Jongmense vra . . .
Waarom is niks wat ek doen ooit goed genoeg nie?
“Ek het dit baie moeilik gevind om my pa tevrede te stel toe ek vir hom begin werk het. Ek was net 15 en die werk was baie ingewikkeld; wanneer ek ’n fout gemaak het, het hy krities geraak.”—Randy.
“My ma was soos ’n speurder—altyd op soek na iets wat ek verkeerd gedoen het. Nog voor ek my werkies kon afhandel, het sy my werk geïnspekteer, op soek na foute.”—Craig.
“My ouers het altyd vir my oor iets gepreek. Hulle het gesê dat dit net nie gelyk het asof ek my sake agtermekaar kon kry nie. In die skool, by die huis, in die gemeente—hulle wou net nooit ophou nie.”—James.
LYK dit soms asof niks wat jy doen ooit goed genoeg is om jou ouers tevrede te stel nie? Voel dit soms vir jou asof alles wat jy doen onder ’n mikroskoop geplaas word, dat jy altyd dopgehou word, gedurig gekritiseer word, maar nooit aan hulle vereistes voldoen nie? Indien wel, voel dit dalk vir jou asof jy onder ’n wolk van ouerlike afkeuring leef.
Jou situasie is nouliks uniek. Dr. Joyce L. Vedral sê: “Die meeste tieners sê dat hulle ouers neul. . . . Hulle hamer op alles—jou kamer wat jy moet netjies hou en die vullis wat jy moet uitneem, die toestand waarin jy die badkamer laat en die manier waarop jy aantrek, jou keuse van vriende en jou punte en huiswerk.” Hoewel dit begryplikerwyse soms op jou senuwees werk, is dit nie noodwendig nadelig nie. Dit is net natuurlik dat ouers hulle kinders dissiplineer en teregwys; dit is een manier waarop hulle hulle liefde vir hulle kinders betoon. Volgens die Bybel sal ’n vader “die seun in wie hy behae het”, tugtig.—Spreuke 3:12.
As jy egter nooit ’n woordjie van teregwysing van jou ouers ontvang nie, sou jy nie gewonder het of hulle vir jou omgee nie? (Spreuke 13:24; vergelyk Hebreërs 12:8.) Jy kan dus dankbaar wees dat jy ouers het wat soveel vir jou omgee dat hulle jou teregwys! Jy is per slot van rekening jonk en betreklik onervare; teregwysing kan soms in orde wees. Sonder leiding kan jy maklik deur “die begeerlikhede van die jonkheid” oorweldig word.—2 Timotheüs 2:22.
Neem byvoorbeeld party probleme waarmee jongmense te kampe kan hê as gevolg van sulke begeertes. Skrywer Clayton Barbeau sê: “Dit is ’n gevaarlike wêreld vir tieners: elke uur sterf ’n jongmens in ’n motorongeluk wat met sterk drank verband hou; ongeveer twaalfduisend tieners pleeg jaarliks selfmoord; ’n miljoen meisies raak jaarliks swanger; driemiljoen van vandag se jongmense is alkoholiste; seksueel oordraagbare siektes kom algemeen voor” (How to Raise Parents). Dit is dus geen wonder dat jou ouers dalk vasbeslote is om jou voortdurend tereg te wys nie! Soos die Bybel sê: “Laat die wyse luister, dan sal hy insig vermeerder . . . sotte verag wysheid en tug.”—Spreuke 1:5, 7; vergelyk Spreuke 10:17.
Waarom dit jou seermaak
Nogtans “lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ’n saak van blydskap is nie, maar van droefheid” (Hebreërs 12:11). Dit is veral die geval wanneer ’n mens jonk is. Jou persoonlikheid is per slot van rekening nog nie ten volle ontwikkel nie; jy is nog besig om groot te word en jouself te vind. Kritiek—selfs wanneer dit taktvol en vriendelik is—kan dus aanstoot gee. Die boek How to Survive Your Adolescent’s Adolescence kom tot die slotsom dat tieners “uiters sensitief vir kritiek” is. Soos een jongmens sê: “Kritiek maak my seer.”
Maar wanneer dit van jou ouers af kom, kan dit jou veral diep seermaak. In haar boek Helping Your Teenager Deal With Stress herinner dr. Bettie Youngs ons daaraan dat dit deur “die goedkeuring of afkeuring van ander” is dat ’n jongmens “’n beskouing van sy eiewaarde en sy waarde as mens ontwikkel”. Ouers is egter die grootste faktor wat ’n jongmens help om hierdie selfbeeld te vorm. Wanneer jou ouer jou teregwys of kla oor die manier waarop jy iets doen, kan dit dus afbrekend en pynlik wees.
Moet jy nogtans tot die slotsom kom dat niks wat jy doen ooit goed genoeg is nie? Of dat jy ’n volslae mislukking is net omdat jou ouers jou op ’n paar van jou foute gewys het? Almal skiet in werklikheid ver te kort aan volmaaktheid (Romeine 3:23). En om foute te maak is ’n deel van die leerproses. (Vergelyk Job 6:24.) Die probleem is dat jou ouers dalk selde iets sê wanneer jy iets reg doen—en dalk taamlik uitgesproke kan wees wanneer jy ’n fout begaan! Dit kan jou seermaak, maar dit beteken beslis nie dat jy ’n volslae mislukking is nie. Leer om billike kritiek geredelik te aanvaar en dit nie gering te ag of daardeur oorweldig te word nie.—Vergelyk Hebreërs 12:5, NAV.
Onredelike kritiek
Gestel die kritiek is onredelik. Party ouers stel onredelik hoë standaarde aan hulle kinders. Hulle irriteer hulle kinders dalk deur voortdurend by hulle oor nietighede te neul. En ouers wat gegronde redes het om te kla, kritiseer dalk op ’n skerp, vernederende wyse. Dr. Bettie Youngs sê ook dat as ouers hulle kinders “beledig, bestraf, sarkasties behandel, verneder, beskuldig en dreig”, is dit “afbrekende kommunikasiepatrone . . . wat die kind se selfvertroue en gevoel van eiewaarde ondermyn”.
Toe die regverdige man Job met ’n stortvloed onredelike kritiek aangeval is, het hy uitgeroep: “Hoe lank sal julle my siel kwel en my met woorde verbrysel?” (Job 19:2). As ’n ouer ’n jongmens voortdurend op sy plek sit of onredelik hoë standaarde aan hom stel, kan dit hom eweneens irriteer en veroorsaak dat hy “moedeloos word” (Kolossense 3:21). Die boek Coping With Teenage Depression deur Kathleen McCoy beweer selfs dat “die onvermoë om aan ouers se hoë verwagtinge te voldoen adolessente se gevoel van eiewaarde aansienlik kan laat afneem en reaktiewe depressie by hulle kan veroorsaak”.
Sulke ongesonde kritiek veroorsaak in werklikheid dikwels ’n bose kringloop: Jou ouers kritiseer jou. Jy reageer daarop deur teleurgesteld te wees in jouself. Omdat jy teleurgesteld in jouself is, is jy geneig om foute te maak wanneer jou ouers jou vra om iets te doen. Die gevolg? Meer kritiek!
Die rede vir die kritiek
Hoe kan jy hierdie afbrekende kringloop beëindig? Probeer eerstens verstaan waarom jou ouers so optree. Is hulle geneul of voortdurende kritiek werklik kwaadwillig? Waarskynlik nie. Dr. Joyce L. Vedral vra: “Waarom neul hulle? Hulle neul omdat niemand luister nie, of ten minste nie laat blyk dat hulle luister nie. Hoe meer ouers geïgnoreer word, hoe meer neul hulle.” Wys jy dus vir jou ouers dat jy gehoor gee aan hulle klagtes? Of neem jy nie notisie daarvan nie? Indien wel, moet jy nie verbaas wees as die kritiek al hoe meer—en hewiger—word nie! Maar sal dit nie ophou as jy eenvoudig die woorde van Spreuke 19:20 toepas nie? Daardie vers sê: “Luister na raad en neem tug aan, sodat jy in die vervolg wys kan wees.”
Soms raak ’n ouer baie krities, nie soseer omdat jy te kort skiet nie, maar bloot omdat hy of sy toevallig in ’n slegte bui is. Het jou ma ’n moeilike dag by die werk gehad? Dan sal sy jou dalk meer as gewoonlik berispe omdat jou kamer slordig lyk. Is jou pa kwaad en gefrustreerd oor die benarde toestand waarin die gesin se finansies verkeer? Sonder dat hy dit bedoel, kan sy woorde dalk onbedagsaam wees, “soos swaardsteke” (Spreuke 12:18). Ja, dit is onredelik. Maar “ons almal struikel dikwels. As iemand in woorde nie struikel nie, is hy ’n volmaakte man” (Jakobus 3:2). As jou pa of ma dus gespanne of omgekrap lyk, sal dit verstandig van jou wees om jou goed te probeer gedra en nie enige kritiek uit te lok nie.
As onvolmaakte mense kan jou ouers ook deur ’n gevoel van onbekwaamheid geteister word. As jy te kort skiet, laat dit hulle moontlik voel dat hulle te kort geskiet het! Dr. Vedral verduidelik: “Jy bring moontlik ’n swak rapport huis toe en jou pa sê dalk: ‘Wat! Is jy onnosel? My seun is ’n idioot.’ Jou pa dink natuurlik nie werklik dat jy wel ’n idioot is nie. In werklikheid sê hy: ‘Ek is bevrees dat ek nie my plig doen om jou te motiveer om te leer nie.’”
Sulke vrese kan ook veroorsaak dat ouers onredelik hoë standaarde aan hulle kinders stel. Een jongman, Jason, het gekla: “Niks wat ek doen, is ooit genoeg nie. As ek die blare bymekaarhark, wil my pa weet waarom ek nie sommer die motorhuis ook skoongemaak het nie. As ek ’n ‘A-minus’ op skool kry, wil my ouers weet waarom dit nie ’n ‘A’ was nie en sê hulle dat ek ’n mislukking is.” ’n Voorligtingsonderwyser het egter met Jason se ouers gepraat en het die volgende uitgevind: “Die uitermatig hoë verwagtinge wat hulle van hulle seun gekoester het, het hulle eie gevoel van onbekwaamheid en teleurstelling met hulle eie loopbaankeuses en finansiële status weerspieël.”—Coping With Teenage Depression.
Wat jou situasie tuis ook al mag wees, moontlik kan jy nou beter verstaan waarom jou ouers geneig is om by tye krities te wees. Maar wat is party maniere waarop jy jou ouers se kritiek die hoof kan bied? Is daar maniere waarop ’n mens uit hulle kritiek kan voordeel trek? Hierdie vrae sal in ’n toekomstige artikel bespreek word.
[Prent op bladsy 26]
Dit kan afbrekend wees wanneer ’n ouer kla oor die manier waarop jy iets doen