Wat is so besonders omtrent linne?
Deur Ontwaak!-medewerker in Ierland
SAL jy R13 750 vir ’n hemp betaal? Dit is wat ’n linnehemp van die hoogste gehalte tydens die vierde eeu G.J. in dele van die Romeinse Ryk gekos het. Dit is wat die hoogs betaalde wewer van daardie tyd in 25 weke verdien het.
Mense heg vandag steeds baie waarde aan allerhande weeldeartikels van linne. En as jy al ooit in ’n warm klimaatstreek tussen vars, koel linnelakens geslaap het, weet jy dat daar iets besonders omtrent linne is. Wat maak dit so besonders?
’n Vroeë begin
“Linne bestaan al lank, ten minste van die dae van die eertydse Egiptenaars af”, het Roy, die afdelingsbestuurder van die Ulster-weefmaatskappy, gesê. “Hulle het dit as iets heiligs beskou omdat dit op die Nylrivieroewer gegroei het en hulle het selfs gedink hulle gode dra linne.
“Daar moes ’n bloeiende linnenywerheid in die omtrek van die Nyl gewees het”, het Roy voortgegaan. “Die lewendes én die dooies was in linne geklee, aangesien die Egiptenaars linne gebruik het wanneer hulle ’n lyk vir begrawing voorberei het.” En stel jou net voor hoe duur dit moes gewees het! ’n Wewer het slegs ongeveer drie meter linne per week vervaardig, maar tot 900 meter is gebruik wanneer hulle ’n koning begrawe het!
Die feit dat stukke linne duisende jare lank in die grafkelders van die Farao’s behoue gebly het, toon hoe duursaam dit is. Die materiaal was ook ’n teken van status en aansien, soos blyk uit die keer toe Farao van Egipte Josef wou vereer. Die Bybel sê dat hy “hom fyn linneklere laat aantrek” het (Genesis 41:42). Dit is interessant dat Josef, ’n ryk man van Arimathea, Jesus se lyk met skoon, fyn linne toegedraai het.—Mattheüs 27:57-59.
Onder die Israeliete wat Egipte saam met Moses verlaat het, was daar dié wat bedrewe was in die maak van linne. Toe hulle in die woestyn was, het hierdie ambagsmanne “fyn dubbeldraad-linne” vervaardig wat vir die oprigting van die tabernakel gebruik is.—Exodus 26:1, 31, 36; 35:35.
Die mense in Israel het linneklere waarskynlik waardeer, omdat die materiaal koel en gemaklik is. ’n Mens kon dit boonop maklik was en skoon hou, ’n ware seën as jy dink aan die wette in Israel wat vereis het dat klere vir sindelikheid en higiëne gewas moes word (Levitikus 11:25, 40; 13:34; 15:5-13; 16:4, 32). In die Bybel beteken ‘rein, fyn linne’ gepas “die regverdige dade van die heiliges”.—Openbaring 19:8.
“As linne gewas word”, het Roy gesê, “verloor dit ’n mikroskopiese laag en hernieu sodoende elke keer sy gladde skoon oppervlak. Omdat linne sterker is wanneer dit nat is, kan dit sonder ’n probleem herhaaldelik gewas word.” Hoe verkry ons dan hierdie merkwaardige materiaal?
Bevryding van die vesels
Mense het al baie vroeg in die geskiedenis geleer om linnemateriaal uit die vesels van die vlasplant te maak. Dit is nie maklik om die vesels uit te haal waaruit pragtige, weelderige linne eindelik vervaardig word nie. Kom ons beskou kortliks die werk wat daaraan verbonde was soos dit vroeër gedoen is in Ierland, wat eeue lank ’n sentrum vir die maak van linne was.
Die vlassade is in April of Mei met die hand geplant. Die plante is ongeveer 16 weke lank met sorg opgepas terwyl hulle tot lang, slanke plante met fyn, blou blomme boaan gegroei het. Die plante kon aan die einde van Augustus geoes word wanneer die vlas ’n bruinerige kleur gekry het. Die plante is dan met die hand uitgetrek. Nadat die blare en sade verwyder is (lynolie word van die sade gemaak), het die harde werk begin om die vesels los te maak.
Die stingels is ongeveer twee weke lank in poele stilstaande water geweek om die stingels se houtagtige bas te laat verrot sodat die vesels wat in die plantstingel vassit, verwyder kon word. Volgens een gesaghebbende “is hierdie fase [wat roting genoem word] een van die belangrikste en beslis die onaangenaamste wat in die bewerking van vlas teëgekom word”. Dit was inderdaad onaangename werk om tot aan jou middel in die stink vlaspoele te staan en die plante versigtig daaruit te haal terwyl jy hard probeer om nie die lang stingels te breek nie!
Die onwelriekende vlas is op die gras uitgesprei om ’n verdere twee weke lank in die son te droog. Wanneer die vlas eers droog en bros was, is die stingels geknak en uitgeslaan om die vesels in die hande te kry. Hierdie proses is suiwering genoem. Een skrywer sê wat sy ervaring betref, kon “geen arbeid wat deur mense verrig is moeisamer gewees het as die ou manier waarop suiwering met die hand gedoen is nie”.
Die maak van linne
Nadat die hoop syerige vesels uit die stingels gehaal is, is hulle gekam om die gekoekte drade te skei. Die korterige vesels is gebruik om growwe produkte, soos koord, visnette, grondseile en seile mee te maak. Die langer vesels is tot besondere fyn garings gespin, baie fyner as dié wat van wol of katoen, wat baie korter vesels het, gespin kon word.
’n Weefstoel is gebruik om die garing tot linnemateriaal te weef. Maar nog stappe was nodig om die eenvoudige materiaal wat van die weefstoel af kom in pragtige, wit linne met ’n gladde satynglans te omskep. Die materiaal moes byvoorbeeld herhaaldelik geslaan word om die vesels plat te kry. Daarna moes die materiaal gebleik word.
Die Nederlanders het die erkende meesters van die kuns van afwerking en bleikery geword. Een skrywer het verduidelik: “Volgens die Nederlandse metode, soos dit in Ierland toegepas is, is dit agt of tien dae lank in alkali (wat bestaan het uit die urine van beeste of ’n loog van seewier-as) geweek, dan is dit gewas, gevolg deur twee of drie weke in karringmelk of semels, dan weer gewas, dan geslaan [met houthamers om ’n hoë glans te verkry] en lank gebleik [aan die son en lug blootgestel].” Die hele proses het glo sewe of agt maande geduur.
Deesdae haal meganisasie en meer wetenskaplike metodes natuurlik baie van die arbeid wat mense moes verrig uit die maak van linne. Moderne metodes het dit ook baie makliker en vinniger gemaak om nie net linnegoed wat eenvoudig geweef is te produseer nie, maar ook ingewikkelder weefsels, soos dié wat vir damas gebruik word.
Die uitdrukking “damas” is afgelei van “Damaskus” waar wewers gedurende die Middeleeue hierdie besonderse materiaal wat ’n fyn patroon bevat, vervaardig het. Die kompleksiteit van damaswewery kon gesien word in ’n stel bekerlappies wat ’n fabrikant van Belfast in 1887 aan koningin Victoria van Brittanje gestuur het. Elke damaslappie was slegs 43 sentimeter by 38 sentimeter, maar elkeen het 3060 skeringdrade en 4012 inslagdrade gehad—vier kilometer se draad in elke lappie!
Maar hoe kan die patroon sigbaar wees, aangesien al die drade dieselfde kleur is? K. G. Ponting verduidelik in sy boek Discovering Textile History and Design: “Die meeste van die patrone [in damas] word gevorm vanweë die ligweerkaatsings van die skeringvlak wat van dié van die inslagvlak verskil. Linnedamas wat byna altyd wit is, is heeltemal van hierdie ligeffek afhanklik.”
Wanneer jy weer na ’n stuk linne kyk, sal jy ongetwyfeld ’n beter begrip hê van die werk en sorg wat met die vervaardiging daarvan gepaardgegaan het. Jy sal kan sien wat mans en vroue al duisende jare lank weet—linne is beslis iets besonders!
[Prent op bladsy 23]
Vlasplante nadat dit gedroog is