Olie—Hoe kry ons dit?
“LAAT daar lig wees.” In die Verenigde State was daar in die 19de eeu ’n behoefte aan ’n nuwe bron van kunsmatige lig om die ongerief van flikkerende lig wat deur vette, walvisolie en ander stowwe voortgebring is, te vervang. Wat was die oplossing? Olie! Waar kon dit gevind word?
In 1859 het Edwin L. Drake, ’n afgetrede treinkondukteur, ’n ou stoommasjien gebruik om ’n boorgat van 22 meter te sink en die eerste ruolie naby Titusville, Pennsilvanië, VSA, ontdek. Dit was die begin van die olie-era. Aangesien olie in baie wêrelddele ontdek is, het dit groot ekonomiese en politieke gevolge gehad. Dit was die hoëgehaltebron van kunsmatige lig waarvoor die wêreld so gretig gewag het.
Kort voor lank was daar ’n stormloop na land in die sogenoemde oliestreke van die Verenigde State en is boorgate oral in die gebied gesink. In daardie dae was dit iets algemeens om te hoor van mense wat oornag ryk geword het en van ander wat later hulle fortuine verloor het. Dit is ironies dat Edwin Drake, die man wat die eerste boorgat in Pennsilvanië gesink het, een van die laasgenoemdes was.
Ondanks die ongelooflike oplewing wat dit beleef het, of miskien as gevolg daarvan, het die oliebedryf in Pennsilvanië sy eerste insinking ondervind. Olie het van $20 ’n vat tot 10 sent geval! Oorproduksie en spekulasie het pryse laat val en party boorgate het gou uitgeput geraak. ’n Spesiale herinnering aan daardie tyd is Pithole City, Pennsilvanië, wat vandag ’n spookdorp is. Dit is gestig, dit het floreer en dit is verlate agtergelaat—alles binne die bestek van bietjie meer as ’n jaar en ’n half. Hierdie soort wisselvalligheid het ’n inherente deel van die geskiedenis van olie geword.
In 1870 het John D. Rockefeller en ’n paar vennote die Standard Oil Company gestig. Hierdie maatskappy het die keroseenmark oorheers totdat mededingers op die toneel verskyn het, veral in die Russiese oliebedryf. Een mededinger was Marcus Samuel, ’n stigter van wat vandag as die Royal Dutch/Shell-groep bekend staan. As gevolg van die vindingrykheid van die Nobel-broersa is ’n magtige oliemaatskappy ook in Rusland gestig met die olie wat uit die velde in Bakoe ontgin is.
Dit was die begin van die geskiedenis van verskeie oliemaatskappye. Sedertdien is ooreenkomste gesluit en organisasies gestig om die prys- en produksieskommelinge van vroeër jare te vermy. Een van hulle is die Organisasie van Petroleumuitvoerlande (OPUL), wie se 11 lede gesamentlik die meeste van die wêreld se bevestigde ruoliereserwes besit.—Sien die venster op bladsy 7.
Hoeveel olie, en waar is dit?
Teen die einde van die 19de eeu kon die algemene gebruik van elektrisiteit bankrotskap vir die oliemaatskappye beteken het. Maar ’n ander belangrike ontdekking het die situasie drasties verander—die binnebrandenjin, wat hoofsaaklik in motorvoertuie gebruik word. Petrol, ’n derivaat van petroleum, was nou noodsaaklik vir selfgedrewe motors, wat alreeds teen die laat 1920’s in die meeste nywerheidslande beskikbaar was. Nou was baie meer olie nodig vir ’n mobiele wêreld, maar waar sou dit gevind word?
Met die verloop van die jare is olie se belangrike posisie in die wêreldmark verder versterk deur die voortgesette ontdekking van nuwe olievelde in verskillende wêrelddele—sowat 50 000 van hulle! Maar in terme van produksie is die belangrike faktor nie hoeveel velde ontdek word nie, maar hulle grootte. Hoe groot is hulle?
Olievelde wat ten minste vyfmiljard vate ontginbare olie bevat—wat superreuse genoem word—is die grootste soort, terwyl die tweede grootste (van vyfhonderdmiljoen tot vyfmiljard vate) wêreldklasreuse genoem word. Hoewel sowat 70 lande volgens die “Amerikaanse Departement van Geologiese Opnames se Wêreldpetroleumevaluasie 2000” oliereserwes het, het net ’n paar van hulle reuseolievelde. (Sien die venster op bladsy 7.) Die grootste aantal superreusolievelde lê in die Arabies-Irannese afsettingsbekken, wat bestaan uit die gebied in en om die Persiese Golf.
Die soeke na nuwe oliebronne het nog nie opgehou nie. Inteendeel, dit word aangehelp deur hipertegnologiese toerusting. Tans stel olievervaardigers baie belang in die streek om die Kaspiese See, wat Azerbaidjan, Iran, Kazakstan, Oesbekistan, Rusland en Toerkmenistan insluit. Volgens die Amerikaanse Administrasie vir Inligting oor Energiesake het hierdie streek reusepotensiaal vir die ontginning van olie en aardgas. Alternatiewe uitvoerroetes, soos deur Afganistan, word ondersoek. Nog potensiële oliebronne is in die Midde-Ooste, Groenland en dele van Afrika gevind. Die omsetting van ontdekte koolwaterstowwe in energie en produkte wat in die daaglikse lewe gebruik kan word, is ’n onderwerp op sy eie.
Hoe word olie ontgin?
Geoloë en landmeters soek na plekke waar ruolie moontlik onder die grond vasgevang is. Nadat hulle sekere opmetings gedoen en monsters geneem het, boor hulle om te sien of daar werklik olie is. As ’n olieveld in die vroeë dae raakgeboor is, sou modder en olie moontlik by die opening uitgespuit het, met die gevolglike verlies van daardie eerste olie en die risiko van ’n ontploffing. Maar met meetinstrumente en spesiale kleppe keer vandag se boormasjiene dat dit gebeur. Smaller en dieper boorgate is ook vandag moontlik.
Uiteindelik neem die druk af wat die olie en gas laat uitkom, en dit moet volgehou word deur die inspuiting van water, chemikalieë, koolstofdioksied of ander gasse, soos stikstof. Olie kan, afhangende van die gebied, verskillende digthede hê. Natuurlik word ligte olie verkies omdat dit makliker is om te verkry en te raffineer.
Die Amerikaanse Petroleuminstituut verduidelik dat moderne tegnologie dit onder andere moontlik maak om horisontaal, feitlik parallel met die aardkors, te boor, wat beteken dat daar minder boorgate gesink hoef te word. Die gebruik van oliebore ter see, wat in 1947 in die Golf van Mexiko begin het, het olieproduksie grootliks verhoog. Die ontginningsmetode wat gebruik word, het natuurlik ’n regstreekse invloed op die prys van die finale produk.b
Hoe word olie vervoer?
In 1863 in Pennsilvanië is kleindeursneepyplyne van hout gebruik om olie te vervoer, aangesien dit goedkoper en geriefliker was as die 159-litervate wat op perdewaens vervoer is.c Vandag is daar baie meer pyplynstelsels, en hulle is meer gekompliseerd. Volgens die Vereniging van Oliepyplyne het die Verenigde State alleen ’n 300 000 kilometer lange netwerk van petroleumpyplyne!
Hierdie pyplynstelsels, wat hoofsaaklik van metaal is, vervoer nie net ruolie na raffinaderye nie, maar ook verwerkte olieprodukte na verspreiders. Moderne pyplyntegnologie maak dit moontlik dat geoutomatiseerde stelsels wat die vloei en drukking monitor, gebruik kan word. Sogenoemde intelligente proppe (toestelle wat gebruik word om honderde kilometers van pypleiding te inspekteer), lekplekinspeksie deur magnetiesevloed en ultrasoniese vloeilyninspeksie is ook ontwikkel. Maar al wat die gewone verbruiker van die eindproduk waarskynlik sal sien, is ’n teken wat aandui dat daar ’n ondergrondse petroleumpyplyn is en dat daar nie op die terrein gegrawe mag word nie.
Maar al is ’n pyplynstelsel baie nuttig, is dit nie ’n praktiese manier om groot hoeveelhede olie oor see te vervoer nie. Vroeë olie-entrepreneurs het egter ook ’n oplossing hiervoor gevind—enorme olietenkskepe. Dit is spesiaal ontwerpte skepe wat tot 400 meter lank is. Olietenkskepe is die grootste skepe wat die oseane bevaar en kan tot ’n miljoen of meer vate olie vervoer. Maar al lyk olietenkskepe so indrukwekkend, het dit ’n swakheid wat nog nie oorkom is nie, soos die venster “Oor oliestortings” toon. Vragskepe en treinwaens is ook algemene maniere om groot hoeveelhede olie te vervoer. Die vervoer van die olie is egter net die helfte van die verhaal.
’n Klein vlam bo ’n hoë skoorsteen—wat as ’n veiligheidsklep dien—is ’n goeie aanduiding dat jy na ’n olieraffinadery kyk. Wat basies in hierdie reuseraffineringsfasiliteite gebeur, is dat ruolie verhit en na ’n atmosferiese distilleertoring gestuur word, waar dit in verskeie fraksies geskei word. Hierdie fraksies wissel van baie ligte stowwe—gasse, soos butaan—tot baie swaar stowwe, waarvan daar onder andere produkte soos smeermiddels gemaak word. (Sien bladsye 8-9.) Maar dit laat ons nog met die vraag: Is olie net ’n halwe seën?
[Voetnote]
a Een van hulle, Alfred Bernhard Nobel, het later die insteller van die Nobelpryse geword.
b “’n Geankerde olieboortoring wat in die Golf van Mexiko gebou is in water wat meer as 300 meter diep is, se produksiekoste is volgens skatting ongeveer 65 keer hoër as dié van oliebore in die Midde-Ooste.”—The Encyclopædia Britannica.
c In die ou dae is olie in dieselfde soort houtvate geberg en vervoer wat vir wyn gebruik is.—Sien die venster op bladsy 5.
[Venster/Prent op bladsy 5]
VATE OF TONNE?
Die eerste oliemaatskappye in Pennsilvanië het olie in 180-literwynvate verskeep. Uiteindelik is net 159 liter olie daarin gesit om te keer dat die olie tydens verskeping uitstort. ’n Vat (159 liter) word vandag nog gebruik wanneer olie verkoop word.
Van die begin af is olie vir Europa per skip vervoer en is die hoeveelheid gewoonlik, soos vandag, volgens gewig, in tonne, aangedui.
[Erkenning]
Bron: Amerikaanse Petroleuminstituut
[Venster op bladsy 6]
HOE HET PETROLEUM GEVORM?
Sedert die 1870’s is die heersende opinie onder die meeste wetenskaplikes die sogenoemde biogeniese teorie. Volgens hierdie teorie “ontbind die biologiese afval wat in sedimente voorkom en word dit ná ’n lang tyd olie en aardgas, en hierdie petroleum raak dan gekonsentreer in die porieëruimtes van sedimentêre gesteentes in die boonste lae van die [aard]kors”. Hierdie proses lewer dan petroleum, waarvan die hoofkomponente koolwaterstowwe is—met ander woorde waterstof en koolstof. Maar sedert die 1970’s is hierdie teorie van tyd tot tyd deur party wetenskaplikes bevraagteken.
In Proceedings of the National Academy of Sciences se uitgawe van 20 Augustus 2002 het die artikel “Die oorsprong van koolwaterstowwe en die ontstaan van petroleum” verskyn. Die skrywers voer aan dat natuurlike petroleum “baie diep in die mantel van die Aarde” vorm en nie baie vlakker, soos algemeen aanvaar is nie.
Die fisikus Thomas Gold het met ’n paar kontroversiële teorieë vorendag gekom en verduidelik sy redes uitvoerig in sy boek The Deep Hot Biosphere—The Myth of Fossil Fuels. Hy skryf: “Die teorie van die biologiese oorsprong van koolwaterstowwe is so algemeen aanvaar in die Verenigde State en in groot dele van Europa dat dit verdere navorsing oor die teenoorgestelde beskouing as ’t ware onderdruk het. Dit was nie die geval in die lande van die voormalige Sowjetunie nie.” Dit was “waarskynlik omdat die hooggeagte Russiese skeikundige Mendelejef die abiogeniese [niebiologiese] beskouing ondersteun het. Die argumente wat hy aangevoer het, is vandag selfs sterker as ’n mens in ag neem hoeveel meer ons nou weet.” Wat is die abiogeniese beskouing?
Gold sê: “Die abiogeniese teorie sê dat koolwaterstowwe ’n komponent van die materiaal is wat die aarde gevorm het, deur die afsetting van vastestowwe sowat 4,5 miljard jaar gelede.” Volgens hierdie teorie is die elemente waaruit petroleum saamgestel is, al sedert die aarde se vorming diep in die aarde aanwesig.d
[Voetnoot]
d Ontwaak! neem nie ’n standpunt in oor verskillende teorieë nie. Dit lewer bloot verslag daaroor.
[Venster/Prent op bladsy 10, 11]
OOR OLIESTORTINGS
◼ Die totale hoeveelheid olie wat tussen 1970 en 2000 deur olietenkskepe gestort is, is 5 322 000 ton
◼ Die grootste oliestorting het in 1979 plaasgevind toe die Atlantic Empress in die Karibiese See met die Aegean Captain gebots het, wat tot ’n storting van 287 000 ton olie gelei het
◼ Die Exxon Valdez was net omtrent die 34ste grootste storting deur ’n olietenkskip
◼ Hoewel die meeste stortings deur olietenkskepe plaasvind wanneer olie opgelaai, uitgepomp en ingeneem word in die olieruim, vind die grootste stortings plaas wanneer skepe bots en strand.
◼ Party groot oliestortings weens ander oorsake buiten olietenkskepe:
● Die uitblasing van die verkenningsboorgat Ixtoc I in 1979 in die Golf van Mexiko. Totale storting: 500 000 000 liter
● Die uitblasing van ’n platform in ’n boorgat in 1983 in die Persiese Golf. Totale storting: 300 000 000 liter
● Opsetlike storting van olie in 1991, in die Persiese Golf. Totale storting: 900 000 000 liter
[Prent]
Olietenkskip “Erika” sink op 13 Desember 1999 naby Penmarch Point, Frankryk
[Erkennings]
Bronne: International Tanker Owners Pollution Federation Limited, “Oil Spill Intelligence Report”, “The Encarta Encyclopedia”
© La Marine Nationale, France
[Diagram/Prente op bladsy 8, 9]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
OLIEPRODUKSIE VEREENVOUDIG
1—VERKENNING
SATELLIET
Die Globale posisioneringstelsel voorsien akkurate seine wat gebruik word vir opmeting
GEOFONE
VIBRASIEVRAGMOTOR
HIDROFONE
SEISMIESE VAARTUIG
Een metode wat gebruik word, is seismiese opnames. Dit teken die ondergrondse terugkaatsings van kunsmatig verwekte klankgolwe op
2—EKSTRAKSIE
BINNELANDSE BOORGATE
AFLANDIGE PLATFORM
ONDERWATER-BOORGAT
Ekstraksiemetodes sluit in die gebruik van binnelandse, aflandige en onderwaterolie-boorgate. Om die druk te handhaaf, moet gasse of chemikalieë moontlik ingespuit word
[Prent]
ONDERWATEROLIE- BOORGAT
Afstandbeheerde duikbote word gebruik om produksiefasiliteite op die seebodem te bou
[Prent]
HORISONTALE BOORWERK
’n Ingenieur gebruik afstandbeheerde motore om die boorpunt te draai, en sensors identifiseer die rotseienskappe
3—VERVOER
PYPLYNE
TENKSKIP
Pyplyne bo die grond, onder die grond en onder die see vervoer die olie. Ander vervoermetodes sluit in olietenkskepe, vragskepe en treinwaens
4—RAFFINERING
RAFFINADERY
Ruolie word verhit, gedistilleer en in fraksies opgebreek wat gebruik kan word om verbruiksgoedere te vervaardig
DISTILLEERTORING
Wanneer die taai, donker ruolie in die oond verhit word, sit die koolwaterstowwe in gasse om. Die gasse kondenseer, maar by verskillende temperature. Olie word sodoende in sy samestellende dele, of fraksies, geskei
20 °C.
RAFFINADERYGASSE
Dit sluit metaan, etaan, propaan en butaan in
20-70 °C.
PETROL
Word gebruik as motorbrandstof en as ’n grondstof vir plastiek
70-160 °C.
NAFTA
Kan gebruik word om verskillende soorte plastiek sowel as motorbrandstof en ander chemikalieë te vervaardig
160-250 °C.
KEROSEEN
Word gebruik om brandstof vir straalvliegtuie en olie vir stowe te vervaardig
250-350 °C.
GASOLIE
Word gebruik om diesel en brandstof vir smeltoonde te vervaardig
OOND
400 °C.
RESIDU
Word verder verwerk tot raffinaderybrandstof, swaar brandolie, kerswas, smeermiddels en asfalt
KATALITIESE KRAKER
Die koolwaterstowwe word met stoom verhit en met die warm katalisator, verpoeierde aluminasilikajel, gemeng. In hierdie proses word die koolwaterstowwe in kleiner en nuttiger molekules gekraak, of opgebreek
Verpoeierde katalisator meng met die koolwaterstowwe in stoom
ETANOL
Hierdie oplosmiddel word gebruik in die vervaardiging van verf, skoonheidsmiddels, parfuum, seep en kleurstowwe
PLASTIEK
Polistireen word byvoorbeeld gemaak deur stireen te polimeriseer
PETROLBYMIDDELS
Oktaanverryker voorkom dat brandstof te vinnig in die enjin ontsteek, waardeur die werkverrigting daarvan verbeter word
[Erkenning]
Photo Courtesy of Phillips Petroleum Company
[Grafiek op bladsy 7]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
VERNAAMSTE OLIELANDE
Totale hoeveelhede is in miljarde vate. Dit sluit nie onontdekte bronne in nie
▪ OPUL-lidland
• Land met een of meer superreusolievelde
Kumulatiewe produksie
◆ Reserwes
▪ • ◆ 332,7 SAOEDI-ARABIË
• ◆ 216,5 VERENIGDE STATE
• ◆ 192,6 RUSLAND
▪ • ◆ 135,9 IRAN
▪ • ◆ 130,6 VENEZUELA
▪ • ◆ 125,1 KOEWEIT
▪ • ◆ 122,8 IRAK
▪ • ◆ 113,3 VERENIGDE ARABIESE EMIRATE
• ◆ 70,9 MEXIKO
• ◆ 42,9 CHINA
▪ • ◆ 41,9 LIBIË
▪ ◆ 33,4 NIGERIË
◆ 21,2 KANADA
▪ ◆ 21,0 INDONESIË
◆ 20,5 KAZAKSTAN
▪ • ◆ 18,3 ALGERIË
◆ 17,6 NOORWEË
◆ 16,9 VERENIGDE KONINKRYK
[Prente op bladsy 4]
Eerste ruolieboorgat, Titusville, Pennsilvanië, 1859
Olie spuit uit ’n boorgat in Texas
[Erkenning]
Brown Brothers
[Prent op bladsy 5]
Vroeë olievelde, Beaumont, Texas
[Prent op bladsy 5]
Perdewa wat olievate vervoer
[Prent op bladsy 10]
Olieboorgat aan die brand in Koeweit
[Foto-erkenning op bladsy 5]
Alle foto’s: Brown Brothers