie een van ons sy ontwerpe kan naboots nie. Dit is dus logies dat hy die Een is wat vir ons kan sê waarom hy ons ontwerp het, waarom hy ons op die aarde gesit het en wat vir ons voorlê.
26 Wanneer ons daardie dinge uitvind, kan die wonderlike brein en liggaam wat God ons gegee het, gebruik word om ons doel in die lewe te vervul. Maar waar kan ons omtrent sy doel leer? Waar verskaf hy daardie inligting aan ons?
[Prent op bladsy 7]
Die beste manier om uit te vind waarom iets ontwerp is, is om die ontwerper te vra
[Prent op bladsy 8]
Die kompleksiteit en ontwerp van lewende dinge kan in die DNS-molekule gesien word
[Prent op bladsy 9]
“Die brein se vermoë om probleme op te los, is baie groter as dié van die kragtigste rekenaars”