Wat sit agter die behuisingskrisis?
IN DIE buitewyke van ’n groot Afrikastad woon die 36-jarige Josephine en haar drie seuns, wat tussen 6 en 11 jaar oud is. Sy maak ’n bestaan deur leë plastiekhouers bymekaar te maak en aan ’n nabygeleë herwinningsaanleg te verkoop. Met hierdie uitputtende werk verdien sy minder as R12 per dag. In daardie stad is dit nouliks genoeg om kos vir haar gesin te voorsien of hulle skoolgeld te betaal.
Aan die einde van die dag keer sy terug na wat sy noodgedwonge haar tuiste noem. Die mure is van modderbakstene en klei gemaak wat met dun takkies aanmekaargehou word. Los, geroeste ysterplate, asook sink en plastiek, dien as ’n dak. Klippe, stukke hout en ou stukke plaatmetaal word daarop gepak om te keer dat ’n sterk wind die dak afwaai. Haar “deur” en “venster” is van geskeurde goiingsakke, wat nie werklik enige beskerming bied teen gure weer nie—wat nog te sê teen indringers.
Maar selfs hierdie beskeie huisie behoort nie werklik aan haar nie. Uitsetting hang soos ’n swaard oor Josephine en haar kinders se koppe. Die grond waarop hulle armsalige huisie staan, gaan vir die uitbreiding van ’n nabygeleë pad gebruik word. Ongelukkig bestaan daar soortgelyke situasies in baie lande regoor die wêreld.
’n Giftige huis
In “krotwonings”, sê Robin Shell, ’n senior amptenaar van ’n internasionale behuisingshulpprogram, “kry kinders skaam vir die huis, . . . is die gesin kort-kort siek en . . . weet hulle nooit wanneer ’n staatsamptenaar of grondeienaar dalk gaan kom en [hulle huis] platstoot nie”.
Sulke lewenstoestande dwing ouers om hulle voortdurend te kwel oor die gesondheid en veiligheid van hulle kinders. Omdat hulle dikwels die meeste van hulle tyd en energie daaraan moet bestee om in hulle kinders se basiese behoeftes, soos kos, rus en behuising, te probeer voorsien, kan hulle nie werk om hulle situasie te verbeter nie.
’n Buitestander kom dalk maklik tot die slotsom dat die armes hulle situasie kan regstel as hulle net meer inisiatief aan die dag lê. Maar om bloot vir mense te sê dat hulle self hulle situasie moet verbeter, is nie die antwoord nie. Daar is kragtige faktore wat ’n rol speel in die behuisingskrisis en buite enige individu se beheer is. Navorsers wys op bevolkingsgroei, vinnige verstedeliking, natuurrampe, politieke omwentelinge en voortslepende armoede as die hoofoorsake. Soos die vyf vingers van ’n gebalde vuis, pers hierdie kragte die lewe uit baie van die wêreld se armes.
Bevolkingsdruk
Oor die algemeen word daar geskat dat die wêreld elke jaar behuising vir nog 68 tot 80 miljoen mense moet voorsien. Volgens die Verenigde Nasies se Bevolkingsfonds was die wêreldbevolking in 2001 meer as 6,1 miljard en sal dit teen 2050 na raming 7,9 tot 10,9 miljard bereik. Wat selfs meer kommerwekkend is, is dat 98 persent van daardie toename na verwagting gedurende die volgende twee dekades in ontwikkelende lande sal plaasvind. Hierdie syfers alleen verteenwoordig ’n ontsaglike behuisingsuitdaging. Hierdie uitdaging word egter verder bemoeilik deur die feit dat stede, wat reeds oorbevolk is, in die meeste lande die gebiede met die vinnigste groeitempo is.
Onstuitbare verstedeliking
Groot stede—soos New York, Londen en Tokio—word dikwels beskou as belangrike simbole van ’n land se ekonomiese groei. Gevolglik stroom duisende plattelanders elke jaar na sulke ‘groener stedelike weivelde’, hoofsaaklik om geleerdheid en werk te probeer kry.
Byvoorbeeld, in China groei die ekonomie baie vinnig. Gevolglik sal daar, volgens een verslag, oor die volgende paar dekades in die groot stedelike gebiede alleen meer as 200 miljoen nuwe wooneenhede nodig wees. Dit is byna twee keer soveel wooneenhede as wat daar tans in die hele Verenigde State is. Watter behuisingsprogram kan hoegenaamd by so ’n aanvraag byhou?
Volgens die Wêreldbank “word daar jaarliks sowat 12 tot 15 miljoen nuwe huisgesinne, wat ’n ekwivalente aantal huise nodig het, by die stede van die ontwikkelende wêreld gevoeg”. Aangesien daar nie voldoende bekostigbare behuising bestaan nie, word hierdie arm stedelinge gedwing om skuiling te vind waar hulle ook al kan, dikwels waar niemand anders wil woon nie.
Natuur- en politieke rampe
Armoede het baie gedwing om in gebiede te woon waar oorstromings, modderstortings en aardbewings dikwels voorkom. Daar word byvoorbeeld geskat dat meer as ’n halfmiljoen mense in Caracas, Venezuela, “in plakkerskampe woon wat teen steil heuwels geleë is en voortdurend deur grondstortings geteister word”. Dink ook aan die nywerheidsongeluk in 1984 in Bhopal, Indië, waar derduisende mense gesterf het en baie meer beseer is. Waarom het dit soveel lewens geëis? Dit was hoofsaaklik omdat ’n nabygeleë krotbuurt uitgebrei het tot vyf meter van die fabriek se grens af.
Politieke rampe, soos burgeroorloë, veroorsaak ook al hoe meer behuisingsprobleme. ’n Verslag wat in 2002 deur ’n menseregtegroep vrygestel is, het daarop gewys dat tot 1,5 miljoen mense, hoofsaaklik dorpenaars, tussen 1984 en 1999 moontlik uit Suidoos-Turkye verdryf is. Baie is gedwing om blyplek te vind waar hulle ook al kon, dikwels saam met familie en bure in oorvol tydelike wonings, gehuurde akkommodasie, plaasgeboue of op bouterreine. Een groep families het volgens berig in stalle gebly, met 13 of meer in ’n kamer, en hulle het ’n gemeenskaplike toilet en ’n enkele kraan in die binneplaas gebruik. “Ons wil uit hierdie situasie kom”, het een van die vlugtelinge gesê. “Ons bly in ’n plek wat vir diere gebou is.”
Ekonomiese stagnasie
Laastens moet die verband tussen behuising en die ekonomiese situasie van die armes nie onderskat word nie. Volgens die verslag deur die Wêreldbank waarna daar vroeër verwys is, was daar in 1988 alleen 330 miljoen arm stadsbewoners in ontwikkelende lande, ’n situasie wat na verwagting in die daaropvolgende jare nie veel sou verander nie. Hoe kan mense wat te arm is om basiese benodigdhede soos voedsel en klere te bekostig, dit bekostig om ’n behoorlike blyplek te huur of te bou?
Hoë rentekoerse en inflasie maak dit vir baie gesinne onmoontlik om ’n banklening af te betaal, en die hoë koste van openbare dienste maak dit vir mense moeilik om hulle situasie te verbeter. In sommige lande maak ’n werkloosheidsyfer van tot 20 persent dit byna onmoontlik om die pot aan die kook te hou.
Hierdie en ander faktore het honderdmiljoene in elke uithoek van die aarde gedwing om met minderwaardige behuising tevrede te wees. Mense bly in ou busse, verskepingshouers en kartondose. Hulle bly onder trappe, plastiekseile en stukke ou timmerhout. Selfs verlate nywerheidspersele het vir sommige ’n tuiste geword.
Wat word gedoen?
Talle besorgde individue, organisasies en regerings het al heelwat gedoen om werk te maak van die probleem. In Japan is verskeie agentskappe gestig om bekostigbare huise te help bou. Sedert 1994 is meer as ’n miljoen viervertrekhuise as deel van ’n behuisingsprogram in Suid-Afrika gebou. In Kenia is die oogmerk van ’n ambisieuse behuisingskema om elke jaar 150 000 wooneenhede in stedelike gebiede en twee keer soveel in plattelandse gebiede te bou. Ander lande, soos Madagaskar, het hulle daarop toegespits om boumetodes te probeer vind wat goedkoop behuising moontlik sal maak.
Internasionale organisasies, soos VN-HABITAT, is op die been gebring om te toon hoe vasbeslote die wêreld is om “probleme wat uit ontsaglike stedelike groei voortspruit, te voorkom en te verlig”. Organisasies sonder winsoogmerk en nieregeringsorganisasies probeer ook help. Een organisasie sonder winsoogmerk het al meer as 150 000 huisgesinne in verskeie lande gehelp om beter behuising te kry. Hulle meen dat hulle teen 2005 ’n miljoen mense sou gehelp het om eenvoudige, ordentlike, bekostigbare behuising te kry.
Baie van hierdie organisasies het maklik verkrygbare, praktiese inligting voorberei om mense wat in haglike toestande woon, te help om hulle omstandighede na die beste van hulle vermoë te hanteer of dit selfs te verbeter. As jy hulp nodig het, moet jy beslis ten volle gebruik maak van hierdie voorsienings. Daar is ook talle basiese dinge wat jy kan doen om jouself te help.—Sien die venster “Jou huis en jou gesondheid”, op bladsy 7.
Of jy nou jou situasie kan verbeter of nie, daar is min hoop dat ’n enkele persoon of menslike organisasie die greep kan verbreek van die wêreldwye invloede wat hierdie krisis veroorsaak. Die internasionale gemeenskap vind dat hulle glad nie kan byhou met die dringende en toenemende behoefte aan ekonomiese ontwikkeling en humanitêre hulp nie. Elke jaar word miljoene kinders in hierdie dieper wordende maalgat van armoede gebore. Is daar enige ware hoop vir ’n permanente oplossing?
[Venster op bladsy 7]
JOU HUIS EN JOU GESONDHEID
Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie moet ’n huis ten minste die volgende hê om goeie gesondheid te bevorder:
◼ ’n Goeie dak om die reën uit te hou
◼ Stewige mure en deure om beskerming teen slegte weer te bied en diere uit te hou
◼ Sifdraadskerms voor die vensters en deure om insekte, veral muskiete, uit te hou
◼ Sonskerms reg rondom die huis om die mure in warm weer teen direkte sonlig te beskerm
[Venster/Prente op bladsy 8]
TRADISIONELE HUISE IN LANDELIKE AFRIKA
Tradisionele huise was baie jare lank oral op die Afrikalandskap te sien. Daar was verskillende groottes en vorms. Party gemeenskappe, soos die Kikoejoe en die Luo van Kenia, het ronde huise en ’n keëlvormige grasdak verkies. Ander, waaronder die Masai van Kenia en Tanzanië, se huise was min of meer reghoekig. In kusgebiede van Oos-Afrika het van die huise ’n grasdak gehad wat tot by die grond gestrek het en soos ’n byekorf gelyk het.
Aangesien baie van die boumateriaal wat vir hierdie huise gebruik is, algemeen beskikbaar was, was daar min behuisingsprobleme. Modder kon verkry word deur bloot grond en water te meng. Die talle nabygeleë woude het dit maklik gemaak om hout, gras, riete en bamboesblare in die hande te kry. Daarom kon ’n gesin dit gewoonlik bekostig om hulle eie huis te hê, ongeag hoe ryk of arm hulle was.
Sulke huise het natuurlik ook hulle tekortkominge gehad. Aangesien die meeste dakke van vlambare materiaal gemaak is, het hulle ’n groot brandgevaar ingehou. Boonop kon ’n indringer maklik in die huis inkom deur eenvoudig ’n gat deur die moddermuur te breek. Dit is dus nie verbasend nie dat tradisionele Afrikahuise vandag op baie plekke stadigaan plek maak vir duursamer geboue.
[Erkennings]
Bron: African Traditional Architecture
Hutte: Courtesy Bomas of Kenya Ltd-A Cultural, Conference, and Entertainment Center
[Prent op bladsy 5]
EUROPA
[Erkenning]
© Tim Dirven/Panos Pictures
[Prent op bladsy 6]
AFRIKA
[Prent op bladsy 6]
SUID-AMERIKA
[Prent op bladsy 7]
SUID-AMERIKA
[Prent op bladsy 7]
ASIË
[Foto-erkenning op bladsy 6]
© Teun Voeten/Panos Pictures; J.R. Ripper/BrazilPhotos
[Foto-erkenning op bladsy 7]
JORGE UZON/AFP/Getty Images; © Frits Meyst/Panos Pictures