“Nou is dit net Mia en Jehovah”
TEEN Mei 1991 het my liggaam reeds aangedui dat daar iets verkeerd is. Nadat ek ver geloop het of my fiets oor ’n lang afstand gery het, het ek skerp pyne in my arms en bene gevoel, en my gewrigte het geswel. Toe ek in Julie 1991 die troue van een van my broers bygewoon het, het ek siek geword. Daarna was ek meestal bedlêend, en eienaardige rooi vlekke het op my gesig en my liggaam uitgeslaan.
My ma het my na ’n dokter toe geneem, wat my onmiddellik na ’n hospitaal naby ons huis in Askim in Noorweë gestuur het. Die diagnose was verminderde nierwerking en hoë bloeddruk. My hemoglobienvlak was net 7,3 gram per desiliter in vergelyking met die normale 11,5 tot 16. Ná twee dae is ek oorgeplaas na ’n groter hospitaal met ’n spesiale afdeling vir die behandeling van niersiektes. Nadat die dokter die uitslae van verskeie bloedtoetse gesien het, het hy tot die gevolgtrekking gekom dat ek aan sistemiese lupus eritematose ly en dat my immuunstelsel teenliggaampies vervaardig het wat my bloed- en nierweefsel aanval. Ek het kortikosteroïede en chemoterapie ontvang.
Aangesien die siekte sowel as van die medikasie die bloed afbreek, het die kwessie van ’n bloedoortapping ’n geskilpunt geword. Ek het al my kragte ingespan en gesê: “Ek is ’n toegewyde en gedoopte Getuie, en ek wil nie bloed hê nie” (Genesis 9:4; Handelinge 15:28, 29). Die dokter het toe privaat met my ma gepraat, en my ma het verduidelik dat ons graag alternatiewe behandeling in die plek van bloedoortappings wil gebruik. Hy het gesê dat hy bereid was om my standpunt te eerbiedig en dat hy sy uiterste bes sou doen om my te help.
Die mediese verslag, waarvan ons later ’n afskrif ontvang het, sê: “Die pasiënt is mondig en is helder van verstand en ingelig. Daarom moet ’n mens die pasiënt se beskouing eerbiedig.” Dit sê ook: “Die mediese afdeling is vasbeslote om die pasiënt se besluit om nie bloed te aanvaar nie, te eerbiedig, selfs al sou dit haar dood tot gevolg hê.”
Mediese behandeling
Gedurende die daaropvolgende dae het hulle verskeie terapieë probeer om my bloeddruk te laat daal en dus die druk op die niere te verlig. My liggaam kon nie die medikasie binnehou nie, en al wat ek van daardie tyd onthou, is dat ek herhaaldelik opgegooi het. Soms het ek baie terneergedruk gevoel, en ek en my ouers het dikwels tot Jehovah om hulp en krag gebid. Ná ’n maand in die hospitaal is ek toegelaat om vir ’n naweek huis toe te gaan. Later, toe ek ’n tweede keer huis toe kon gaan, het ek ’n algehele epileptiese aanval gehad, wat deur vier ligter aanvalle gevolg is. Die siekte het my sentrale senuweestelsel aangetas. Ek is onmiddellik teruggeneem hospitaal toe.
Die dokters het besluit om my alternatiewe behandeling te gee. Plasma is uit die bloed geneem, en sodoende is teenliggaampies verwyder wat my bloedselle en nierweefsel aangeval het. Hulle het my inspuitings van Ringer se oplossing saam met albumien gegee. Ek het hierdie behandeling al met die dokters bespreek en hulle geskrewe toestemming gegee om dit toe te dien.a Ten spyte van hierdie behandeling het my toestand versleg. Ek het hulle ook toestemming gegee om my met immunoglobuliene te behandel, maar op daardie tydstip het hulle dit nie toegedien nie.b
My nierwerking het baie afgeneem. My serumkreatinien was 682, in vergelyking met die normale 55 tot 110. My bloeddruk het hoog gebly en my hemoglobien het tussen 5 en 6 gram per desiliter gebly. Eendag was die getal plaatjies 17 000 per kubieke millimeter bloed (die normale getal is van 150 000 tot 450 000), wat die gevaar van bloeding grootliks vermeerder het. Gelukkig het die aantal plaatjies onmiddellik begin toeneem. Die volgende dag was dit 31 000, en die vermeerdering het aangehou.
Liefdevolle ondersteuning
Die hospitaalpersoneel was beïndruk deur al die blomme, briewe, kaartjies en telefoonoproepe wat ek van liefdevolle Christenbroers en -susters oral in Noorweë ontvang het. Hulle het gewonder hoe ’n 18-jarige so baie vriende kon hê. Dit het ons die geleentheid gegee om hulle van ons Christelike hoop en Jehovah se liefdevolle organisasie te vertel.—Johannes 5:28, 29; Openbaring 21:3, 4.
Intussen het die Hospitaalskakelkomitee van Jehovah se Getuies hard gewerk om meer inligting oor die behandeling van lupus te verkry. Ons het ’n artikel wat in ’n mediese tydskrif gedruk is van ons Noorweegse takkantoor ontvang. Dit het twee ingewikkelde gevalle van sistemiese lupus eritematose beskryf waarin immunoglobuliene met welslae aan twee jong vroue toegedien is. Gedurende ’n vergadering met die dokters het my ouers hulle gevra om die artikel te lees om te sien of die inligting in my geval nuttig kon wees. Die dokters het verskillende menings gehad oor wat om te doen. Hulle was byvoorbeeld bekommerd oor die beperkte hoeveelheid inligting wat oor die newe-effekte van behandeling met immunoglobuliene beskikbaar is.
Druk om bloed te aanvaar
Teen dié tyd was ek al amper agt weke in die hospitaal. Een nag het ek ’n skerp pyn in my maag gevoel, en as gevolg van inwendige bloeding was daar bloed in my stoelgange. ’n Chirurg is ingeroep. Hy het gesê dat ek onmiddellik chirurgie en bloed nodig gehad het anders sou ek binne ’n paar uur sterf. Hierdie chirurg het vir my suster, wat by my gesit het, gesê dat sy my moet oorreed om bloed te neem as sy nie vir my dood verantwoordelik wil wees nie. Dit het my kwaad gemaak, aangesien ek self besluit het om ’n bloedoortapping te weier.
Die dokters wou alleen met my praat om seker te maak dat dit werklik my besluit was en dat ek ten volle bewus was van wat volgens hulle die gevolge sou wees as ek bloed weier. Ná 15 minute was hulle daarvan oortuig dat ek nie van gedagte gaan verander nie. Die dokters het toe eerder antibiotika toegedien om die infeksie teë te werk as om te opereer.
Op 30 September, die dag ná die bespreking met die dokters, het my hemoglobientelling van 6,5 tot 3,5 gedaal. Ek is na die waakeenheid verskuif. Ek was so swak dat ek ’n gesigsmasker nodig gehad het om my van suurstof te voorsien. Hoewel ek gedurende hierdie kritieke stadium die hele tyd min of meer by my bewussyn was, kan ek niks onthou nie. Wat dus gedurende die daaropvolgende paar dae gebeur het, het my gesin en twee Christen- ouere manne my later vertel.
My lewe hang aan ’n draadjie
Die dokters het toe ooreengekom om binneaarse inspuitings van immunoglobuliene te probeer toedien. Van 9 tot 11 Oktober is ek een dosis van ses gram immunoglobuliene per dag gegee. Ek kon nie my urinering en ontlasting beheer nie, en die verpleegsters moes voortdurend skoon beddegoed oortrek. My hemoglobientelling het bly daal. Die mediese verslag sê: “Haar hemoglobientelling het tot 1,4 gedaal, waarna sy bykomende melena [stoelgange wat bloed bevat] gehad het, en daar is besluit om nie verdere bloedtellings te neem nie. Op hierdie tydstip was sy feitlik moribund [sterwend].”
Die dokters het teen dié tyd alle hoop op herstel laat vaar en gesê dat ek breinskade sou hê en moontlik ook gedeeltelik verlam sou wees as ek sou bly leef. Hulle was so seker dat niks anders gedoen kon word nie dat hulle op 12 Oktober besluit het om alle aktiewe behandeling te staak en net vloeistowwe toe te dien. My pa, wat my voortdurend aangemoedig het om aan te hou veg, het langs my bed gesit en gesê: “Nou is dit net Mia en Jehovah.”
Daar was altyd iemand van die gemeente saam met my gesin langs my bed gedurende hierdie kritieke tydperk. Een van hulle het vertel: “Saterdagaand, 12 Oktober, het niemand gedink dat Mia ná die nag nog sou lewe nie. Maar Sondagoggend het sy nog gelewe. Die middag het sy swaar asemgehaal, en almal het verwag dat dit die einde sou wees. Die hele gesin het om haar bed gaan staan. Sy het diep ingeasem en, ná wat soos ’n ewigheid gevoel het, uitgeasem. Haar ouers het die grootste pyn verduur wat ouers kán verduur—om te sien hoe hulle dierbare kind stadig besig is om te sterf. Haar pa het gesê ons moet almal tot Jehovah bid. Ons het daarna saggies gepraat en gehoop dat Mia nie lank sou hoef te ly nie.
“Maar Mia het nie gesterf nie. Die dokters en verpleegsters het nog nooit so iets gesien nie—iemand wat met so ’n lae bloedtelling lewe. Die bloeding het gestop; gevolglik het die situasie nie vererger nie. Sondagnag het verbygegaan, en Mia het nog gelewe.”
’n Keerpunt
Een van die dokters het my Maandagoggend, 14 Oktober, kom sien. Ek het gedut en kan nie die voorval onthou nie. Die dokter het langs my bed gestaan, en my ma het gesê: “Die dokter het kom môre sê.” Ek het baie duidelik “hallo” gesê. Hy het dit nie verwag nie, en hy was verras en ontroer.
My brein het niks makeer nie, en ek was nie verlam nie. Die terapie is hervat. Ek het eritropoiëtien en ysterdekstran, sowel as twee daaglikse dosisse immunoglobuliene, binneaars ontvang. My toestand het stadig verbeter. Op 16 Oktober het my hemoglobientelling tot 2,6 gestyg en op die 17de tot 3,0. Ek het al hoe beter geword. Ek is op 12 November uit die hospitaal ontslaan met ’n hemoglobientelling van 8,0.
Ons weet nie met sekerheid waarom die vernietiging van my rooi bloedselle opgehou het of waarom my bloedtelling so vinnig gestyg het nie. Die inspuitings van immunoglobuliene, eritropoiëtien en ysterdekstran het blykbaar ’n groot rol gespeel. My hemoglobientelling was vroeg in Mei 1992 ’n normale 12,3 en dit het normaal gebly.
Ek ontvang nou onderhoudsbehandeling om my toestand te beheer, en dit gaan nou goed met my. Ek is op 28 November 1992 met ’n mede-Christen getroud, en ons dien Jehovah nou saam. My siekte, sowel as my gehoorsaamheid aan Jehovah se wet op bloed, het my nader aan Jehovah gebring. Ek sien nou daarna uit om hom met al my krag tot in ewigheid te dien.—Soos vertel deur Mia Bjørndal.
[Voetnote]
a Hierdie prosedure staan bekend as plasmaferese en behels ’n eksterne sirkulasie van die bloed. Die besluit om hierdie prosedure te gebruik, word aan die individu se gewete oorgelaat, soos bespreek in Die Wagtoring van 1 Maart 1989, bladsye 30 en 31.
b Die besluit om immunoglobuliene, wat ’n klein bietjie bloed bevat, te gebruik, word aan die individu se gewete oorgelaat, soos bespreek in Die Wagtoring van 1 Junie 1990, bladsye 30 en 31.