Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 5/8 bl. 14-17
  • Op Safari in Ghana

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Op Safari in Ghana
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • By die Mole- Nasionale Park
  • By die mark
  • Olifante—Vriende of vyande?
    Ontwaak!—1994
  • Woestynoorlewendes van die Namib
    Ontwaak!—1992
  • Die bewaring van die vredeliewende pagiderm
    Ontwaak!—1992
  • Ivoor—Hoeveel is dit werd?
    Ontwaak!—1998
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 5/8 bl. 14-17

Op Safari in Ghana

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN GHANA

TERWYL die oggendlig die donker en mis verdryf, ry ons stadig op ’n grondpad 80 kilometer ver na die Mole- Nasionale Park in die Noordelike Streek van Ghana. Die omliggende landskap bestaan hoofsaaklik uit gras, bossies en lae bome. Af en toe ry ons verby ’n klein dorpie waar daar kleihutte met strooidakke is.

Maar hoe anders is alles tog wanneer ons aankom in Damongo, ’n bedrywige plattelandse dorp met winkels, teerpaaie en swaar verkeer! Kinders in beige en bruin uniforms is op pad skool toe. Vroue in kleurvolle klere dra allerhande vragte op hulle koppe—brandhout, kos en houers vol water. Motors en trekkers toet, en fietsryers ry verby. Nog 20 kilometer dan is ons daar.

By die Mole- Nasionale Park

Uiteindelik kom ons by die park aan. Volgens ons toergids, Zechariah, is die Mole-wildtuin in 1971 gestig en strek dit oor ’n gebied van 4 840 vierkante kilometer. Daar is 93 soorte soogdiere, 9 soorte amfibieë en 33 soorte reptiele in die park opgeteken. Dit sluit in leeus, luiperds, gevlekte hiënas, sivetkatte, olifante, bongo’s, dwergbuffels, vlakvarke, waterbokke, duikers, muskeljaatkatte, hartbeeste, muishonde, bobbejane, verskeie apies, bastergemsbokke, ystervarke, krokodille en slange, waaronder luislange. Daarbenewens is meer as 300 voëlsoorte al hier gesien.

Terwyl ons deur kniehoë gras loop, waai ons die lastige swartvlieë weg, en kort voor lank is ons naby ’n trop wildsbokke. Dit is eers moeilik om hulle te sien omdat hulle kleur met hulle omgewing saamsmelt. Terwyl ons hulle dophou, hou hulle ons ook stip dop sodat ’n mens begin wonder wie nou eintlik vir wie kom kyk het. Ons is nog besig om foto’s te neem, toe ons skielik skrikgemaak word deur ’n harde proesgeluid aan ons regterkant. ’n Groot waterbokbul wat ontevrede is omdat ons op sy privaatheid inbreuk maak, hardloop weg en verdwyn in die bos voor ons.

Toe sien ons vier enorme olifante onder ’n groot boom. Hulle breek die takke met hulle slurpe af en kou die sagte blare. Ons beweeg nader, en wanneer ons net 10 meter van hulle af is, sê Zechariah ons moet foto’s neem. Hy slaan teen die kolf van sy geweer sodat dit ’n metaalklank maak wat die olifante onder die boom laat uitkom en ons ’n geleentheid gee om selfs beter foto’s te neem. Nie ver daarvandaan nie vind die olifante ’n modderpoel en gaan bad hulle daarin. Zechariah verduidelik dat die olifante se kleur verander—van hulle natuurlike swart na rooi of bruin—afhangende van die kleur van die modder waarin hulle bad.

Ons loop ’n entjie verder en kry ’n panoramiese uitsig oor die park. Die plantegroei hier sluit pragtige akasia- en botterneutbome in. Op pad terug loop ons dieselfde paadjie as wat die olifante loop. Hulle is nog ’n hele paar meter voor ons, maar die grootste olifant van die groep flap sy ore, neem ’n aanvallende houding in en begin in ons rigting beweeg. Gaan hy ons aanval?

Zechariah sê ons moenie bekommerd wees nie, maar hy haal terselfdertyd die geweer van sy skouer af en lei ons weg van die paadjie af waarop die olifante is. Ons loop verder, die gids met sy geweer—en ons met ons kameras—gereed vir gebruik. Kort voor lank kan die olifante ons nie meer sien nie.

Zechariah verduidelik dat die olifante in die park gewoond is aan mense en dat party selfs naby kom. Wanneer die olifante dikwels gesien word, begin die gidse hulle name gee. Een se naam is Knoppies omdat hy ’n groot knop op sy vel het. Hulle het ’n ander olifant Aksie genoem omdat hy toeriste die skrik op die lyf gejaag het.

Daarna kom ons ’n klompie bobbejane teë. Ons hou hulle dop terwyl hulle in die bome swaai of op die grond rondhardloop. Ons gids wys vir ons ’n bobbejaanwyfie wat twee kleintjies dra, een op haar rug en die ander een teen haar bors. Hulle is ’n tweeling, verduidelik hy.

Ons het vandag regtig baie diere gesien. Zechariah vertel vir ons dat ’n mens gedurende die droë seisoen—tussen April en Junie—net by die watergate hoef te wag as jy diere wil sien omdat hulle dan in groot troppe kom drink. Hy sê ook dat ’n mens baie ander diere kan sien, insluitende buffels en leeus, as jy met ’n vierwielaangedrewe voertuig in die park ry.

Dit is nou tyd vir middagete. Terwyl ons eet, kom ’n groot bobbejaan agterop die bakkie sit wat langs ons motor geparkeer is en kyk met honger oë na my middagete. Ander bobbejane, asook ’n paar wildsbokke en ’n vlakvark, loop verby ons, en laastens verskyn vier olifante op ’n heuwel daar naby. Miskien het ons ’n maklike manier gevind om hierdie diere te kry om vir ’n foto te poseer!

By die mark

Ons besoek aan die Mole- Nasionale Park was heeltemal te kort, maar nou pak ons die twee uur lange rit op grondpaaie aan na Sawla, ’n plattelandse dorp waar die Lobi woon, ’n stam wat uit boere bestaan. Die vroue van hierdie stam het die eienaardige gebruik om hulle lippe kunsmatig te vergroot. Hoewel die tradisie stadigaan besig is om uit te sterf omdat jong meisies deur die moderne beskawing beïnvloed word, is baie vroue nog steeds trots op die grootte van hulle lippe. Trouens, dit word as ’n belediging beskou om vir ’n Lobi-vrou te sê dat sy kort lippe soos ’n man het.

Ons kom by ’n dorpie aan en gaan na die mark toe. Die rietdakstalletjies is van boomtakke gemaak. Daar staan ’n wit man tussen al die swart mense by die mark. Ons gaan praat met hom en vind uit dat hy onlangs hierheen gekom het om die Bybel in Lobi te vertaal. Hy woon in die volgende dorpie tussen die Lobi-mense sodat hy kan leer om hulle taal vlot te praat. Dit het my laat dink aan Robert Moffat, wat in die 19de eeu ’n sendingstasie tussen die Tswanasprekende mense van Suider-Afrika gestig het en die Bybel in hulle taal vertaal het.

Op ’n bankie by een van die markstalletjies sit ’n bejaarde Lobi-vrou met vergrote lippe. Twee witterige houtplaatjies, elkeen so groot soos ’n duimnael, is in ’n gaatjie in albei haar lippe gedruk. Ek wil graag ’n foto van haar neem, maar wanneer ek my kamera oplig, draai sy weg. Een van my metgeselle verduidelik dat die ouer Lobi-mense glo dat dit sleg vir hulle siel kan wees wanneer iemand ’n foto van hulle neem.

Op pad terug na Sawla, waar ons sal oornag, dink ek aan die wysheid en verskeidenheid wat ons in God se skepping gesien het. Hy het diere en mense meesterlik ontwerp. Dit is net soos die psalmis uitgeroep het: “Hoe talryk is u werke, o HERE! U het hulle almal met wysheid gemaak; die aarde is vol van u skepsele!”—Psalm 104:24.

[Kaart op bladsy 14]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

GHANA

[Prent op bladsy 14]

Vlakvark

[Prent op bladsy 14]

Gevlekte hiëna

[Prent op bladsy 15]

Olifant

[Prent op bladsy 15]

Seekoeie

[Prent op bladsy 15]

’n Trop wildsbokke

[Prente op bladsy 16]

’n Bobbejaanwyfie wat twee kleintjies dra

[Prent op bladsy 17]

Hartbees

[Prent op bladsy 17]

Die mark

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel