Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 6/22 bl. 12-14
  • My strewe na roem as ’n danseres

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • My strewe na roem as ’n danseres
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ek behaal “sukses”
  • My tuiskoms
  • ’n Betekenisvolle dag in my lewe
  • Ek bring veranderinge aan
  • ’n Nuwe lewe
  • Mag Christene dans?
    Ontwaak!—1996
  • Die Bybel verander lewens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Vind ware sukses in die lewe
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Hoe om ware sukses te behaal
    Ontwaak!—2014
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 6/22 bl. 12-14

My strewe na roem as ’n danseres

EK HET pas 12 geword toe ek my debuut as ’n danseres in my tuisdorp Rome, Italië, gemaak het. Dit was in 1945, direk na die Tweede Wêreldoorlog.

Stel jou net voor hoe dit vir ’n kind moes wees wat die gevolge van daardie verskriklike slagting gesien en ondervind het om op die dansvloer te kom en juis dit te doen waarvan sy die meeste gehou het—dans! Ek was in die wolke!

Nadat ek in dansgroepe opgetree het, het ek uiteindelik ’n solodanseres geword. Ek het in Afro-Kubaanse, Oosterse en Hawaise style gespesialiseer. Maar ek het ook verskeie rumbas, cha-chas, tango’s, boogie-woogies en ander danse gedoen wat destyds in die mode was.

My dansery het vir my die weg gebaan tot fassinerende nuwe wêrelde. In die vyftigerjare het ek byvoorbeeld in bekende rolprente opgetree, waaronder War and Peace en Quo Vadis. Dit was opwindend om saam met beroemdes soos Elizabeth Taylor, May Britt, Eleanora Rossi Drago, Robert Taylor, Valentina Cortese en Gabriele Ferzetti te werk.

Ek behaal “sukses”

In my strewe na sukses het ek van die een uithoek van die wêreld na die ander gereis en Aden, Jemen; Kaapstad, Suid-Afrika; Londen, Engeland; Bangkok, Thailand; Teheran, Iran en verskeie stede in Australië besoek. Ek het uiteindelik sukses behaal. Toe ek maar net 19 was, het ek reeds die sogenoemde glans van die wêreld geniet.

Die uitputtende afrigting en die streng behandeling wat ek moes verduur om fiks en fisies aantreklik te bly, was baie moeilik. Maar wanneer ek aan die sukses gedink het wat ek toe reeds behaal het en aan my doelwit om selfs beroemder te word, het ek sulke strengheid geredelik aanvaar.

In die kringe waarin ek beweeg het, het welgestelde en gerespekteerde mense in noue aanraking gekom met diewe, dwelmsmouse en Mafia-lede. Dit was ’n ongelooflik onsedelike wêreld, ’n wêreld deurtrek van dwelmmiddels, alkohol, onsedelikheid en geweld. Maar destyds het dit my nie veel gehinder nie. My lewe het gedraai om dansery en ’n luukse lewenstyl met duur motors, juwele, klere en beroemde hotelle.

Hoewel ek baie geld gemaak het, het die meeste daarvan in my bestuurders se sakke beland. Ek het ’n dagwerk as ’n kassiere gekry sodat ek die lewenstandaard waaraan ek gewoond geraak het, kon handhaaf. En ongelukkig het ek my beginsels prysgegee en by onsedelike gedrag betrokke geraak.

My tuiskoms

Nadat ek aansienlike professionele sukses in die buiteland behaal het, het ek in 1965 besluit om na Italië terug te keer sodat ek my daarop kon toelê om werklik ’n beroemde danseres van ons tyd te word. Ek het gedink dat my ervaring en beroemdheid in die buiteland vir my nuwe geleenthede in my geboorteland sou skep. Ek is egter wreed ontnugter. Dit het gelyk asof die weg na sukses onverwags gesluit was.

Ek het mettertyd in smerige nagklubs en diskoteke begin optree. Ek het alleen gevoel, vasgevang in ’n verdorwe omgewing en moes voor allerhande dreigemente en geweld swig. Ek het twee aborsies gehad en het byna gesterf. Hoe moes ek tog nie boet vir my dwase strewe na sukses nie! Toe ek ’n laagtepunt bereik het, het ek iets gevind wat my lewe ’n ware sukses gemaak het.

’n Betekenisvolle dag in my lewe

Dit was ’n somermiddag in 1980, en ek was op pad na die swembad naby my woonstel in die provinsie van Alessandria. Daar het ek ’n vriendin teëgekom wat my iets buitengewoons gevra het. “Sal jy saam met my na ’n Bybelstudie gaan wat een van Jehovah se Getuies met my hou?” het sy gevra.

“Jehovah? En wie is Jehovah?” wou ek weet.

“Jehovah is God se naam”, het sy geantwoord.

’n Lewendige gesprek het gevolg sodat ek heeltemal van die swemmery vergeet het. Ek het my vriendin per motor na die Getuievrou toe geneem, en ek het gevra of ek by die Bybelstudie kon aansluit. Ek het gedink dat ek ’n misterieuse atmosfeer sou aantref, moontlik die een of ander ghoeroe of heilige wat vreemde en grillerige ritusse in gedempte lig uitvoer. Maar in plaas daarvan het ek my in ’n alledaagse huis bevind voor ’n gewone vrou wat ons baie beleefd binnegenooi het. Die studie was in die derde hoofstuk van die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe met die titel “Wie Is God?”

Dit was vir my ’n buitengewone openbaring om uit te vind dat God ’n persoonlike naam het en dat God se naam “Jehovah” is (Psalm 83:18, NW). Ek het gedink: ‘As die kerke selfs God se naam verberg, wie weet watter ander waarhede hulle nie dalk verberg nie!’ Ek het die Getuie gevra wat haar lesse kos en was baie verbaas om uit te vind dat hulle gratis is. In die wêreld waaraan ek gewoond was, het niemand enigiets gratis gedoen nie. Dit het my aangemoedig om die Bybel te begin studeer.

Ek bring veranderinge aan

As gevolg van my werkrooster het ek min vrye tyd gehad—ek het nog danskontrakte in verskillende stede nagekom. Ek kon nogtans nie wag dat hierdie vrou my moes kom besoek sodat ek meer omtrent die ware God, Jehovah, kon leer nie. Ek het nie net geleer dat God ’n naam het nie, maar het ook uitgevind dat Jesus en God nie dieselfde persoon is nie. Hulle is nie deel van ’n Drie-eenheid nie. Ek het ook uitgevind hoe verkeerd ek was om te dink dat God dood is! In plaas daarvan het ek nou begin om ’n ware Persoon te leer ken, ’n God wat lewe en wat dinge tot stand bring!

Ek het uiteindelik ’n doel in die lewe gevind! Hoe dankbaar is ek tog teenoor Jehovah! Ek het begin om al die vergaderinge van Jehovah se Getuies by te woon. Daar het ek hierdie liefdevolle en barmhartige God se wonderlike eienskappe beter begin verstaan. Dit het my baie vertroos as ek dink aan die soort lewe wat ek gelei het. Toe ek die gemoedsrus op die gesigte van dié by die vergaderinge in die Koninkryksaal gesien het, het ek besef dat ek ’n werklik pragtige wêreld ontdek het, en ek was vasbeslote om dit nooit te verlaat nie.—Psalm 133:1.

Ek het egter begin besef dat ek ’n paar groot veranderinge in my lewe sou moes aanbring indien ek ’n deel van daardie wêreld wou wees. Nadat ek ’n byeenkoms van Jehovah se Getuies bygewoon het en gehoor het hoe Bybelbeginsels duidelik uiteengesit word, was ek vasbeslote dat ek my lewe sou verander. Ek het opgehou dans, iets wat vantevore my groot vreugde in die lewe was. Ek het die man verlaat met wie ek die vorige ses jaar saamgeleef het en het alle bande met my verlede en die verdorwe vermaaklikheidswêreld verbreek. Ek het ook adresse en aandenkings van bestuurders en sogenaamde vriende vernietig.

’n Nuwe lewe

Op hierdie tydstip was ek werkloos en sonder ’n woonplek, maar ek het nou geleer om my volle vertroue in Jehovah te stel. Aangesien ek geld nodig gehad het, het ek my kosbare besittings verkoop—my motor, pelsjasse, juwele—die dinge wat ek gedink het ware sukses in die lewe voorgestel het. Ek het sekulêre werk begin doen deur woonstelblokke se trappe te skrop en skoonmaakwerk vir gesinne te doen. Ek het uitgevind dat ware sukses in die lewe slegs bepaal word deur die feit dat jy Jehovah se seën geniet, nie deur besittings of aansien nie.

Op 23 April 1983 is ek as een van Jehovah se Getuies gedoop. Daardie dag was daar geen fotograwe om my nie, net ander Getuies wat bly was om ’n nuwe lower van Jehovah in hulle midde te verwelkom. Kort daarna het ek na Australië vertrek om my broer te help om die wonderlike dinge te leer wat ek geleer het. Al het hy en sy kinders nie my entoesiasme oor Bybelwaarhede gedeel nie, was my verblyf in Australië baie vrugbaar.

Ek het kort daarna die voltydse diens as ’n pionier betree en het baie Italianers teëgekom wat in Australië woon en wat belangstelling in die Bybel getoon het. Mettertyd het ek talle progressiewe Bybelstudies gehou. In 1985 het ek toe na Italië teruggekeer. Aanvanklik was dit vir my moeilik om gevestig te raak, maar nou het ek ’n klein woonstelletjie en lewe van ’n pensioen wat my in staat stel om as ’n voltydse bedienaar te dien en alle gemeentelike vergaderinge by te woon.

Baie jare lank het ek sukses in dansery meer as enigiets anders begeer. Ek het gedink dat eer en roem alles was. Ek het wêreldse sterre probeer navolg. Hoe anders is alles tog nie nou nie! Dis natuurlik wonderlik om te dans, maar ek het nou uitgevind dat ware sukses in die lewe behaal word deur ander te help om van Jehovah God se wonderlike beloftes te leer en nie om vir persoonlike eer te lewe nie.

Ek wag met vertroue op die vervulling van die wonderlike belofte: “Wag op die HERE en hou sy weg, en Hy sal jou verhoog, om die aarde te besit; jy sal met welgevalle neersien op die uitroeiing van die goddelose mense” (Psalm 37:34; 2 Petrus 3:13).—Soos vertel deur Edvige Sordelli.

[Lokteks op bladsy 13]

Ek het in bekende rolprente opgetree, waaronder War and Peace en Quo Vadis

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel