Plakkersdorpe—swaar tye in die betonoerwoud
Deur Ontwaak!-medewerker in Afrika
IN ’N stad in Wes-Afrika loop die plakkersdorpkind kaalvoet die straat af. Op haar kop dra sy ’n plat, ronde houer met ’n stuk of twintig lemoene. Sy is maer en dra ’n geel, gebruikte ou rokkie. Sy is natgesweet.
Sy is op straat om lemoene te verkoop, net soos die ander kinders wat uit arm gesinne kom. “Buy de orange!” roep hulle gewoonlik uit. Maar hierdie kind is stil; miskien is sy honger of siek of sommer net moeg.
Van die ander kant af kom twee skoolmeisies met koningsblou skooluniforms aan. Elkeen het wit sokkies en wit sandale aan. Elkeen het ’n boeksak vol boeke. Die meisies is lewenslustig en loop en gesels opgewonde. Hulle sien nie die kind nie, maar sy sien hulle. Met uitdrukkinglose oë kyk sy na hulle.
Die skoolmeisies kom mettertyd by hulle gerieflike, veilige huise. Maar wanneer die kind laat dié dag huis toe gaan, is dit na ’n heeltemal ander soort wêreld. Haar huis is ’n krotbuurt van huisies wat van hout en blik aanmekaargeslaan is.
Die plakkersdorp
Hier is die hoofstraat ’n harde grondpaadjie. Gedurende die reënseisoen word dit modder. ’n Motor kan nie hier ry nie, want die paadjie is te smal. Langs hierdie paadjie is daar nie ’n polisiekantoor, ’n brandweer of ’n hospitaal nie, ook nie eers ’n enkele boom nie. Bo is daar geen krag- of telefoondrade nie. Onder is daar ook geen riool- of waterpype nie.
Dit krioel van mense. ’n Roesemoes van stemme vul die lug. Daar word gepraat, gelag, gestry, gehuil en gesing. Mans met wit mantels aan sit en gesels op lang banke. Vroue roer rys wat in potte op houtvure stoom. Daar is oral kinders—hulle speel, slaap, werk, gesels of verkoop goed. Die meeste sal, soos die kind met die lemoene, nooit ’n dieretuin besoek, ’n fiets ry of skool toe gaan nie.
In ’n land waar die gemiddelde verwagte lewensduur by geboorte slegs 42 jaar is, sterf die mense wat hier bly vroeër. Op negejarige ouderdom het die kind reeds bewys dat sy dit sal kan maak—sy het haar eerste vier jaar oorleef. Gedurende daardie tyd was die kanse dat sy sou sterf 40 tot 50 keer groter as wat dit sou wees as sy in ’n ontwikkelde land gebore was. Baie van haar tydgenote hier het nie ouer as vier geword nie. As sy lank genoeg lewe, is haar kans om tydens ’n swangerskap of met ’n bevalling te sterf veel groter as dié van ’n vrou wat in Europa of Noord-Amerika woon—150 keer groter.
Honderde miljoene mense woon in sulke krotbuurte en plakkersdorpe wat vinnig uitbrei. Volgens die Verenigde Nasies se statistiek woon 1,3 miljard mense dig opmekaar in ontwikkelende lande se stede, en daar kom jaarliks 50 miljoen by.
Die lewe in ontwikkelende lande
Het jy ’n sekere mate van privaatheid, kraanwater en ’n toilet in jou huis? Word jou vullis verwyder? Honderde miljoene mense in ontwikkelende lande geniet nie hierdie voorregte nie.
In baie stede bly daar soveel mense in arm gebiede dat ’n gesin van tien dikwels in ’n enkele vertrek woon. Mense het dikwels minder as ’n vierkante meter woonruimte. In ’n stad in die Ooste word daar in party dele selfs klein vertrekkies onderverdeel sodat meer mense daar kan woon, met slaapbanke wat tralies om het vir privaatheid en vir beskerming teen diewe. In ’n ander land het hulle ’n “warm bed”-stelsel waar mense beddens uurliks huur sodat twee of drie mense daagliks in skofte daar kan slaap.
Volgens UNICEF (Verenigde Nasies se Kinderfonds) se jaarverslag vir 1991 het 1,2 miljard mense wêreldwyd besoedelde watervoorrade. Miljoene moet hulle water koop of moet uit riviere of ander onbedekte waterbronne gaan haal. Waar kraanwater wel beskikbaar is, is daar soms slegs een kraan wat deur meer as duisend inwoners gebruik moet word.
UNICEF skat ook dat 1,7 miljard mense nie sanitêre geriewe het om van ontlasting ontslae te raak nie. Dit is niks ongewoons vir 85 persent van die inwoners van ’n plakkersdorp om geen toiletgeriewe te hê nie. In die meeste stede in Afrika en Asië, waarvan baie ’n bevolking van meer as ’n miljoen het, is daar hoegenaamd geen rioolstelsel nie. Ontlasting beland in strome, riviere, vore, kanale en slote.
Vullis is nog ’n probleem. In die stede van die ontwikkelende lande word 30 tot 50 persent van die vaste vullis nie verwyder nie. Die arm gebiede word die meeste verwaarloos. Een rede is dat die armes minder vullis weggooi wat deur vullisverwyderaars of hersiklusseringsondernemings teen ’n wins gebruik of herwin kan word. Tweedens weier regerings om openbare dienste aan arm gebiede te verskaf aangesien baie van hulle nie volgens wet gevestig is nie. Derdens is dit moeilik en duur om dienste aan baie van die arm gebiede te verskaf weens hulle ligging en omdat soveel mense daar bly.
Wat gebeur met die vullis? Dit word op die strate, op oop grond en in riviere en mere gegooi waar dit lê en verrot.
Gesondheidsgevare
Die treurige toestande waarin arm stedelinge hulle bevind, verskil van plek tot plek. Maar daar is drie faktore wat feitlik altyd voorkom. Eerstens is hulle huise nie net ongerieflik nie, hulle is gevaarlik. Die boek The Poor Die Young sê: “Minstens 600 miljoen stedelinge in die Derde Wêreld woon in huise en buurte wat hulle lewe en gesondheid as ’t ware bedreig.”
Hoe kan onvoldoende huisvesting mense se gesondheid benadeel? Toestande van oorbevolking in arm stedelike gebiede laat siektes, soos tering, griep en meningitis, baie vinniger versprei. Weens oorbevolking is daar ook ’n groter gevaar van huishoudelike ongelukke.
Weens ’n gebrek aan genoeg skoon water is daar ’n groter gevaar dat siektes wat deur water oorgedra word, soos buiktifus, hepatitis en disenterie, vinniger sal versprei. Dit veroorsaak ook diarreale siektes wat gemiddeld een kind elke 20 sekondes in die ontwikkelende lande laat sterf. Omdat daar nie genoeg water is om in te was en te bad nie, is mense meer vatbaar vir ooginfeksies en velsiektes. En wanneer arm mense hoë pryse vir water moet betaal, is daar minder geld vir kos.
Besmette water en kos het fekaal-orale siektes en ingewandswurms, soos haak-, ronde- en lintwurms, tot gevolg. Wanneer vullis nie verwyder word nie, lok dit rotte, vlieë en kakkerlakke. Staande water is ’n broeiplek vir muskiete wat draers van malaria en draadwurmsiekte is.
Die verknorsing waarin die armes hulle bevind
’n Tweede kenmerk van die lewe in ’n plakkersdorp is dat dit vir inwoners uiters moeilik is om daar weg te kom. Die meeste wat stede toe kom, is plattelanders wat weens armoede stad toe trek. Aangesien hulle nie ordentlike huise kan bekostig nie, begin en eindig hulle dikwels hulle stadslewe in krotbuurte en plakkersdorpe.
Baie van die mense is fluks en bereid om hard te werk, maar hulle het geen keuse as om werk met lang werksure en teen swak betaling te aanvaar nie. Ouers wat in finansiële nood verkeer, stuur dikwels hulle kinders om te gaan werk pleks van skool toe te gaan, en vir dié kinders met min of geen opvoeding, is die kans groter dat hulle situasie later dieselfde as dié van hulle ouers sal wees. Selfs al verdien kinders baie min geld, kan hulle gesinne dikwels nie daarsonder klaarkom nie. Gevolglik het die meeste arm stedelinge nie veel hoop om hulle lewenslot te verbeter nie; hulle doelwit is om van dag tot dag te oorleef.
Onbemind en ongewens
’n Derde kenmerk van die lewe in ’n plakkersdorp is dat inwoners nie verseker is van hul woonplek nie. Vir baie regerings is plakkersdorpe en krotbuurte ’n verleentheid. Pleks dat regerings daaraan werk om plakkersdorpe te verbeter, iets wat nie altyd prakties is nie, stuur hulle dikwels stootskrapers in sulke gebiede in om dit te sloop.
Regerings regverdig sulke optrede dalk deur te sê dat dit nodig is om die stad mooi te maak, misdadigers te verjaag of die gebied te herontwikkel. Wat ook al die rede, dit is die armes wat daaronder ly. Hulle het gewoonlik geen heenkome nie en ontvang min of geen skadevergoeding. Maar wanneer die stootskrapers kom, moet hulle eenvoudig trek.
Die rol van die regering
Waarom verskaf die regerings nie geskikte huisvesting met water, rioolstelsels en vullisverwyderingsdienste vir almal nie? Die boek Squatter Citizen sê: “Baie Derdewêreldnasies het so ’n groot geldtekort en so ’n geringe kans om ’n bestendige en welvarende rol in die wêreldmark te speel dat dit sterk te betwyfel is of hulle ooit as nasionale state sal kan voortbestaan. As die hele nasie so ’n geldtekort het dat daar onder die huidige omstandighede nie genoeg geld is om in basiese behoeftes te voorsien nie, kan ’n mens ’n regering amper nie verkwalik omdat hy nie na sy burgers se behoeftes omsien nie.”
In baie lande is die ekonomie besig om te versleg. Verlede jaar het die uittredende sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies gesê: “In die meeste ontwikkelende lande is die ekonomie al ’n ruk lank besig om te versleg. . . . Meer as 1 [miljard] mense leef nou in volslae armoede.”
Wat van buitelandse hulp?
Waarom doen die welvarende lande nie meer om te help nie? Die Wêreldbank se Ontwikkelingsverslag het die uitwerking wat hulp op armoede het, bespreek en erken: “Bilaterale skenkers [wat 64 persent van alle buitelandse hulp uitmaak] . . . verleen hulp om baie redes—politieke, strategiese, kommersiële en humanitêre redes. Om armoede te verminder, is maar een beweegrede, en dit is gewoonlik alles behalwe die belangrikste een.”
Daarenteen help die regerings nie altyd die armes nie, selfs al het hulle genoeg geld om dit te doen. Hoewel dit in baie lande die plaaslike bestuur is wat huise en dienste moet verskaf, ontstaan die probleem wanneer hoër regeringsowerhede nie aan hulle die magtiging of die geld gee om dit te doen nie.
Stede van die toekoms
Deskundiges voorspel, op grond van die verloop van sake in onlangse dekades, ’n donker toekoms vir die arm stedelinge in ontwikkelende lande. Hulle sê dat stede steeds vinnig sal uitbrei en dat regerings nie kraanwater, riole, afvoerslote, teerpaaie, hospitale en nooddienste aan die meeste stedelinge sal kan verskaf nie.
Al hoe meer nedersettings sal op gevaarlike terreine, soos teen skuinstes, op vloedvlaktes of besoedelde grond, gebou word. Al hoe meer mense sal siektes opdoen as gevolg van oorbevolking en ongesonde toestande. Vir die arm stedelinge sal die moontlikheid van gedwonge uitsetting altyd daar wees, en dit sal al hoe meer toeneem.
Beteken dit dat daar vir plakkersdorpinwoners, soos die meisie met die lemoene wat aan die begin van hierdie artikel beskryf is, geen hoop is nie? Glad nie!
’n Dramatiese verbetering ophande
God se Woord, die Bybel, toon dat daar ’n dramatiese verbetering sal wees—en dit binnekort. Hierdie verandering sal nie deur menseregerings teweeggebring word nie, maar deur God se Koninkryk, ’n hemelse regering wat binnekort oor die hele aarde gaan heers.—Mattheüs 6:10.
Onder God se Koninkryk sal godvresende gesinne in ’n paradys woon pleks van lewenslank in smerige krotbuurte en plakkersdorpe vasgekeer te wees (Lukas 23:43). Pleks van voortdurend in vrees vir uitsetting te lewe, sê die Bybel dat ‘elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom sal sit, sonder dat iemand hulle verskrik’.—Miga 4:4.
Onder God se Koninkryk sal mense nie meer jonk doodgaan in stampvol woongeboue nie, maar “huise bou en bewoon, en wingerde plant en die vrug daarvan eet . . . want die dae van my volk sal wees soos die dae van die bome”.—Jesaja 65:21, 22.
Dit is dalk vir jou moeilik om in hierdie beloftes te glo, maar jy kan seker wees dat hulle wel bewaarheid sal word. Waarom? Omdat God nie lieg nie, en ‘geen ding by God onmoontlik sal wees nie’.—Lukas 1:37; Numeri 23:19.
[Prent op bladsy 13]
Onder God se Koninkryk sal armoede en plakkersdorpe deur paradystoestande vervang word