Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 5/8 bl. 3-5
  • Uitlanders—’n wêreldwye probleem

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Uitlanders—’n wêreldwye probleem
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe sê ’n mens . . . ?
  • Gesinsverbrokkeling
  • Uitlanders—Hoe kan hulle hulle situasie baasraak?
    Ontwaak!—1992
  • Uitlanders—Hoe kan jy hulle help?
    Ontwaak!—1992
  • Uitlanders—Waarom migreer hulle?
    Ontwaak!—1992
  • Burger of uitlander, God verwelkom jou!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 5/8 bl. 3-5

Uitlanders—’n wêreldwye probleem

“ONS gaan Johannesburg toe vir geld, omdat hier nie werk is nie”, sê ’n trekarbeider wat van die platteland van suidelike Afrika af kom. Hy sê: “As hier werk was, sou ons nie die moeite gedoen het om Johannesburg toe te gaan nie.” Sy roerende verduideliking beskryf die dilemma waarin baie vreemdelinge en trekarbeiders hulle bevind.

Maar die geweldige tempo waarteen migrasie gedurende die afgelope paar dekades plaasgevind het, maak sommige mense bang. (Sien venster, bladsy 5.) Die Spaanse koerant El País het berig: “Rassisme en xenofobie het skielik weer in die nuwe Duitsland kop uitgesteek.” Gewelddadige bendes, wat deur die pers as neo-Nazistiese skinheads beskryf word, het immigrante aangeval.

Sommige immigrasiebeamptes erken dat hulle ’n beleid van wegwysing volg. ’n Immigrasiebeampte in een Asiatiese land het gesê dat dit sy werk is om ‘uitlanders uit te hou’. Die tydskrif Time, wat kommentaar gelewer het oor die onlangse instroming van vlugtelinge uit ’n Oos-Europese land, vertel ook van ’n hooggeplaaste amptenaar wat gesê het: “Ons wil hulle nie te tuis laat voel nie, want ons wil hê hulle moet teruggaan.”

Daar is selfs venyniger opmerkings gemaak deur ’n joernalis in Frankryk wat daarvan oortuig is dat die ‘uitlanders wat daarheen immigreer ’n oorlas is’. Sy redes? Hulle is van ’n “ander ras, [praat] ander tale [en het] ander waardes”. Sy gevolgtrekking? “Ons behoort soveel van hulle as moontlik te deporteer [en] die res af te sonder.”

Met hierdie antivreemdeling-gesindheid wat so algemeen voorkom, is dit geen wonder nie dat uitlanders hulle vasloop teen die vooroordeel van plaaslike gemeenskappe wat deur die skielike instroming van vreemdelinge bedreig voel. Kenmerkend hiervan is die geval van een ontstoke Israeli wat die feit betreur het dat “verhuurders die Sowjetimmigrante verkies” omdat hierdie immigrante ’n toelae van die regering ontvang wanneer hulle hulle in Israel vestig. Plaaslike burgers word deur huurverhogings gedwing om uit hulle woonplekke te trek.

Dit is ’n algemene feit dat uitlanders dikwels die nederige werk doen waarop plaaslike burgers neersien. Baie van die nuwelinge moet derhalwe onder slegte toestande vir uiters swak lone werk—veral as hulle onwettige immigrante is. Verder word daar dikwels in die werkplek teen vreemdelinge gediskrimineer omdat hulle uitlanders is.

Die meeste immigrante, ongeag wie hulle is of waar hulle hulle probeer vestig, het te kampe met die pynlike proses om die omwenteling in hulle lewe te verwerk en nuwe bande vir die toekoms te smee. Die tydskrif U.S.News & World Report sê dat vreemdelinge “dikwels aan die begin uitgesluit en verward voel”. Sommige sien nie daarvoor kans nie. Die verslag sê verder aangaande hulle: “Die tragedie wat die verlies van ’n eerste tuiste meebring, word vererger wanneer hulle nie ’n tweede tuiste kan vind nie.” Vir talle het hierdie gevoel van ontwrigting baie te doen met die ontsaglike taak om ’n nuwe taal baas te raak.

Hoe sê ’n mens . . . ?

Moes jy al ooit ’n ander taal leer en jou by ’n ander kultuur aanpas? Watter uitwerking het dit op jou gehad? Heel waarskynlik “was die eindresultaat van jou pogings ’n knaende gevoel dat jy ver te kort skiet”, sê Stanislaw Baranczak, ’n Poolse immigrant en skrywer in die Verenigde State. Ja, taal is onontbeerlik as ’n mens ’n nuttige deel van ’n gemeenskap wil wees. Om ’n nuwe taal te leer, kan veral vir die ouer vreemdeling ’n besonder moeilike aspek van integrasie wees.

Vir hierdie immigrante is die leer van ’n taal dikwels ’n bose kringloop. Die tydskrif Aging sê dat dit dikwels terneergedruktheid veroorsaak wanneer vreemdelinge nie die taal- en kultuurverlies kan verwerk nie, wat weer veroorsaak dat hulle nie aan die eise kan voldoen wat aan hulle gestel word om die nuwe taal te leer nie. Die uitlander raak uiteindelik al hoe huiweriger om die uitdaging en soms vernedering die hoof te bied wat daarmee gepaardgaan om die taal te leer. Wanneer die kinders die taal en kultuur baie vinniger as hulle ouers hulle eie maak, vererger dit die probleem. Dit lei dikwels tot struweling en ’n generasiekloof in immigrantegesinne, dit wil sê, as die hele gesin saam immigreer.

Gesinsverbrokkeling

Die rampspoedige uitwerking wat massamigrasie op die gesinseenheid het, is een van die gevolge waaroor daar die minste gegewens beskikbaar is, en tog is dit die tragiesste gevolg daarvan. Gewoonlik verbrokkel gesinne wanneer een of albei ouers hulle kinders in die sorg van ander familielede laat terwyl hulle beter werkgeleenthede elders gaan soek. Die bevindings van die Second Carnegie Inquiry Into Poverty and Development in Southern Africa sê dat hierdie soort migrasie “die gesinstruktuur . . . skend”. Die verslag meld spesifieke gevalle van hoe gesinne verbrokkel het wanneer individuele gesinslede op hulle eie gemigreer het.

Dit is net sommige van die probleme waarmee immigrante wêreldwyd te kampe het, laat staan nog die koste van migrasie, die wettiging van die verhuising en besluite wat geneem moet word oor gesondheid, behuising, opvoeding en ander gesinslede.

Met die oog op al hierdie probleme kan ’n mens jou dus afvra waarom vreemdelinge in die eerste plek migreer.

[Venster op bladsy 4]

As die een hand die ander was . . .

HOEWEL daar sekere probleme aan die onbeheerde instroming van uitlanders verbonde is, is daar ook baie bewyse dat vreemdelinge in baie gevalle ’n bate vir hulle aangenome vaderland is.

“Wes-Duitsland en sy gasarbeiders het mekaar onteenseglik gehelp”, sê die tydskrif Time, en dit sê voorts dat “die staalfabrieke van die Ruhr-gebied en die Mercedes-monteerfabriek buite Stuttgart se werknemers hoofsaaklik uit gasarbeiders bestaan”. National Geographic sê ook dat “New York se klerenywerheid in duie sou gestort het” as hulle nie van immigrantearbeid gebruik kon maak nie.

Ekonome besef watter waardevolle bydrae hierdie migrante tot hulle gaslande maak. Ondanks al die vooroordeel waarmee Turke, Pakistani’s en Algeryne in Europa te kampe het, het hulle geleer om hulle aan te pas. “Hulle leef daarmee saam”, sê U.S.News & World Report, en hulle sal voortgaan om daarmee saam te leef “totdat Europa . . . besef dat hulle hulle om ekonomiese redes nodig het”.

Aangesien uitlanders baie graag in hulle nuwe land sukses wil behaal, is hulle geneig om finansieel onafhankliker te wees en minder as plaaslike inwoners op regeringsbystandsprogramme staat te maak. “Daar is niks so ongegrond as die beskuldiging dat immigrante net van welsynshulp leef nie”, sê een Amerikaanse immigrasieraadgewer wat al meer as 3000 vreemdelinge se gevalle behartig het.

Hele woonbuurte is al dikwels opgeknap deur uitlanders wat hulle omgewing wil verbeter. Toe daar ’n skielike instroming van Portugese vlugtelinge na Suid-Afrika was nadat oorlog in Angola en Mosambiek uitgebreek het, het die Portugese gemeenskap hele voorstede in Johannesburg oorgeneem en opgeknap.

[Venster op bladsy 5]

’n Paar belangrike migrasiestatistieke:

▶ 4,5 miljoen migrante, waaronder 1,5 miljoen uit Noord-Afrika, maak 8 persent van Frankryk se bevolking uit

▶ In net een gedeelte van die grens tussen Mexiko en die Verenigde State arresteer 800 grenswagte elke aand gemiddeld 1500 onwettige immigrante

▶ Ongeveer 20 persent van Australië se bevolking is uitlanders

▶ Daar is moontlik ’n miljoen Pole wat onwettig in Wes-Europa werk

▶ In ’n onlangse jaar het 350 000 mans wettig na Suid-Afrika gemigreer om kontrakwerk te doen. Die getal onwettige uitlanders is ongeveer 1,2 miljoen

▶ Minstens 185 000 Sowjet-Jode het in 1990 na Israel geïmmigreer

▶ Ruim 900 000 Suidoos-Asiërs het sedert 1975 na die Verenigde State verhuis

▶ Minstens duisend mense emigreer elke week uit Hongkong

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel