Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 11/15 bl. 4-7
  • “Die laaste vyand” sal oorwin word!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Die laaste vyand” sal oorwin word!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ken jou vyand
  • Hoe om die dood van ’n geliefde te verwerk
  • Die oorwinning oor die dood
  • Die dood se angel word vernietig
    Ontwaak!—1992
  • “Die dood is vir ewig verswelg”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Die dood word oorwin – Hoe?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe) – 2019
  • Hoe om die dood van jou huweliksmaat te verwerk
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 11/15 bl. 4-7

“Die laaste vyand” sal oorwin word!

TOE jy klein was, was jy moontlik bang vir die donker. Bangmaakstories en selfs party sprokies het jou dalk met angs vervul. Hoe gerusstellend was dit tog wanneer jou ma of pa ’n lamp laat brand het terwyl jy probeer het om aan die slaap te raak!

Die dood laat eweneens baie mense bang voel. Maar dit hoef nie so te wees nie. Waarom nie? As gevolg van wat die dood werklik is.

Ken jou vyand

Wyse koning Salomo van eertydse Israel het gesê: “Die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie” (Prediker 9:5). Volgens hierdie Goddelik geïnspireerde gedagte wat in jou eie Bybel voorkom, is die dood eenvoudig die teenoorgestelde van die lewe. Die dooies voer nie ’n bewuste bestaan nie.

Die Christenapostel Paulus praat by wyse van ’n illustrasie van die dood en skryf: “Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?” Wat is die angel wat die dood veroorsaak? Paulus sê: “Die angel van die dood is die sonde” (1 Korinthiërs 15:55, 56; Hosea 13:14, NW). Wat is dan die oorsprong van hierdie dodelike angel? Paulus sê op ’n ander plek in die Skrif: “Soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het” (Romeine 5:12). Die apostel toon duidelik wie daardie “een mens” is wanneer hy sê: ‘Almal sterwe in Adam’ (1 Korinthiërs 15:22). Ja, as gevolg van die ongehoorsaamheid van ons eerste voorvader, Adam, moet ons almal weens die dood se angel ly.—Genesis 3:1-19.

Nie een van ons sal wil doodgaan as ons goeie gesondheid geniet en saam met ’n liefdevolle gesin in ’n aangename omgewing woon nie. Maar soos die Bybel toon, kan “tyd en lotgeval” ons van die lewe beroof (Prediker 9:11). Trouens, ons weet nie wat môre met ons lewe gaan gebeur nie (Jakobus 4:14). Een ding is seker—ons het almal sonde en die dood geërf. Daarom bekruip die dood ons en tref dit ons soos ’n vyand.

Hoe om die dood van ’n geliefde te verwerk

Die dood is veral ’n vyand wanneer dit ’n geliefde tref. “Dit sal erger wees vir jou”, het ’n vrou met ’n terminale siekte vir haar man gesê terwyl sy aan haar naderende dood gedink het. Waarom kon sy dit sê? Omdat die Bybel sê: “Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag, want daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk waar jy heengaan nie” (Prediker 9:10). Die dooies ly nie meer nie. Maar die familielede en vriende wat agterbly, moet die smart verduur. Kan enigiets omtrent sulke lyding gedoen word?

Die bladsye van God se Woord, die Bybel, bevat baie woorde van vertroosting. As ’n mens byvoorbeeld die psalms lees en daaroor peins, is dit beslis ’n bron van vertroosting. Woorde soos dié is beslis bemoedigend: “Geseënd is Jehovah, wat daagliks die pak vir ons dra, die ware God van ons redding.”—Psalm 68:19, NW.

Nog ’n bron van vertroosting is die Christengemeente. In die eerste eeu G.J. het die apostel Paulus geskryf: “Eer die weduwees wat waarlik weduwees is. Maar as ’n weduwee kinders of kleinkinders het [wat materieel na haar kan omsien], laat hulle eers leer om teenoor hulle eie huis eerbied te betoon en vergelding te doen aan hulle ouers; want dit is goed en aangenaam voor God. Laat ’n weduwee gekies word, nie minder as sestig jaar oud nie, wat die vrou van een man gewees het en getuienis het van goeie werke, as sy kinders grootgemaak het, gasvry gewees het, die voete van die heiliges gewas het, verdruktes gehelp en elke goeie werk nagestreef het” (1 Timotheüs 5:3, 4, 9, 10). Jehovah se hedendaagse Getuies help en bemoedig eweneens hierdie medegelowiges.

Die grootste aanpassing wat die bedroefdes gewoonlik moet maak, is emosioneel van aard. “Ek het my vrou baie liefgehad”, het ’n man geskryf wie se huweliksmaat twee jaar tevore gesterf het. “Dit is die droewigste gebeurtenis in my lewe, en ek vind dit baie moeilik om dit te verduur.” Iemand wat al ’n tyd lank getroud is, se lewe maak deel uit van die intiemste menseverhouding wat daar bestaan. Wanneer ’n huweliksmaat sterf, ondervind die maat wat agterbly uiteraard ’n swaar verlies. Tot wie kan daardie persoon hom om hulp wend?

In sulke omstandighede kan goeie Christenmetgeselle opbouend wees. “’n Ware metgesel het te alle tye lief, en is ’n broer wat gebore word vir die tyd wanneer daar benoudheid is”, sê ’n wyse spreuk (Spreuke 17:17, NW). ’n Weduwee of wewenaar het hulp nodig—metgeselle wat ware steun bied. Verstandige vriende moedig die bedroefde persoon aan om te praat, selfs al bring dit trane mee. ’n Christen wat reeds die pyn en hartseer van die verlies van ’n huweliksmaat ondervind het, kan miskien vriendelike hulp aanbied. “Praat vertroostend met die terneergedrukte siele”, is die Bybel se raad (1 Thessalonicense 5:14, NW). Maar hou in gedagte dat weduwees en wewenaars na hulle huweliksmaat verlang. Daarom moet die bedroefde persoon ander net in sy vertroue neem onder omstandighede waar hulle hulle lewenswandel skoon sal kan hou.—1 Petrus 2:12.

Die beste teenmiddel teen die pyn wat deur die dood veroorsaak word, is om besig te bly om ander te help—’n groot uitdaging vir diegene wat glo dat húlle die hulp nodig het! Hier speel onselfsugtigheid ’n rol. As ’n mens op ’n onselfsugtige wyse dinge vir ander doen, help dit om hartseer en smart te verdryf, want Jesus het gesê: “Dit is saliger om te gee as om te ontvang.”—Handelinge 20:35.

Die oorwinning oor die dood

’n Bysteek kan baie pynlik, selfs noodlottig, wees. Maar dit bring gewoonlik verligting as ’n mens die insek se angel wat in jou vel vassit, verwyder. Maar watter vooruitsigte is daar vir verligting van die angel wat die dood veroorsaak?

Nadat Paulus verduidelik het dat sonde die angel is wat die dood veroorsaak, roep hy uit: “God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus”! (1 Korinthiërs 15:57). Hoe hou die oorwinning oor die dood met Christus verband? Jesus het getoon dat dit die geval is toe hy oor homself gesê het: ‘Die Seun van die mens het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie’ (Mattheüs 20:28). Ja, vir dié wat geloof beoefen in God se Seun, Jesus Christus, en in die losprysoffer wat Jehovah deur hom voorsien het, sal die dood wat ons van Adam geërf het nie tot ’n permanente toestand van nie-bestaan lei nie.—Johannes 3:16.

Jesus se woorde is inderdaad bemoedigend: “Daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling.”—Johannes 5:28, 29.

God se profeet Jesaja het eeue tevore voorspel: “Hy [Jehovah God] sal die dood vir ewig vernietig, en die Here HERE sal die trane van alle aangesigte afvee” (Jesaja 25:8). Die Bybel herhaal hierdie wonderlike vooruitsig in Openbaring 21:4: “God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.” Hierdie Bybelhoop vir dié wat in die dood slaap, bemoedig bedroefdes, en daarom hoef hulle nie te “treur soos die ander wat geen hoop het nie”.—1 Thessalonicense 4:13.

Probeer jou voorstel wat God vir die mens in die vooruitsig stel, soos dit in die Bybel geopenbaar word. Die naderende “groot verdrukking” voorspel niks goeds vir die huidige goddelose stelsel van dinge nie (Openbaring 7:14). Dié wat valse godsdiens beoefen, word vernietig. Die hebsugtige politieke en handelselemente wat tot hongersnood en oorlog bydra, sal tot die verlede behoort. Daarna werp Jesus Christus Satan die Duiwel, wat die dood van soveel mense veroorsaak het, in die afgrond. Dan begin Christus sy Duisendjarige Heerskappy, waartydens hy die waarde van sy losprysoffer ten behoewe van die mensdom aanwend. Die dooies keer terug tydens die verwagte opstanding, en die lig uit God se Woord skyn so helder dat bygelowige opvattinge oor die dood, die mens se vyand, nie meer bestaan nie. Almal wat dan lewe, het die geleentheid om God se weë te leer en hulle na sy regverdige standaarde te skik.—Spreuke 4:18; Handelinge 24:15; Hebreërs 2:14, 15; Openbaring 18:4-8; 19:19-21; 20:1-3.

‘Daarna kom die einde’, sê Paulus, ‘wanneer Christus Jesus die koninkryk aan God die Vader oorgee. Want hy heers as koning totdat God al sy vyande onder sy voete gestel het. Die laaste vyand wat dan vernietig word, is die dood’ (1 Korinthiërs 15:24-26). Nie een van die gebreke wat die gevolg van Adam se sonde was, bestaan meer nie. ’n Finale toets vind plaas, en liefhebbers van God bly getrou deur die toets (Openbaring 20:4-10). Hierdie gehoorsame mense, wat tot volmaaktheid herstel is, lewe nie net vir sewentig jaar of selfs vir honderd-en-tien jaar nie, maar vir ewig. Wat ’n gawe van God deur sy geliefde Seun!—Romeine 6:23.

Hoe lank kan jy dus lewe? Jou lewe kan tot in alle ewigheid duur. En omdat jy in hierdie wêreld se “tyd van die einde” lewe, hoef jy moontlik nooit te sterf nie (Daniël 12:4; Johannes 11:25, 26; 17:3). As jy God se wil doen, kan jy tot in God se beloofde nuwe wêreld lewe.—2 Petrus 3:13.

As jy egter al taamlik oud is, moet jy realisties wees en besef dat die moontlikheid bestaan dat jy kan sterf. Die opstandingshoop is beslis ’n bron van vreugde. Maar jy wonder dalk hoe Jehovah die gesinslewe in daardie nuwe stelsel van dinge sal reël. Moenie jou oor sulke sake bekommer nie, want Jehovah sal sorg vir die blywende geluk van dié wat vir ewig aan hom getrou bly.

Terwyl hierdie kritieke “laaste dae” van Satan se goddelose stelsel ten einde loop, moet jy nie toelaat dat vrees vir die dood jou van die voorreg beroof om Jehovah nóú te dien nie (2 Timotheüs 3:1). As jy ’n geliefde aan die dood moet afgee, kan jy jou troos aan die wete dat die mag van die dood net tydelik is (Openbaring 20:13, 14). Stel jou vertroue in die opstandingshoop. Dan kan jy, of jy nou die groot verdrukking oorleef of deur middel van ’n opstanding in die nuwe wêreld ingaan, seker wees van die geïnspireerde waarborg dat die dood, die laaste vyand, vernietig sal word.—Openbaring 7:9, 14.

[Prent op bladsy 5]

Goeie Christenmetgeselle kan bedroefdes geestelik opbou

[Prent op bladsy 7]

As ’n mens besig bly deur ander te help, verlig dit die smart wat deur die dood van ’n geliefde veroorsaak word

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel