Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 9/8 bl. 23-25
  • Ontwerpersklere—Moet ék dit dra?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ontwerpersklere—Moet ék dit dra?
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die aantrekkingskrag van die etiket
  • Die krag van portuurdwang
  • Die Bybel se oogpunt
  • Doen slim inkopies
  • Ontwerp sonder ’n ontwerper?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Hoe kan ek my klerekas verbeter?
    Ontwaak!—1995
  • Bewonder die ontwerp; leer omtrent die Ontwerper
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Die soort klere wat ons dra—Maak dit werklik saak?
    Ontwaak!—1999
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 9/8 bl. 23-25

Jongmense vra . . .

Ontwerpersklere—Moet ék dit dra?

“JOU klere verteenwoordig jou. . . . Jou klere is altyd ’n simbool van wie jy is.” Dít is wat Barbara Dickstein, ’n klerekenner by ’n belangrike museum, gesê het. “Dit verklap jou status, jou rol in die lewe en jou sosiale stand”, het sy bygevoeg. Dit is dus geen wonder dat klere vir die meeste mense belangrik is—en onder sommige jongmense ’n obsessie is nie.

Maar baie jongmense se beheptheid met klere behels meer as net modebewustheid. Vir baie is die handelsmerk ook van die allergrootste belang. Feitlik elke artikel wat hulle koop—van seilskoene tot brille—moet daardie allerbelangrikste ontwerperskenteken hê. ’n Opname deur die tydskrif Seventeen het byvoorbeeld getoon dat 90 persent van die tienermeisies wat ondervra is, meen dat ’n handelsmerk belangrik is wanneer jy sportdrag koop.

Dít behoort ons glad nie te verbaas as ons in ag neem dat die media in onlangse jare geweldig baie reklame aan ontwerpersklere gegee het nie. Deur middel van TV-advertensies, advertensies in tydskrifte en koerante, reklameborde en rolprente word verbruikers aan ’n oorvloed van ontwerperspropaganda blootgestel. Die doel daarvan is om die publiek te oortuig dat ’n ontwerperskenteken ’n kledingstuk—en die draer daarvan—op ’n amper magiese wyse verander. ’n Denimbroek sonder ’n ontwerpersetiket is maar net ’n gewone langbroek. Maar ’n denimbroek met ’n ontwerperskenteken word skielik die sleutel tot gewildheid, opwinding en romanse!

Die aantrekkingskrag van die etiket

“Wat is ’n naam dan tog?” het ’n karakter in een van Shakespeare se toneelstukke gevra. Name kan baie belangrik wees wat klere betref. ’n Teksboek wat daarop gemik is om kleinhandelaars op te lei, sê: “Baie klante is bereid om effens hoër pryse vir handelsname . . . en ontwerpersname te betaal. Baie handelsmerke is daarvoor bekend dat hulle hoë standaarde handhaaf wat ontwerp, voorkoms, gehalte en afwerking betref. Ontwerpersklere het dikwels ’n unieke voorkoms” (Know Your Merchandise, deur Wingate, Gillespie en Barry). ’n Artikel in The New York Times Magazine het eweneens gesê dat “die afwerking en materiaal van duurder klere dikwels baie verskil” van goedkoper klere. Gevolglik hou ontwerpersklere oor die algemeen langer en het dit ’n beter voorkoms as goedkoper handelsmerke.

Maar vir baie jongmense is ontwerpersetikette nie soseer simbole van gehalte as wat hulle statussimbole—tekens van eer—is nie. Dit is soos die 17-jarige Sam gesê het: “As jy dit nie het nie, is jy outyds!”

Die krag van portuurdwang

Dit is dus geen wonder nie dat ’n jong man, Casey, sê: “Daar is geweldig baie druk om ontwerpersklere te dra.” Die 14-jarige Tennile voeg by: “Almal vra altyd: ‘Wat is jou trui, baadjie of klinknaelbroek se handelsmerk?’” Volgens een jong man kan die druk so groot wees as jy nie saam met die stroom gaan nie dat “mense jou sal terg en oor jou sal praat en sê dat jy sommer fabriekskoene dra of dat jy by [winskoopwinkels] koop”.

Dit is natuurlik net normaal dat ’n mens by ander wil inpas en deur hulle aanvaar wil word. Vyftienjarige Andy sê: “Niemand wil anders wees en as eksentriek bekend staan nie.” Maar in watter mate behoort jy saam met die stroom te gaan? Veertienjarige Joe erken: “Partykeer koop jy klere waarvan jy nie hou nie—net om in te pas.”

Maar is dit nie sinneloos om toe te laat dat ander vir jou besluit nie, dat hulle jou van jou individualiteit beroof of jou intimideer sodat jy jou eie voorkeure, standaarde of gesonde verstand skend? Romeine 6:16 sê: “Julle weet tog: as julle julle aan iemand onderwerp om hom as slawe te gehoorsaam, is julle die slawe van dié een aan wie julle gehoorsaam is” (NAV). Wie wil iemand se slaaf wees? Maar dit is wat jy word as jy toelaat dat jou portuurs oor jou kleredrag besluit of as jy toelaat dat jy deur die modeneigings gelei word.—Vergelyk Efesiërs 4:14.

Die Bybel se oogpunt

Hoe kan jy leer om vir jouself te dink? Jy moet die beginsels in God se Woord leer ken. As jou denkwyse Bybelgeoriënteerd is, sal jy minder geneig wees om deur ander beheer of gemanipuleer te word (Spreuke 1:4). Die Bybel is weliswaar nie ’n modehandleiding nie. Maar dit bevat wel beginsels wat jou kan help besluit wat om te dra. Beskou byvoorbeeld die apostel Paulus se woorde in 1 Timotheüs 2:9. Daar moedig hy Christene aan om ‘hulle met behoorlike kleding te versier, gepaard met beskeidenheid en ingetoënheid, nie met kosbare klere nie’.

Paulus het beslis nie gesê dat jy soos ’n behoeftige moet aantrek of klere moet dra wat pynlik ouderwets is nie. Jesus Christus self het klaarblyklik ten minste een kledingstuk van hoë gehalte besit (Johannes 19:23, 24). Paulus het Christene eerder gewys op die gevaar om deur hulle kleredrag oormatige aandag op hulleself te vestig. As jy ’n kledingstuk koop omdat dit van hoë gehalte, mooi of prakties is, is jy verstandig. Maar as jy ’n kledingstuk met ’n ontwerpersetiket dra net om ’n “opsigtige vertoon” daarvan te maak of ‘onderlinge mededinging aan te wakker’, is dit selfsugtig en egotisties (1 Johannes 2:16, NW; Galasiërs 5:26, NW). Jy sal dalk ’n paar oppervlakkige mense beïndruk, maar jy kan ook afguns, jaloesie of wrewel in ander wek.

Paulus het vir Christene gesê dat hulle gesondheid van verstand, of goeie oordeel, moet openbaar wat hulle kleredrag betref. In party plekke is dit gevaarlik om ontwerpersklere te dra. Vyftienjarige Michael Thomas is byvoorbeeld doodgemaak omdat hy ’n paar ontwerpersatletiekskoene van R275 gedra het. ’n Ander tiener wou die skoene vir homself hê. The New York Times het berig dat die dra van duur ontwerpersartikels in baie Amerikaanse stadskole “voldoende kan wees om ’n bakleiery te ontketen en selfs tot ’n moord kan lei”. Gevolglik sê jong Katherine: “Ek het gevind dat dit ’n beskerming is om nie oormatig deur my portuurs beïnvloed te word wat kleredrag betref nie. Anders vestig ek dalk die verkeerde soort aandag op myself.”

Nie alle jongmense kan natuurlik ontwerpersklere bekostig nie. As dit in jou geval waar is, kan jy nie anders as om te leer om tevrede te wees met “voedsel en klere” nie—selfs wanneer daardie klere nie volgens die jongste mode of die beste gehalte is nie (1 Timotheüs 6:8). Pleks van ’n slagoffer van afguns te word, wat afbrekend is, moet jy probeer om die grootste voordeel uit jou situasie te trek (Titus 3:3). Jou klere het nou wel nie ’n spoggerige etiket nie, maar hulle kan netjies, skoon en fatsoenlik wees.

Doen slim inkopies

Jou kleredrag is nie naastenby so belangrik soos die persoon wat jy innerlik is nie (1 Petrus 3:3, 4). Maar wat jou omstandighede ook al is, dit is net logies om klere te dra wat geskik is vir die geleentheid. As ’n Christen is jy ook verplig om klere te dra wat by ’n jong bedienaar pas.—2 Korinthiërs 6:3.

Gelukkig beteken Christelike beskeidenheid nie noodwendig dat jy ouderwets moet wees nie. Jong Tamaria druk dit goed uit wanneer sy sê: “Dis nie verkeerd om in die mode te wees nie—jy moet dit net nie te ver voer nie.” Daar is ook niks daarmee verkeerd om klere van hoë gehalte te dra nie. Trouens, volgens die boek Dressing Smart, deur Pamela Redmond Satran, “raai [kenners] mense aan om die beste klere te koop wat hulle kan bekostig en beklemtoon hulle die belangrikheid van kwaliteit eerder as kwantiteit”. Know Your Merchandise gee ook hierdie raad: “Min klere van goeie gehalte wat verstandig gekies is, is beter as baie klere wat nie duursaam is nie en kort voor lank nie meer in die mode gaan wees nie.”

Dit beteken dalk dat jy ’n slim koper sal moet word—soos die “deugsame vrou” wat in die Bybel in Spreuke 31:10, 14, 18 beskryf word. Sy sou “ver” reis om te verseker dat haar “wins goed” is. En jy kan leer om te verseker dat jou “wins goed” is. Ladies’ Home Journal het in een van sy nommers voorgestel: “Vra vir afslag—selfs by groot winkels. . . . Doen navorsing. Vergelyk verskeie winkels se pryse.” Jy kan selfs leer om met die verkoopspersoneel oor pryse te onderhandel, veral by kleiner winkels.

Die tydskrif Consumer Reports herinner ons egter daaraan dat “prys en aansien nie foutlose gidse tot gehalte is nie”. Trouens, hulle navorsers het bevind dat die gehalte van sommige goedkoper kledingstukke nie baie verskil het van die gehalte van duurder ontwerpersklere nie. Die boek Dressing Smart sê: “Partykeer is klere peperduur net omdat dit modieus is, ’n ontwerpersnaam het of omdat hulle vermetel genoeg is om só ’n buitensporige prys daarvoor te vra.” Ontwerpersetikette word soms aan nagemaakte goedere van ’n laer gehalte geheg. En selfs wanneer die etiket eg is, kan fabrieksfoute insluip.

Jy moet dus nie deur etikette of pryskaartjies geflous word nie. Wees versigtig (Spreuke 14:15). Ondersoek die kledingstuk deeglik—die materiaal, afwerking, stikwerk, ensovoorts. Hang dit reg? Is daar genoeg materiaal vir verstellings? Het dit ’n voering en tussenvoering, kenmerke wat toon dat dit van goeie gehalte is? Wat van besonderhede, soos simmetrie en patrone wat by die nate ooreenkom?

Deur slim te wees en jou onderskeidingsvermoë te gebruik, kan jy voorkom dat die aantrekkingskrag van die ontwerpersetiket jou in die versoeking bring om swak keuses te maak. Jy kan goed aantrek, sonder om uitspattig aan te trek.

[Lokteks op bladsy 24]

’n Denimbroek met ’n ontwerperskenteken word skielik die sleutel tot gewildheid, opwinding en romanse!

[Prent op bladsy 25]

Moenie deur die etiket geflous word nie. Ondersoek enige kledingstuk deeglik voordat jy dit koop

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel