Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 5/22 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Op soek na ’n nuwe wêreldorde
  • “Babadoders”
  • Borsvoeding en vigs
  • Op die rand van ’n kernoorlog
  • Die immuunstelsel word deur terapie gehelp
  • Brasilië se “moordbye”
  • Die milddadige sering
  • Osoonvernietiging neem toe
  • Onderrig in geweld
  • Die Spaanse Kerk berispe
  • Vliegtuigontruiming bevraagteken
  • Die verbasende sering
    Ontwaak!—1998
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1991
  • Kernoorlog—Wie is die bedreigings?
    Ontwaak!—2004
  • Die kernbedreiging—nog lank nie verby nie
    Ontwaak!—1999
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 5/22 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Op soek na ’n nuwe wêreldorde

Die Verenigde Nasies word vir die eerste keer in meer as 40 jaar weer as ’n middel tot kollektiewe veiligheid gebruik. Op 31 Januarie was daar ’n geskiedkundige samekoms van die hoës en magtiges en die geringes en armes toe regeringsleiers die eerste spitsberaad van die VN se Veiligheidsraad in New York-stad geopen het. Die doel van hierdie unieke eendagvergadering van die Veiligheidsraad was om wat wêreldleiers al ’n nuwe wêreldorde genoem het te vind om die gevare van Koue Oorlog-konfrontasies te vervang. Die Britse Eerste Minister John Major het die spitsberaad ’n “keerpunt in die wêreld en by die Verenigde Nasies” genoem. Die wêreldleiers wil die VN se vermoë om vrede te bewaar, vergroot. Die spitsberaad se deklarasie lui derhalwe: “Die lede van die Raad is dit eens dat die wêreld nou die beste kans sedert die stigting van die Verenigde Nasies het om internasionale vrede en veiligheid te bewerkstellig.”

“Babadoders”

Die Verenigde Nasies se statistiek toon dat asemhalingsiektes soos brongitis en longontsteking (selfs wanneer dit deur geringe kwale soos verkoue veroorsaak word) die “vernaamste oorsaak van sterftes onder kinders onder vyf jaar” is. “Agt kinders sterf elke minuut weens hierdie siektes, wat altesaam viermiljoen kindersterftes per jaar beteken”, berig die weeklikse byblad Corriere salute. Die oplossing? Volgens die kenners “moet antibiotikums vroeër toegedien word, en daarbenewens moet kinders se weerstand opgebou word, hulle dieet verbeter word en moet daar meer van inenting gebruik gemaak word”.

Borsvoeding en vigs

“Moedersmelk kan binnekort ’n vername oorsaak van kindersterftes in die Derde Wêreld word”, waarsku die tydskrif Time International. Vigs is weer eens die oorsaak daarvan. Volgens beperkte navorsing wat in Sentraal-Afrika gedoen is en waaroor daar in die New England Journal of Medicine verslag gedoen is, is 8 uit 15 babas deur hulle moeder se melk met vigs besmet gedurende die tydperk toe die studie gedoen is. Indien hierdie navorsing bevestig word, sal gesondheidsbeamptes hulle in ’n dilemma bevind. Moet hulle bottelvoeding aanmoedig, wat kindersterftes onder onhigiëniese toestande met 500 persent laat toeneem, of moet hulle steeds borsvoeding aanmoedig, wat die risiko inhou dat dit die vigs-virus kan oordra? Dr. Jean Mayer, ’n voedingkundige, het gesê: “Daar is geen gesonde oplossing nie . . . Dit is ’n ramp van die ergste graad.”

[Prent op bladsy 28]

VIGS

Op die rand van ’n kernoorlog

Volgens inligting wat verlede Januarie deur ’n hooggeplaaste militêre offisier van die Sowjetunie by ’n konferensie agter geslote deure in Havana bekend gemaak is, was die wêreld dertig jaar gelede op die rand van ’n kernoorlog. Tydens die Kubaanse missielkrisis in 1962 het Kuba kernwapens gehad met plofkoppe waarvan die plofkrag gelykstaande was aan tussen 6 en 12 duisend ton TNT. Die Sowjetunie het kernmissiele na Kuba verskeep en hulle die reg gegee om die missiele te gebruik indien Amerika ’n militêre aanval op die eiland sou doen. Volgens The New York Times het Robert S. McNamara, die Amerikaanse Minister van Verdediging tydens president John F. Kennedy se bewind, by die vergadering te kenne gegee dat daar geen twyfel bestaan het nie dat “Kennedy bevel vir kernweerwraak op Kuba—en moontlik die Sowjetunie—sou gegee het as kernwapens op die Amerikaanse magte gevuur is”. Die wêreld het ’n sug van verligting geslaak toe die Sowjetunie ingestem het om die tussenafstandmissiele te onttrek. Philip Brenner, ’n professor aan die Amerikaanse Universiteit en ’n deelnemer aan die konferensie, het agterna gesê: “Ons het nader aan ’n kernoorlog gekom as wat enigiemand hulle ooit kon indink.”

Die immuunstelsel word deur terapie gehelp

Daar is blykbaar al hoe meer bewyse dat die verstand weerstand teen kanker beïnvloed wanneer die kanker eers begin ontwikkel, berig The Harvard Mental Health Letter, ’n publikasie van die Harvard- Mediese Opleidingskool. In een studie het ’n groep vroue met gevorderde borskanker byvoorbeeld ’n jaar lank weeklikse groepterapie ondergaan om hulle te help om hulle vrese te oorkom en beter met hulle gesinne te kommunikeer, terwyl ander vroue met dieselfde probleem net gewone mediese sorg ontvang het. “Die uitslag was merkwaardig”, sê die verslag. “Vroue in die steungroepe het nie alleen minder angs, depressie en pyn ondervind nie, maar het gemiddeld bykans twee keer langer gelewe—37 maande teenoor 19 maande.” In nog ’n studie, hierdie keer onder pasiënte in ’n vroeë stadium van kwaadaardige melanoom (velkanker), het diegene wat ses weke lank in ’n steungroep was nie alleen minder moeg, verward en depressief gevoel as pasiënte met dieselfde probleem wat gewone mediese behandeling ontvang het nie, maar “hulle immuunfunksie het ook met etlike maateenhede verbeter”.

Brasilië se “moordbye”

Hoe gevaarlik is Brasilië se “moordbye”? Hoewel nakomelinge van 26 Afrikaanse koninginbye per ongeluk in 1956 losgelaat is, berig Newsweek dat “Brasiliane ’n modus vivendi met die geafrikaniseerde bye getref het . . . Heuningproduksie—wat altyd gemiddeld om en by die 3000 ton per jaar was voordat die geafrikaniseerde bye hulle intrek geneem het—was verlede jaar 42 000 ton”. Die geheim is blykbaar om “byeboere te leer hoe om die geafrikaniseerde bye veilig te hanteer en die publiek te leer hoe om hulleself te beskerm”. Die tydskrif beweer: “Hoewel [die bye] klaarblyklik honderde plaasdiere per jaar doodmaak, lyk dit nie of mense veel groter gevaar loop as op enige ander plek nie.”

Die milddadige sering

“God se gawe aan die mens”, is wat sommige die tropiese seringboom al genoem het. En met goeie rede! Onder die verskillende produkte wat die mens al van die seringboom gemaak het, is tandepoeier, tandepasta, voorbehoedmiddels, tafelolies, ’n sekere wurmpoeier vir beeste, insekdoders, geneesmiddels vir velsiektes en medisyne vir suikersiekte en malaria. Seringolie word gebruik om seep, haaropknapmiddels en insekafweermiddels te maak. Volgens die tydskrif New African het navorsers in Kenia onlangs met studies begin om uit te vind watter verdere geneeskundige en insekwerende stowwe van die merkwaardige sering verkry kan word.

Osoonvernietiging neem toe

Navorsing toon dat die vernietiging van die osoonlaag in die Noordelike sowel as die Suidelike Halfrond toeneem. Volgens The Diplomatic World Bulletin toon nuwe bevindings deur ’n span van 80 wetenskaplikes uit 25 lande dat daar gedurende die afgelope tien jaar ’n osoonverlies van 3 persent oor Europa en Noord-Amerika was. Na verwagting sal daar ’n verdere verlies van 3 persent teen die einde van die eeu wees. Die osoonverlies oor Antarktika, wat vroeër net in die winter plaasgevind het, vind nou ook tydens ander seisoene plaas. Wetenskaplikes meen dat osoonvernietiging, wat grotendeels deur mensebedrywighede veroorsaak word, merkbare klimaatsveranderinge, beskadigde oeste en ’n toename in velkankergevalle tot gevolg kan hê.

Onderrig in geweld

Vyf studente aan Kobe se Munisipale Industriële Tegniese Kollege in Japan is aan die einde van hulle eerste jaar ’n druippunt gegee. Die kollege dwing hulle om die jaar oor te doen omdat hulle geweier het om aan kendo-skermgevegte deel te neem. Volgens The Daily Yomiuri het die studente “gesê dat hulle die Bybel se beginsels sal oortree as hulle aan vegsport deelneem”. Die studente, wat Getuies van Jehovah is, het ’n saak teen die kollege gemaak omdat hulle meen dat “die kollege se besluit om hulle te laat druip die grondwetlike waarborg van godsdiensvryheid skend”, berig die Mainichi Daily News.

Die Spaanse Kerk berispe

Gee die Rooms-Katolieke Kerk mense genoegsame leiding om probleme met betrekking tot die gesinslewe op te los? Volgens ’n onlangse opname wat deur die Centro de Investigaciones sobre la Realidad Social (Sentrum vir die ondersoek van sosiale gesindhede) gedoen is, meen slegs 35 persent van die Spanjaarde dat die Kerk hierdie leiding gee. Wat van die bevrediging van die mense se geestelike behoeftes? Slegs 42 persent van diegene wat ondervra is, dink dat die kerk hierdie verantwoordelikheid nakom. Daarenteen word die Bybel—’n boek wat wel in mense se geestelike behoeftes voorsien en wat duidelike riglyne gee oor hoe om ’n gelukkige gesinslewe te geniet—slegs deur 4 persent van die bevolking op ’n gereelde grondslag gelees.

Vliegtuigontruiming bevraagteken

Wat is die kanse dat jy beseer sal word as ’n vliegtuig in ’n noodgeval ontruim moet word? Lugdienskritici sê dat jou kanse al hoe slegter word en dat die probleem toeneem namate lugdienste al hoe meer sitplekke in hulle vliegtuie laat aanbring. ’n Lugdiens wat ’n 747-straler van Los Angeles, VSA, na Sydney, Australië, laat vlieg, het byvoorbeeld sitplek vir 378 passasiers, maar ’n ander lugdiens wat dieselfde vliegtuig tussen Osaka en Tokio, Japan, laat vlieg, het sitplek vir 533 passasiers. Hoewel statistiek toon dat dit 19 keer veiliger is om per vliegtuig as per motor te reis, word die moontlikheid van ’n ramp groter wanneer die vliegtuie stampvol passasiers is. In ’n onlangse ontruimingstoets om te bepaal of dit veilig is om 410 sitplekke pleks van die normale 287 in ’n McDonnell Douglas MD-11-vliegtuig te hê, is ’n vrou van haar nek af ondertoe verlam toe haar rug gebreek is; 46 ander is beseer—6 met gebreekte bene. Huidige Amerikaanse regeringstandaarde vereis dat vliegtuigvervaardigers bewys dat hulle vliegtuie binne 90 sekondes ontruim kan word wanneer die helfte van die uitgange versper is.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel