Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 12/8 bl. 4-7
  • Waarom is “geneesbare” siektes terug?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom is “geneesbare” siektes terug?
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Malaria—Dit bedreig bykans die helfte van die wêreld
  • Tuberkulose—’n Ou dodelike siekte kom weer te voorskyn
  • Sifilis—’n dodelike herlewing
  • Is daar ’n einde in sig?
  • Tering neem weer toe!
    Ontwaak!—1996
  • ’n Nuwe wapen in die stryd teen tuberkulose
    Ontwaak!—1999
  • Oorwinning en tragedie
    Ontwaak!—1997
  • Dodelike siektes vier hoogty
    Ontwaak!—1993
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 12/8 bl. 4-7

Waarom is “geneesbare” siektes terug?

’N HUIS is pas deeglik skoongemaak. Maar met verloop van dae, weke en maande verskyn die stof en vuilheid geleidelik weer. Een deeglike skoonmaak is dus nie genoeg nie. Volgehoue instandhouding is noodsaaklik.

’n Ruk lank het dit gelyk of hedendaagse medisyne malaria, TB (tuberkulose) en sifilis heeltemal uitgewis het. Maar noodsaaklike instandhouding deur navorsing en behandeling is te dikwels verwaarloos. Nou is die “stof en vuilheid” weer terug. “Wêreldwyd is die malariasituasie ernstig en besig om te vererger”, sê dr. Hirosji Nakajima van die WGO (Wêreldgesondheidsorganisasie). “Mense moet besef dat TB terug is—en wel met mening terug is”, waarsku die tuberkulosespesialis, dr. Lee Reichman. En The New York Times het vroeg in hierdie dekade gesê: “Nuwe sifilisgevalle het die hoogste vlak sedert 1949 bereik.”

Malaria—Dit bedreig bykans die helfte van die wêreld

Malaria is tans, bykans 40 jaar sedert die verklaring gedoen is dat dit so te sê uitgewis is, ’n ernstige bedreiging in Afganistan, Brasilië, China, Indië, Indonesië, Kambodja, Sri Lanka, Thailand, Viëtnam en verskeie dele van Afrika. “Elke minuut sterf twee kinders daaraan”, sê die Franse koerant Le Figaro. Die jaarlikse sterftesyfer is tweemiljoen—veel hoër as dié wat weens vigs sterf.

Bykans 270 miljoen mense is met die malariaparasiet besmet, maar 2,2 miljard loop gevaar om dit op te doen. “Hoe is dit moontlik dat malaria, wat eens uitgewis of vir 90 persent van die wêreld se bevolking grootliks onder beheer was, nou meer as 40 persent van ons bedreig?” vra Phyllida Brown in die New Scientist. Daar is baie redes.

Ontbossing en kolonisasie. Omdat mense hulle in reënwoude gevestig het waar dit wemel van muskiete, het dit tot die uitbreek van malaria in Brasilië gelei. “Ons het hier te doen gehad met ’n indringing in die muskiet se tuiste”, sê die immunoloog Claudio Ribeiro. Hy sê nedersetters “het niks van malaria geweet nie en het geen weerstand teen die siekte gehad nie”.

Immigrasie. Vlugtelinge op soek na werk stroom uit Myanma na die edelsteenmyne van Borai, ’n dorpie in Thailand. “Hulle voortdurende rondtrekkery maak dit feitlik onmoontlik om malaria te beheer”, sê Newsweek. Nagenoeg 10-000 malariagevalle word maandeliks aangemeld—onder die mynwerkers alleen!

Toerisme. Baie mense wat malariagebiede besoek, is besmet wanneer hulle terugkeer huis toe. In 1991 is daar gevolglik 1000 gevalle in die Verenigde State en 10 000 in Europa gediagnoseer. Honderde toeriste en oorsese werkers keer elke jaar besmet na Kanada terug. ’n Tragiese geval was dié van twee kinders wat koorsig begin word het kort nadat die gesin uit Afrika teruggekeer het. Die dokter het nie vermoed dat dit malaria is nie. “Teen die tyd dat die ouers hulle hospitaal toe geneem het, was dit te laat”, sê Toronto se Globe and Mail. “Hulle het ’n paar uur ná mekaar gesterf.”

Malariasoorte wat teen geneesmiddels bestand is. Die WGO berig dat malariasoorte wat teen geneesmiddels bestand is na alle dele van tropiese Afrika versprei het. In Suidoos-Asië, sê Newsweek, “neem die weerstand teen geneesmiddels so vinnig toe dat sommige soorte dalk binnekort nie behandel sal kan word nie”.

’n Tekort aan hulpmiddele. In sommige plekke het klinieke nie die nodige toerusting om ’n eenvoudige toets uit te voer wat as ’n bloedsmeer bekend staan nie. Elders word ’n groot deel van die gesondheidsbegroting vir ander noodgevalle gebruik sodat daar ’n tekort aan insektedoders en medisyne is. Soms is dit ’n kwessie van wins. “Tropiese siektes is nie winsgewend nie”, sê New Scientist, “omdat diegene wat daardeur geraak word oor die algemeen nie die medisyne kan bekostig nie.”

Tuberkulose—’n Ou dodelike siekte kom weer te voorskyn

Streptomisien, die geneesmiddel wat tuberkulose na verwagting onder beheer sou bring, is in 1947 bekend gestel. Destyds is die mening gehuldig dat tuberkulose eens en vir altyd uitgewis sou word. Maar daar het ’n ontnugtering op sommige lande gewag: TB-gevalle het in onlangse jare merkbaar toegeneem. “In armoedige gebiede in Amerika”, sê The Washington Post, “is daar meer TB-gevalle as in die armste lande in Afrika wat suid van die Sahara lê.” In Côte d’Ivoire is daar volgens een dagblad “’n geweldige herlewing van tuberkulose”.

Dr. Michael Iseman sê: “Ons het geweet hoe om dit te genees. Ons het dit onder beheer gehad. Maar ons kon die siekte nie uitroei nie.” Wat het die stryd teen tuberkulose belemmer?

Vigs. Aangesien vigs ’n mens weerloos teen infeksie maak, word dit as ’n vername oorsaak van die herlewing van TB beskou. “As hulle nie eers aan iets anders sterf nie”, sê dr. Iseman, “sal feitlik 100 persent van alle vigs-slagoffers wat draers van TB-bakterieë is die siekte kry.”

Die omgewing. Gevangenisse, verpleeginrigtings, herberge vir die haweloses, hospitale en ander instellings kan ’n teelaarde vir tuberkulose word. Dr. Marvin Pomerantz vertel dat een hospitaal se gebruik van ’n aërosolbehandeling veroorsaak het dat pasiënte met longontsteking meer gehoes het, en sodoende het daar feitlik ’n TB-epidemie onder die personeel ontstaan.

’n Tekort aan hulpmiddele. Net toe dit gelyk het of tuberkulose onder beheer was, het fondse opgeraak en is die publiek se aandag elders toegespits. “Pleks van TB uit te wis”, sê dr. Lee Reichman, “het ons tuberkuloseprogramme uitgewis.” Die biochemikus Patrick Brennan sê: “In die vroeë sestigerjare het ek intensief navorsing gedoen oor TB se weerstand teen geneesmiddels, maar ek het besluit om daarmee op te hou omdat ek gedink het dat TB genees is.” Die terugkeer van tuberkulose het baie dokters gevolglik onkant betrap. “Gedurende een week [in die herfs van 1989]”, het een geneesheer gesê, “het ek vier nuwe gevalle van die siekte gesien wat my dosent by die mediese skool gesê het ek nooit weer sou sien nie.”

Sifilis—’n dodelike herlewing

Ten spyte van die doeltreffendheid van penisillien kom sifilis steeds oral in Afrika voor. In die Verenigde State het hulle skielik te kampe met die meeste gevalle van hierdie siekte in 40 jaar. Volgens The New York Times word “’n geslag van dokters wat selde, indien ooit, ’n geval gesien het” nou deur sifilis geflous. Waarom die herlewing?

“Crack”. Crack-verslawing het gelei tot wat een dokter “absoluut buitensporige kokaïengebruik en geslagsomgang” genoem het. Hoewel mans dikwels steel om vir hulle verslawing te betaal, sal vroue hulle eerder tot seks wend om vir dwelmmiddels te betaal. “In crack-huise”, sê dr. Willard Cates jr. van die Amerikaanse Sentrums vir Siektebeheer, “is daar seks en verskeie seksmaats. Watter infeksie ook al in daardie omgewings algemeen voorkom, gaan die een wees wat oorgedra word.”

Onvoldoende beskerming. “Ten spyte van die ‘veilige seks’-veldtog”, sê Discover, “is tieners steeds onverskillig oor die gebruik van kondome om hulle teen siektes te beskerm.” ’n Studie in die Verenigde State het aan die lig gebring dat slegs 12,6 persent van diegene wat geslagsomgang met mense het wat in ’n hoë risikogroep val, deurgaans kondome gebruik het.

Beperkte hulpmiddele. The New York Times sê: “Begrotingsbesnoeiings het die openbare klinieke waar die meeste gevalle van sifilis en ander seksueel oordraagbare siektes gediagnoseer word, gekniehalter.” Daarbenewens is toetsmetodes nie altyd akkuraat nie. In een hospitaal het ’n aantal moeders aan besmette babas geboorte geskenk, en tog was daar in die moeders se vorige bloedtoetse geen aanduiding van sifilis nie.

Is daar ’n einde in sig?

Die mens se stryd teen siekte duur al lank voort en is frustrerend. Die welslae wat in die stryd teen sommige kwale behaal word, maak heel dikwels nie op vir terugslae in die stryd teen ander nie. Is dit die mens se lot om ’n ewige stryd teen siekte te voer wat hy nooit kan wen nie? Sal daar ooit ’n wêreld sonder siekte wees?

[Venster/Prent op bladsy 7]

Die verwoesting wat sifilis saai

SIFILIS word deur Treponema pallidum veroorsaak, ’n spiraalvormige spirocheet en word gewoonlik deur middel van die geslagsorgane opgedoen. Die spirocheet gaan dan die bloedstroom binne en versprei deur die liggaam.

Etlike weke nadat besmetting plaasgevind het, verskyn daar ’n seer wat ’n sjanker genoem word. Dit vorm gewoonlik op die geslagsorgane, maar kan ook op die lippe, mangels of vingers voorkom. Die sjanker word uiteindelik gesond sonder dat ’n letsel vorm. Maar die kieme word steeds regdeur die liggaam versprei totdat sekondêre simptome verskyn: veluitslag, seerkeel, pynlike gewrigte, haarverlies, seerplekke en oogontsteking.

As sifilis nie behandel word nie, gaan dit ’n latente fase binne wat lewenslank kan duur. As ’n vrou tydens hierdie fase swanger word, kan haar kind blind, misvormd of dood gebore word.

Dekades later sal die laaste fase van sifilis in sommige mense ontwikkel, waartydens die spirocheet hom in die hart, brein, rugmurg of ander liggaamsdeel vestig. As die spirocheet hom in die brein vestig, kan dit stuiptrekkings, algemene verlamming en selfs kranksinnigheid tot gevolg hê. Die siekte kan uiteindelik dodelik wees.

[Erkenning]

Biophoto Associates/Science Source/Photo Researchers

[Venster/Prent op bladsy 7]

“’n Uitstekende nabootser”

DIT is wat dr. Lee Reichman tuberkulose noem. “Dit kan die simptome van ’n verkoue, brongitis of griep hê”, sê hy. “Tensy ’n dokter dus TB in gedagte het, kan hy of sy ’n verkeerde diagnose maak.” ’n X-straal van die bors is nodig om die infeksie te bevestig.

Tuberkulose word deur die lug van mens tot mens oorgedra. Wanneer ’n mens hoes, ontstaan daar deeltjies wat klein genoeg is om die longe binne te gaan. Maar die liggaam se verdediging is gewoonlik sterk genoeg om die infeksie te stuit. Dr. Reichman verduidelik: “Dit is slegs [diegene] wat genoeg van die basille in hulle borsholte het—100 miljoen organismes in teenstelling met minder as 10 000 vir onaktiewe draers—[wat] die siekte [kan] versprei.”

[Erkenning]

SPL/Photo Researchers

[Venster/Prent op bladsy 7]

Wêreldwye verwarming en malaria

MALARIA kan nie sonder die draer, die Anopheles gambiae-muskiet, begin nie. “Verander die vektor[insek]bevolking en jy verander die omvang van die siekte”, sê The Economist.

Laboratoriumeksperimente het getoon dat klein temperatuurstygings die insekbevolking grootliks kan beïnvloed. Sommige deskundiges kom derhalwe tot die gevolgtrekking dat wêreldwye verwarming ’n groot uitwerking op die omvang van malaria kan hê. “As die hele Aarde se temperatuur selfs met net een of twee grade Celsius styg”, sê dr. Wallace Peters, “kan dit die broeigebiede van muskiete vermeerder sodat malaria baie algemener sal voorkom as wat nou die geval is.”

[Erkenning]

Dr. Tony Brain/SPL/Photo Researchers

[Prent op bladsy 6]

Herberge vir die haweloses kan ’n teelaarde vir tuberkulose word

[Erkenning]

Melchior DiGiacomo

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel