Onder druk en die stryd om te lewe
“SLUK sodat jou ore kan oopgaan! Dis belangrik dat jou ore oopgaan!” Dit was die eerste woorde wat ek gehoor het na die operasie waarin deel van my dikderm uitgesny is. Ek het gedink: “Dis vreemd—hulle het my maag geopereer. Waarom is daar fout met my ore?”
Maar ek het geleidelik besef, namate ek van my omgewing bewus geraak het, dat dít geen gewone hospitaalkamer is nie. Ek was in ’n lang, smal, torpedovormige kamer—’n kompressiekamer.
Komplikasies tydens chirurgie
Ek het uitgevind dat my operasie groter was as wat aanvanklik beplan is. Die kanker het na my lewer versprei en ek het inwendig baie gebloei. Teen die tyd dat ek die teater verlaat het, het my hemoglobienvlak tot 3,6 geval. (’n Normale hemoglobienvlak vir ’n volwassene is ongeveer 15 g/100 ml bloed.) Die dokters was bekommerd en het my pa hospitaal toe laat kom. Hy is ook een van Jehovah se Getuies en het geweier om my besluit om nie ’n bloedoortapping te aanvaar nie tersyde te stel.—Handelinge 15:20, 29.
My chirurg het dringend toestemming gevra om die kompressiekamer by die diepseeduik-kompleks by Dyce, naby Aberdeen in Skotland, te gebruik. Dit kon help om die suurstof in die bietjie bloed wat in my liggaam oor was te sirkuleer. Toestemming is verleen. Die agt kilometer van Aberdeen na Dyce is in ’n japtrap deur ’n ambulans afgelê. By Dyce is ek onder druk geplaas wat gelyk is aan dié van 15 meter onder seevlak.
Dit was ’n nuwe ondervinding vir al die betrokkenes, aangesien die kamer gewoonlik gebruik word om duikers, wat op die Noordsee-olietorings werk, te behandel. Vir die eerste gebruik daarvan om iemand na ’n operasie te behandel, is twee verpleegsters en ’n tegnikus, almal in hulle twintigerjare, saam met my in die eenheid geplaas, waar hulle moes bly tot die druk weer verlaag is. Buite het kompressiekundiges die ingewikkelde kontrolepaneel beheer.
Onder druk
Namate lug in die kamer ingepomp is, het die druk binne gestyg. Omdat ek deur ’n masker asemgehaal het teen ’n druk twee en ’n half keer hoër as die normale atmosferiese druk het dit beteken dat ek my longe met twee en ’n half keer soveel suurstof as gewoonlik vul. Die feit dat die suurstof weens die hoë druk deur my bloedplasma (wat met volume-uitdyers aangevul is) geabsorbeer is, het vir die gebrek aan hemoglobien vergoed.a
Die volgende paar dae was baie moeilik. Slegs besoekers wat streng mediese toetse geslaag het, kon die aangrensende gedeelte, waar die druk verlaag kon word, binnegaan. ’n Klein loergaatjie in die neus van die torpedo het dit vir ander besoekers moontlik gemaak om my te sien, maar al wat ek kon sien, was een oog!
My broer, wat ook ’n Getuie is, het my vir ’n kort rukkie in die kamer besoek. Dit het my baie bemoedig. So ook al die kaartjies wat my baie vriende so goedgunstiglik gestuur het om hulle liefde en skriftuurlike gedagtes te betuig. Dit het gelyk of al hierdie boodskappe gekom het op tye wanneer ek besonder swak gevoel het.
Op die vyfde dag in die kamer het die dokter in beheer van die eenheid my genader. Dit was duidelik dat hy bekommerd was, en hy het verduidelik: “Daar is nou te veel suurstof in jou bloed.” Gevolglik het my beenmurg blykbaar opgehou funksioneer. Hy het gesê dat my bloed hemofiliese eienskappe aangeneem het, en die bietjie bloed wat oor was, sou na verwagting deursypel omdat stolling nie meer plaasgevind het nie. (My hemoglobienvlak het toe al so laag gedaal dat die instrumente dit nie meer kon meet nie. Dit was ongeveer 2,6.)
Die verpleegsters het in trane uitgebars. Ek het my bes gedoen om hulle gerus te stel en die uitkoms aan Jehovah oorgelaat.
Dekompressie—sukses!
Op die dokter se bevel is die dekompressieproses onmiddellik begin. Die verpleegsters het tekens begin toon van die nadelige gevolge wat ontstaan wanneer ’n mens so lank onder druk is; voorheen was drie dae die langste wat iemand in ’n kompressiekamer was. Dit was reeds ons almal se vyfde dag! Ons moes nog twee dae wag vir die druk om geleidelik verminder te word.
Die volgende keer wat die dokter ingekom het, het hy baie gelukkiger gelyk en gesê: “Om die een of ander onverklaarbare rede het jou hemoglobienvlak so effens gestyg.” Sy mening was dat die beenmurg weer begin funksioneer het. Ek was in die wolke.
’n Week na die operasie het ek eindelik die kompressiekamer met ’n hemoglobienvlak van 4,6 verlaat en is ek oorgeplaas na ’n aangrensende kamer om vir die ambulans te wag wat my na die waakeenheid in Aberdeen sou neem. Terwyl ek daar was, het een van ons mede-Getuies ingekom met die tydskrifte wat sy die vorige aand by die Koninkryksaal gekry het. Die buitebladartikel “Mediese besluite—Wie moet dit neem?” (Ontwaak! van 8 November 1984) het op ’n uiters gepaste tyd gekom! Ek het dit gebruik om my standpunt te verduidelik.
My hemoglobienvlak het geleidelik tot bo 5 gestyg, en ek is van die gevaarlys afgehaal. Ek het geen behandeling buiten goeie, heilsame voedsel ontvang nie. My liggaam het toe op sy eie merkwaardig goed gedoen. Ek is die volgende dag met ’n hemoglobienvlak van 7,8 ontslaan.
Omdat dit gewoonlik na so ’n operasie lank duur voor jy jou kragte herwin, is ek drie maande verlof toegestaan. My hemoglobienvlak het toe 15,3 bereik, en ek het weer 9,5 kilogram aangesit.
Hoeveel genot het dit my tog nie die afgelope jare verskaf om my nuutgevonde gesondheid te gebruik om voort te gaan om my geloof met ander te deel nie! My dank gaan aan Jehovah, die Onderhouer van lewe, asook aan die vriendelike mediese personeellede wat my sulke onortodokse behandeling met soveel welslae gegee het.—Soos vertel deur Doreen Strachan.
[Voetnoot]
a Die vervanging van liggaamsvloeistowwe met ’n sout-, dekstrose- of dekstran-oplossing tesame met hoogdruksuurstof is uit ’n teoretiese oogpunt ’n realistiese prosedure in die onmiddellike noodbehandeling van akute bloedverliesanemie. Maar soos met enige vorm van mediese behandeling kan daar komplikasies wees, en die veilige gebruik van die hoogdruksuurstoftenk verg groot bekwaamheid en sorg.—Sien die artikel “’n Lewensreddende nuwe behandeling” in die Ontwaak! van 8 September 1979.
[Prent op bladsy 21]
Doreen, ’n week nadat sy uit die hospitaal ontslaan is
[Foto-erkenning op bladsy 20]
By Courtesy of Grampian Health Board