Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 4/22 bl. 13-15
  • Die fassinerende wêreld van miniatuurboeke

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die fassinerende wêreld van miniatuurboeke
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Fasette van die kuns
  • Duimbybels
  • Ongewone Skrifbundels
  • Die kleinste?
  • Ons fassinerende hande
    Ontwaak!—1992
  • Kan enigiemand weet wie werklik die Bybel geskryf het?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Jehovah se boodskappe vir destyds en vandag
    Lewe met Jehovah se dag in gedagte
  • Wat die boek bevat
    ’n Boek vir alle mense
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 4/22 bl. 13-15

Die fassinerende wêreld van miniatuurboeke

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRITTANJE

UITERSTES is interessant—die hoogste berg, die diepste oseaan, die hoogste gebou, die langste tonnel—wat dus van die kleinste boek? Miniatuurboeke is beslis fassinerend! Miljoene van hulle is al gedruk, oor elke denkbare onderwerp en in ten minste 20 tale. As jy nog nie hulle wêreld ondersoek het nie, kan jy nou ’n kykie daarin kry.

Hoe omskryf ons ’n miniatuurboek? Die erkende standaard is ’n boek waarvan die lengte en breedte nie meer as 76 millimeter is nie. Hierdie mate sluit die boekband in, hoewel party nougesette versamelaars verkies om net die bladsye van die boek in aanmerking te neem. Waarom is hierdie miniatuurboeke gedruk?

Fasette van die kuns

In teenstelling met wat ’n mens dalk verwag, is die meeste miniatuurboeke redelik leesbaar. Almanakke, klassieke tekste, romans, dramas, woordeboeke en heilige geskrifte in miniatuur kan derhalwe sonder veel moeite saamgedra en gebruik word. Hoewel dít jare gelede ’n belangrike rede sou gewees het om sulke klein boeke te besit, is daar ’n ander aspek van miniatuurboeke wat vir die hedendaagse versamelaar van groter belang is: die vaardigheid van diegene wat dit gedruk en gebind het.

Drukkers moes talle tegniese probleme oorkom om drukletters te ontwerp en te maak wat met of sonder die gebruik van ’n vergrootglas leesbaar sou wees. Hulle werk het grootliks tot die skepping van prageksemplare van boeke bygedra. Papier- en inkvervaardigers het ook hulle vaardighede bygesit om te verseker dat die gedrukte bladsy baie duidelik is.

Nadat ’n boek gedruk is, word dit gebind; en die boekbande van miniatuurboeke kan iets besonders wees. Vakmanne se vaardighede kan duidelik gesien word in die vervaardiging van piepklein omslae van bewerkte leer, goud- of silwerdraadwerk, karet of versierde emalje. Ander omslae word van sy of fluweel gemaak of word geborduur of selfs met pêrels of blinkers versier, en party boeke het oortreksels om dit te bewaar.

Die graveerders wat die boeke geïllustreer het, het prente met ongelooflik baie besonderhede geskep, wat dikwels minder as sewe vierkante sentimeter papier beslaan het! ’n Voorbeeld is die portret van dr. Samuel Johnson, die Engelse leksikograaf, in Bryce’s Thumb English Dictionary met 368 bladsye, wat in die 1890’s gedruk is; en ’n ander voorbeeld is die prent op die bladsy teenoor die titelblad van Shakespeare se King Richard III, wat in 1909 aan die Engelse aktrise Ellen Terry opgedra is.

Die Bibliothèque Portative du Voyageur, wat in Parys uitgegee is, is ’n miniatuurbiblioteek wat Napoléon Bonaparte vermoedelik gedurende sy krygstogte met hom saamgedra het. Die 49 dele wat uit Franse klassieke werke bestaan, word in ’n kissie gehou wat met leer oorgetrek is en wat soos ’n foliogrootte boek lyk wanneer dit gesluit is.

Duimbybels

Duimbybels is nie noodwendig volledige Bybels nie. Party is net die “Nuwe Testament”. Ander is opsommings van Bybelverhale of bevat die hele geskiedenis van die Bybel in net ongeveer 7000 woorde, en dit is spesifiek bedoel om deur kinders gelees te word. Dit het titels soos The Bible in Miniature, The History of the Holy Bible en The Child’s Bible.

Hoe het die duimbybel sy naam gekry? Die ooglopende verduideliking is dat so ’n Bybel nie veel groter as die boonste deel van ’n mens se duim is nie. Maar die boek Three Centuries of Thumb Bibles gee te kenne dat die woord dalk geskep is ná die beroemde Amerikaanse dwerg Charles Stratton, beter bekend as generaal Klein Duimpie, se besoek aan Engeland. Hierdie bewering word gestaaf deur die feit dat Klein Duimpie Engeland in 1844 besoek het, en die woord “duimbybel” is blykbaar die eerste keer in 1849 in Londen gebruik.

Ongewone Skrifbundels

’n Interessante toevoeging tot die wêreld van klein Bybels is The Finger New Testament, wat omstreeks die begin van die twintigste eeu gedruk is. Dit is net drie sentimeter breed en nege sentimeter lank—vingerlengte—vandaar sy naam. Maar aangesien dit meer as 76 millimeter lank is, is dit, streng gesproke, nie ’n miniatuurboek nie, hoewel dit oor die algemeen saam met sulke Bybels geklassifiseer word. Die lettergrootte van vier punte wat in hierdie klein boek gebruik is, is baie duidelik en baie mense kan dit maklik lees sonder om dit te vergroot.

’n Ongewone voorbeeld het die titel The Illustrated Bible, met verse getiteld Railway to Heaven. Dit het meer as 50 jaar lank in druk gebly gedurende die vroeë dae van Brittanje se spoorweë. Die skrywer het munt geslaan uit die spoorweë met ’n gedig van twee bladsye getiteld: “To Point You to Another Line”. Daardie ander spoor word as “Jesus Christus, Jehovah se Seun,” geïdentifiseer. Die gedig sluit af: “My son, says God, give me thy heart. Make haste—or else the train will start.”

Die boek My Morning Counsellor, uit die jaar 1900, is ook ongewoon. Dit het ’n Bybelteks vir elke dag, en elke maand word ingelei deur die Goddelike naam in die een of ander vorm. Die vorm vir Februarie is byvoorbeeld “Jehovah-Shalom”. Hierdie boek sowel as The Illustrated Bible, wat vroeër gemeld is, bewys dat Jehovah, die naam van God, honderd jaar gelede in Brittanje algemeen in gebruik was.

Die kleinste?

Deur die eeue heen het baie beweer dat hulle die kleinste boek gedruk het. Die eerste geldige bewering is in 1674 gemaak toe die boek Bloem-Hofje, deur C. van Lange, in baie klein skrif gedruk is. Miniature Books beskryf dit as ’n boek met “die grootte van ’n vingernael”, en dit het ’n rekord opgestel wat meer as 200 jaar gehou is.

’n Welbekende uitgawe van Dante se La Divina Commedia is in ’n lettergrootte van twee punte gedruk, wat vermoedelik die kleinste drukletters is wat al ooit gebruik is—nouliks leesbaar met die blote oog. Die boek is in 1878 in Padua, Italië, uitgegee. Dit het ’n maand geneem om 30 bladsye te druk, en nuwe drukletters moes vir elke nuwe vorm gebruik word. Ten spyte hiervan is 1000 eksemplare gedruk.

Die boeke het al hoe kleiner geword. In 1978 het die kinderrympie Three Blind Mice wat deur die Gleniffer-drukkery in Paisley, Skotland, gedruk is die “kleinste boek in die wêreld” geword. Hierdie beperkte oplaag is in 1985 deur dieselfde drukker oortref toe hulle 85 eksemplare van nog ’n kinderrympie, Old King Cole!, gedruk het. Elke eksemplaar was net een millimeter by een millimeter. ’n Mens kan daardeur blaai—met behulp van ’n naald!

Sulke piepklein boekies, wat deur Louis Bondy as “weinig meer as stofdeeltjies” beskryf is, getuig van onmeetlike geduld en vakmanskap. Maar hierdie klein boekies gaan verder as die oorspronklike konsep van miniatuurboeke—om boeke te vervaardig wat leesbaar en maklik bruikbaar is.

Besondere versamelings van hierdie pragtige miniatuurboeke kan in museums gesien word, en baie ander is in privaat besit. As jy ooit hulle fassinerende wêreld ondersoek, moet jy onthou om hierdie klein boekies baie versigtig te hanteer. Hulle is inderdaad kunswerke!

[Venster/Prent op bladsy 14]

Fotomeganiese verkleining

Die kleinste “Nuwe Testament” wat nog gedruk is, is in 1895 deur David Bryce van Glasgow, Skotland, uitgegee. Dit is 1,9 by 1,6 sentimeter groot en is net 0,8 sentimeter dik! Hoe was dit moontlik om dit te druk? “Dit is baie goed en duidelik gedruk deur fotomeganiese verkleining”, verduidelik Louis Bondy in Miniature Books. Dit was honderd jaar gelede ’n groot prestasie omdat fotografie toe nog in die beginstadium was.

David Bryce het ook ’n aantal volledige Duimbybels gedruk deur dieselfde metode te gebruik. Vir diegene wat sukkel om die fyn druk te lees, het elke Bybel ’n klein vergrootglasie wat aan die binnekant van die omslag gebêre word. Met hierdie hulpmiddel is dit vir diegene wat volhard moontlik om hierdie Bybel te lees.

Dit is noemenswaardig dat Jehovah se Getuies tydens hulle vervolging deur die Nazi’s gedurende die Tweede Wêreldoorlog sowel as later deur die Kommuniste goed gebruik gemaak het van die proses om fotografies verkleinde publikasies te druk. In die bygaande prent is daar ’n Bybelstudiehulp wat op hierdie manier gedruk is. Dit is in ’n vuurhoutjiedosie versteek en na Getuies in ’n Nazi-konsentrasiekamp ingesmokkel.

Dit het in ’n vuurhoutjiedosie gepas en is in ’n konsentrasiekamp ingesmokkel

[Prent op bladsy 13]

Hoewel miniatuurboeke klein is, kan hulle leesbaar wees

[Prent op bladsy 15]

’n Biblioteek van miniatuurboeke

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel