Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 2/22 bl. 22-23
  • Die verbasende sering

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die verbasende sering
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Nuttige boom
  • Insekte haat dit
  • “Die dorpsapteek”
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1992
  • ’n Stokkie wat tande skoonmaak
    Ontwaak!—2003
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—2005
  • Die stryd teen die “kus” van die dood
    Ontwaak!—2000
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 2/22 bl. 22-23

Die verbasende sering

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN NIGERIË

“DIE dorpsapteek”—dit is wat mense die seringboom in Indië noem. Mense in daardie land maak al eeue lank op die sering staat om verligting van pyn, koors en infeksie te gee. Baie Hindoes begin elke jaar deur ’n paar seringblare te eet, aangesien hulle glo dat die sering hulle bloed kan help reinig. Mense maak ook hulle tande met seringtakkies skoon, smeer seringblaarsap aan velaandoenings en drink seringtee as ’n tonikum.

In onlangse jare het wetenskaplikes al hoe meer belangstelling in die sering getoon. ’n Wetenskaplike verslag met die titel Neem—A Tree for Solving Global Problems waarsku egter: “Hoewel die moontlikhede byna eindeloos lyk, is niks oor die sering al bevestig nie. Die wetenskaplikes wat die geesdriftigste is oor die plant en die moontlikhede wat dit inhou, erken dat die bewyse om hulle verwagtinge te steun nog nie bevestig is nie.” Maar die verslag sê ook: “Twee dekades van navorsing het in soveel studierigtings belowende resultate opgelewer dat hierdie onbekende plantsoort vir arm sowel as ryk lande van ontsaglike waarde kan wees. Selfs party van die navorsers wat die versigtigste is, sê dat ‘die sering verdien om ’n wonderplant genoem te word’.”

’n Nuttige boom

Die sering word in tropiese streke gevind en is ’n lid van die mahonieboomfamilie. Dit word tot 30 meter hoog en kan ’n omtrek van meer as 2,5 meter hê. Aangesien dit selde blaarloos is, gee dit regdeur die jaar skaduwee. Dit groei vinnig, het min versorging nodig en aard goed in skraal grond.

Dit is vroeg in hierdie eeu na Wes-Afrika gebring om skaduwee te gee en om die suidwaartse uitbreiding van die Sahara-woestyn te stuit. Bosbouers het die boom ook in Fidji, Mauritius, Saoedi-Arabië, Sentraal- en Suid-Amerika en op die Karibiese eilande aangeplant. In die Verenigde State is daar proefakkers in die suidelike dele van Arizona, Kalifornië en Florida.

Behalwe dat die sering regdeur die jaar in warm klimaatstreke skaduwee gee, kan dit ook as vuurmaakhout gebruik word. Bowendien is die termietbestande hout daarvan nuttig vir bou- en timmerwerk. As ’n mens dit dus alleen op grond van die nut daarvan as boom beoordeel, vaar die sering baie goed. Maar dit is net die begin.

Insekte haat dit

Omdat die mense van Indië al lank weet dat seringblare lastige insekte afweer, sit hulle die blare in beddens, boeke, bakke en kos- en klerekaste. In 1959 het ’n Duitse insektekenner en sy studente by seringnavorsing betrokke geraak nadat hulle ’n enorme sprinkaanplaag in Soedan gesien het waartydens biljoene sprinkane die blare van elke boom behalwe die sering opgevreet het.

Sedertdien het wetenskaplikes uitgevind dat die sering se ingewikkelde chemiese arsenaal doeltreffend is teen meer as 200 insektesoorte, asook verskeie myte, rondewurms, swamme, bakterieë en selfs verskeie virusse. In een eksperiment het navorsers sojaboonblare in ’n houer met Japannese kewers geplaas. Seringekstrak is op een helfte van elke blaar gespuit. Die kewers het die onbehandelde helfte van elke blaar opgevreet, maar het nie hulle mond aan die behandelde dele gesit nie. Trouens, hulle het eerder van die honger doodgegaan as om selfs ’n krieseltjie van die behandelde blare te eet.

Sulke eksperimente laat ’n mens dink aan die moontlikheid om ’n goedkoop, niegiftige en maklik bereide alternatief vir sekere sintetiese plaagdoders te ontwikkel. In Nicaragua meng plaasboere byvoorbeeld fyngestampte seringsaad met water—80 gram saad vir elke liter water. Hulle week die fyngestampte saad 12 uur lank, verwyder die saad en spuit dan die water op die gewasse.

Seringprodukte maak die meeste insekte nie regstreeks dood nie. Seringspuitstowwe verander ’n insek se lewensprosesse sodat dit uiteindelik nie meer kan eet, voortplant of metamorfoseer nie. Maar hoewel seringprodukte vir goggas nadelig is, is dit blykbaar nie vir voëls, warmbloedige diere of mense skadelik nie.

“Die dorpsapteek”

Dan is daar ander voordele vir mense. Die saad en blare bevat verbindings wat ontsmet en virusse en swamme teëwerk. Daar is aanduidings dat sering dalk ontsteking, hoë bloeddruk en sere kan teëwerk. Geneesmiddels van seringekstrakte kan glo suikersiekte en malaria bestry. Ander moontlike voordele sluit die volgende in:

Insekafweermiddels. Een seringbestanddeel, wat salannien genoem word, is ’n kragtige afweermiddel teen sekere bytende insekte. ’n Vlieg- en muskietafweermiddel wat van seringolie gemaak word, is reeds op die mark.

Mondhigiëne. Miljoene Indiërs breek elke oggend ’n seringtakkie af, kou die punt om dit sag te maak en gebruik dit dan om hulle tande en tandvleis mee te borsel. Navorsing het getoon dat dit voordelig is, aangesien verbindings in die bas sterk antiseptiese eienskappe het.

Voorbehoedende eienskappe. Seringolie is ’n sterk spermdoder en is met welslae gebruik om die geboortesyfer onder laboratoriumdiere te laat daal. Eksperimente met ape dui daarop dat seringverbindings ook ’n mondelike geboortebeperkingspil vir mans moontlik kan maak.

Die sering is klaarblyklik nie ’n gewone boom nie. Hoewel alles daaromtrent nog nie bekend is nie, lyk die sering baie belowend—om plaagbestryding te verbeter, gesondheid te bevorder, herbebossing aan te help en miskien oorbevolking te keer. Dit is geen wonder dat mense die verbasende sering al “God se gawe aan die mens” genoem het nie!

[Prente op bladsy 23]

Die sering, met inlas van seringblaar

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel