Ons beskou die wêreld
‘Groot gaping in die Italiaanse kultuur’
Die Bybel verteenwoordig “die groot gaping in die kultuur van die Italianers, ’n godsdienstige volk wat nie daaraan gewoond is om die Woord van God regstreeks te lees nie”. Volgens ’n Italiaanse koerant, La Repubblica, was dit die gevolgtrekking wat gemaak is by ’n seminaar wat verlede Oktober in Bologna gehou is en waar ’n aantal professors en Bybelgeleerdes die algemene tema “Die Bybel, Kultuur en die Skool in Italië” bespreek het. Onkunde in Italië omtrent die Bybel, het ’n geleerde verduidelik, is die gevolg van die verbod op persoonlike Bybellees wat in die 16de eeu deur die Konsilie van Trente uitgevaardig is. “Maar selfs na die Tweede Vatikaanse Konsilie”, het dieselfde geleerde gesê, “is die Boek steeds eerder ’n teks waarna Christelike gemeenskappe net verwys as ’n teks van lewenswysheid, ’n boek wat geen ingewikkelde inleiding nodig het om verstaan te word nie.”
Bilharziase versprei
Ondanks nuwe diagnose- en behandelingsmetodes neem bilharziase, of skistosomiase, toe. Die probleem is, volgens die WGO (Wêreldgesondheidsorganisasie), dat die lande wat die meeste deur die siekte geteister word die beheermaatreëls ook die minste kan bekostig. Die WGO betreur die feit dat “die prys in sterk betaalmiddele” vir die geneesmiddel praziquantel, wat ’n doeltreffende middel is om die siekte te behandel, “gewoonlik hoër is as die totale per capita-begroting van die meeste Afrikalande se departemente van gesondheid”. Die nasies van Kenia, Malawi, Zambië en Nigerië, waar meer as 30 miljoen mense aan skistosomiase ly, het die WGO gevra om vervaardigers van die geneesmiddel dringend te versoek om die prys te verlaag. Ongeveer 200 miljoen mense is wêreldwyd met die siekte besmet.
Kinders en vuurwapens
In die Verenigde State sterf daar elke dag ongeveer 8 kinders—nagenoeg 3000 per jaar—as gevolg van geweervuur. Na raming is vuurwapenbeserings wat nie noodlottig is nie vyf keer meer. Waarom? “Omtrent die helfte van alle Amerikaanse huise het vuurwapens”, sê die University of California, Berkeley, Wellness Letter. “Dink hieraan: wanneer jou kinders of kleinkinders die bure besoek, is daar ’n vyftigpersentkans dat daar ’n vuurwapen in die huis sal wees, en die helfte hiervan sal handgewere wees. En miskien is die vuurwapen heel maklik bereikbaar.” Dit is veral gevaarlik vir kinders, nie net omdat hulle gewoond is aan speelgeweertjies wat soos die ware Jakob lyk nie, maar omdat hulle beïnvloed word deur die onverskillige en gereelde gebruik van vuurwapens in rolprente en op TV. Daar is min kinders wat weet hoe om die vuurwapens veilig te hanteer en wanneer hulle beseer word, is die skade soveel groter omdat hulle inwendige organe stywer inmekaar pas en hulle kop proporsioneel groter is as dié van volwassenes. Die Wellness Letter stel voor: “Veiligheidshalwe moet jy liewers nie ’n vuurwapen koop of dit in jou huis hou nie.”
“Die wêreld se eerste elektroniese kollektebord”
“Danksy die Vatikaan se nuwe 900 telefoonnommer” kan jy nou ’n persoonlike boodskap van die pous ontvang, berig ’n hoofartikel in die Montezuma Valley Journal van Cortez, Colorado, VSA. Volgens ’n Vatikaanse persverklaring is die boodskappe gedeeltes van pouslike preke wat op band opgeneem en beskikbaar gestel is “om gehoor te gee aan die toenemende versoeke om pous Johannes Paulus se inspirerende woorde te hoor”. “Sy Heiligheid hoop dat jy by hierdie woorde baat sal vind en dat jy daagliks na sy boodskappe sal kan luister”, sê ’n stem aan die begin van die band. “’n Deel van die koste [R5,36 per minuut] van hierdie oproepe word gebruik om die apostoliese sending van die Heilige Vader te ondersteun, en deur na sy woorde te luister, dra jy by tot sy werk.” “Wat die stem nie noem nie”, sê die artikel, “is dat die ander deel van die koste—ongeveer die helfte—na dieselfde organisasie in Las Vegas gaan wat die lees van horoskope, direkte telefoonverbindings met loterye en oorsigte van strooisages bemark.” Volgens die National Catholic Reporter noem die organiseerders van hierdie 900-nommer-reëling dit “die wêreld se eerste elektroniese kollektebord”.
Tuberkulose buite beheer
Die verspreiding van besonder gevaarlike vorme van tuberkulose dwarsdeur die Verenigde State het regeringsgesondheidsbeamptes genoodsaak om te verklaar dat die siekte buite beheer is. “In geen stadium in die onlangse geskiedenis was tuberkulose so ’n groot bron van kommer soos nou nie”, het dr. Dixie Snider, ’n tuberkulosekenner by die Centers for Disease Control, gesê, “want in hierdie land is tuberkulose buite beheer.” Hoewel tuberkulose tot 40 jaar gelede ’n vername doodsoorsaak was, is dit onder beheer gebring deur die bekendstelling van antibiotikums saam met verbeterde huisvesting en sanitasie. Maar sedert 1984 het die meeste state berig dat daar ’n toename is, wat gevalle insluit wat bestand is teen selfs die nuutste geneesmiddels. Die siekte word deur druppeltjies in die lug versprei wanneer iemand wat met die siekte besmet is, hoes. Die basil skuil dalk jare lank in gesonde mense sonder dat hulle siek word, maar as die aanvanklike infeksie nie behandel word nie, sal ’n aansienlike aantal mense uiteindelik die siekte opdoen.
Mexiko erken kerke
“Na meer as 70 jaar van regeringsvyandigheid teenoor kerke het wetgewers in Mexiko wetgewing uitgevaardig wat wetlike erkenning aan godsdiensinstellings verleen”, berig The Christian Century. “Hoewel ander denominasies by die wetlike hervormings ingesluit word, trek die Rooms-Katolieke Kerk die grootste voordeel uit die regering se optrede.” Die grondwetlike veranderinge sal die kerk in staat stel om parogiale skole te beheer, grond in sy naam te besit en die regering te kritiseer. Priesters sal hulle geestelike kleed in die openbaar kan dra en kan stem, maar hulle kan nie ’n openbare amp beklee nie. Hulle sal ook inkomstebelasting moet betaal. Die revolusionêre grondwet van 1917 het die beperkinge ingestel in ’n poging om die kerk se geweldige invloed en mag teë te werk. Op daardie tydstip het die Katolieke Kerk ongeveer die helfte van die grond in Mexiko besit, ryk landhere begunstig en die onafhanklikheidsbeweging teëgestaan. Maar die meeste van die beperkinge is nooit streng toegepas nie en is grootliks geïgnoreer. The Christian Century sê: “Nasionale muurskilderye deur die revolusionêre kunstenaar Diego Rivera wat grotesk opgeblase geestelikes uitbeeld wat die niksvermoedende landvolk van hulle suur verdiende inkomste melk”, kan nog besigtig word.
Die sagmoedige seekat
Die seekat lyk dalk boosaardig, maar volgens die tydskrif Afrika-Natuurlewe is hy niks van die aard nie. Hoewel ’n seekat homself sal verdedig wanneer hy doelbewus aangeval word, is hy eintlik skaam en onskadelik. Boonop kan hy probleme heel bedrewe oplos. Wetenskaplikes het eenkeer twee seekatte se reaksie dopgehou deur ’n kreef binne-in ’n glasbottel voor hulle te plaas. Hulle het albei gou geleer om die prop af te haal. Die tydskrif vertel verder hoe ’n troetelseekat seker gemaak het dat hy sy kos kry: “Gewoonlik is die seekat gevoer voordat die familie geëet het. Op dié geleenthede wat hulle vergeet het om hulle troeteldier te voer voordat hulle geëet het, het hy sy agt arms teen die glas gedruk en vinnig verkleur om aandag te trek. As dit nie gewerk het nie, het hy ’n skulp van die bodem van die tenk opgetel en dit aanhoudend teen die glas geklop totdat hy gevoer is.”
“Op God vertrou ons”—Werklik?
Die woorde “Op God vertrou ons” verskyn al 127 jaar op Amerikaanse munte. “Hoe is God met Amerikaanse geld in verband gebring?” vra die tydskrif Time. Dit het begin met die laaste vers van die volkslied, “The Star-Spangled Banner”, wat sê: “En dit is ons leuse: ‘Ons vertroue is in God.’” Toe, met die aanvang van die Burgeroorlog (1861-65), het M. R. Watkinson, ’n Baptistepredikant, versoek dat die Unie, wat die noordelike state verteenwoordig het, muntstukke moet agterlaat om te toon dat hulle van God afhanklik is indien hulle verslaan sou word. President Abraham Lincoln en die Minister van Finansies Salmon Chase het hiertoe ingestem, en ’n verkorte frase “Op God vertrou ons” is vanaf 1864 op muntstukke gedruk. Maar dit het eers in 1955 op die groter papiergeldeenheid verskyn, en die jaar daarna is dit die nasionale leuse gemaak. Hoewel gebruik van die leuse in die hof betwis is, stem die meeste mense saam met voormalige hooggeregshofregter William Brennan wat geskryf het dat die slagspreuk “enige ware godsdienstige betekenis verloor het”.
Borsvoeding neem af
’n Onlangse studie het getoon dat daar ’n geleidelike afname is in die aantal Amerikaanse vroue wat hulle babas borsvoed. Die getal het van ongeveer 60 persent in 1984 tot 52 persent in 1989 gedaal. “Dit is ’n baie gevaarlike neiging”, sê dr. David Rush, ’n spesialis in voedingkunde aan die Tufts-universiteit wat aan die studie deelgeneem het. “Borsvoeding is baie voordelig vir die kind, selfs in Westerse, welvarende gemeenskappe.” Hoewel die meeste vroue weet dat borsvoeding vir hulle en vir die baba die beste is, vind hulle dit dikwels moeilik en verwarrend as daar nie iemand is om hulle praktiese raad te gee nie. In baie gevalle word hulle uit die hospitaal ontslaan voordat hulle begin om melk te produseer, en dan kry hulle bloot ’n pakkie melkpoeier wanneer hulle vertrek. Ondersteuning ontbreek tuis omdat hulle eie moeders hulle dikwels met die bottel gevoed het. Die Instituut vir Geneeskunde stel voor dat babas vier tot ses maande lank uitsluitlik geborsvoed word en dat borsvoeding voortgesit word wanneer die baba vaste kos begin inneem, totdat hy ten minste ’n jaar oud is.