Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 5/11 bl. 4-7
  • Waardeer jou spesiale gawes

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waardeer jou spesiale gawes
  • Ontwaak!—2011
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die mensehand
  • Die menseoor
  • Die menseoog
  • Die mensebrein
  • Die mens—’n wonder
    Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
  • Jou oor—die groot mededeler
    Ontwaak!—1990
  • Jou brein—Hoe werk dit?
    Ontwaak!—1999
  • Jou gehoor—’n kosbare gawe
    Ontwaak!—1997
Sien nog
Ontwaak!—2011
g 5/11 bl. 4-7

Waardeer jou spesiale gawes

DIE menseliggaam is uiters veelsydig. Geen dier het soveel verskillende vermoëns as wat ons as mense het nie. Een rede vir ons veelsydigheid is ons regop liggaamshouding, wat nie net ons gesigsveld vergroot nie, maar ons ook in staat stel om ons arms en hande vir ’n aantal verskillende take te gebruik. Dink net hoeveel minder ons sou kon doen as ons handeviervoet moes loop!

Nog ’n bate is ons hoogs ontwikkelde sensoriese stelsel, wat in hierdie artikel bespreek sal word. Dié stelsel sluit die hande, die ore, die oë en natuurlik ons merkwaardige brein in. Kom ons ondersoek dit een vir een.

Die mensehand

Ons hande is pragtige instrumente wat met verbasende presisie kan werk. Daarmee kan ons garing deur die oog van ’n naald steek of ’n byl swaai, ’n portret skilder of klavier speel. Ons hande is ook uiters sensitief. Selfs as ons net liggies aan iets raak, kan ons voel of dit pels, papier, vel, metaal, water of hout is. Ja, ons hande is nie net instrumente waarmee ons dinge vashou en hanteer nie. Hulle verskaf ook aan ons kennis oor ons wêreld. En ons gebruik hulle om liefde en geneentheid te betoon.

Waarom is die mensehand so bruikbaar, so uitdrukkingsvol, so sensitief en so veelsydig? Daar is baie redes. Kom ons kyk na vier.

1. In ons twee hande is daar altesaam meer as 50 bene, ongeveer ’n kwart van al die bene in die liggaam. Die ingewikkelde samestelling van die dele van die hand—die bene, die gewrigte, die ligamente—maak die mensehand besonder buigsaam.

2. Die hand het ’n duim wat teenoor die ander vingers gebring kan word en verbind is aan ’n saalgewrig, ’n vindingryke samestelling van twee saalvormige oppervlakke wat loodreg op mekaar kan beweeg. Hierdie gewrig, tesame met die spiere en ander weefsel wat daarmee saamgaan, maak die duim verbasend beweeglik en sterk.

3. Drie spiergroepe beheer die hand. Die twee sterkste groepe—die strekspiere en die buigspiere—is in die voorarm en beheer die vingers deur middel van senings. As hierdie spiere in die hand was, sou die hand uiters groot en lomp gewees het! Die derde groep, wat baie kleiner is en in die hand is, stel die vingers in staat om met presisie te beweeg.

4. Jou vingers is as ’t ware lewende sensors—die vingerpunte het omtrent 2 500 reseptors in net een sesde van ’n vierkante sentimeter. Daarbenewens is daar verskillende soorte reseptors, wat elkeen sy eie funksie het sodat jy tekstuur, temperatuur, nattigheid, vibrasies, druk en pyn kan voel. Die mensevinger is dus die sensitiefste tassensor waarvan ons weet.

Die menseoor

Hoewel party diere klankfrekwensies kan hoor wat mense nie kan hoor nie, is die kombinasie van ’n mens se ore en brein indrukwekkend, sê gehoorkundiges. Ons gehoor stel ons in staat om klanksterkte en toonhoogte te bepaal en om vas te stel uit watter rigting die klank kom en hoe ver die klankbron is. Die frekwensiegebied van ’n gesonde menseoor is ongeveer 20 tot 20 000 hertz, of klanksiklusse per sekonde. Die menseoor is die sensitiefste vir klanke in die frekwensiegebied van 1 000 tot 5 000 hertz. Wat meer is, ons kan soms ’n verandering van net een hertz, byvoorbeeld van 440 hertz tot 441 hertz, onderskei.

Trouens, ’n gesonde oor is so sensitief dat dit klanke kan waarneem wanneer die afstand tussen die lugtrillinkies, of heen-en-weer-beweging van die lug, by die oortrom kleiner is as die deursnee van ’n atoom! Volgens ’n universiteitskursus oor gehoor, “is die menslike gehoorstelsel na aan die teoretiese fisiese perke van sensitiwiteit. . . . Dit sou geen nut hê om sensitiewer vir klank te wees nie, aangesien ons dan net ’n ‘gesis’ sou hoor”, die gevolg van die willekeurige beweging van die atome en die molekules waaruit die lug bestaan.

Die vibrasies van die oortrom word meganies versterk deur hefboomaksie en word na die binneoor gelei deur middel van die oorbeentjies—klein beentjies wat die hamer, die aambeeld en die stiebeuel genoem word. Maar sê nou jy hoor skielik ’n oorverdowende geluid? Jou ore het ’n ingeboude beskermingsmeganisme: spiertjies wat die oorbeentjies laat verstel om die sterkte van die klank te verminder. Maar die ore is nie toegerus om langdurige harde geraas te hanteer nie. Sulke blootstelling kan die gehoor permanent beskadig. Sien dus goed om na hierdie gawe wat jou Skepper voorsien het en wat so “wonderbaar gemaak” is.—Psalm 139:14.

Jou gehoorstelsel help jou ook om te bepaal waar ’n geluid vandaan kom. Die geheim lê in ’n aantal faktore, insluitende die skulpvorm van die buiteoor, die groewe daarin, die feit dat die ore weerskante van jou kop is en jou brein se briljante berekeningsvermoë. As die intensiteit van ’n klank dus net effens van die een oor na die ander afneem of die klank die een oor net 30 miljoenstes van ’n sekonde voor die ander oor bereik, sal jou brein jou onmiddellik in die rigting van die klankbron laat kyk.

Stel jou voor hoe dit sou wees as jy al hierdie berekeninge bewustelik moes maak! Dan sou jy beslis moes weet hoe om uiters gevorderde wiskunde te gebruik—en dit blitsvinnig moes doen! As ’n ingenieur ’n “gehoorstelsel” ontwerp wat selfs net naastenby ooreenkom met die een wat jou Skepper jou gegee het, sal hy baie lof ontvang. Maar hoe dikwels hoor jy dat mense God die eer gee vir sy ontsagwekkende skeppingswerke?—Romeine 1:20.

Die menseoog

Party navorsers skat dat mense wat goed kan sien, sowat 80 persent van hulle inligting oor die wêreld deur hulle oë inneem. Met behulp van ons brein stel ons oë ons in staat om in volkleur te sien, bewegende voorwerpe en beelde maklik te volg, patrone en vorme te herken en in drie dimensies te sien. Wat meer is, ons kan in lig van verskillende intensiteite sien.

Laasgenoemde behels ’n aantal aanvullende meganismes. Byvoorbeeld, die pupil kan van een en ’n half millimeter tot agt millimeter in deursnee vergroot, wat moontlik tot 30 keer meer lig in die oog inlaat. Die lig gaan dan deur die lens, wat dit op die retina fokus en die ligenergie 100 000 keer meer gekonsentreerd maak. Jy moet dus nooit met die blote oog direk na die son kyk nie!

In die retina is daar twee soorte fotoreseptors—keëltjies (ongeveer 6 miljoen), wat ons kleurvisie en goeie beeldskerpte gee, en stafies (120-140 miljoen), wat meer as duisend keer sensitiewer as die keëltjies is en ons help om in dowwe lig te sien. Trouens, in ideale toestande kan ’n stafie ’n enkele foton, of elementêre ligdeeltjie, waarneem!

Nog ’n aanpassingsmeganisme behels retinale neurone wat aan die keëltjies en stafies gekoppel is. Hierdie neurone pas hulle “binne sekondes [aan] en kan nagvisie 10 of meer keer verbeter”, sê die Amerikaanse Oogkundige Vereniging. “Neurale aanpassing is amper soos om laespoed- en hoëspoedfilm tegelykertyd in jou kamera te hê.”

Ingenieurs ontwerp dikwels kameras, skandeerders en rekenaars met versoenbare sagteware. Maar die inskakelingsvermoë en die kompleksiteit van hierdie toestelle kom nie na aan ons sensoriese stelsel nie. Vra jou af: ‘Is dit redelik om ons lewende sensoriese stelsel, wat oneindig voortrefliker is, aan blinde toeval toe te skryf, soos evolusioniste doen?’ In vergelyking met wat ons vandag weet, het Job, ’n eertydse kneg van God, min omtrent die menseliggaam geweet. Tog kon hy nie anders as om vir God te sê nie: “U hande het my gevorm.”—Job 10:8.

Die mensebrein

Die magdom seine wat deur die senuwees van die sintuie af instroom, word met verstommende doeltreffendheid deur die brein ontsyfer. Wat meer is, dit verbind hierdie seine met besonderhede wat in die geheue bewaar is. ’n Sekere reuk kan die brein dus onmiddellik laat dink aan ’n langvergete ondervinding of gebeurtenis. En as jy net ’n klein deeltjie van iets bekends sien—byvoorbeeld die punt van jou kat se stert—sal jou brein die ontbrekende besonderhede invul sodat jy weet dat jou kat in die nabyheid is.

Jou brein is natuurlik nie vooraf geprogrammeer met beelde van katte nie, net soos dit nie vooraf geprogrammeer is met die geur van ’n roos of die klank van lopende water of die gevoel van pels nie. Jou brein het geleer om hierdie assosiasies te maak. Hierdie feit kan duidelik gesien word in die geval van mense wat blind gebore is, maar later gehelp is om te sien, dalk deur middel van ’n operasie. Hulle brein moes leer om die magdom visuele seine wat dit nou binnestroom, te vertolk. Hoe vaar sulke mense?

Hulle kan gou kleur, beweging en eenvoudige vorms onderskei. Maar daarna vorder hulle nie teen dieselfde pas nie. Kinders, veral dié wat baie jonk is, hou aan om redelik goed te leer. Maar dit is nie met volwassenes die geval nie. Selfs om gesigte te herken, bly vir hulle baie moeilik. En ongelukkig is ’n algemene verskynsel by “geneesde” volwassenes dat hulle “aanvanklik in ekstase is met hulle herstelde sig, maar daarna teleurgesteld en gedisoriënteerd voel, wat dikwels tot ernstige depressie lei”, sê die Koch-laboratorium by die Kaliforniese Instituut vir Tegnologie.

Hierdie feite help ons om tot ’n beter besef te kom van hoe deeglik Jesus Christus mense gedurende sy aardse bediening genees het. Die blindes en die dowes se oë en ore is nie net geopen nie, maar hulle het ook die dinge wat hulle om hulle gesien en gehoor het, begin herken. Ook die stommes het normaal gepraat, wat veral verbasend was in die geval van dié wat met hierdie gebrek gebore is (Matteus 15:30; Markus 8:22-25; Lukas 7:21, 22). En ons kan seker wees dat nie een van die blindes wat genees is, later in depressie verval het nie. Trouens, een man wat genees is, het Jesus moedig verdedig en vir Jesus se godsdiensvyande gesê: “Van ouds af is daar nog nooit gehoor dat enigeen die oë geopen het van iemand wat blind gebore is nie. As hierdie man nie van God gekom het nie, sou hy hoegenaamd niks kon doen nie.”—Johannes 9:1-38.

In die volgende artikel sal ons ’n paar van ons innerlike eienskappe ondersoek, insluitende moed en liefde. Het jy al gewonder waarom slegs mense die vermoë het om hierdie eienskappe te weerspieël? Die bestaan van hierdie eienskappe wat eie is aan die mens, veroorsaak ongetwyfeld ’n groot dilemma vir mense wat wil bewys dat ons bloot hoogs geëvolueerde diere is.

[Venster op bladsy 7]

JOU WONDERLIKE BREIN

Hoe stel jou brein jou in staat om te voel, te hoor, te sien en te ruik? Wetenskaplikes het geen idee nie. “Daar is niks in jou brein wat aandui hoe jy die woorde wat jy nou lees, sien nie”, het die wetenskaplike Gerald L. Schroeder gesê.

Hy het ook geskryf: “Ontdekkings wat toon dat die werking van die brein baie ingewikkelder is as wat ons ooit gedink het, het twyfel laat ontstaan oor die simplistiese teorie dat lewe toevallig geëvolueer het.” Hy het verder gesê: “As Darwin geweet het watter wysheid in lewende dinge verberg is, is ek oortuig dat hy met ’n heel ander teorie vorendag sou gekom het.”

[Diagram/Prente op bladsy 5]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Ingewikkelde beenstelsel

Saalgewrig

Spierbeheer

Sensitiewe tassin

[Prent]

Wat maak ons hande so veelsydig?

[Prent op bladsy 7]

Jou brein vertolk seine wat van die sintuie af instroom en verbind dit met besonderhede wat in jou geheue bewaar is

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel