Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 10/22 bl. 4-10
  • ’n Nuwe wêreld wat almal tevrede stel

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Nuwe wêreld wat almal tevrede stel
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Gelyktydige oplossings
  • Ander probleme wat opgelos gaan word
  • Nie ’n onbereikbare lugkasteel nie
  • Die nuwe wêreld sal jou tevrede stel
  • God se regering—die mensdom se enigste hoop
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Regering
    Redenering uit die Skrif
  • Vaarwel aan oorlog
    Ontwaak!—1999
  • Is jy ’n lojale onderdaan van God se regering?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
Ontwaak!—1992
g92 10/22 bl. 4-10

’n Nuwe wêreld wat almal tevrede stel

HOE moeilik dit ook al is om te glo, ’n nuwe wêreld is ophande. Dit sal betyds wees om ons aarde te red voor sy vermoë om lewe te onderhou heeltemal vernietig is. En hierdie nuwe wêreld gaan al die gevare verwyder wat die menslike bestaan bedreig. Hoe gaan hy dit doen?

Nadat geskiedskrywer Arnold J. Toynbee jare gelede daarop gewys het hoe kritiek die wêreldsituasie is, het hy gevra: “Wat moet ons doen om gered te word?” Hy het self sy vraag beantwoord en gesê: “Op politieke gebied moet ons ’n konstitusionele saamwerkende stelsel van wêreldregering tot stand bring.”

Maar hoewel die komende nuwe wêreld ’n “saamwerkende stelsel” gaan wees, sal dit nie ‘polities van aard’ wees nie. Dit sal nie op ’n demokrasie of op enige ander mensgemaakte politieke ideologie gegrond wees nie. Hierdie nuwe wêreld sal sy doelwitte bereik omdat slegs een regering daaroor gaan regeer. Hierdie wêreldregering gaan al die probleme waarmee die mensdom vandag te kampe het deur ’n verbasende reeks gebeure vinnig uit die weg ruim. Hoe? Deur die oorsake van hierdie probleme uit die weg te ruim, asook die struikelblokke wat so dikwels die pogings om die probleme op te los in die wiele ry.

Maar hoe sal dit ooit werklik gedoen kan word? Sal onvolmaakte mense nie steeds regeer nie, mense wat bewys het dat hulle korrup is en nie in staat is om die mens se probleme op te los nie? Wel, stel jou net voor dat hierdie wêreldregering volmaakte heersers het wat onselfsugtig die belange van hulle onderdane op die hart dra. Dink dan hoe probleme opgelos sal kan word.

Gelyktydige oplossings

Met ’n wêreldregering van volmaakte heersers sal daar nie meer verskillende nasies met hulle bepaalde regeringsvorme wees nie. Staatsmanne, ambassadeurs en ander politici sal nie meer oor die baie nasies, stamme en rasse van die mensdom gesag uitoefen nie. Die talle plaaslike en nasionale hoofstede met hulle geboue en ampswonings sal nie meer nodig wees nie. Dit sal ’n einde maak aan die hoë onderhoudskoste van sulke geboue, asook aan die reiskoste van amptenare wat sittings, komiteevergaderinge, volksvergaderinge en spitsberade bywoon. Al die spandabele staatsdienste, met hulle talle assistente, sekretarisse en klerke, asook die amptelike rompslomp wat vooruitgang belemmer, sal ook weg wees.

Vrede sal ’n werklikheid word omdat verdelende nasionalisme tot die verlede sal behoort en deur ’n verenigde wêreldgesag vervang sal word. Land-, see- en lugmagte, met al hulle wapens en hulle staf van hooggeplaaste gesagvoerders en ondergeskikte offisiere, sal nie meer nodig wees om elke nasie se soewereiniteit te bewaar nie. Daar sal ook geen spioenasiestelsels bestaan nie. Onder ’n wêreldregering met volmaakte heersers sal daar geen ope of swartmarkte wees waar wapens gekoop of verkoop kan word nie; daar sal ook geen omstrede gebiede wees nie. Al die volke van die aarde sal een verenigde broederskap wees. Nasionalisme sal gevolglik verdwyn.

Kom ons beskou verdere voordele wat die mense onder een verenigde regering met volmaakte heersers sal kan geniet. Magtige handelaars, soos wapenvervaardigers, sal politici nie kan beïnvloed sodat hulle kan aanhou om hulle dodelike produkte te vervaardig en te verkoop nie. Daar sal nie meer slim stemmewerwers wees wat amptenare manipuleer ten opsigte van sekere wette of wetsontwerpe wat bloot plaaslike belange raak nie; nie meer ’n warboel gespesialiseerde staatsdepartemente wat teen mekaar werk en groot bedrae bestee aan nuttelose projekte waarby slegs ’n paar baat vind nie; nie meer die verhindering van oplossings vir die besoedelingsprobleme ter wille van selfsugtige handelsredes (om baie wins te maak) nie; geen invloedryke mense met spesiale belange wat wette om bedreigde spesies te beskerm ontduik nie.

Ander probleme wat opgelos gaan word

So ’n volmaakte wêreldregering sal nie ongeregtigheid duld nie. Wanneer dit die bewind oorneem, sal dit sorg dat misdade op ’n behoorlike en billike wyse gehanteer word. Die burgers sal dus nie hoef te vrees dat nog gevaarlike moordenaars sal begin moor nie.

En wat van die wêreldwye netwerk van georganiseerde misdaadsindikate en invloedryke dwelmsindikate? ’n Volmaakte wêreldregering sal ’n algehele einde hieraan kan maak. Nasionale uitleweringswette sal sulke internasionale misdadigers nie meer beskerm nie. Hierdie wetsoortreders se vernuftige gebruik van die skuiwergate in plaaslike wette en van betrekkinge met invloedryke politici sal tot die verlede behoort. Die uitroeiing van misdaad alleen sal die aarde ook bevry van baie ander sosiale kankers, soos dobbelary, bendegevegte, pornografie, prostitusie en smokkelary. Wat ’n doeltreffende en voordelige oplossing is dit tog!

Ja, al die verwarrende, lastige en moeilike probleme wat die mensdom se briljantste verstande vandag te bowe gaan, sal in so ’n nuwe wêreld heeltemal opgelos wees. En al hierdie probleme sal permanent opgelos wees—vir goed. Geen daaropvolgende geslagte sal dit ooit weer hoef te ondervind nie.

Nie ’n onbereikbare lugkasteel nie

Jy vra moontlik: ‘Maar waarvandaan sal die volmaakte heersers kom om oor so ’n nuwe wêreld te heers?’ Die mens se Skepper sal hulle voorsien! Klink dit te goed om te glo? Wel, dink net: Sou jy nie, as jy die mag gehad het, ’n einde gemaak het aan al die toestande op aarde wat soveel ellende veroorsaak nie? Natuurlik sou jy! Moet ons dan dink ons Skepper sal dit nie doen nie?

Feit is dat ons liefdevolle Skepper voornemens is om ’n nuwe wêreld te skep, en dit sal deur ’n regverdige wêreldregering teweeggebring word. Dit is waarvoor sy Seun, Jesus Christus, mense leer bid het toe hy gesê het: “Laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde.”—Mattheüs 6:10.

Daardie Koninkryk is ’n werklike regering, ’n wêreldregering. Die Koning, Jesus Christus, “sal heers van see tot see en van die Rivier tot by die eindes van die aarde” (Psalm 72:8). En hierdie Koninkryk sal binnekort alle menseregerings vervang, soos God se Woord belowe waar dit sê: “In die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk [die regering met God se Koning, Jesus Christus, as heerser] verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie [huidige] koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan.”—Daniël 2:44.

Aangesien hierdie wêreldregering wat deur die God van die hemel tot stand gebring word deur bomenslike heersers bestuur sal word, sal dit al die goeie dinge doen wat menseheersers nie kan doen nie. Die Bybel beskryf God se regering as ’n hemelse monargie wat sal bestaan uit die Koning, Jesus Christus, en 144 000 geespersone wat hom sal bystaan. Al hierdie heersers sal betroubare persone wees wat hulle onkreukbaarheid gedurende hulle aardse lewe ten volle gehandhaaf het voor hulle tot hemelse lewe opgewek is. Hulle almal sal in ’n uitstekende posisie wees om ten goede van die mensdom te werk, omdat hulle gedurende hulle aardse lewe self die behoeftes van mense ondervind het.—Openbaring 14:1-3.

Dink watter probleme dit sal uitskakel. Omdat hierdie geestelike heersers onverganklikheid besit, sal hulle nooit moeg word of sterf nie (1 Korinthiërs 15:50, 53). En hulle kan nie omgekoop word met versoekings om die reg te verdraai of met geskenke om partydig te wees nie. Wat kan ’n mens op stuk van sake stilletjies as omkoopgeskenk aan ’n onsterflike geespersoon gee? Geld, ’n kas duur drank, ’n reis na ’n eksotiese eiland of kaartjies vir een of ander opvoering of konsert? Vlees en bloed kan dalk met hierdie materiële dinge versoek word, maar nie hierdie geesskepsele nie. Diegene waaroor hierdie heersers regeer, sal dus nie ly onder die korrupsie van regerings wat vandag so algemeen is nie.

Die nuwe wêreld sal jou tevrede stel

Is jy bejaard? Dink aan al die kennis, vaardighede en ervaring wat jy met die verloop van jare opgedoen het. Maar het jy agtergekom dat jou fisiese vermoë stadig maar seker afneem, terwyl jou verstand of geestesvermoë moontlik niks makeer nie? Jou liggaam reageer nie meer soos vroeër op jou verstand se bevele nie. Ja, jou reflekse vertraag en jou krag en uithouvermoë neem af. Jou oë, gehoor en spiere verswak, terwyl die pyne al hoe meer word.

Maar verbeel jou jy het die wysheid wat jy met die verloop van baie lewensjare opgedoen het in ’n jong liggaam wat selfs beter is as die een wat jy gehad het toe jy in jou twintigerjare was—ja, dat jou fisiese vermoë so goed soos jou verstand is. Dink wat jy alles met jou gesonde liggaam sal kan doen! Met so ’n gesonde liggaam wat op jou ontwikkelde verstand reageer, sal jy vind dat jy enige werk wat jy aanpak baie sal geniet. Weens jou ervaring sal jy dinge baie doeltreffender kan doen, wat jou soveel meer tevredenheid sal verskaf. En as jy ’n jongmens is, kan jy jou voorstel hoe verblydend dit sal wees om jonk en sterk te bly terwyl jy vir ewig wysheid, kennis en ervaring opdoen.

Neem dit nou ’n stap verder en stel jou voor dat jou kollegas en vriende, metgeselle en familielede almal ook hierdie toestand sal geniet. Dink net wat julle almal ten opsigte van konstruksie, bou- of handwerk sal kan uitrig. O, watter wonderlike vooruitsigte sal dit tog vir talentvolle mense, soos kunstenaars, musici, ontwerpers, tuinargitekte, tuiniers en plantkundiges inhou! Hulle werke sal verbasend wees. Die voortreflike skilderye, huise, tuine, parke—ja, die vervaardiging van voortreflike musiekinstrumente en die bemeestering van die kuns om hulle te bespeel, is net ’n paar van hierdie werke.

Een van die oogmerke van hierdie nuwe regering is om die mensegeslag tot liggaamlike volmaaktheid te herstel. Jou oë, gehoor en ander sintuie sal uitstekend werk. Hoe lank? Wel, indien ’n menseregering jou teen ’n geringe koste ’n terapie aanbied wat waarborg dat al jou liggaamsfunksies ’n jaar lank 50 persent beter sal wees, sal jy nie die eerste wil wees om dit te ondergaan nie? Hierdie nuwe wêreldregering waarborg gratis dat ’n mens ’n volle 100 persent sal herstel—nie vir ’n jaar, 5 jaar of 50 jaar nie, maar vir ewig.

Moenie hierdie wonderlike vooruitsig wat mense beslis op hierdie einste aarde vervul sal sien as ongelooflik verwerp nie. Beskou gerus op bladsye 7 tot 10 sommige seëninge wat liefhebbers van God gaan geniet.

[Venster/Prente op bladsy 7-10]

Wat die nuwe wêreld gaan bring

’n Einde aan misdaad en geweld

“Die goddelose sal uit die land uitgeroei . . . word.”—Spreuke 2:22.

Die verwydering van oorlog

“Hulle sal van hulle swaarde pikke smee en van hulle spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.”—Jesaja 2:4.

Volop goeie kos vir almal

“Mag daar volheid van koring wees in die land, op die top van die berge.”—Psalm 72:16.

Mooi huise en genotvolle werk vir elkeen

“Hulle sal huise bou en bewoon, . . . hulle sal nie bou dat ’n ander dit bewoon nie; hulle sal nie plant dat ’n ander dit eet nie.”—Jesaja 65:21, 22.

Vrede tussen mense en diere

“Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, . . . en ’n klein seuntjie sal hulle aanja.”—Jesaja 11:6.

Geen siekte, ouderdom of dood meer nie

“God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.”—Openbaring 21:4.

’n Opstanding van afgestorwe dierbares

“Daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, [Jesus se] stem sal hoor en sal uitgaan.”—Johannes 5:28, 29.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel