Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 4/09 bl. 16-18
  • Wat dit verg om ’n olifantdrywer te wees

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat dit verg om ’n olifantdrywer te wees
  • Ontwaak!—2009
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Kursus in die opleiding van olifante
  • Die versorging van olifante
  • Die gevolge van mishandeling
  • Die olifant se slurp
    Ontwaak!—2012
  • Die olifant se slurp
    Is dit ontwerp?
  • Ivoor—Hoeveel is dit werd?
    Ontwaak!—1998
  • Die bewaring van die vredeliewende pagiderm
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Ontwaak!—2009
g 4/09 bl. 16-18

Wat dit verg om ’n olifantdrywer te wees

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN INDIË

TERWYL ’n mahout, of ’n olifantdrywer, sy kos langs die Narmadarivier gaargemaak het, het hy sy kind tussen die slurp en die voorpote van sy rustende olifant gelos. Die kind het herhaaldelik probeer wegkom, maar “die rustende olifant het sy slurp sagkens om die kind gedraai en hom teruggetrek na waar sy pa hom gelos het”, sê die boek Project Elephant. “Die pa het aangehou om kos te maak en gelyk asof hy die volste vertroue het dat die kind in veilige bewaring is.”

Werkolifante word al sedert 2000 v.G.J. deur die mens gebruik. In die ou tyd is olifante hoofsaaklik vir oorlogvoering opgelei. In hedendaagse Indië word hulle opgelei om te werk. Hulle word gebruik in die bosboubedryf, by godsdiensfeeste en troues, in advertensies, in sirkusse en selfs om te bedel. Hoe word hierdie olifante mak gemaak? En hoe word hulle opgelei?

’n Kursus in die opleiding van olifante

’n Aantal sentrums in Indië is toegerus om na olifantkalfies om te sien wat gevang is, verwerp is of wat in die natuur beseer is. Een so ’n opleidingsentrum is in Koni, in die staat Kerala. Hier word kalfies opgelei om werkolifante te word. ’n Mahout moet eers die vertroue van die kalfie wen. ’n Belangrike manier om dit te doen, is om die kalfie te voer. ’n Kalfie herken sy mahout se stem, en wanneer hy geroep word om gevoer te word, sal hy vinnig kom om sy melk en gierspap te kry. Jong olifante word gewoonlik nie opgelei om te werk voordat hulle hulle vroeë tienerjare bereik nie. Dan, wanneer hulle 25 jaar oud is, word hulle in die werk gesteek. In Kerala vereis die regering dat werkolifante op 65-jarige ouderdom aftree.

Om ’n veilige olifantdrywer te wees, moet die mahout goed opgelei wees. Volgens die Olifantwelsynsvereniging van Trichur, Kerala, moet ’n nuwe mahout ten minste drie maande van intensiewe opleiding kry. Tydens hierdie opleiding leer hy nie net hoe om opdragte te gee nie; dit dek ook die wetenskap van olifante as ’n geheel.

Dit neem langer om ’n volwasse olifant op te lei. Die afrigter leer eers sy dier om mondelinge bevele te verstaan voordat hy by die kamp ingaan waar die olifant gehou word. In Kerala gebruik ’n mahout omtrent 20 bevele en gebare om sy olifant te kry om die nodige werk te doen. Die mahout gee sy bevele hard en duidelik terwyl hy sy olifant met ’n stok por en hom wys wat om te doen. Wanneer ’n bevel gehoorsaam word, word die olifant met ’n klein lekkerny beloon. As die afrigter seker is dat sy olifant vriendelik is, gaan hy die kamp binne en streel hy hom. Hierdie interaksie versterk wedersydse vertroue. Ná verloop van tyd kan die olifant uit sy kamp geneem word—natuurlik versigtig, aangesien hy nog nie heeltemal mak is nie. Tot dit duidelik is dat die olifant heeltemal mak is, word hy met ’n ketting tussen twee olifante wat vir opleiding gebruik word, vasgemaak wanneer hy vir ’n bad of vir ander uitstappies uitgeneem word.

Wanneer ’n olifant mondelinge bevele verstaan, klim die mahout op die olifant se rug en leer hy hom hoe om op fisiese bevele te reageer deur hom met sy tone of hakke te por. Om hom vorentoe te laat beweeg, druk die mahout met sy groottone agter die olifant se ore. Om hom agtertoe te laat beweeg, druk hy met sy hakke op die dier se skouers. Om verwarring te vermy, word mondelinge bevele net deur een mahout gegee. ’n Olifant sal al die bevele binne drie of vier jaar verstaan. Daarna vergeet hy dit nooit nie. Hoewel ’n olifant se brein klein is in vergelyking met sy liggaam, is dit ’n baie intelligente dier.

Die versorging van olifante

’n Olifant moet gesond en gelukkig gehou word. ’n Daaglikse bad is belangrik. Gedurende badtyd gebruik die mahout klippe en netjies gesnyde kokosneutdoppe om sy olifant se dik, dog sagte en sensitiewe vel te skrop.

Dan is dit tyd vir ontbyt. Die mahout berei ’n dik pap voor wat bestaan uit koring, giers en helmboontjies, ’n soort voer. Die hoofgereg sluit bamboes, palmblare en gras in. Die olifant is in sy noppies as rou wortels en suikerriet ook bygevoeg word. Olifante eet die meeste van die tyd. Hulle het elke dag omtrent 140 kilogram kos en ongeveer 150 liter water nodig! Om goeie vriende met sy olifant te bly, moet die mahout in hierdie behoeftes voorsien.

Die gevolge van mishandeling

Die saggeaarde Indiese olifant kan net tot op ’n sekere punt gedryf word om te werk. ’n Olifant kan ’n mahout wat op hom skree of hom op ander maniere straf, aanval. Die Indiese koerant Sunday Herald het gesê dat ’n groot olifantbul “berserk geword het . . . nadat die mahouts hom mishandel het. Die olifant wat gereageer het op die loesing deur die mahout, het woes te kere gegaan . . . en moes verdoof word.” In April 2007 het India Today International berig: “In die afgelope twee maande alleen het meer as 10 groot olifantbulle by feeste amok gemaak; sedert Januarie verlede jaar is 48 mahouts deur die woedende diere doodgemaak.” Hierdie gedrag kom gewoonlik gedurende bronstyd voor. Dit is ’n jaarlikse fisiologiese verskynsel wat verband hou met die paringseisoen, waartydens die testosteroonvlakke van gesonde volwasse olifantbulle styg. Die gevolg is aggressiewe en onvoorspelbare gedrag teenoor ander olifantbulle en mense. Die bronstyd kan van 15 dae tot drie maande duur.

Nog ’n situasie wat ’n olifant kan ontstel, is wanneer hy verkoop word en ’n nuwe mahout oorneem. ’n Olifant vorm klaarblyklik ’n hegte band met sy mahout. Om te verseker dat alles glad verloop, reis die vorige mahout gewoonlik saam met die olifant na sy nuwe tuiste. Daar werk albei afrigters saam totdat die nuwe een gewoond raak aan die buie van die olifant. Wanneer ’n mahout sterf en ’n nuwe een oorneem, kan dit selfs groter probleme veroorsaak. Maar die olifant word uiteindelik gewoond aan die nuwe situasie en aanvaar dit.

Al is party mense bang vir hierdie magtige landdier, sal ’n goed opgeleide olifant ’n goedhartige mahout gehoorsaam. Wanneer ’n olifant goed behandel word, hoef hy nie eers vasgemaak te word wanneer sy mahout vir ’n kort tydjie nie by hom is nie. Al wat die mahout hoef te doen, is om een punt van sy stok op die olifant se poot te sit en die ander punt op die grond en die olifant dan te vra om nie te beweeg nie. Die olifant staan gehoorsaam stil met die stok op sy poot. Soos die inleiding getoon het, kan die samewerking tussen ’n olifant en sy mahout verbasend sowel as hartroerend wees. Ja, ’n goeie olifantdrywer kan sy olifant vertrou.

[Venster/Prent op bladsy 18]

DIE MENS EN DIE OLIFANT—’N LANG GESKIEDENIS

Olifante word al etlike eeue lank deur die mens mak gemaak. Die beroemdste voorbeeld in die geskiedenis is moontlik dié van Hannibal, ’n Kartaagse generaal. In die derde eeu v.G.J. het die stad Kartago, in Noord-Afrika, teen Rome geveg in ’n reeks oorloë wat die Puniese Oorloë genoem word en meer as ’n eeu lank gewoed het. Hannibal het ’n leër in die stad Cartagena, Spanje, op die been gebring met die doel om na Rome op te ruk. Hy het eers die Pireneë oorgesteek na die gebied wat vandag as Frankryk bekend staan. Toe, in wat die tydskrif Archaeology “een van die mees gewaagde militêre veldtogte in die geskiedenis” noem, het sy leër van 25 000 manne—vergesel van 37 Afrika-olifante en talle pakdiere met voorrade—die Alpe na Italië oorgesteek. Hulle moes die koue, sneeustorms en rotsstortings trotseer en het vyandige bergstamme teëgekom. Daardie reis was vir die olifante uiters vermoeiend. Nie een van hulle het Hannibal se eerste jaar in Italië oorleef nie.

[Erkenning]

© Look and Learn Magazine Ltd/The Bridgeman Art Library

[Prent op bladsy 17]

Die mahout skrop sy olifant se dik, dog sagte en sensitiewe vel

[Erkenning]

© Vidler/mauritius images/age fotostock

[Foto-erkenning op bladsy 16]

© PhotosIndia/age fotostock

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel