Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 12/08 bl. 16-17
  • Meesterstukke “geverf” met steentjies

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Meesterstukke “geverf” met steentjies
  • Ontwaak!—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe word dit gemaak?
  • Mosaïeke—Skilderye in klip
    Ontwaak!—2003
  • Lapis lazuli—die blou edelsteen van die Andes
    Ontwaak!—1992
  • Wat is kuns?
    Ontwaak!—1995
  • Nierstene—Hoe ’n ou kwaal behandel word
    Ontwaak!—1993
Sien nog
Ontwaak!—2008
g 12/08 bl. 16-17

Meesterstukke “geverf” met steentjies

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN ITALIË

VAN al die tegnieke wat kunstenaars al gebruik het om natuurtonele uit te beeld, is die tegniek wat dikwels Florentynse mosaïek, of commesso, genoem word, een van die moeilikste. In hierdie vorm van mosaïekwerk, wat tipies is van Florence, Italië, word daar nie van reëlmatige stukkies steen, teël of glas gebruik gemaak om ’n ontwerp te vorm, soos in die geval van baie ander soorte mosaïek nie. Kunstenaars skep prente eerder uit dun skyfies van steen met onreëlmatige vorms. Hulle word dikwels so presies gesny dat die lasplekke tussen hulle feitlik onsigbaar is.

Die verskeidenheid beskikbare kleure op die palet van die kunstenaar wat met steentjies “verf”, is verstommend. Lapis lazuli is ’n diep asuurblou steen met wit spikkels wat glinster met kristalle van goue piriet. Malagiet het ligte en heldergroen strepe. Marmer wat pragtig deuraar is, kom in verskeie skakerings van geel, bruin, groen en rooi voor. Agaat, jaspis, oniks, porfier en ander stene voorsien ’n spektrum van helder skakerings en spikkels wat kunstenaars gebruik om meesterstukke te skep. Hulle gebruik die kleure en are van hierdie stene om rotsagtige landskappe, plantegroei, onstuimige water of selfs wolke af te beeld.

Hierdie soort mosaïek is geensins nuut nie. Dit het waarskynlik in die Nabye-Ooste ontstaan en het Rome teen die eerste eeu v.G.J. bereik waar dit as vloer- en muurversiering gewild geword het. Hoewel die Florentynse mosaïektegniek algemeen in die Middeleeue en Bisantynse tydperk gebruik is, is dit die Toskaanse stad Florence wat dit van die 16de eeu af gesog gemaak het. Bekende meesterstukke in Florentynse mosaïek kan tot vandag toe in paleise en museums dwarsoor Europa gevind word.

Om met steentjies te “verf”, is ’n tydrowende proses. Een bron sê dat die ure wat gewy word aan “selfs ’n eenvoudige werk, ’n hedendaagse industriële tydanalis sou skok”. Daarom plaas die geld wat kunstenaars vir hulle werk vra, hierdie mosaïeke vandag, soos in die verlede, ver buite die bereik van die meeste mense.

Hoe word dit gemaak?

’n Nuwe mosaïek begin met ’n model, gewoonlik ’n skildery. ’n Kopie daarvan word in dele gesny wat elk ooreenstem met ’n deel van die voltooide werk. Wanneer ’n kunstenaar geduldig die regte steen vir elke deel kies, interpreteer hy sy model—hy boots dit nie noodwendig na nie. Elke deel van die kopie word gegom aan die steenskyf wat gekies is.

Die kunstenaar plaas dan elke skyf, wat net twee tot drie millimeter dik is, in ’n bankskroef. Daarna sny hy die stukke wat hy nodig het, versigtig met ’n saag—’n ysterdraad wat in ’n kastaiinghoutboog styfgespan word (soos hierbo getoon word). Terwyl hy dit doen, wend hy ’n growwe pasta op die draad aan. Dan moet hy die stukkies so presies vyl dat hy geen lig deur die lasplekke kan sien skyn wanneer hy hulle teen die lig hou nie. Stel jou voor hoe moeilik dit is wanneer die dele die dun rankies van ’n wingerdstok voorstel!

Nadat die stukke bymekaargesit en permanent op ’n blad van leiklip gegom is, word die steenoppervlak laastens gelykgemaak en gepoleer totdat die prent so ’n glans het dat die prag daarvan nie werklik deur ’n foto weergegee kan word nie. Die bedrewenheid waarmee kunstenaars die kleurskakerings van ’n enkele stuk steen gebruik om die effek van lig en skaduwee op delikate blomblare te verkry, is werklik verstommend. Vrugte, vase, vlinders, voëls en landskappe is net sommige van die onderwerpe wat verbeeldingryke kunstenaars al suksesvol uitgebeeld het.

Een van die fassinerende aspekte van Florentynse mosaïek is dat die kunstenaar nie die presiese detail van sy ontwerp kan bepaal nie. Hy moet eerder kleure, teksture en stene kies wat God reeds geskep het. Een bron oor die onderwerp sê: “In sierlike stene kan ’n mens die grootsheid en onbeskryflike krag van God sien, wat in sulke klein voorwerpe die prag van die hele wêreld vasgevang het . . . , en so kan ’n mens voortdurend ’n sekere weerspieëling en sprankeling van die goddelike voor jou oë hê.”

[Foto-erkenning op bladsy 16]

Al die foto’s op bladsye 16 & 17: Su concessione del Ministero per i Beni e le Attività Culturali-Opificio delle Pietre Dure di Firenze, Archivio Fotografico

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel