Die dood se angel word vernietig
DIT is niks buitengewoons om te lees dat die dood natuurlik of normaal is nie. Volgens die Bybel is dit in werklikheid nie so nie. Die dood is ’n vyand wat die gevolg van sonde is. In Romeine 5:12 sê die Bybel: ‘Deur een mens het die sonde in die wêreld ingekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot alle mense deurgedring, omdat almal gesondig het.’
Aangesien dit nie God se voorneme was dat die mens moet sterf nie, het hy liefdevol voorsiening gemaak vir redding. Deur toe te laat dat sy Seun ten behoewe van ons sterf, het hy ’n ooreenstemmende losprys voorsien om die doodstraf kragteloos te maak (Mattheüs 20:28; 1 Johannes 2:2). Hy het ook ’n aardse paradys belowe met ’n hele nuwe regering wat oor al die mense sal heers. Daardie regering sal die gevolge van sonde en die dood heeltemal uitwis (Lukas 18:30). In Openbaring 21:3, 4 sê die Bybel: “God self sal by hulle wees as hulle God. En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.” Maar wat van diegene wat reeds gesterf het?
Hulle het die opstandingshoop—die vooruitsig om weer as mense op daardie Paradysaarde te leef, met ’n volmaakte, gesonde liggaam en verstand. Ja, “daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan” (Johannes 5:28, 29). Jesus Christus, die een wat deur God gestuur is om die mens te verlos, het ons verder verseker: “Dit is die wil van Hom wat My gestuur het, dat elkeen wat die Seun aanskou en in Hom glo, die ewige lewe mag hê; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.”—Johannes 6:40.
Dit is hierdie opstandingshoop wat baie mense onderskraag wat ’n geliefde aan die dood afgestaan het. Hulle besef dat hulle geliefdes slegs “in die dood slaap”, en daarom “treur hulle nie soos al die ander wat geen hoop het nie” (1 Thessalonicense 4:13, The New English Bible). Hulle sien daarna uit om weer met hulle omgang te geniet in daardie nuwe stelsel van dinge wat God belowe het. Hulle stel vertroue in die God wat vertroosting en hoop bied.—Romeine 15:4, 13; 2 Korinthiërs 1:3; 2 Thessalonicense 2:16.
Dit is waarom Jehovah se Getuies se begrafnisdienste opvallend anders is as ander dienste. Ten einde God se goedkeuring weg te dra, vermy die Getuies enige gebruike wat in stryd met sy Woord, die Bybel, is. Hulle vermy gewoontes en versierings wat gebaseer is op opvattings wat nie in die Bybel voorkom nie. Aangesien hulle slegs die ware God, Jehovah, aanbid, weier hulle om sulke eer aan hulle afgestorwenes te bewys. En hulle spog nie met hulle rykdom en aansien nie, want hulle weet dat dit God mishaag (1 Johannes 2:16). Hulle begrafnisse is eenvoudig en waardig en help om diegene wat iemand verloor het te vertroos. ’n Toespraak, wat die Bybel se hoop verduidelik, word ter nagedagtenis aan die afgestorwene gehou. Hulle treur, maar nie uitermatig nie.
Jehovah se Getuies weet dat “die laaste vyand, die dood” binnekort vernietig sal word. Dan sal die voorspelde woorde bewaarheid word: “Die dood is vir ewig verswelg. Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?”—1 Korinthiërs 15:26, 54, 55, NW.