Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 8/8 bl. 26-27
  • Lapis lazuli—die blou edelsteen van die Andes

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Lapis lazuli—die blou edelsteen van die Andes
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Lang geskiedenis
  • Na ’n myn in die Andes
  • ’n Besoek aan ’n ambagsman
  • Meesterstukke “geverf” met steentjies
    Ontwaak!—2008
  • Waarom is diamante so duur?
    Ontwaak!—1997
  • Nierstene—Hoe ’n ou kwaal behandel word
    Ontwaak!—1993
  • Skattejag met ’n verskil
    Ontwaak!—1993
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 8/8 bl. 26-27

Lapis lazuli—die blou edelsteen van die Andes

Deur Ontwaak!-medewerker in Chili

DIAMANTE, smaragde, robyne, saffiere—ons is almal goed bekend met hierdie skitterende edelstene. Maar het jy al ooit van die lapis lazuli gehoor? Hoewel die naam dalk snaaks lyk, beteken dit eenvoudig ’n blou (lazuli, uit Arabies) steen (lapis, uit Latyn). Omdat dit so ’n diepblou kleur het, wat dikwels met blink kolletjies goue piriet gespikkeld is, is dit al met die naghemel vergelyk wat met flikkerende sterre besaai is.

’n Lang geskiedenis

In 1271 het Marco Polo die Westerse wêreld die eerste keer van die lapis lazuli se skoonheid vertel. Maar lank voor daardie tyd is die edelsteen al in antieke Mesopotamië en Egipte gebruik. ’n Sumeriese halssnoer wat van hierdie steen gemaak is, is byvoorbeeld onder die puinhope van Ur uitgegrawe. Die oë en wenkbroue op farao Toetankamen se goue dodemasker is van lapis lazuli gemaak. Die eertydse Egiptenare het hierdie blou steen ook tot ’n poeier fyngemaal en dit as kleurstof in skilderye en oogskaduwee gebruik. In China is verskeie soorte koninklike seëls en snywerk van hierdie steen gemaak.

Lapis lazuli is in die verlede hoofsaaklik in Afganistan en in Siberië naby die Baikalmeer ontgin. Maar Chili het in onlangse jare die belangrikste verskaffer van hierdie pragtige steen geword. As jy Chili sou besoek, sal jy die naam in baie soewenierswinkels en deftige juwelierswinkels sien. Maar kom ons kyk waar die meeste van hierdie stene vandaan kom.

Na ’n myn in die Andes

Een van die hoofmyne kan slegs met esels bereik word deur ’n smal en verraderlike paadjie te volg wat na die kondors se dorre en verlate skuilplek, 3600 meter bo seevlak, kronkel.

’n Nuweling kan op hierdie hoogte hoofpyn kry en duiselig word. Die grond word ongeveer sewe maande van die jaar met sneeu bedek. Gedurende die kort somer is hulle dus druk besig om soveel moontlik grondstof uit die dagboumyn te haal. Dit is ’n lang werksdag, en die werksomstandighede is moeilik. Die gereedskap is primitief volgens hedendaagse standaarde—pikke, grawe, kruiwaens en ’n boor wanneer dinamiet geplaas moet word. Die uitputtende werk verg fisiese krag en uithouvermoë.

Aan die einde van die dag kom die geluid van plofstowwe en die gekletter van pikke en grawe tot ’n einde. Die nag is grafstil. ’n Mens hoor net die gehuil van die wind in die canyon en die gerammel van vallende rotse in die verte. Maar vir die doodmoeë werkers maak dit nie veel saak nie. Hulle raak gou onder die sterrehemel aan die slaap.

Aangesien daar geen moderne vervoer beskikbaar is nie, speel die eseldrywers ’n belangrike rol. Met hulle kennis van hierdie ruwe berge en kronkelpaadjies lei hulle hul diere, wat stewig op die bene is en met sakke vol uitgesoekte stene oorlaai is, na die vallei daar onder. Daarvandaan word die stene na Santiago verskeep of hulle word uitgevoer. Op dié manier word daar jaarliks ongeveer 20 ton ontgin en oor die wêreld heen aan ambagsmanne en juweliers beskikbaar gestel.

’n Besoek aan ’n ambagsman

Ambagsmanne in Chili maak pragtige oorringe, halssnoere, armbande en ringe uit 30 tot 40 persent van die stene wat hulle van die myne af kry. Die beste stene word in goud gemonteer en uitgevoer. Die naasbeste stene word vir juwele gebruik wat in silwer gemonteer is, en laer gehalte stene word vir vindingryke beeldjies gebruik, soos olifante, leeus of skilpaaie, hewwe vir briewemesse en selfs tafelblaadjies.

Don José is ’n talentvolle ambagsman. Al het ons hom tydens sy siësta gesteur toe ons by hom ingeloer het, het hy ons nogtans hartlik verwelkom en ons sy taller (werkswinkel) op die patio gewys.

“Hoe lyk dit met ’n demonstrasie, Don José?” het ons gevra.

“Perfecto!”

’n Groot steen wat twee of drie kilogram weeg, moet eers met ’n sirkelsaag of diamantwiel gesny word. Hy het verduidelik dat ’n el artesano sy steen moet ken en goed moet kan skat ten einde sekuur te sny sodat hy die wit are uitsny terwyl die grootste deel goeie steen behou word.

“Waarom maak jy die steen nat?” het iemand gevra.

“Sodat daar ’n groter kontras is tussen die wit are en die lapis wat ek wil behou”, het ons vriendelike artesano geantwoord terwyl hy die steen in ’n aantal kleiner stukkies gesny het.

Daarna het hy ons die volgende stap gewys. Met behulp van ’n kleiner wiel het hy die kleiner steentjies gevorm soos hy hulle wou hê. Met deskundige vaardigheid het hy vinnig krale, halfmane vir oorringe en cabochons (bolronde stene) uit die steentjies gemaak.

Hy het die steentjies daarna skoongemaak en hulle met ’n ronde, sintetiese borsel opgevryf. Hy het hulle toe met ’n titseltjie smeersel gepoleer tot hulle geskitter het. Hulle is nou gereed om in ’n ring gemonteer te word of om aan ’n kettinkie gerangskik te word vir ’n halssnoer. Die stene word finaal afgerond deur hulle met ’n tandeborsel en sjampoe te was en dan met warm water af te spoel. Trouens, Don José het hierdie laaste stap aanbeveel om die skoonheid van juwele wat van lapis lazuli gemaak word te behou.

Ja, in die hande van bedrewe en talentvolle ambagsmanne soos Don José kan die aarde se rykdom in kunswerke verander word wat plesier en genot verskaf aan dié wat na hulle kyk of hulle gebruik. Lapis lazuli, die pragtige blou steen wat bo in die Andesgebergtes gevind word, is maar net een van die baie rykdomme wat ons liefdevolle Skepper vir ons plesier en genot voorsien het.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel