Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g03 5/22 bl. 3-6
  • Insekverspreide siektes—’n Groeiende probleem

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Insekverspreide siektes—’n Groeiende probleem
  • Ontwaak!—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die mens se veelpotige metgeselle
  • Hoe insekte ons siek maak
  • Siektes wat insekte in hulle ronddra
  • Tydelike verligting
  • Waarom die siektes terugkeer
    Ontwaak!—2003
  • Die verstommende wêreld van insekte
    Ontwaak!—2000
  • Peste in die 20ste eeu
    Ontwaak!—1997
  • Sleutel 4—Beskerm jou gesondheid
    Ontwaak!—2011
Sien nog
Ontwaak!—2003
g03 5/22 bl. 3-6

Insekverspreide siektes—’n Groeiende probleem

DIT IS SLAPENSTYD in ’n Latyns-Amerikaanse huis. ’n Liefdevolle moeder maak haar seuntjie met ’n kombers toe en sê hy moet lekker slaap. Maar in die donker kruip ’n blink, swart roofwants, wat minder as drie sentimeter lank is, uit ’n bars in die plafon bo die bed. Dit val ongemerk op die slapende kind se gesig en steek met sy monddele deur die sagte vel sonder dat die kind enigiets voel. Terwyl die insek hom trommeldik drink aan die bloed, skei dit ook uitwerpsels uit wat van parasiete wemel. Die slapende seuntjie krap sy gesig en vryf die besmette uitwerpsels in die wond in.

As gevolg van hierdie een voorval doen die kind Chagassiekte op. Binne ’n week of twee kry hy ’n hoë koors en swel sy liggaam op. As hy dit oorleef, sal die parasiete hom moontlik as gasheer gebruik en sy hart, senuwees en inwendige weefsel binnedring. Hy kan 10 tot 20 jaar lank simptoomvry bly. Maar dan sal hy moontlik letsels in sy spysverteringskanaal ontwikkel, serebrale infeksie kry en uiteindelik aan hartversaking sterf.

Hierdie denkbeeldige verhaal is ’n realistiese beskrywing van hoe iemand Chagassiekte kan opdoen. In Latyns-Amerika loop miljoene moontlik gevaar om hierdie kus van die dood te ontvang.

Die mens se veelpotige metgeselle

“Die meeste van die ernstige koorssiektes onder mense word deur mikro-organismes veroorsaak wat deur insekte oorgedra word”, sê die Encyclopædia Britannica. Die woord “insek” word dikwels nie net gebruik wanneer mense verwys na ware insekte nie—sespotige diertjies soos vlieë, vlooie, muskiete, luise en kewers—maar ook na agtpotige diertjies soos myte en bosluise. Wetenskaplikes plaas hulle almal in die groter kategorie geleedpotiges—die grootste afdeling in die diereryk—wat ten minste ’n miljoen bekende spesies insluit.

Die oorgrote meerderheid insekte is onskadelik vir die mens, en party is baie nuttig. Sonder hulle sou baie van die plante en bome waarvan mense en diere vir voedsel afhanklik is, nie bestuif word of vrugte dra nie. Sommige insekte help om afval te hersirkuleer. Baie insekte eet net plante, terwyl sekere soorte ander insekte eet.

Daar is natuurlik insekte wat mens en dier teister omdat hulle seer kan byt of wat eenvoudig weens hulle groot getalle ’n las is. Party verwoes ook gesaaides. Maar wat selfs erger is, is insekte wat siekte en die dood versprei. Insekverspreide siektes “was in die 17de tot die vroeë 20ste eeu verantwoordelik vir meer siektes en sterfgevalle onder mense as alle ander oorsake saam”, sê Duane Gubler van die Amerikaanse Sentrums vir Siektebeheer en -voorkoming.

Tans is ongeveer 1 uit elke 6 mense met ’n siekte besmet wat deur insekte oorgedra is. Behalwe die menselyding wat dit veroorsaak, is insekverspreide siektes ’n swaar finansiële las, veral in ontwikkelende lande—wat dit die minste kan bekostig. Selfs net een epidemie kan duur wees. ’n Epidemie wat in 1994 in westelike Indië uitgebreek het, het die plaaslike en wêreldekonomie blykbaar miljarde dollars gekos. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) sal die wêreld se armste lande ekonomies nie vooruit kan gaan totdat sulke gesondheidsprobleme onder beheer gebring word nie.

Hoe insekte ons siek maak

Insekte tree hoofsaaklik op twee maniere op as vektors—organismes wat siektes oordra. Die eerste manier is deur meganiese oordrag. Net soos mense modder met vuil skoene in ’n huis kan intrap, “kan huisvlieë miljoene mikro-organismes op hulle pote dra wat siekte kan veroorsaak as daar genoeg van die organismes is”, sê die Encyclopædia Britannica. Vlieë kan byvoorbeeld kieme van uitwerpsels optel en dit oordra wanneer hulle op ons eet- of drinkgoed gaan sit. Op hierdie manier kry mense aftakelende en dodelike siektes soos ingewandskoors, disenterie en selfs cholera. Vlieë dra ook by tot die verspreiding van tragoom—die vernaamste oorsaak van blindheid in die wêreld. Tragoom kan blindheid veroorsaak deurdat littekens ontstaan op die kornea—die deursigtige deel van die oog voor die iris. Wêreldwyd word ongeveer 500 000 000 mense deur hierdie siekte geteister.

Kakkerlakke, wat in ’n vuil omgewing floreer, dra siektes ook vermoedelik op meganiese wyse oor. Verder meen deskundiges dat daar ’n verband is tussen die onlangse skerp styging in asmagevalle, veral onder kinders, en kakkerlakallergieë. Neem byvoorbeeld die geval van Ashley, ’n 15-jarige meisie wat baie aande weens haar asma gesukkel het om asem te haal. Toe die dokter na haar longe wou luister, het ’n kakkerlak uit Ashley se hemp geval en oor die ondersoektafel gehardloop.

Siektes wat insekte in hulle ronddra

Wanneer insekte virusse, bakterieë of parasiete in hulle liggame ronddra, kan hulle op nog ’n manier siektes versprei—deur ’n byt of op ander maniere. Slegs ’n klein persentasie van insekte dra siektes op hierdie manier aan mense oor. Hoewel daar byvoorbeeld duisende soorte muskiete is, dra slegs die Anopheles-muskiet malaria oor—die wêreld se tweede dodelikste oordraagbare siekte (na tuberkulose).

Ander muskiete dra nogtans ’n mag der menigte siektes oor. Die WGO berig: “Van alle siekteverspreidende insekte hou die muskiet die grootste gevaar in, want dit versprei malaria, dengue en geelkoors, wat elke jaar gesamentlik verantwoordelik is vir etlike miljoene sterftes en honderdmiljoene siektegevalle.” Ten minste 40 persent van die aarde se bevolking loop gevaar om malaria te kry en ongeveer 40 persent om dengue te kry. In baie plekke kan mense albei opdoen.

Muskiete is natuurlik nie die enigste insekte wat siektes in hulle ronddra nie. Tsetsevlieë dra protosoa oor wat slaapsiekte veroorsaak. Hierdie siekte teister honderdduisende mense en dwing hele gemeenskappe om hulle vrugbare lande agter te laat. Die swartmuggie het nagenoeg 400 000 Afrikane van hulle sig beroof deur die organisme te versprei wat rivierblindheid veroorsaak. Sandvlieë kan draers wees van die protosoa wat leishmaniase veroorsaak, ’n groep aftakelende, verminkende en dikwels dodelike siektes wat tans miljoene mense van alle ouderdomme regoor die wêreld aantas. Die vlooi, wat so te sê oral gevind word, kan die gasheer wees van lintwurms, ensefalitis, tularemie en selfs pes—wat oor die algemeen geassosieer word met die Swartdood, wat in net ses jaar gedurende die Middeleeue ’n derde of meer van die Europese bevolking uitgewis het.

Luise, myte en bosluise kan verskillende soorte tifus en ander siektes oordra. Bosluise in gematigde streke van die wêreld kan draers wees van die potensieel aftakelende Lyme-siekte—die algemeenste vektorverspreide siekte in die Verenigde State en Europa. ’n Sweedse studie het getoon dat trekvoëls bosluise duisende kilometers ver saam met hulle kan neem en die siektes wat hulle in hulle ronddra, na nuwe streke kan versprei. “Bosluise”, sê die Britannica, “dra meer siektes aan mense oor as enige ander geleedpotiges (behalwe muskiete).” Trouens, een bosluis kan die gasheer van tot drie verskillende siekteveroorsakende organismes wees en kan hulle almal met net een byt oordra!

Tydelike verligting

Dit was eers in 1877 dat daar wetenskaplik bewys is dat insekte siektes oordra. Sedertdien is grootskaalse veldtogte van stapel gestuur om siektedraende insekte onder beheer te hou of uit te wis. In 1939 is die insekdoder DDT by die arsenaal gevoeg, en teen die 1960’s is insekverspreide siektes nie meer as ’n groot bedreiging vir die openbare gesondheid buite Afrika beskou nie. Die klem het verskuif van vektorbeheer tot die behandeling van noodgevalle met geneesmiddels, en belangstelling in navorsing oor insekte en hulle habitats het gekwyn. Nuwe geneesmiddels is ook ontdek, en dit het gelyk of wetenskaplikes ’n wondermiddel vir enige siekte kon vind. Die wêreld het tydelike verligting van besmetlike siektes gekry. Maar die verligting was van korte duur. Die volgende artikel sal bespreek waarom.

[Lokteks op bladsy 3]

Vandag is 1 uit 6 mense met ’n insekverspreide siekte besmet

[Prent op bladsy 3]

Die roofwants

[Prent op bladsy 4]

Huisvlieë dra siekteveroorsakende organismes op hulle pote

[Prente op bladsy 5]

Baie insekte dra siektes in hulle liggame rond

Swartmuggies veroorsaak rivierblindheid

Muskiete versprei malaria, dengue en geelkoors

Luise kan tifus oordra

Vlooie is gashere vir ensefalitis en ander siektes

Tsetsevlieë dra slaapsiekte oor

[Erkennings]

WHO/TDR/LSTM

CDC/James D. Gathany

CDC/Dr. Dennis D. Juranek

CDC/Janice Carr

WHO/TDR/Fisher

[Foto-erkenning op bladsy 4]

Clemson University - USDA Cooperative Extension Slide Series, www.insectimages.org

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel