Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 8/8 bl. 18-20
  • Ons fassinerende hande

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons fassinerende hande
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Fassinerend gemaak
  • ’n Volmaak passende handskoen
  • Duisende senuwees
  • Hulle vertel dinge omtrent ons
  • Waardeer jou spesiale gawes
    Ontwaak!—2011
  • Jou vingernaels Versorg jy hulle?
    Ontwaak!—1998
  • Die fassinerende wêreld van miniatuurboeke
    Ontwaak!—1998
Ontwaak!—1992
g92 8/8 bl. 18-20

Ons fassinerende hande

MET ’n deurborende kreet laat die jong man sy hamer val en gryp hy sy duim styf vas asof hy die pyn wil uitdruk. Hy het wéér sy duim in plaas van die spyker raak geslaan.

Op daardie oomblik dink die aspirant-timmerman waarskynlik dat hy sonder daardie duim beter daaraan toe sal wees. Maar die duim, wat so dikwels “lomp” is, is deel van ’n uiters waardevolle stuk gereedskap wat elkeen van ons besit—die mensehand.

Omdat ons so vertroud is met ons hande—die behendige vingers, die buigbare gewrigte, die sensitiewe senuwees, ensovoorts—is dit maklik om hulle as vanselfsprekend te aanvaar. Maar ons kan amper geen taak verrig sonder om ons hande te gebruik nie. “Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag”, het die wyse koning Salomo gemaan (Prediker 9:10). Hy het gepas die hand as ’n simbool van mensebedrywighede gekies, want dit is werklik ’n presisiewerktuig sonder gelyke.

Fassinerend gemaak

Ons vingers kan oor ’n tikmasjien se toetsbord vlieg teen miskien ruim honderd woorde per minuut. Hulle kan oor die 88 klawers van ’n vleuelklavier dans en ’n bladsy note in pragtige musiek oorsit. Maar wat van die duim? Wel, probeer gerus die volgende: Sprei jou palm uit en laat jou vingers reg na bo wys. Begin met die pinkie en buig elke vinger. Sien jy hoe moeilik dit is om nie die ander vingers ook te beweeg nie? Buig nou jou duim, beweeg hom op en af, beweeg hom al in die rondte. Jy kan dit doen en die ander vingers feitlik heeltemal stil hou. Hierdie unieke onafhanklikheid van die duim—wat deur die buigbare saalgewrig by sy basis en deur sy eie stel spiere moontlik gemaak word—gee hom baie spesiale vermoëns.

Een daarvan is dat ons opponeerbare duim die oppervlak van elk van die ander vingers kan aanraak of ’n greep teenoor enigeen van hulle kan voorsien. ’n Onbeduidende besonderheid? Probeer gerus om ’n muntstuk op te tel sonder om jou duim te gebruik, of om ’n fles oop te maak of ’n deurknop te draai. Selfs ons vriend, die timmerman, het daardie “lomp” duime nodig om ’n spyker op sy plek te hou of sy hamer te swaai. Trouens, sekere eertydse nasies het die wrede gebruik gehad om vyandelike soldate wat hulle gevange geneem het buite geveg te stel deur hulle duime af te kap.—Rigters 1:6, 7.

Die vingers het verbasend min spiere as ’n mens dink aan al die werk wat hulle doen. Oppervlakkig beskou, kan dit lyk of dit ’n nadeel is, aangesien meer spiere meer krag beteken. Spiere is egter geneig om te groei wanneer hulle aanhoudend gebruik word. Wat sou gebeur as ons vingers met sterk spiere toegerus was? Met die hoeveelheid werk wat die vingers doen, sou ons hande eerlank soos dik spane gelyk het, wat fyn werk moeilik of onmoontlik sou maak. Hoe dankbaar kan ons tog wees dat ons Skepper wyslik die meeste van die spiere in die voorarms geplaas het en hulle met sterk senings met die vingers verbind het!

’n Volmaak passende handskoen

Die vel oor jou hand is meer as net ’n bedekking. Knyp die vel op die agterkant van jou hand. Jy sal sien dat dit los en beweegbaar is. Dit laat die vuis toemaak. Wat nou van die palm? Die vel daar is baie minder gewillig om van die palm af weg te kom. Stel jou voor hoe moeilik dit sou wees om ’n ferm greep op enigiets te hê as die vel heen en weer beweeg het. Die hand is van kussinkies voorsien om die greep te versterk. Hierdie vetneerslae is veral dik net onderkant die vingers en in die bal van die hand—die algemene drukpunte wanneer ons iets vasvat of teen iets druk.

As jy die palmkant van jou hand noukeurig bekyk, sal jy oplet dat die vel nie volkome glad is nie. Benewens die heel opvallende lyne in die palm, is die hand oortrek van talle haarfyn parallelle en geboë lyntjies, wat papillêre riffels genoem word. Soos die patrone op jou skoensole, gee die riffels beter klouvermoë en verbeter hulle jou greep.

By die punte van die riffels is daar openinge vir klein sweetkliertjies wat die palm bevogtig. Jy het ongetwyfeld al gesien hoe ’n werker sy hande vinnig teen mekaar vrywe voordat hy iets swaars aanpak. Dit is nie net ’n aanwensel nie. As jy jou hande vrywe, veroorsaak dit hitte, wat die sweetkliere stimuleer. Die vogtigheid veroorsaak friksie vir ’n beter greep. Wat doen jy wanneer jy sukkel om uiters dun blaaie van ’n boek om te blaai? Waarskynlik dieselfde ding—jy vryf jou vingerpunte teen die duim om die dun blaaie makliker te kan omblaai.

Die geboë lyne en kronkels van die riffels op jou vingerpunte het nog ’n doel—hulle vorm jou unieke vingerafdruk. Al klink dit dalk hoe ongelooflik, daar lê op daardie klein oppervlak van die vingerpunt ’n patroon van lyne wat nie gedupliseer is in die meer as 50 duisendmiljoen ander vingers en duime wat bestaan nie. Al lyk tweelinge identies, onderskei hulle vingerafdrukke hulle van mekaar. Dit is interessant dat Chinese sakemanne reeds in die derde eeu v.G.J. hulle klante aan hulle vingerafdrukke geïdentifiseer het, wat net so betroubaar as ’n handtekening was. Trouens, selfs beserings aan die vinger sal jou afdruk nie verander nie. Dit sal onveranderd teruggroei mits die skade nie te diep is nie.

Duisende senuwees

Hoewel ons hande nie kan sien, hoor of ruik nie, is hulle nietemin een van die vernaamste maniere waarop ons die wêreld om ons waarneem. Wat doen jy byvoorbeeld wanneer jy jou in ’n stikdonker vertrek bevind? Jy steek jou hande uit met die vingers uitgesprei en tas in die vertrek rond. Ja, ons hande is nie net presisiegereedskap nie, maar ook delikate sensors. Hulle voorsien ons van ’n onafgebroke stroom inligting—die stoof is warm, die handdoek is nat, die tabberd is syerig, die kat se pels is sag, ensovoorts. Ons vyfde sintuig, die gevoelsin, begin by die hande.

Ons vingerpunte is so sensitief omdat hulle so ’n hoë konsentrasie sintuiglike ontvangers het—1400 per vierkante sentimeter. As jy twee spelde ses millimeter van mekaar af hou en met hulle aan jou gesig raak, sal dit soos een speldeprik voel. Maar raak met dieselfde twee spelde aan ’n vingerpunt en die senuwees wat daar so dig teenmekaar lê, sal jou onmiddellik sê dat hulle twee spelde voel. Dit is wat dit vir ’n blinde mens moontlik maak om Braille te lees. Wie sê hande kan nie sien nie?

Die enigste deel van die hand wat geen senuwees bevat nie, is die naels. Maar dit beteken nie dat hulle nutteloos is nie. Inteendeel, die naels steun en beskerm die sensitiewe dog teer vingerpunte. Hulle kom ook goed te pas wanneer jy ’n lemoen moet skil, ’n vlekkie moet afkrap of ’n klein kraletjie moet optel. Het jy al ooit gewonder hoe vinnig die naels groei? Dit hang van ’n aantal faktore af. Ons naels groei vinniger in die somer as in die winter. Hulle groei die vinnigste op die duim en die stadigste op die pinkie. Hulle groei vinniger op die dominante hand. En die algehele tempo is na raming omtrent 0,1 millimeter per dag.

Hulle vertel dinge omtrent ons

Ons hande kan boekdele spreek. ’n Hartlike handdruk, ’n sagte streling, ’n gebalde vuis, ’n wysende vinger—hulle vertel almal iets omtrent ons. Trouens, die meeste van ons sou dit moeilik vind om te praat sonder om ons woorde met die een of ander nadruklike of beskrywende gebaar te versterk. Vir dowes word hierdie beeldende vermoë onontbeerlik. Waar die gesproke woord te kort skiet, kan die hande met gebaretaal oorneem. Indiane, Hawaiërs en die Boesmans van Afrika het almal hulle eie sierlike vorm van gebaretaal.

Ons hande vertel nie net iets omtrent ons nie, hulle vertel óns ook iets. “Die mens se hande is uniek in die mate waartoe hulle gebruik word om nie net woorde nie, maar ook emosies en idees oor te dra”, skryf John Napier in sy boek Hands. Al lyk baie diere se “hande” wesenlik dieselfde as ons s’n kan die unieke bou en vermoë van die mensehand nie weggepraat word deur die toevlug tot blinde evolusie te neem nie. Die hand se vernuftige ontwerp openbaar eerder duidelik die wysheid van sy Ontwerper, die Ontwerper en Skepper van alles, Jehovah God.—Openbaring 4:11.

Wanneer ons jong timmerman weer eens, met ’n hamer in sy hand, die spyker tussen sy duim en voorvinger plaas, sal hy dalk ’n nuutgevonde respek vir sy twee kosbare hande hê. Ons is waarlik goed toegerus om alles te doen wat ons hand vind om te doen.

[Prent op bladsy 20]

Onder die meer as 50 duisendmiljoen vingers en duime wat bestaan, is daar nie twee met dieselfde afdruk gevind nie

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel