Ons beskou die wêreld
’n “Groot sterfte”
Daar bestaan vandag miljoene plant- en dierspesies. Wetenskaplikes het vroeër geskat dat daar deur die hele geskiedenis van lewe op die aarde minder as tien spesies jaarliks uitgesterf het (weens siekte, voedseltekort en ’n onvermoë om aan te pas). Volgens die VN se Departement van Publieke Inligting meen wetenskaplikes nou dat die syfer honderde, miskien duisende keer meer is. In 1970 is daar geskat dat een spesie per dag uitgesterf het. Teen 1990 het die syfer tot een per uur gestyg. Teen 1992 het daar elke 12 minute ’n spesie uitgesterf. Dié uitsterwing is hoofsaaklik te wyte aan die verdwyning van natuurlike habitats weens bosuitroeiing, stedelike uitbreiding, plattelandse ontwikkeling en lug- en waterbesoedeling. Baie omgewingsbewustes sê dat die planeet in die middel van ’n “groot sterfte” is. Dr. Mostafa Tolba, uitvoerende direkteur van die VN se Omgewingsprogram, sê: “As Charles Darwin vandag geleef het, sou sy werk heel waarskynlik nie op die oorsprong van spesies toegespits wees nie, maar eerder op die beskrywing van uitgesterfde spesies.”
Buitelandse hulp—Wie kry wat?
Vind die armes enigsins baat by buitelandse hulp? Volgens die VN se Human Development Report 1992 gaan net 27 persent van buitelandse hulp na die tien lande waarin 72 persent van die wêreld se armste mense woon. Die rykste 40 persent van die ontwikkelende wêreld se bevolking ontvang meer as twee keer soveel hulp as die armste 40 persent. Nasies in Suid-Asië, waar byna die helfte van die wêreld se armste mense woon, ontvang hulp van R14 per persoon. Lande in die Midde-Ooste, waarvan die inkomste per persoon drie keer soveel as dié van Suid-Asië is, ontvang R151 per persoon. Die verslag voeg by dat nasies wat baie geld aan wapens bestee dubbel soveel hulp per persoon ontvang as lande wat nie soveel geld daaraan bestee nie. Die kleinste gedeelte van die fondse (ongeveer 7 persent van bilaterale hulp en 10 persent van multilaterale hulp) is al wat vir mense se basiese behoeftes—opvoeding, gesondheidsversorging, veilige drinkwater, sanitasie, gesinsbeplanning en voedingsprogramme—aangewend word.
Moontlike kernnagmerrie
“Die poging van die Weste om die toename in kernwapens te voorkom, het misluk”, sê U.S.News & World Report, “en ’n nuwe en baie gevaarliker era het begin waarin daar ’n geweldige toename in kernwapens sal wees”. Nou het hulle die keuse om geweld te gebruik om te keer dat nuwe nasies kernwapens in die hande kry of om te “leer om in ’n wêreld te leef waarin amper elke nasie wat kernwapens wil hê dit besit”. Wat het tot hierdie toedrag van sake gelei? “Dinge wat in 1943 vir die slimste mense baie moeilik was, is nou vir gewone mense maklik”, sê Richard Garwin, ’n fisikus en voormalige ontwerper van kernwapens. Wiskundige probleme wat daardie tyd vir die skerpste verstande ’n uitdaging was, kan nou op ’n persoonsrekenaar opgelos word. Daarbenewens het dit vir ’n vasbeslote nasie al hoe makliker geword om toegang te verkry tot die nodige tegnologieë om ’n bom te vervaardig. In ’n poging om die stroom te probeer stuit, het 27 nasies in April ’n akkoord gesluit wat ’n beperking plaas op die verkoop van materiaal of masjinerie wat in die vervaardiging van atoombomme gebruik kan word. Maar daar is betekenisvolle leemtes in die akkoord, aangesien ’n aantal nasies wat kernwapens besit of dit wil hê nie daarby ingesluit is nie.
Australië se “pil”-gemeenskap
Die uitslag van ’n Nasionale Gesondheidsopname in Australië is verontrustend. Die studie het aan die lig gebring dat 1 uit elke 50 Australiërs daagliks kalmeermiddels gebruik. Nog ’n driekwartmiljoen het erken dat hulle kalmeermiddels soos Valium en Serepax op die een of ander tyd gedurende die twee weke vóór die opname gebruik het. Volgens die koerant The Sun-Herald van Sydney beweer die Nasionale Dwelm- en Alkoholnavorsingsentrum dat daar jaarliks byna tienmiljoen voorskrifte vir bensodiasepiene uitgeskryf word, en dat hulle dié medisyne is wat die meeste in Westerse lande voorgeskryf word. ’n Navorser by die sentrum het gesê dat baie mense wat hierdie soort kalmeermiddel gereeld gebruik dalk nie eers besef dat hulle in werklikheid daaraan verslaaf is nie.
Nuwe plaag in Afrika
“Die dwelmhandel het een van die ernstigste bedreigings vir die stabiliteit en ekonomiese ontwikkeling van [Afrika se] vasteland geword.” Dit is wat dr. Simon Baynham van die Afrika-instituut van Suid-Afrika in The Star van Johannesburg geskryf het. Die dwelmhandel het in die laaste dekade opvallend toegeneem in Afrika aangesien dit geografies goed geleë is vir besendings vanaf Colombia en Asië. “In 1990 was ’n derde van die heroïen wat in Europa onderskep is, onderweg na Afrika”, sê dr. Baynham. Hy sê dat daar ook toenemende samewerking tussen die internasionale dwelmhandel en terroristeorganisasies is. Dr. Baynham beskryf die dwelmhandel in Afrika as ’n potensiële “nuwe epidemie van betekenisvolle afmetings” wat “by Afrika se ellende van oorlog, hongersnood en vigs gevoeg sal word”.
Melkoorskot word weggegooi
Ondanks ernstige voedseltekorte is miljoene liter melk die afgelope vyf jaar deur Suid-Afrikaanse melkerye weggegooi. Die Suiwelraad, wat voorsiening moes maak vir die verspreiding van die melkoorskot, lê ’n heffing op die melkerye. Maar aangesien die Suiwelraad nie hiervoor voorsiening gemaak het nie, het ’n bestuurder van die Nasionale Melkverspreidingsvereniging gesê: “Wat kan ons doen? Ons moet dit weggooi. Dit is ekonomies sinloos om ons eie mark te benadeel deur dit weg te gee of te betaal om dit te laat wegneem.” Daarenteen het ander instansies oor die vermorsing gekla. Die Raad vir Bejaardes sê dat melk weggegooi word “op ’n tydstip wanneer miljoene bejaarde Suid-Afrikaners sukkel om die allernodigste te koop om aan die lewe te bly”.
Langlewende Japannese
Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie se jongste statistieke het die Japannese ’n hoër verwagte lewensduur as enige ander nasie op aarde. Die gemiddelde verwagte lewensduur vir Japannese vroue is 82,5 jaar, terwyl dié vir mans 76,2 jaar is. Die tweede hoogste verwagte lewensduur vir vroue, naamlik 81,5 jaar, kom in Frankryk voor, met Switserland kort op sy hakke met 81,0 jaar. Ysland is met 75,4 jaar in die tweede plek vir mans en word deur Griekeland gevolg met 74,3 jaar. Die statistiese jaarboek van 350 bladsye het ook ander interessante feite verstrek. Die wêreld se hoogste vrugbaarheidsyfer is dié van Rwanda, waar elke vrou gemiddeld 8,3 kinders het. Die selfmoordsyfer is die laagste in die Bahama-eilande, met 1,3 vir elke 100 000 mense, terwyl Hongarye die hoogste selfmoordsyfer het, met 38,2 per 100000. En die hoogste syfer vir motorongeluksterftes is in die klein Suid-Amerikaanse staatjie Suriname, met 33,5 per 100000. Die laagste? Malta, met net 1,6 noodlottige motorongelukke vir elke 100 000 mense.
Pynlike musiek
Verergde ouers roep al lank uit: “Sit daardie musiek sagter!” Baie tieners meen hulle kan nie hulle musiek geniet tensy hulle die maatslag daarvan kan voel nie. Hoewel harde musiek al dikwels met gehoorverlies verbind is, het ’n onlangse berig in The Globe and Mail van Toronto, Kanada, verduidelik dat tinnitus ook ’n algemene gevolg daarvan is. Tinnitus is “’n suis-, bruis-, zoem-, klap- of fluitgeluid in die kop, wat gewoonlik albei ore aantas. Maar daardie [beskrywing] verduidelik nie presies wat die geluid behels nie”, sê die koerant. As jy tinnitus eers het, “het jy nooit [weer] volkome rus en vrede nie”, sê Elizabeth Eayrs, koördineerder van Kanada se Tinnitusvereniging. Dié wat oorfone dra en die klank so hard stel dat hulle bure dit kan hoor, se ore word vernaamlik aangetas. Hulle vermoë om gedurende hulle latere lewe musiek of enige ander klank te geniet, word dikwels erg belemmer.
Die pous vra om verskoning
Pous Johannes Paulus II het die vasteland van Afrika al twee keer om verskoning gevra vir die slawehandel. Die eerste keer was in Februarie, tydens die pous se reis na Senegal. Die Italiaanse dagblad Corriere della Sera het destyds berig dat die pous “‘die hemel om vergifnis’ en Afrika om vergifnis [gesmeek het] vir die geskiedkundige misdaad van slawerny waarby selfs Christene . . . betrokke was”. Ongeveer drie maande later het hy die tweede keer om verskoning gevra tydens sy besoek aan São Tomé. Die pous het by die Vatikaan verduidelik dat “aangesien die kerk ’n gemeenskap is wat ook uit sondaars bestaan, daar deur die eeue heen oortredings was wat die lering van liefde betref. . . . Dit was tekortkominge van mense en groepe wat hulleself Christene genoem het.” Die dagblad La Repubblica het oor die “pouslike verskonings” kommentaar gelewer en gesê dat die pous “oor Christene gepraat het wat oor die algemeen gesondig het, maar dat hy ook oor pouse, oor Roomse gemeentes en oor biskoppe en geestelikes kon gepraat het. Trouens, die Katolieke hiërargie dra ook skuld vir hierdie geskiedenis van slawerny.”
Arachnofobie is nie nodig nie
Arachnofobie (’n vrees vir spinnekoppe) “spruit dikwels uit onkunde”, sê die tydskrif Suid-Afrikaanse Panorama. Dit doen verslag oor die werk van dr. Ansie Dippenaar, ’n vername kenner van spinnekoppe in Afrika en wys daarop dat minder as 0,2 persent van die wêreld se bekende spinnekopsoorte gevaarlik vir die mens is. Op sy regmatige plek behoort hierdie klein diertjies as vriende en nie as vyande behandel te word nie. Hulle is van onskatbare waarde in die bekamping van plae wat onder gesaaides voorkom. In die geval van party spinnekopsoorte kan ’n enkele een tot 200 plaaglarwes per dag doodbyt. As spinnekoppe byvoorbeeld in ’n aarbeilandery toegelaat word, kan daar ’n opbrengs van tot 6 ton meer per hektaar wees as op landerye waar die spinnekoppe uitgeroei is. “Boere behoort spinnekopbevolkings te bewaar”, voeg die artikel by. “So word die gebruik van duur plaagdoders beperk wat boonop die omgewing besoedel.”