Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 6/8 bl. 25-27
  • Linkshandigheid—Nadeel of voordeel?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Linkshandigheid—Nadeel of voordeel?
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat veroorsaak linkshandigheid?
  • Is daar vooroordeel?
  • Nie nodig om minderwaardig te voel nie
  • Spieëlskrif
  • ’n Seën of ’n nadeel?
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1992
  • Moet oorlewering met die waarheid bots?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1992
  • God kan jou vertroos
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 6/8 bl. 25-27

Linkshandigheid—Nadeel of voordeel?

HINDER dit jou, as linkshandige, dat jy anders as regshandiges is? Linkshandiges is weliswaar in die minderheid, hoewel dit moeilik is om die juiste persentasie te bepaal. Skattings oor hoeveel linkshandiges daar is, wissel van 1 tot 30 persent.

Michael Barsley, wat die onderwerp deeglik nagevors het, het in sy boek Left-Handed People geskryf: “Tussen die 1 persent en die 30 persent moet daar natuurlik ’n naastenby akkurate syfer wees, maar niemand se statistiek word allerweë aanvaar nie. Ons sou dit waarskynlik op 4 of 5 persent kon stel in ’n beskaafde demokrasie met ’n verligte opvoedkundige beskouing.”

Grolier se Encyclopedia International stel die aantal linkshandiges in die wêreld op ongeveer 6 persent. Maar selfs 5 of 6 persent van die wêreldbevolking is al sowat 300 miljoen mense. Jy is derhalwe nie uniek as jy links is nie.

’n Linkshandige mens vererg hom dalk omdat soveel huishoudelike toestelle klaarblyklik vir die gerief van regshandiges ontwerp word. Die koue waterkraan word gewoonlik aan die regterkant van die wasbak aangebring, omdat dit blykbaar die kraan is wat die meeste gebruik word. TV-skakelaars en -verstelknoppies word gewoonlik ook aan die regterkant aangetref. Linkshandiges moet dus oor hulle liggaam reik om met sulke dinge te werk.

Wat veroorsaak linkshandigheid?

Waarom gebruik party hulle linkerhande vir feitlik alles wat hulle doen? Daar is verskillende verklarings daarvoor. Studies dui daarop dat linkshandigheid oorerflik is, hoewel ’n kind se omgewing tydens die wordingsjare dalk verband hou met die mate van voorkeur wat hy aan die regter- of linkerhand gee.

Met die verloop van jare het ’n paar interessante teorieë na vore gekom. Paul Broca, Franse neurochirurg van die 19de eeu, het die teorie bevorder dat ’n linkshandige, wat breinfunksie betref, ’n spieëlbeeld van ’n regshandige is.

Ander het hierdie teorie ’n stap verder gevoer omdat hulle geglo het dat dit ook op die liggaam van toepassing is. Hulle het derhalwe verwag dat ’n linkshandige se hart aan die regterkant van sy liggaam sou wees. Ontleedkundiges het spoedig bewys dat dit nie die geval is nie. Dit lyk egter of daar wel ’n noue verband bestaan tussen breinpatrone of organisasie en links- of regshandigheid, en neurowetenskaplikes doen meer navorsing oor die onderwerp.

Elke kant van die mensebrein word ’n hemisfeer genoem, en sedert die 19de eeu is dit duidelik dat die breinhemisfere spesifieke funksies het. Navorsing dui daarop dat die meeste mense se spraak-, wiskundige, redekundige en ander analitiese funksies in die brein se linkerhemisfeer gesetel is, terwyl die regterhemisfeer blykbaar dinge soos musiek en kuns verkies. Dit lyk egter of linkshandiges verskil in die manier waarop hulle inligting verwerk en die twee hemisfere gebruik.

Is daar vooroordeel?

In vandag se verligte lande is mense nie werklik bevooroordeeld teen die linkshandige nie, behalwe dat hy nou en dan geterg word. Dit was egter nie altyd die geval nie. Party lande was onverdraagsaam teenoor linkshandiges. In party skole was dit selfs verbode om met die linkerhand te skryf. En kort gelede nog het ’n mens gehoor van ouers en onderwysers wat die kind se “verkeerde” hand agter sy rug vasgebind het om hom te dwing om sy “regte” hand te gebruik.

Die mens se aangebore afkeer van enigiets andersoortigs is in die verlede deur godsdiensmites aangeblaas. Party mense het selfs beweer dat die Duiwel links is terwyl God kwansuis regs is. Dit is te sien in talle eeue-oue skilderye. Wanneer jy na hulle kyk, kan jy gerus oplet na watter hand gebruik word vir gebare of om voorwerpe mee vas te hou. Daar is ook beweer dat linkshandigheid ’n kenmerk van die toorkuns was.

Let daarop dat sulke mites nêrens in die Heilige Bybel steun vind nie. In Bybeltye het linkshandige sowel as regshandige manne heldedade verrig wat deur God goedgekeur is. Die verslag oor rigter Ehud is ’n duidelik voorbeeld. Omdat koning Eglon van Moab die Israeliete onderdruk het, het hulle hulle tot God gewend om hulp. Jehovah het die linkshandige Ehud gebruik om vet koning Eglon om die lewe te bring, en Ehud se linkshandigheid was beslis tot sy voordeel tydens sy aanvalsplan.—Rigters 3:15, 21.

Die Israelitiese stam van Benjamin het eweneens ’n uitgesoekte groep van 700 linkshandige manskappe gehad wat bekend was vir hulle akkuraatheid met die dodelike slingervel (Rigters 20:16). Later word manskappe genoem wat die linker- sowel as die regterhand kon gebruik wat in koning Dawid se leër krygsdiens verrig het (1 Kronieke 12:2). Enigeen wat dus bevooroordeeld is teen linkshandiges handel uit onkunde.

Nie nodig om minderwaardig te voel nie

Beskou ook party prestasies van linkshandiges in ons hedendaagse gemeenskap. Heelparty het op sportgebied aansien verwerf. Babe Ruth, wat as een van bofbal se onoortroffe spelers beskou word, was links en baie ander bofbalspelers is ook.

In krieket is daar ook heelparty linkshandiges wat met die bal sowel as die kolf sukses behaal het. Tydens een kriekettoetsreeks in Engeland het die Wes-Indiese span meer linkshandiges as regshandiges gehad. Een van krieket se uitmuntendste alsydige spelers, sir Gary Sobers van Wes-Indië, het links gekolf en geboul.

Die gewilde Olimpiese sportsoort, die skermkuns, het ook ’n aantal linkshandige deelnemers. By die Olimpiese Spele van 1980 was 3 uit 4 houers van goue medaljes in die skermkuns links.

Party welbekende, hedendaagse vermaaklikheidskunstenaars was links. In een van sy geslaagde rolprente het Charles Chaplin die viool met sy linkerhand gespeel. Ander linkshandiges was Harpo Marx en die veelsydige Danny Kaye.

In die kunswêreld is niemand seker beter bekend vir sy linkshandige werk as Leonardo da Vinci nie. Hoewel daar ’n mate van twyfel bestaan of hy van geboorte af links was, is daar blykbaar volop getuienis dat hy met sy linkerhand geskryf en geskilder het, hoewel hy by geleentheid ook sy dubbelhandigheid laat blyk het deur sy regterhand te gebruik.

Spieëlskrif

Daar is ’n noue verband tussen linkshandigheid en spieëlskrif, waarin die letters omgekeerd geskryf word en daar van regs na links oor die blad geskryf word. Dr. Macdonald Critchley verduidelik in sy brosjure Mirror-Writing: “Onder die term spieëlskrif . . . word daardie soort skrif verstaan wat in ’n teenoorgestelde rigting as die normale geskryf word en waarvan die afsonderlike letters ook omgekeer word. Die skrif is dus onleesbaar totdat dit voor ’n spieël opgehou word; ’n bekende voorbeeld van spieëlskrif word gesien in die afdruksels op ’n skryfblok.”

Dit is natuurlik geskik vir ’n pen wat in die linkerhand gehou word, en derhalwe word hierdie interessante skryfwyse feitlik uitsluitlik deur linkshandiges gebruik. ’n Vroeë voorbeeld hiervan is van ’n soldaat wat sy regterarm as gevolg van oorlogsbeserings verloor het. Toe hy met sy linkerhand begin skryf, het hy outomaties in spieëlskrif begin skryf. Wanneer party kinders leer skryf, doen hulle dit met enkele letters, soos b, d, p en q.

Op letterkundige gebied is Lewis Carroll, die linkshandige outeur van Alice in Wonderland, seker die persoon wat die bekendste vir spieëlskrif is. Dit was blykbaar die inspirasie vir sy werk Through the Looking Glass waar alles omgekeerd, agterstevoor of in spieëlbeeld is.

’n Seën of ’n nadeel?

As jy links is, kan jy dus bly wees dat jy op die meeste plekke beter verstaan word as jou medelinkshandiges in die verlede. Baie gereedskap, toestelle en huishoudelike artikels—soos skêre, blikoopmakers, aartappelskillers en messelaarstroffels—word vandag spesiaal vir jou ontwerp. Jy kan selfs ’n vulpen koop met ’n punt wat spesiaal gefatsoeneer is sodat jy makliker met die linkerhand kan skryf.

Daar is beslis geen rede om verskoning te maak omdat jy links is nie. Party van jou refleksbewegings is heel moontlik vinniger en akkurater as regshandiges s’n. Jy het dalk ’n aanleg vir musiek of kuns, wat ongebruik in jou linkerhand lê.

Wat is jou gevolgtrekking dus? Is linkshandigheid ’n seën of ’n nadeel in ’n regshandige wêreld? Hoewel party dit nie eintlik ’n seën sal noem nie, word dit al hoe duideliker dat dit nie meer so nadelig is nie, en partykeer kan dit selfs ’n voordeel wees.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel