Die bewaring van die vredeliewende pagiderm
“KYK net hoe oulik is daardie kleintjies! Hulle is tog te pragtig! Bedoel jy daardie kêrel met die naam Lanka wat in ons rigting stap, is net sewe maande oud? En daardie skaam meisie daar oorkant, Kanchana, is agt maande oud? En wat vang al hierdie olifantjies aan wat so uit die bosse uithardloop met hulle harde babahare wat oral op hulle lyf uitsteek? O, dis geen wonder nie, dis voertyd! Julle voer hulle vyf keer per dag en gee hulle elke keer sewe bottels melk van ’n hele liter elk? My aarde, dis 35 liter! Dit is geen wonder dat elke kalf, al is hulle net ’n paar maande oud, ongeveer 90 kilogram weeg nie!”
Ons is by die Pinnawela-olifantweesinrigting wat ongeveer 85 kilometer van Sri Lanka se hoofstad, Colombo, af is. Wanneer olifantjies wat weggegooi of gewond is in die natuur gevind word, word hulle na hierdie weesinrigting toe gebring en hier grootgemaak. Toe ons daar was, was daar sowat 15 olifantjies. Hulle loop gewoonlik tussen die volwasse olifante rond en is oor ’n groot gebied oop boswêreld versprei, maar teen voertyd word die kleintjies geroep om hulle melk te kom drink. Hierdie wesies verspil nie tyd om daar te kom en een van die drie of vier helpers op te spoor wat met bottels vol melk wag nie.
Hulle krul hulle slurp boontoe, maak hulle mond wyd oop en sluk so vinnig moontlik terwyl die helper die bottel omkeer en die melk ingooi. Daar is nie tyd vir spene aan hierdie bottels nie! Die melk stroom uit en loop soms oor die kante van hulle mond. Een olifantjie, wat groter as die ander is, is aan ’n paal vasgemaak om die kleineres ’n kans te gee. Hy was baie omgekrap oor hierdie “onderskeid” en het heen en weer gewieg, sy slurp hoog opgelig en gille van protes laat hoor. Wanneer hierdie olifantjies genoeg gedrink het, drom hulle om jou saam, leun teen jou en draai selfs hulle slurp om jou been om jou aandag te trek.
Die olifantbad
Teen die einde van die dag is dit badtyd. Al die olifante, groot en klein, word ’n halfkilometer padlangs na die oewer van die Maha Oya-rivier aangekeer. Die rivier is vlak en baie wyd met groot, plat klippe wat bo die water uitsteek. Daar is drie of vier vroue wat hulle klere was deur dit teen die klippe te slaan om die vuilheid los te kry en dit dan uitsprei om droog te word. Van ver af lyk dit soos pragtig gekleurde donskomberse wat oor die klippe uitgesprei is. Daar is ’n digte, welige bos aan die oorkantste oewer van die Maha Oya. Dit vorm ’n skilderagtige en enorme bad vir die olifante.
Hulle verspil nie tyd nie en met die kalfies heel voor loop hulle in die water in. Maar hulle is almal huiwerig om plat te gaan lê. Die helpers spat dus die olifante nat en stoot hulle met lang stokke. Hierdie aansporing laat die olifante in die water afsak vir ’n koue bad. Party grotes gaan lê plat met hulle kop onder die water, maar laat die punt van hulle slurp uitsteek as snorkels waardeur hulle asemhaal. Die son was warm, en die water streel beslis hulle dik velle—hulle naam pagiderm beteken “dikvellig”.
Mnr. Bradley Fernando, die direkteur van die nasionale dieretuin, hou toesig oor die weesinrigting. Hy vertel vir Ontwaak! wat die doel van die dieretuin is: “Aanvanklik wil ons bloot hierdie olifantjies aan die lewe hou. Dan wil ons uiteindelik ’n teeltrop opbou.”
Maar watter vyand kan die vredeliewende Indiese olifant tog hê? Hoewel hy aansienlik kleiner as die Afrika-olifant is, weeg die volwasse Sri Lankaanse olifant nogtans vier ton of meer en is hy drie meter hoog by die skouer. Sy ontsaglike grootte alleen is genoeg om die meeste roofdiere af te skrik. Soos die leeus en tiers in ander lande, bly die luiperd in Sri Lanka beslis heeltemal uit ’n uitgegroeide olifant se pad.
Wie is dan die moontlike vyand? Die mens. Die olifant het grond nodig; die mens wil grond hê; die mens kry die grond. En die Sri Lankaanse olifant loop gevaar om uit te sterf. Altans dit is hoe Asiaweek dit sien:
“Sri Lanka se eertydse konings het dit as hulle heilige plig beskou om die natuur te beskerm. Hulle het wette uitgevaardig—moontlik die eerste bewaringswette ter wêreld—waarvolgens reservate geskep is rondom die groot opgaardamme wat hulle vir besproeiing gebou het. Mense kon, en het, diere in ander gebiede gejag, maar die olifant is nooit vir sy vleis of vir vermaak doodgemaak nie. En slegs konings het die reg gehad om die dier te laat vang en vir koninklike en godsdienstige optogte te laat afrig of om hom as mak pakdier te laat gebruik. Gedurende die koloniale bewind het dit alles verander. Olifante is as grootwild hooggeskat.”
Die beskawing veroorsaak probleme
Vroeër jare is die olifant nooit vir vermaak doodgemaak nie, maar toe die Westerse beskawing gevestig geraak het—en die sportman daarmee saam—het dinge verander. Wat van die olifantjagter? Die boek Sketches of the Natural History of Ceylon deur J. Emerson Tennent sê: “Een amptenaar, majoor Rogers, het meer as 1400 olifante doodgemaak; ’n ander een, kaptein Gallwey, het die reputasie dat hy meer as die helfte soveel doodgemaak het; majoor Skinner, die Kommissaris van Paaie, bykans net soveel; en diegene wat nie so ambisieus was nie, het nie heeltemal soveel doodgemaak nie.”
Mnr. Tennent het verder gesê dat die koloniale regering ’n paar sjielings aangebied het vir elke olifant wat doodgemaak is—hulle is as ’n plaag beskou. Binne ’n paar jaar is daar 5500 eise vir hierdie beloning ingestel. Mnr. Tennent sluit af: “Die sportmanne in Ceylon [nou Sri Lanka] se voortdurende slagting onder die olifante was blykbaar bloot uit vernielsugtigheid, aangesien die karkasse nooit vir iets nuttigs gebruik is nie, maar agtergelaat is om te ontbind en die woudlug te besoedel.” Ivoor was nie ’n faktor in Sri Lanka nie, want “nie eers een uit elke honderd olifante in Ceylon het slagtande nie, en die paar wat wel het, is almal bulle”.
Asiaweek sit sy bespreking voort van hoe die olifante se lot gedurende en sedert koloniale tye agteruitgegaan het: “Hulle bosgebied, wat nie meer deur ’n koninklike bevel beskerm is nie, moes vir teeplantasies plek maak. In 1800 was daar waarskynlik 50 000 olifante op die eiland. In 1900 was daar 12 000. Vandag, selfs ná 50 jaar van streng natuurbewaringswette, is die olifantbevolking minder as 3000.” Asiaweek verwerp ook die feit dat ivoor ’n groot faktor in die slagting kan wees, hoewel dit die verhouding olifante wat slagtande het op 1 uit 20 pleks van 1 uit 100 stel. Dan gee dit die werklike rede waarom die Sri Lankaanse olifant in gevaar verkeer: “Die werklike bedreiging is die mens se voortdurende soeke na grond. Uitwissing staar Sri Lanka se olifante in die gesig, aangesien al hoe meer grond aan die rand van hulle natuurlike habitat bewerk word.”
Die Nasionale Yala-wildtuin
Dr. Ranjen Fernando, president van Sri Lanka se Vereniging vir Wild- en Natuurbewaring, het aan Ontwaak! gesê: “Die eerste natuurbewaringsgebied is in 1898 grotendeels weens die pogings van ons vereniging tot ’n wildreservaat in Yala geproklameer. In 1938 het Yala ons eerste nasionale wildtuin geword en daar word voortdurend ander bygevoeg. Ons beskou hierdie parke as ’n nasionale skat en wil hê hulle moet as ’n beskerming vir al ons kosbare natuurlewe bly bestaan.”
Ons het reeds gereël om die Nasionale Yala-wildtuin te besoek en ná mnr. Fernando daarvan gepraat het, was ons net nuuskieriger. Ons het die helpers by die Pinnawela-olifantweesinrigting vir hulle vriendelikheid en hoflikheid bedank, en ons het vir die wesies en volwasse olifante gewaai wat steeds hulle bad in die Maha Oya-rivier geniet het (ek weet nie of hulle dit gesien het nie) en na die Nasionale Yala-wildtuin toe gery.
Daar het ons drie nagte in ’n rondawel op die strand deurgebring. ’n Gids het ons rondgery om die diere te sien—jy mag nie uit die motor klim nie. Ons het takbokke, wildevarke, verskeie groot likkewane en talle pragtige voëls gesien. Een pou het mooi gepronk en ’n paringsdans uitgevoer, daar het vinknessies aan die bome gehang en die statige prag van kleurryke sprinkaanvoëls het ons beïndruk. Ons was teleurgesteld omdat ons, hoewel daar luiperds is, nie een gesien het nie. Maar ons het etlike troppe van ons ou vriende, die Indiese olifante, gesien. Hulle het rustig en tevrede gelyk in hulle beskermde parkomgewing.
Die olifant het baie ruimte nodig. En weens die mens se bevolkingsontploffing word die aanvraag na bewerkbare grond al hoe groter. Natuurbewaarders spreek al hoe meer hulle kommer uit oor presies hoe lank die regering nog oor die olifant se oorlewing besorg sal wees. Net die tyd sal ons leer.—Deur ’n “Ontwaak!”-medewerker.
[Prente op bladsy 15]
Met badtyd word die olifante oorgehaal om plat in die water te gaan lê, waar hulle hulle slurpe as snorkels gebruik
[Prente op bladsy 16, 17]
Olifantjies wat in die natuur wees gelaat word, word by Pinnawela grootgemaak