Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 11/22 bl. 4-9
  • Die uitdaging om die stede te voed

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die uitdaging om die stede te voed
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Onversadigbare megastede
  • Wydverspreide armoede
  • Onveilige en ongesonde toestande
  • Sukkelende stede
  • Stede—Waarom in ’n krisis?
    Ontwaak!—2001
  • “Laat ons vir ons ’n stad bou”
    Ontwaak!—1994
  • ‘Stede wat uit hulle nate bars’
    Ontwaak!—2001
  • Plakkersdorpe—swaar tye in die betonoerwoud
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 11/22 bl. 4-9

Die uitdaging om die stede te voed

“Die taak om genoeg voedsel vir die wêreld se stede te voorsien, word al hoe dringender en vereis die gekoördineerde interaksie van voedselprodusente, voedselvervoerders, bestuurders van kosmarkte en tallose kleinhandelaars.”—JACQUES DIOUF, DIREKTEUR-GENERAAL VAN DIE VOEDSEL-EN-LANDBOU-ORGANISASIE VAN DIE VERENIGDE NASIES (VLO).

DESKUNDIGES op die gebied van voedselverspreiding sê selfs dat stedelike voedselsekerheid heel waarskynlik “die grootste humanitêre probleem” van die 21ste eeu kan word.

Voedselsekerheid word gedefinieer as die toestand waarin “alle mense te alle tye toegang het tot genoeg voedsel om ’n aktiewe en gesonde lewe te lei”. Op die oomblik is die voedsel wat wêreldwyd beskikbaar is, genoeg om in die behoeftes van die aarde se bevolking te voorsien—as dit volgens behoefte versprei kon word. Maar in werklikheid is daar ongeveer 840 miljoen mense wat saans honger gaan slaap. Baie van hulle woon in stede. Kyk na ’n paar fasette van die probleem.

Onversadigbare megastede

Namate stede groei, word die omliggende grond wat voorheen vir landbouproduksie gebruik is, stelselmatig vir nuwe huise, nywerhede en paaie gebruik. Gevolglik word landerye wat die stede voed, al hoe verder daarvan weggestoot. Dikwels word min of geen voedsel in stede verbou nie, en vleis kom uit verafgeleë landelike gebiede. In talle ontwikkelende lande is die paaie waarop voedsel van die plase na die stede vervoer word, onvoldoende. Dit beteken langer vervoertye, groter verliese en, uiteindelik, hoër pryse vir verbruikers, waarvan talle brandarm is.

Party stede in die ontwikkelende wêreld is reeds groot en gaan selfs nog groter word. Teen 2015 sal Moembaai (voorheen bekend as Bombaai) na verwagting 22,6 miljoen inwoners hê, Delhi 20,9 miljoen, Mexikostad 20,6 miljoen en São Paulo 20 miljoen. Daar word geraam dat ’n stad met tienmiljoen inwoners—soos Manila of Rio de Janeiro—meer as 6 000 ton voedsel per dag moet invoer.

Dit is nie ’n eenvoudige taak nie, en dit word ook geensins makliker nie, veral in gebiede wat vinnig groei. Lahore, Pakistan, het byvoorbeeld nie net ’n hoë geboortesyfer (2,8 persent) nie, maar ook ’n “kommerwekkende” aantal mense wat uit landelike gebiede daarheen trek. In talle ontwikkelende lande stroom miljoene nuwe inwoners die reeds oorvol stede in op soek na beter lewenstoestande, werk, goedere en dienste. Weens hierdie migrasie sal die stad Dhaka, Bangladesj, in die afsienbare toekoms na verwagting met eenmiljoen mense of meer per jaar groei. Volgens skatting sal die grootste deel van die bevolking van China, waarvan twee derdes tans in landelike gebiede woon, teen 2025 in stede woon. Teen dieselfde tyd sal 600 miljoen mense na verwagting in die stede van Indië woon.

Die migrasie van mense na stede verander die algehele karakter van baie wêrelddele. Byvoorbeeld, in 1960 het slegs 14 persent van die bevolking van Wes-Afrika in stedelike gebiede gewoon. Teen 1997 was die stedelike bevolking 40 persent, en die algemene opvatting is dat die syfer teen 2020 tot 63 persent sal styg. In die Horing van Afrika sal stedelike bevolkings na verwagting binne ’n dekade verdubbel. En daar word voorspel dat 90 persent van die totale bevolkingsgroei in die nabye toekoms in die dorpe en stede van ontwikkelende lande sal plaasvind.

Dit is ’n yslike taak om stedelike gebiede van meer voedsel te voorsien sodat al hierdie honger monde gevoed kan word. Dit vereis die gesinchroniseerde pogings van duisende boere, verpakkers, vragmotorbestuurders, handelaars en voedselhanteerders, sowel as die gebruik van duisende voertuie. Nietemin oortref die verhoogde aanvraag na voedsel op party plekke die vermoë van omliggende gebiede om in daardie behoefte te voorsien. Daarbenewens is dienste, soos vervoer, en fasiliteite, soos pakhuise, markte en slagpale, in die meeste stede van die ontwikkelende wêreld reeds ooreis.

Wydverspreide armoede

Die uitdaging om groeiende bevolkings te voed, word verder gekompliseer wanneer daar wydverspreide armoede is. Talle groot stede in die ontwikkelende wêreld, soos Dhaka, Freetown, Guatemalastad, Lagos en La Paz, het reeds te kampe met armoedesyfers van 50 persent of hoër.

Wanneer ontleders voedselvoorsiening vir sulke bevolkings bespreek, tref hulle ’n onderskeid tussen beskikbaarheid en toeganklikheid. Voedsel is dalk in stedelike markte te koop—dit wil sê beskikbaar—maar dit is ’n skrale troos vir die armes in die stede as hulle dit nie kan bekostig nie. Daar is al opgemerk dat namate die inkomste van sommige stadsbewoners styg, hulle ’n groter verskeidenheid voedselsoorte wil hê en verbruik. Daarenteen vind die armes in stede dit moeilik om genoeg kos te koop om in hulle behoeftes te voorsien. Hierdie arm gesinne moet dalk tussen 60 en 80 persent van hulle totale inkomste aan kos spandeer.

Dit sou dalk goedkoper gewees het as hulle voedsel in grootmaat kon koop; maar dit is onmoontlik as mense eenvoudig nie genoeg geld het nie. Baie huishoudings kan nie eens in hulle minimum voedingsvereistes voorsien nie, en die onvermydelike gevolg daarvan is ondervoeding. In Afrika suid van die Sahara, om maar net een gebied te noem, is wanvoeding in stede na bewering “’n ernstige, wydverspreide probleem”.

Veral dié wat van landelike gebiede af kom en dit moeilik vind om by die stedelike omgewing aan te pas—naamlik enkelmoeders, junior staatsamptenare wat laat betaal word weens die regering se kontantvloeiprobleme, gestremdes, bejaardes en siekes—loop gevaar om hierdeur geraak te word. Mense uit sulke risikogroepe woon dikwels in buitewyke waar groot hoeveelhede mense in tydelike of onveilige wonings bly sonder die basiese geriewe—naamlik elektrisiteit, lopende water, ’n rioolstelsel, paaie en vullisverwydering. Die miljoene wat onder sulke toestande sukkel om die pot aan die kook te hou, ly die meeste daaronder as iets skeef loop met die voedselvoorsieningstelsel. Hulle woon dikwels ver van die naaste markte af en het nie veel van ’n keuse nie as om hoë pryse te betaal vir voedsel van laer gehalte. Hulle benarde situasie is waarlik bejammerenswaardig.

Onveilige en ongesonde toestande

In baie gebiede is dit nie ongewoon dat vinnige stedelike groei onbeheers en onwettig plaasvind nie. Die gevolg daarvan is ’n ongesonde en onveilige omgewing met hoë misdaadsyfers. “Dikwels”, sê Feeding the Cities, ’n VLO-publikasie, “vind stadsadministrateurs in die ontwikkelende wêreld dit moeilik om in die behoeftes van die groeiende bevolkings te voorsien in ’n fisiese omgewing wat in werklikheid geskik is vir slegs ’n fraksie van die bewoners.”

In die grootste deel van Afrika ontstaan markte dikwels spontaan sonder enige beplanning. Handelaars begin hulle goedere verkoop waar daar ook al ’n aanvraag is. Die markte het dus nie eers die mees basiese fasiliteite nie.

In Colombo, Sri Lanka, is die bestaande markte van groot- en kleinhandelaars sleg geleë en oorvol. Vragmotorbestuurders kla dat dit hulle ure neem om die sentrale mark te bereik en te verlaat. Parkeergebiede, asook op- en aflaaiplekke, is onvoldoende.

Elders word markte nie goed in stand gehou nie en swak bestuur. Onhigiëniese toestande as gevolg van toenemende hoeveelhede organiese en anorganiese afvalstowwe veroorsaak gesondheidsrisiko’s. “Hierdie probleme”, sê die burgemeester van ’n stad in Suid-Asië, “dra by tot ’n progressiewe agteruitgang in die lewensgehalte.”

Die erns van die probleme wat met higiëne en omgewingsake verband hou, word toegelig deur die bevindings van ’n opname in verband met diereprodukte wat in ’n stad in Suidoos-Asië te koop was. Dit is niks ongewoons dat vleis daar “op die kaal grond uitgestal word, waar dit in aanraking kom met stof en vuil water”. Salmonella was in 40 persent van die varkvleis en 60 persent van die beesvleis teenwoordig, terwyl 100 persent van die beesvleis met die E. coli-bakterie besmet was. Besmetting met swaarmetale soos lood en kwik is ook gevind.

In reaksie op die onvoldoende, onbetroubare of ongereelde toegang tot voedsel, probeer sommige stadsbewoners, soos baie in Kano, Nigerië, om gewasse op enige oop stuk grond te verbou. Maar die meeste van hierdie mense het geen wettige reg om op daardie grond te boer nie. Hulle loop dus die risiko om die grond en al die voedsel wat hulle met moeite verbou het, te verloor.

Olivio Argenti, ’n stedelike voedselsekerheidspesialis vir die VLO, beskryf wat hy gevind het tydens ’n besoek aan ’n stedelike landbougebied in Mexiko naby ’n rivier waarin rioolvullis van ’n nabygeleë dorpie gestort word. Plaaslike boere het daardie rivier gebruik om hulle groente nat te lei en modder daaruit gebruik om hulle saadbeddings te berei. “Ek het die owerhede gevra of hulle bewus was van die gevaar”, skryf Argenti, “en hulle het gesê dat hulle nie in ’n posisie is om enigiets te doen nie, want hulle beskik nie oor die finansiële of tegniese middele nie.” Sulke probleme word herhaaldelik in die ontwikkelende wêreld gesien.

Sukkelende stede

Die lys kwessies waarvoor snelgroeiende stede te staan kom, lyk eindeloos. Internasionale organisasies, stadsbeplanners en -administrateurs doen wat hulle kan om dit op te los. Hulle strategieë sluit in die bevordering van landelike voedselverbouing en die voorsiening van voldoende toegang, sowel as die bou van nuwe paaie, markte en slagpale. Hulle besef dat dit nodig is om privaat belegging in pakhuisfasiliteite te bevorder, toegang tot kredietfasiliteite vir boere, handelaars en vervoerders te verbeter en gepaste regulasies met betrekking tot handel en higiëne toe te pas. En tog sê ontleders dat, ten spyte van al die pogings wat aangewend word, talle plaaslike owerhede nie die betrokke kwessies verstaan of daarop reageer nie. Selfs wanneer hulle dit doen, is die beskikbare hulpmiddele onvoldoende om die probleme op te los.

Die omvang van die uitdagings waarvoor stede te staan kom, veral in ontwikkelende lande, het tot dringende waarskuwings gelei. Volgens die Internasionale Instituut vir Navorsing oor Voedselbeleid, Washington, DC, “sal stedelike bevolkings al hoe groter word, en hierdie probleme [voedseltekorte, wanvoeding en armoede] sal ook eenvoudig al hoe groter word—tensy ons nou iets daadwerkliks doen”. Janice Perlman, president van die Megastede-projek, ’n internasionale netwerk van organisasies wat hulle daartoe verbind om oplossings vir stedelike probleme te vind, sê aangaande die toekoms van stede in armer lande: “Daar bestaan geen presedent om soveel mense in so ’n digbevolkte gebied onder sulke ernstige finansiële en omgewingsbeperkings te voed, te huisves, van werk te voorsien of te vervoer nie. Stede is besig om die punt te bereik waar hulle nie meer menselewe kan onderhou nie.”

Daar bestaan egter goeie rede om te glo dat die probleme van voedselvoorsiening en -verspreiding binnekort opgelos sal word.

[Venster/Prent op bladsy 5]

GROEIENDE STEDE

◼ Byna al die bevolkingsgroei wat in die volgende 30 jaar verwag word, sal in stede plaasvind.

◼ Na verwagting sal meer as die helfte van die wêreld se bevolking teen 2007 in stedelike gebiede woon.

◼ Daar word geraam dat die aantal mense wat wêreldwyd in stede woon, jaarliks teen gemiddeld 1,8 persent sal toeneem; teen hierdie tempo sal stedelike bevolkings binne 38 jaar verdubbel.

◼ Die aantal stede met vyfmiljoen of meer inwoners sal na verwagting van 46 in 2003 tot 61 in 2015 styg.

[Erkenning]

Bron: World Urbanization Prospects—The 2003 Revision, uitgegee deur die Bevolkingsafdeling van die Verenigde Nasies se Departement van Ekonomiese en Maatskaplike Aangeleenthede

[Venster op bladsy 6]

PARTY OORSAKE EN GEVOLGE VAN ONBETROUBARE VOEDSELVOORSIENING

◼ “Daar is goed gedokumenteerde bewyse dat politieke en maatskaplike onrus in stede wêreldwyd ’n algemene verskynsel is wanneer voedselpryse skerp styg.”—Jacques Diouf, direkteur-generaal van die VN se Voedsel-en-landbou-organisasie.

◼ In 1999 het die orkane Georges en Mitch die Karibiese gebied en Sentraal-Amerika getref en wydverspreide verwoesting gesaai, daaglikse aktiwiteite ontwrig en voedseltekorte veroorsaak.

◼ Proteste teen hoë brandstofpryse in 1999 in Ecuador en in 2000 in Brittanje het ernstige ontwrigtings in voedselvoorsiening veroorsaak.

◼ Voedseltekorte is een van die ellendes wat deur oorlog veroorsaak word.

[Venster/Prent op bladsy 7]

EEN VAN MILJOENE

CONSUELO en haar 13 kinders woon in ’n plakkersdorp (soos hier gesien) in die buitewyke van Lima, Peru. Drie van haar kinders het tuberkulose. “Ons het altyd in die berge gewoon”, sê sy, “maar een nag het honderde mense van ons dorpie na die stad toe getrek. Ons het gedink: ‘In Lima sal ons kinders skool toe kan gaan en skoene dra. Die lewe sal vir hulle beter wees.’” Die dorpsbewoners het dus strooimatte gemaak, en almal van hulle het in een nag na die stad toe getrek en strooihuisies opgerig. Die volgende oggend was daar te veel plakkers vir die owerheid om te verwyder.

Consuelo se huisie het ’n groot gat in die dak en ’n moddervloer. “Ek maak hierdie hoenders groot om aan ryk mense te verkoop”, sê sy, en wys na die diere wat om haar huis rondhardloop. “Ek wou geld vir skoene vir my dogter hê. Maar nou moet ek dit gebruik om vir die hospitaal en medisyne te betaal.”

Die enigste kos wat Consuelo het, is ’n paar uie. Dit is moeilik om werk te kry, en sy het nie eers genoeg geld om gereeld water te koop nie. Daar is geen lopende water of ’n toilet in haar armsalige huisie nie. “Ons gebruik hierdie pot. Snags stuur ek my kinders om dit iewers uit te gooi”, verduidelik sy. “Dit is wat ons moet doen.”

Consuelo kry geen onderhoud van haar man nie, en sy sien hom ook selde. Sy is maar in haar dertigerjare, maar sy lyk baie ouer. “Haar klein donker oë staar wesenloos voor haar uit en haar gesig is effens geswel”, sê ’n skrywer wat ’n onderhoud met haar gevoer het. “Hulle is sonder hoop.”

[Erkennings]

Bron: In Context

AP Photo/Silvia Izquierdo

[Venster/Prent op bladsy 9]

“MOET EK STAD TOE TREK?”

DIT sal goed wees as enigiemand wat dit oorweeg om stad toe te trek, ’n paar faktore in ag neem. “Een van die grootste trekpleisters is die verwagting van ’n beter lewe in vergelyking met die geleenthede wat in landelike gebiede beskikbaar is”, sê Feeding the Cities, ’n publikasie van die VN se Voedsel-en-landbou-organisasie. Maar “die verbetering vind moontlik nie oornag plaas nie, moontlik nie eers ná ’n geslag of meer nie”.

Die feit is dat baie wat van landelike gebiede na die stad toe trek, probleme ondervind soos haweloosheid, werkloosheid en erger armoede as voorheen, en dit alles in ’n vreemde omgewing. As jy dus hierdie stap oorweeg, vra jou af: Is ek seker dat dit my in staat sal stel om my gesin te onderhou? Werk in die stede, as dit beskikbaar is, is dikwels nie goed besoldig nie. Kan die druk om lang ure te werk net om aan die lewe te bly, daartoe lei dat jy of jou gesin aktiwiteite verwaarloos wat julle as belangrik beskou?—Matteus 28:19, 20; Hebreërs 10:24, 25.

Party ouers het besluit om stad toe te trek terwyl hulle gesin agterbly. Is dit verstandig? Christenouers het ’n verpligting om in hulle gesin se materiële behoeftes te voorsien, maar hoe sal die skeiding die gesin emosioneel en geestelik raak? (1 Timoteus 5:8). Sal vaders kan aanhou om hulle kinders op doeltreffende wyse “in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed”? (Efesiërs 6:4). Kan die skeiding van man en vrou hulle aan sedelike versoekings blootstel?—1 Korintiërs 7:5.

Om te trek of nie, is natuurlik ’n persoonlike besluit. Voordat Christene hierdie besluit neem, moet hulle al die faktore oorweeg en biddend Jehovah se leiding vra.—Lukas 14:28.

[Prente op bladsy 8, 9]

Stede sukkel met onhigiëniese toestande en swaar verkeer

Indië

Niger

Mexiko

Bangladesj

[Prent op bladsy 8]

In talle arm stedelike gesinne moet selfs die kinders werk

[Foto-erkennings op bladsy 8]

Indië: © Mark Henley/Panos Pictures; Niger: © Olivio Argenti; Mexiko: © Aubrey Wade/Panos Pictures; Bangladesj: © Heldur Netocny/ Panos Pictures; foto onder: © Jean-Leo Dugast/Panos Pictures

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel