Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 5/08 bl. 16-18
  • Is dit werklik ’n boom?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is dit werklik ’n boom?
  • Ontwaak!—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Korter is beter
  • Ontwerp vir uiterstes
  • Boom van lewe
  • ’n Blik op die verlede
  • Kremetartboomkuns
  • Afrika se verbasende “boom van die lewe”
    Ontwaak!—1995
  • Hoe reuse langs die kus gekweek word
    Ontwaak!—1992
  • Die Australiese inboorlinge—’n Unieke volk
    Ontwaak!—1994
  • Kan ’n afgekapte boom weer uitspruit?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
Sien nog
Ontwaak!—2008
g 5/08 bl. 16-18

Is dit werklik ’n boom?

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË

AUSTRALIESE kremetartbome, wat ook as baobabs bekend staan, lyk dalk vreemd, selfs lelik, waar hulle met hulle dik, bolvormige stamme op ’n dorre landskap staan. Volwasse kremetartbome, wat hulle blare gedurende die droë seisoen verloor, lyk meer soos ’n vreemde wese wat sy tentakels in die lug opsteek as ’n boom. ’n Aborigine-legende sê dat die boom vervloek en onderstebo gedraai is!

Jong bome is redelik dun en mooi. Maar namate hulle ouer word, word hulle grys stamme bolvormig, gehawend en vol littekens. Kremetartbome “lyk asof hulle aan die een of ander siekte ly”, het die ontdekkingsreisiger George Grey in 1837 geskryf. Waarom verskil kremetartbome soveel van die meeste ander bome, en waarom hou die inwoners van die Agterveld, insluitende die Aborigines, soveel daarvan en vind hulle dit so nuttig?

Korter is beter

Kremetartbome groei wild in Afrika, Madagaskar en die noordwestelike deel van Australië. Maar hoewel die bome in die meeste lande in Engels baobabs genoem word, gebruik Australiërs al lank die naam boab. Australiese bosbewoners was lief daarvoor om name te verkort—weens die moontlikheid dat van die lastige vlieë in ’n mens se mond sal invlieg, sê plaaslike grapjasse. Hulle het dus die naam baobab verkort tot boab, en die nuwe naam het gou in die volksmond gevestig geraak.

Kremetartbome word ook dooie-rot-bome in Australië genoem. Waarom hierdie onvleiende naam? Op ’n afstand lyk die boom se saadpeule soos dooie rotte wat aan hulle sterte opgehang is. En wanneer die blomme gekneus of beskadig word, word dit gou vrot, en dan ruik dit soos verrottende vleis. Maar as dit onbeskadig is, het die groot, wit blomme ’n aangename geur.

Ontwerp vir uiterstes

Kremetartbome floreer in die afgeleë Kimberley-streek van Wes-Australië en in een van die naburige state, die Noordelike Gebied. Daar wissel die seisoene tussen die nat seisoen, ’n taamlike kort seisoen van swaar moesonreëns, en die droë seisoen.

Dit is welbekend dat kremetartbome uiters gehard is. Hulle word dikwels eeue oud. “Al word die boom deur ’n brand uitgehol of heeltemal geringeleer, oorleef dit gewoonlik en groei dit voort nadat dit die skade herstel het”, sê die plantfisioloog D. A. Hearne.a Hy voeg by: “Die boom is so lewenskragtig dat dit sal aanhou om byna normaal te groei, behalwe as dit heeltemal vernietig word.” Een kremetartboom wat in ’n krat geplaas is en gewag het om oorsee verskeep te word, was so vasbeslote om te oorleef dat dit wortels deur die openinge in die hout in die grond in afgestuur het!

Kremetartbome groei in klipperige spruitbeddings, op rotsagtige platorande of op sanderige vlaktes en toring dikwels bo die ander bome in die omgewing uit. Op die Kimberley-plato groei party kremetartbome 25 meter hoog of hoër en het byna dieselfde omtrek.

Die kremetartboom is ’n bielie van ’n boom omdat sy hout sag en veselagtig soos ’n spons is en ’n enorme hoeveelheid water kan berg. Nadat ’n kremetartboom water van die moesonreëns geabsorbeer het, kan ’n mens sien dat die stam geswel het. Met verloop van die droë seisoen keer die boom stadig terug na sy oorspronklike grootte.

Bladwisselende bome oorleef die strawwe wintermaande deur hulle blare te verloor. In die geval van die kremetartboom gebeur dit tydens die lang droë seisoen. Wanneer die droë seisoen tot ’n einde kom, verskyn blomme en kom nuwe blare te voorskyn. Weens hierdie sigbare aankondiging van die naderende nat seisoen noem plaaslike mense die kremetartboom soms die kalenderplant.

Die blomme gaan slegs snags oop, blom net ’n paar uur lank en begin verlep nadat die son opgekom het. Die blomme ontwikkel tot groot saadpeule, of kalbasse, wat op die grond val, oopbreek en die sade sodoende versprei.

Boom van lewe

Vir Aborigines in Kimberley is die sade, blare, hars en wortels al lank belangrike voedselbronne. Voordat die sade uitdroog, het dit ’n sagte, wit pulp wat lekker smaak. In tye van droogte het die Aborigines die veselagtige hout van die boom en sy wortels gekou, waaruit hulle kosbare vog verkry het. Gedurende goeie nat seisoene het die plaaslike mense soms water in die holtes van die boom gevind asook waar takke uit die stam groei.

In 1856, toe lede van Augustus Gregory se ekspedisie na die Kimberley-plato skeurbuik opgedoen het, het hulle die wit van die kremetartsade gekook en “’n smaaklike konfyt” daarvan gemaak. Die pulp, wat ryk is aan vitamien C, het die mans gou weer gesond laat word.

’n Blik op die verlede

In die verlede was kremetartbome nuttige kennisgewingborde vir Aborigines sowel as Europeërs. In 1820 is die opmetingskip Mermaid op ’n strand aan die Kimberley-kus gesleep sodat herstelwerk gedoen kon word. Kaptein Phillip Parker King het ’n opdrag van die Admiraliteit uitgevoer om ’n onmiskenbare bewys agter te laat dat hulle daar geland het, en het die inskripsie “HMC Mermaid 1820” op die stam van ’n groot kremetartboom uitgekerf.

Op daardie stadium het die Mermaid-boom, soos dit bekend geword het, ’n omtrek van 8,8 meter gehad. Vandag is dit net meer as 12,2 meter in omtrek. Die inskripsie is wel minder duidelik, maar is nog steeds ’n herinnering aan daardie vroeë verkenners. Boodskappe wat diep in party ou kremetartbome gekerf is, is tot vandag toe sigbaar en is al deur toeriste van regoor die wêreld gesien.

Toe Europese nedersetters op die Kimberley-plato aangekom het, het groot kremetartbome padwysers, vergaderplekke en kampterreine geword in ’n onbekende land. Reisende veeboere het hulle beeste laat rus onder kremetartbome waarop interessante name, soos Oriental Hotel, Club Hotel of Royal Hotel, gepryk het.

Toe vyandiggesinde Aborigines in 1886 die Duitse nedersetter August Lucanus se boot gesteel het, moes sy reisgeselskap 100 kilometer aflê na die dorp Wyndham toe. Hulle moes riviere en spruite vol krokodille oorsteek. Lucanus het later geskryf dat hy en sy geselskap danksy die dagboek van ’n vroeë verkenner geweet het “waar hy houtwerkgereedskap naby Pitt Springs begrawe het onder ’n groot kremetartboom, waarop sy voorletters uitgekerf is”. Verbasend genoeg het die mans die boom en die gereedskap opgespoor. Daarna het hulle “’n mooi groot kremetartboom afgekap”, en binne vyf dae het hulle ’n kano gebou. Dit het heel goed gedryf, en almal het veilig by die huis uitgekom.

Twee van die bekendste kremetartbome is die sogenaamde Derby- en Wyndham-gevangenisbome, wat albei na nabygeleë dorpe vernoem is. Volgens volksoorlewering is hierdie uitgeholde reuse, wat elk groot genoeg is om etlike mense te huisves, in die 19de eeu as gevangenisse gebruik. Party hedendaagse geskiedkundiges bevraagteken egter hierdie bewerings. Nietemin is die bome indrukwekkend en gewild onder toeriste.

Kremetartboomkuns

Daar was ’n tyd toe mense figure en boodskappe op kremetartbome se stamme uitgekerf het. Maar deesdae is die kunstenaars van die Agterveld die bome genadig en gebruik hulle die eiervormige kremetartpeule, wat tot 25 sentimeter lank en 15 sentimeter in deursnee kan wees, om hulle kuns te beoefen.

Nadat ’n plaaslike kunstenaar ’n geskikte peul van ’n boom gepluk het, gebruik hy ’n sakmes om gedetailleerde prentjies op die bruin dop uit te kerf. Gewilde uitbeeldings sluit inheemse diere, Aborigine-jagtonele en mensegesigte en -figure in. Die eindprodukte is dikwels gesog onder versamelaars. Dit word ook onder andere deur toeriste en plaaslike kleinhandelaars gekoop.

Ja, die kremetartboom is dalk nie so groot soos ’n sequoia, so statig soos ’n populier of so kleurvol soos ’n esdoring in die herfs nie. Maar op sy eie, unieke, manier is hierdie geharde, lewenskragtige plant ’n ware aanwins vir die Agterveld, strek dit die Skepper tot eer en toon dit moontlik dat hy ’n goeie humorsin het.

[Voetnoot]

a ’n Boom word geringeleer wanneer ’n strook bas reg rondom die stam afgestroop word. Dit sny die saptoevoer af, en die meeste bome sal as gevolg hiervan doodgaan.

[Prent op bladsy 17]

Die blomme gaan snags oop, en net ’n paar uur later gaan dit dood

[Prent op bladsy 18]

Kremetartpeul waarop ’n boordjieakkedis uitgekerf is

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel