Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 5/8 bl. 26-27
  • Mag Christene dans?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Mag Christene dans?
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Dans is kommunikasie
  • Dans—behoorlik en onbehoorlik
  • Behoorlik of onbehoorlik—Hoe om vas te stel
  • Hoe moet ek dansklubs vir jongmense beskou?
    Ontwaak!—2004
  • Die dansende duiwels van Yare
    Ontwaak!—1998
  • Hoe kan ek my geniet?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2
  • Plaaslike kulture en Christelike beginsels
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 5/8 bl. 26-27

Die Bybelse beskouing

Mag Christene dans?

“EK KAN nie hierna kyk nie. Ek sal maar buitentoe gaan”, het die jong man vir sy vrou gefluister terwyl hy opgestaan en die vertrek verlaat het vir ’n wandeling in die koel naglug. Hy was verleë.

Hy en sy vrou is genooi vir ’n aandjie by vriende. Die gasheer het besluit om ’n kabaretuitvoering aan te bied, wat drie dansende vroue ingesluit het. Dit het blykbaar nie die res van die gehoor gepla nie. Was hy net te oorgevoelig? Was die dansers nie maar net besig om hulle innerlike gevoelens uit te druk en die vryheid van die dans te geniet nie? Kom ons probeer dans uit ’n Christen se oogpunt verstaan.

Dans is kommunikasie

Een manier waarop mense kommunikeer, is deur middel van gebare of bewegings. Baie besoekers in ’n vreemde land was byvoorbeeld al verbaas om uit te vind dat ’n beweging wat vir hulle onskuldig is daar ’n ander betekenis het—dalk ’n ongewenste betekenis. ’n Sendeling wat vroeër in die Salomon-eilande, Maleisië en Papoea-Nieu-Guinee gedien het, het gesê: “In party gebiede word ’n seksuele inslag met sekere liggaamsbewegings geassosieer. Wanneer ’n vrou byvoorbeeld op die vloer sit, word dit as onvanpas beskou as ’n man oor haar bene tree. Dit is ook net so onbeskeie van ’n vrou om voor ’n man wat op die vloer sit verby te loop. In albei gevalle word dit onmiddellik in ’n seksuele lig beskou.” Hetsy ons nou daarvan bewus is of nie, ons liggaamsbewegings sê iets. Daarom moet dit ons nie verbaas dat dans deur die geskiedenis heen as ’n vorm van kommunikasie gebruik is nie.

Al die emosies kan in dans uitgedruk word—van die vreugde en uitbundigheid van ’n viering tot die ernstigheid van ’n godsdiensrite en -tradisie (2 Samuel 6:14-17; Psalm 149:1, 3). The New Encyclopædia Britannica sê: “Die danser kommunikeer op twee verskillende maniere met die gehoor, óf deur ’n uitgieting van emosie deur die liggaam en die gesig óf deur ’n ingewikkelde taal van mimiek en gebare.” In party danse is die kommunikasie miskien hard en duidelik. In ander dansvorme word die taal dalk net deur ’n paar ingeligtes verstaan. In klassieke ballet dui die hand op die hart byvoorbeeld op liefde, maar as daar na die vierde vinger van die linkerhand gewys word, dui dit op die huwelik. In Chinese opera dui dit op ’n reis as ’n mens in ’n sirkel loop, maar as iemand ’n sweep horisontaal hou terwyl hy om die verhoog loop, sinspeel dit op perdry; ’n swart vlag wat oor die verhoog gesleep word, is ’n storm, terwyl ’n ligbloue ’n bries aandui. Die liggaam kommunikeer dus in dans deur middel van bewegings en gebare. Maar is die boodskap altyd gepas?

Dans—behoorlik en onbehoorlik

Dans kan ’n genotvolle vorm van vermaak en oefening wees. Dit kan ’n rein en opregte manier wees om op ’n vreugdevolle fisiese wyse uiting te gee aan die genot van die lewe of waardering vir Jehovah se goedheid (Exodus 15:20; Rigters 11:34). Party groepdanse en volksdanse kan genotvol wees. Jesus het selfs, in sy illustrasie van die verlore seun, na ’n groep dansers, blykbaar ’n gehuurde dansgroep, verwys as deel van die feesvieringe (Lukas 15:25). Dit is dus duidelik dat die Bybel nie dans op sigself veroordeel nie. Maar dit waarsku wel teen die prikkeling van verkeerde gedagtes en begeertes. Dit is in hierdie verband dat sekere danssoorte dalk onbetaamlik, selfs gevaarlik vir ’n mens se geestelikheid, kan wees (Kolossense 3:5). Sedert die vroegste tye was dans al by geleentheid eroties en is dit vir skadelike doeleindes gebruik.—Vergelyk Matteus 14:3-11.

Ons Teenstander, Satan die Duiwel, weet dat die kombinasie van dansbewegings en onbehoorlike gedagtes ’n kragtige wapen in sy hande is. (Vergelyk Jakobus 1:14, 15.) Hy is deeglik bewus van die sensuele bekoring van die bewegende liggaam en hoe dit erotiese gedagtes aan die gang kan sit. Die apostel Paulus het gewaarsku dat Satan daarop uit is om ons te verlei sodat ons “verstande op die een of ander wyse verderf sal word, weg van die opregtheid en die kuisheid af wat die Christus toekom” (2 Korintiërs 11:3). Stel jou voor hoe tevrede die Duiwel sal wees as ons sou toelaat dat ons verstande in onsedelike gedagtes verstrik raak deur na onbehoorlike danse te kyk of daaraan deel te neem. Hy sal nog meer verheug wees as ons onbeheerste begeertes die oorhand kry en ons die wrange vrugte van verkeerde gedrag pluk. Hy het al in die verlede beweging en dans met daardie doel gebruik.—Vergelyk Exodus 32:6, 17-19.

Behoorlik of onbehoorlik—Hoe om vas te stel

As die bewegings gevolglik onrein gedagtes by jou opwek, hetsy die dans nou deur groepe, deur paartjies of deur net een persoon gedoen word, is die dans skadelik vir jou, selfs al is dit miskien nie vir ander nie.

Party het al gesê dat die dansmaats in talle moderne danse nie eens aan mekaar raak nie. Maar is aanraking werklik die kwessie? Die Britannica som die saak op deur te sê dat “die eindproduk dieselfde is—fisieke genot in dansery en seksuele bewustheid van ’n maat, hetsy die maat omhels of halfbewustelik waargeneem word”. Is “seksuele bewustheid van ’n maat” verstandig buite die huweliksband? Nie volgens Jesus se stelling dat “elkeen wat aanhou om na ’n vrou te kyk om hartstog vir haar te hê reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het” nie.—Matteus 5:28.

Hetsy jy besluit om te dans of nie, is jou keuse. As jy oor die volgende vrae nadink, kan dit jou help om verstandig te besluit. Wat is die doel van hierdie dans? Wat is die reputasie daarvan? Wat word deur die dansbewegings beklemtoon? Watter gedagtes en emosies wek hulle by my? Watter begeertes laat dit ontstaan in my maat of in diegene wat toekyk? ’n Mens moet beslis op jou gewete reageer, soos die jong man in die inleiding gedoen het, ongeag wat ander doen.

Die Bybel toon dat die Skepper wil hê dat ons die gawes van skoonheid, ritme en grasie moet geniet. Ja, geniet dit—maar hou in gedagte dat jou liggaam praat wanneer jy dans. Onthou Paulus se riglyne in Filippense 4:8: “Alles wat waar is, alles wat van ernstige belang is, alles wat regverdig is, alles wat kuis is, alles wat lieflik is, alles waarvan goed gepraat word, watter deug daar ook al is en watter lofwaardige saak daar ook al is, hou aan om hierdie dinge te bedink.”

[Foto-erkenning op bladsy 26]

Picture Fund/Courtesy, Museum of Fine Arts, Boston

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel