Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 7/8 bl. 9-11
  • Vroue—Word hulle in die werkplek gerespekteer?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vroue—Word hulle in die werkplek gerespekteer?
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die bullebak
  • Vroue en die wet
  • Seksuele teistering—’n wêreldwye probleem
    Ontwaak!—1996
  • Vroue—Word hulle tuis gerespekteer?
    Ontwaak!—1992
  • Wat kan ek omtrent seksuele teistering doen?
    Ontwaak!—2000
  • Vroue—Word hulle vandag gerespekteer?
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 7/8 bl. 9-11

Vroue—Word hulle in die werkplek gerespekteer?

“Die meeste van die mans, of hulle nou getroud of ongetroud was, het die vroue as ’n geoorloofde teiken beskou.”—Jenny, wat voorheen sekretaresse by ’n regsfirma was.

“Seksuele teistering en die uitbuiting van vroue in hospitale is iets wat algemeen bekend is.”—Sarah, ’n gekwalifiseerde verpleegster.

“Ek is gedurig met onsedelike voorstelle by die werk lastig geval.”—Jean, ’n gekwalifiseerde verpleegster.

IS HIERDIE gevalle die uitsondering of kom hulle dalk algemeen voor? Ontwaak! het ’n onderhoud gevoer met ’n aantal vroue wat ondervinding in die werkplek het. Is hulle deur hulle manlike medewerkers gerespekteer en met waardigheid behandel? Hier is sommige van hulle opmerkings:

Sarah, ’n verpleegster van New Jersey, VSA, wat nege jaar in Amerikaanse militêre hospitale gewerk het: “Ek onthou die keer toe ek in San Antonio, Texas, gewerk het en daar ’n vakature in die Nierdialise-afdeling ontstaan het. Ek het ’n groep dokters gevra wat ek moet doen om die werk te kry. Een het met ’n grynslag gesê: ‘Slaap by die hoofdokter.’ Ek het net gesê: ‘Op daardie voorwaardes wil ek die werk nie hê nie.’ Maar dit is dikwels die grondslag waarop besluite oor bevordering en aanstellings geneem word. Die vrou moet voor die dominerende, wellustige man swig.

“By ’n ander geleentheid het ek in ’n waakeenheid gewerk waar ek besig was om ’n pasiënt aan IV’s [binneaarse buisies] te koppel toe ’n dokter verbykom en my boud knyp. Ek was woedend en het na ’n vertrek daar naby gestorm. Hy het my gevolg en iets vulgêrs gesê. Ek het hom eenvoudig met die vuis geslaan en hom reg in ’n vullisblik laat beland! Ek het dadelik na my pasiënt toe teruggegaan. Dit spreek vanself dat hy my nooit weer lastig geval het nie!”

Miriam, ’n getroude vrou van Egipte wat voorheen sekretariële werk in Kaïro gedoen het, het die situasie van vroue verduidelik wat in ’n Moslemomgewing in Egipte werk. “Die vroue trek baie meer beskeie aan as dié in die Westerse samelewing. Ek het geen fisiese seksuele teistering in my werkplek opgemerk nie. Maar daar vind soveel seksuele teistering op die moltrein in Kaïro plaas dat die eerste wa nou net vir vroue gereserveer is.”

Jean, ’n stil maar vasberade vrou met 20 jaar se ondervinding as verpleegster, het gesê: “Ek het ’n streng beleid gevolg om nooit met iemand by die werk uit te gaan nie. Maar ek is lastig geval, of ek nou met dokters of met hulpverpleërs te doen gehad het. Hulle het almal gedink hulle het die sielkundige hef in die hand. As ons as verpleegsters nie met hulle ‘saamgewerk’ het wat hulle seksuele begeertes betref nie, dan was die hulpverpleërs net nie daar wanneer ons hulp nodig gehad het om ’n pasiënt op ’n bed te tel en so meer nie.”

Jenny het sewe jaar lank as sekretaresse by ’n regsfirma gewerk. Sy verduidelik wat sy gesien het terwyl sy saam met prokureurs gewerk het. “Die meeste van die mans, of hulle nou getroud of ongetroud was, het die vroue as ’n geoorloofde teiken beskou. Hulle gesindheid was: ‘As prokureurs is ons daarop geregtig, en vroue is een van ons voorregte.’” En die bewyse toon blykbaar dat ander beroepsmense dieselfde beskouing het. Maar wat kan ’n vrou doen sodat sy minder lastig geval sal word?

Darlene, ’n swart Amerikaner wat as sekretaresse en as gasvrou by ’n restaurant gewerk het, het gesê: “Dinge kan skeef loop as jy nie jou gedragsperke duidelik stel nie. Wanneer ’n man jou begin terg en jy terg terug, kan dinge maklik handuit ruk. Ek moes al by verskeie geleenthede my standpunt duidelik stel. Ek het al dinge gesê soos: ‘Ek sal dit waardeer as jy nie só met my praat nie.’ By ’n ander geleentheid het ek gesê: ‘As getroude vrou vind ek wat jy gesê het baie aanstootlik, en ek dink nie my man sal daarvan hou nie.’

“Die punt is, as jy wil hê mense moet jou respekteer, moet jy dit verdien. En ek kan nie sien hoe ’n vrou respek kan verdien as sy met die mans in kleedkamerpraatjies, soos ek dit noem—skurwe grappe en seksuele insinuasies—probeer meeding nie. As jy die skeidslyn tussen aanvaarbare en onaanvaarbare spraak en gedrag laat vervaag, dan sal die een of ander man dit probeer oorskry.”

Die bullebak

Connie, ’n verpleegster met 14 jaar se ondervinding, het lig gewerp op ’n ander vorm van teistering wat in verskillende situasies kan opduik. “Ek het saam met ’n dokter verbande omgeruil. Ek het al die gewone prosedures gevolg wat ek geleer het. Ek ken die tegnieke om alles steriel te hou, ensovoorts. Maar niks was in daardie dokter se oë reg nie. Hy het teen my uitgevaar en alles wat ek gedoen het, gekritiseer. Hierdie soort ding, om vroue te verkleineer, kom heel dikwels voor. Sommige mans het ’n egoprobleem, en hulle het blykbaar ’n behoefte daaraan om hulle gesag te laat geld oor die vroue wat saam met hulle werk.”

Sarah, wie se woorde vroeër aangehaal is, het ook haar ondervinding in hierdie verband vertel. “Terwyl ek die voorbereidsels vir ’n operasie gedoen het, het ek die pasiënt se lewensfunksies nagegaan. Sy EKG-verslag [elektrokardiogram-verslag] was so onbestendig dat ek geweet het hy is nie in ’n toestand om ’n operasie te ondergaan nie. Ek het die fout begaan om dit onder die chirurg se aandag te bring. Hy was woedend, en sy antwoord was: ‘Verpleegsters moet hulle oor bedpanne bekommer, nie oor EKG’s nie.’ Ek het toe net eenvoudig die narkotiseur in kennis gestel, en hy het gesê dat sy span onder hierdie omstandighede nie met die chirurg sou saamwerk nie. Toe het die chirurg vir die man se vrou gaan sê dat dit my skuld was dat haar man nog nie die operasie ondergaan het nie! Onder daardie omstandighede kan ’n vrou nie wen nie. Waarom nie? Omdat jy onopsetlik ’n manlike ego bedreig het.”

Dit is duidelik dat vroue dikwels aan teistering en vernederende gedrag in die werkplek onderwerp word. Maar waar staan hulle met betrekking tot die wet?

Vroue en die wet

In sommige lande het dit baie eeue geduur voordat vroue selfs teoretiese gelykheid onder die wet verkry het. En waar die wet gelykheid duidelik uiteensit, is daar dikwels ’n wye kloof wat die teorie en die praktyk skei.

Die VN se publikasie The World’s Women—1970-1990 sê: “Hierdie kloof [die kloof wat regeringsbeleid betref] word grootliks veroorsaak deur wette wat vroue hulle gelykheid met mans ontsê wanneer dit betrekking het op hulle regte om grond te besit, geld te leen en kontrakte aan te gaan.” Soos een vrou van Uganda gesê het: “Ons is nog steeds tweederangse burgers—nee, derderangse burgers, aangesien ons seuns belangriker as ons is. Selfs donkies en trekkers word soms beter behandel.”

Die Time-Life-publikasie Men and Women sê: “In 1920 het die 19de Wysiging tot die Verenigde State se Grondwet die stemreg van vroue gewaarborg—lank nadat hulle reeds daardie reg in baie Europese lande verkry het. Maar die stemreg is eers in 1928 in Brittanje (en eers ná die Tweede Wêreldoorlog in Japan) toegestaan.” ’n Britse voorstander van die stemreg vir vroue, Emily Wilding Davison, het in 1913 tydens die Derby-perdewedren voor die koning se perd ingespring om protes aan te teken teen die politieke onreg wat teenoor vroue gepleeg is en het haar lewe verloor. Sy het ’n martelaar geword in die stryd om gelyke regte vir vroue.

Die blote feit dat die Amerikaanse Senaat die “Wet op Geweld Teen Vroue” eers in 1990 vir goedkeuring oorweeg het, toon dat die wetgewende magte, wat hoofsaaklik uit mans bestaan, baie stadig was om aan die behoeftes van vroue gehoor te gee.

Hierdie kort oorsig van hoe vroue wêreldwyd behandel word, bring ons by die vraag: Sal sake ooit anders wees? Wat is nodig om die situasie te laat verander? Die volgende twee artikels sal daardie vrae bespreek.

[Venster/Prent op bladsy 11]

Wie trek aan die kortste end?

“Vroue doen twee derdes van die wêreld se werk. Hulle produseer 60 tot 80 persent van Afrika en Asië se voedsel en 40 persent van die voedsel in Latyns-Amerika. Tog verdien hulle slegs een tiende van die wêreld se inkomste en besit minder as een persent van die wêreld se eiendom. Hulle is onder die armstes van die wêreld se armes.”—May You Be the Mother of a Hundred Sons deur Elisabeth Bumiller.

“Die feit is dat klein dogtertjies [in sommige wêrelddele] nie skool toe gaan nie omdat daar geen veilige drinkwater is nie. . . . Ek het al gesien hoe tienermeisies drinkwater twintig en soms dertig kilometer ver gaan haal, wat die hele dag neem. Wanneer hierdie meisies veertien of vyftien jaar oud is, was hulle . . . nog nooit skool toe nie en het hulle nog nooit iets geleer nie.”—Jacques-Yves Cousteau, The Unesco Courier, November 1991.

[Prent op bladsy 10]

’n Mens hoef nie seksuele teistering te verdra nie

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel