Uitlanders—Waarom migreer hulle?
“NIEMAND kan hulle voorstel aan watter soort gevare ons in Derdewêreldlande blootgestel word . . . en die swaar tye wat ons hier moet deurmaak net om ’n bestaan te probeer maak en ons gesinne by die huis te onderhou nie.” Dit is wat Elizabeth, ’n emmigrant uit Afrika, aan die redakteur van die tydskrif National Geographic geskryf het. Haar woorde onthul die hoofrede waarom miljoene mense bereid is om hulle geboorteland prys te gee en ’n nuwe lewe in ’n vreemde land te begin.
Elke immigrant kan natuurlik sy of haar eie verhaal vertel. Sommige het, soos die vrou wat vroeër gemeld is, gemigreer om aan die moeilike lewenstoestande in hulle geboorteland te ontsnap. William Hance verduidelik in sy boek Population, Migration, and Urbanization in Africa dat faktore soos siekte, insekplae, gronduitputting, droogte, vloede, hongersnood, oorlog en stamtwiste die hoofoorsake van vandag se massa-uittog uit Afrika is. Daar het ook al grootskaalse migrasie in ander dele van die aarde plaasgevind waar soortgelyke benarde toestande heers.
Maar sosioloë het vasgestel dat die begeerte om aan neerdrukkende lewenstoestande te ontsnap net ’n deel van die rede is vir vandag se neiging om te migreer.
Aantrek-afstoot-effek
Die aantrekkingskrag van lande wat ’n beter geleentheid in die lewe bied, is ook ’n kragtige beweegrede vir mense om te verhuis. Dit, saam met die begeerte om aan slegte toestande te ontsnap, het die sogenoemde aantrek-afstoot-effek tot gevolg. Die moeilike plaaslike toestande is geneig om die persoon af te stoot en die buitelandse voordele is geneig om hom aan te trek, of te lok, om te migreer. Neem die geval van Nguyen Van Tue, ’n tipiese Viëtnamese vlugteling in Japan. Hoewel hy baie swaar gekry het terwyl hy hom as uitlander probeer aanpas het, erken Nguyen: “Ek is tevrede. Ek het my gesin by my en ons is lewend en gesond in ’n land wat vryheid en vrede geniet.”
Die aantrekkingskrag van ekonomiese welvaart is een van die grootste faktore wat migrasie aanmoedig. Skrywer John Brown het in sy boek The Un-melting Pot in ’n bespreking oor die Italiaanse gemeenskap in ’n dorp in Engeland gesê: “Hulle hoofdoelwit was nog altyd om geld te maak.” Hy sê ook dat hulle dit gedoen het deur “hard en goed” te werk. Wanneer ’n mens die ontsaglike verskil in die loonskale van verskillende lande ondersoek, is dit geen wonder dat mense migreer nie. National Geographic sê in sy bespreking oor Mexikaanse werkers in die Verenigde State dat “’n uur se werk suid van die [Amerikaanse] grens ’n vyfde tot ’n tiende betaal van die loon wat in die Verenigde State verdien word”.
Die trekpleister van familie en vriende
Baie verhuis natuurlik bloot om nader aan familie en vriende te wees wat voor hulle verhuis het. Baie Sowjet-Jode het byvoorbeeld na Israel gemigreer omdat hulle veiliger voel waar daar ’n groter aantal Jode is. Sommige was selfs bereid om die gevare van Israel se oorloggeteisterde Wesoewer aan te durf.
Die aanmoediging van vriende en familielede oorreed baie om te emigreer. Australië is al vir baie voornemende emigrante aanbeveel. Nou is byna 22 persent van Australië se bevolking uitlanders.
Iemand wat uit Barbados na die Verenigde State geemigreer het, het op ’n besoek aan die eiland vir sy vriend gesê: “Jy dink dat jy goed genoeg hier lewe”, maar hy het aangevoer dat dit “’n mors . . . van tyd” is om op die eiland te bly. Sy vriend het baie jare later erken dat hierdie woorde die saad van ontevredenheid by hom gesaai het, wat hom uiteindelik laat emigreer het.
Ongelukkig word net die rooskleurige sy van die saak dikwels vir die voornemende emigrant geskilder. Ron, ’n jong man wat na Kanada verhuis het om weg te kom van die toenemende oproerigheid in Suid-Afrika, het gesê: “Vriende en familielede is geneig om jou net van al die lekker dinge te vertel . . . en begryplikerwyse die negatiewe dinge uit te laat.”
Wat die beweegrede vir migrasie ook al is, in die meeste gevalle kry die vreemdeling baie swaar. Sommige wil baie graag teruggaan huis toe wanneer hulle besef wat die volle implikasie van die verhuising is. Hoe kan ’n uitlander hom dus met welslae by sy nuwe omgewing aanpas terwyl hy met heimwee, gebroke gesinsbande, kultuurskok, taalverskille en ’n menigte verwante probleme te kampe het?
[Lokteks op bladsy 6]
Die aantrekkingskrag van ekonomiese welvaart is een van die grootste faktore wat tot migrasie bydra
[Lokteks op bladsy 6]
“Ek is tevrede. Ek het my gesin by my en ons is lewend en gesond in ’n land wat vryheid en vrede geniet.”—’n Viëtnamees in Japan
[Lokteks op bladsy 7]
Wanneer ’n mens die ontsaglike verskil in die loonskale van verskillende lande ondersoek, is dit geen wonder dat mense migreer nie
[Prent op bladsy 7]
Vir die nuwe immigrant lyk alles vreemd en moeilik