Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 11/22 bl. 4-9
  • Die komplekse web van die lewe

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die komplekse web van die lewe
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Kwynende verskeidenheid
  • Epidemiese afmetings
  • Het ons al hierdie spesies nodig?
  • Bedreigde spesies—die omvang van die probleem
    Ontwaak!—1996
  • Die mens teen die natuur
    Ontwaak!—2001
  • Kan die aarde se spesies gered word?
    Ontwaak!—2001
  • Die aarde se verdwynende natuurlewe
    Ontwaak!—1997
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 11/22 bl. 4-9

Die komplekse web van die lewe

“Die verskeidenheid van lewe is ons versekeringspolis. Ons eie lewe en lewensonderhoud hang daarvan af.”—VERENIGDE NASIES SE OMGEWINGSPROGRAM.

DIE aarde wemel van ’n ontsaglike verskeidenheid lewensvorme. Die term “biologiese diversiteit”, of kortom “biodiversiteit”, verwys na al die spesies in die wêreld, van die kleinste bakterieë tot die reusesequoias; van erdwurms tot arende.

Al hierdie lewe op aarde is deel van een groot, onderling afhanklike web wat ook nielewende elemente insluit. Lewe is afhanklik van nielewende komponente soos die aarde se atmosfeer, die oseane, vars water, rotse en grond. Hierdie gemeenskap van lewe word die biosfeer genoem, en mense is ’n onafskeidbare deel daarvan.

Biodiversiteit sluit al die bakterieë en ander mikrobes in. Dit is ’n feit dat baie van hulle noodsaaklike chemiese funksies verrig wat ekosisteme aan die lewe hou. Biodiversiteit, of die web van die lewe, sluit ook die groen plante in wat suurstof deur middel van fotosintese vervaardig, waartydens sonenergie geabsorbeer en as suikers geberg word, wat die basis vorm van energiebronne vir die meeste ander lewensvorme.

’n Kwynende verskeidenheid

Maar ten spyte van die prag en verskeidenheid van lewensvorme sê talle navorsers ongelukkig dat die mens spesies teen ’n onrusbarende tempo tot op die randjie van uitsterwing dryf. Hoe doen hulle dit?

◼ Vernietiging van die habitat. Dit word as die hoofoorsaak van uitsterwing beskou. Dit sluit in houtkappery, mynbou, die afkap van bome vir vee sowel as die bou van damme en hoofweë waar daar voorheen wildernisse was. Namate ekosisteme krimp, verloor spesies die hulpbronne wat hulle nodig het om aan die lewe te bly. Natuurlike habitats word gefragmenteer, uitgeput en vernietig. Trekroetes word ontwrig. Genetiese diversiteit neem af. Plaaslike bevolkings van lewende dinge kan nie van siektes en ander negatiewe faktore herstel nie. Gevolglik sterf spesies geleidelik een vir een uit.

As sekere spesies uitsterf, kan dit selfs tot die uitwissing van ’n reeks ander spesies aanleiding gee, want wanneer een deel van die web van die lewe vernietig word, kan ander daardeur geraak word. Die uitwissing van noodsaaklike spesies—soos bestuiwers—kan ’n uitwerking op tallose ander spesies hê.

◼ Ingevoerde spesies. Wanneer mense ’n nuwe spesie in ’n ekosisteem plaas, kan daardie spesie ander spesies verdring. Die indirekte impak van die nuwe spesie op die ekosisteem kan ook genoeg wees om inheemse spesies te verdring, of hulle kan siektes saam met hulle bring waarteen die inheemse spesies nie immuun is nie. Veral op eilande waar spesies lank in afsondering geleef het en nie met nuwe spesies in aanraking gekom het nie, sal die oorspronklike bewoners dalk nie kan aanpas en voortbestaan nie.

’n Tipiese voorbeeld is ’n “dodelike” wier, Caulerpa taxifolia, wat ander mariene spesies in die Middellandse See uitroei. Dit het per ongeluk langs die kus van Monaco beland en het nou op die seebodem begin versprei. Dit is giftig en het geen bekende vyande nie. “Wat ons sien, is dalk die begin van ’n ekologiese ramp”, sê Alexandre Meinesz, professor in mariene biologie aan die Universiteit van Nice, Frankryk.

◼ Oorbenutting. Dit het verskeie spesies laat uitsterf. ’n Klassieke geval is dié van die trekduif. Vroeg in die 19de eeu was dit die voël wat die algemeenste in Noord-Amerika voorgekom het. Wanneer hulle gemigreer het—in swerms van ’n miljard of meer—was die lug dae lank donker van hierdie voëls. Maar teen die einde van die 19de eeu is hulle tot op die randjie van uitsterwing gejag, en in September 1914, in ’n dieretuin in Cincinnati, het die laaste trekduif doodgegaan. So ook is die Amerikaanse bison, of buffel, van die Laagvlaktes byna deur jagters uitgewis.

◼ Bevolkingsaanwas. Die aarde het in die middel van die 19de eeu ’n mensebevolking van eenmiljard gehad. Een en ’n half eeu later het die mensebevolking tot sesmiljard toegeneem, en mense begin wonder of hulle gevaar loop om hulle hulpbronne uit te put. Namate die mensebevolking elke jaar groei, sterf spesies teen ’n onrusbarende tempo uit.

◼ Die bedreiging van aardverwarming. Volgens die Internasionale Paneel oor Klimaatverandering kan temperature binne hierdie eeu met tot 3,5 grade Celsius styg. Party spesies sal miskien nie hierdie drastiese styging kan oorleef nie. Volgens navorsers lyk dit asof die verwarming van die seewater bydra tot die dood van koraalriwwe (wat baie van die mariene biodiversiteit onderhou).

Wetenskaplikes sê dat ’n styging van een meter in die seevlak ’n groot deel van die wêreld se kusvleilande, wat ryk aan biodiversiteit is, sal vernietig. Party meen dat aardverwarming moontlik ’n uitwerking het op die ysvelde van Groenland en Antarktika. As dit sou smelt, kan dit ’n omgewingsramp tot gevolg hê.

Epidemiese afmetings

Hoe vinnig sterf spesies uit? Daar kan nie presies gesê word nie. Die meeste van die spesies wat uitsterf, is onbekend aan wetenskaplikes. Eerstens moet hulle vasstel hoeveel spesies daar is. Volgens John Harte, ’n ekologiese wetenskaplike aan die Universiteit van Kalifornië, Berkeley, “is daar ongeveer een en ’n halfmiljoen geïdentifiseerde spesies op aarde, maar ons weet dat daar baie ongeïdentifiseerde spesies is, en die totale aantal is waarskynlik tussen 5 en 15 miljoen”. Party meen dat daar tot 50 miljoen of meer spesies is. Volgens die wetenskaplike Anthony C. Janetos is dit byna onmoontlik om die presiese aantal spesies te bepaal omdat “spesies meestal uitsterf voordat hulle geïdentifiseer en beskryf is”.

Die moderne wetenskap het nog nie eers begin om die komplekse ekologiese prosesse te ontrafel wat natuurlike gemeenskappe so goed laat funksioneer nie. Hoe kan mense die komplekse web van die lewe verstaan en begryp hoe dit deur die uitwissing van spesies geraak word as hulle nie weet hoeveel spesies daar is nie? Hoe weet hulle watter uitwerking dit op die planeet se lewensonderhoudende stelsel het wanneer spesies uitsterf?

Wanneer wetenskaplikes die uitsterwingstempo probeer vasstel, is hulle skattings, hoewel dit wissel, dikwels ontmoedigend. “Sowat 50 persent van die wêreld se flora en fauna kan binne honderd jaar voor uitwissing te staan kom”, sê een skrywer. Harte se voorspelling is selfs droewiger: “Bioloë skat dat tropiese ontbossing gedurende die volgende 75 jaar tot die uitwissing van die helfte of meer van die aarde se huidige spesies sal lei.”

Die National Geographic het op grond van die berekeninge deur die wetenskaplike Stuart Pimm van die Universiteit van Tennessee gesê dat “11 persent van alle voëls, of 1 100 van die wêreld se nagenoeg 10 000 spesies, op die randjie van uitsterwing is; dit is onwaarskynlik dat die meeste van hierdie 1 100 spesies veel langer as die einde van die [21ste eeu] sal leef”. Dieselfde tydskrif het gesê: “’n Span gesiene plantkundiges het onlangs berig dat een uit agt plante gevaar loop om uit te sterf. ‘Dit is nie net spesies op eilande of in reënwoude of net voëls of groot populêre soogdiere nie’, sê Pimm. ‘Dit is alles en dit is oral. . . . Dit is ’n wêreldwye epidemie.’”

Het ons al hierdie spesies nodig?

Is daar rede om besorg te wees oor die verlies aan die lewe se diversiteit? Het ons werklik so ’n verskeidenheid van spesies nodig? Talle gesiene deskundiges hou vol dat die antwoord ja is. Die talle spesies wat op die aarde aangetref word, voorsien mense van voedsel, nuttige chemikalieë en baie ander produkte en dienste. Dink ook aan die potensiële voordele wat onontdekte spesies vir die mensdom kan inhou. Daar is byvoorbeeld al geskat dat 120 van die 150 vernaamste voorskrifmedisyne wat in die Verenigde State gebruik word, uit natuurlike verbindings verkry word. Wanneer die flora van die wêreld dus uitsterf, verbeur mense ook die geleentheid om nuwe medisyne en chemikalieë te vind. “Elke keer wanneer ons ’n spesie verloor, verloor ons ’n opsie vir die toekoms”, sê sir Ghillean Prance, direkteur van die tuine in Kew, Londen. “Ons verloor ’n potensiële geneesmiddel teen vigs of ’n virusbestande gewas. Ons moet dus op die een of ander manier ophou om spesies te verloor, nie net ter wille van ons planeet nie, maar ook ter wille van ons eie . . . behoeftes en gebruike.”

Ons het ook natuurlike ekosisteme nodig om noodsaaklike dienste te voorsien waarvan alle lewensvorme afhanklik is. Die vervaardiging van suurstof, die suiwering van water, die filtrering van besoedelende stowwe en die voorkoming van gronderosie is alles lewensbelangrike funksies wat deur gesonde ekosisteme verrig word.

Insekte help met bestuiwing. Paddas, visse en voëls bestry plae; mossels en ander waterorganismes maak ons water skoon; plante en mikro-organismes maak ons grond. Die ekonomiese waarde van al hierdie dienste is enorm. ’n Konserwatiewe skatting van die geldelike voordele van wêreldwye biodiversiteit is om en by 24 biljoen rand per jaar teen 1995 se pryse.

Maar ten spyte van ons afhanklikheid van die verskeidenheid van lewensvorme, lyk dit asof die wêreld hom in ’n uitsterwingskrisis bevind wat die komplekse web van die lewe bedreig. Noudat ons die noodsaaklike rol van biodiversiteit begin verstaan, wis mense meer spesies uit as ooit tevore! Is die mens egter in staat om die probleem op te los? Wat hou die toekoms in vir die verskeidenheid van lewensvorme op aarde?

[Venster/Prent op bladsy 6]

Hoeveel is lewe werd?

Al die besprekings oor die waarde van biodiversiteit skep dalk die indruk dat ons net oor ander lewensvorme besorg moet wees solank hulle in ons behoeftes voorsien. Sommige mense voel dat sulke denke bekrompe is. Die paleontoloog Niles Eldredge vestig die aandag op die inherente waarde van lewe: “Ons waardeer ook lewe om ons—pragtige, fassinerende spesies, skitterende, ongerepte wildernisse—vir die innerlike waarde daarvan. Iets binne-in ons besef dat ons met hierdie sigbare wêreld verbind is en dat ons vrede en plesier daaruit put om by elke moontlike geleentheid daarin te wees.”

[Venster/Prente op bladsy 7]

Die Rooi Lys

Die “Rooi Lys” word uitgegee deur die Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur en Natuurlike Hulpbronne, ’n organisasie wat die stand van bedreigde spesies evalueer. ’n Paar van die bedreigde spesies wat op die “Rooi Lys” vir die jaar 2000 voorkom, verskyn op hierdie bladsy:

Grootalbatros (Diomedea exulans)

Hulle is een van 16 albatrossoorte wat wêreldwyd as bedreig beskou word. Blykbaar verdrink ’n aansienlike aantal nadat hulle per ongeluk met hoeke gevang word wat deur langlynvisserskepe gelê word.

[Erkenning]

Photo by Tony Palliser

Rooiskeenlangoer (Pygathrix nemaeus)

Hierdie mooi Asiatiese slankaap word in die suidsentrale deel van Viëtnam en dele van Laos gevind. Hulle word deur die vernietiging van habitat en jagtery bedreig. Hulle word gejag vir voedsel sowel as hulle liggaamsdele, wat as bestanddele in tradisionele medisyne gebruik word.

[Erkenning]

Aap op bladsye 7 en 32: Photo by Bill Konstant

Korsikaanse slak (Helix ceratina)

Die habitat van hierdie uiters bedreigde slak, in die voorstede van Ajaccio, aan die suidwestelike kus van Korsika, is slegs sewe hektaar groot. Sy voortbestaan word deur ontwikkeling bedreig, wat die bou van ’n lughawe en toegangspaaie na die strand insluit.

[Erkenning]

Photo by G. Falkner

Goue mimetes (Mimetes chrysanthus)

Hierdie pragtige blom is in 1987 in die Wes-Kaap ontdek. Baie veldbrande en uitheemse indringerspesies in die goue mimetes se habitat hou ’n voortdurende gevaar vir hierdie plant in.

[Erkenning]

Photo by Craig Hilton-Taylor

Kleintandsaagvis (Pristis microdon)

Hierdie bedreigde vis word aangetref in die Indiese en westelike Stille Oseaan, sowel as in aangrensende baaie, riviermondings en riviere. Hulle word baie maklik gevang, en hulle getalle het skerp afgeneem. Hulle word ook deur die vernietiging en agteruitgang van hulle habitat bedreig.

[Erkenning]

Photo courtesy of Sun International Resorts, Inc.

[Venster/Prent op bladsy 8]

Seelewe word vernietig

Die rykdom van die oseane, wat eens as onuitputlik beskou is, is beperk. Die paleontoloog Niles Eldredge het in die tydskrif Natural History die omvang van die oorbenutting van die oseane soos volg beskryf: “Die moderne tegnologie het mariene visvangs so doeltreffend gemaak dat uitgestrekte dele van die oseaanvloer kaal gestroop word in ’n proses wat vergelyk kan word met ontbossing op land. Maar hierdie einste tegnologie is uiters verkwistend; seeskilpaaie en robbe, saam met talle onbemarkbare soorte vis en ongewerwelde diere, gaan dood met elke net wat opgetrek word of treiler wat verbyvaar.”

Die tydskrif National Geographic het in ’n kommentaar oor wat hulle “die vernietigende spoor van garnalevangs” genoem het, verduidelik dat “’n dosyn pond seelewe—waarvan talle jong visse is—langs die Golfkus [van Texas, VSA] moontlik in die slag bly vir ongeveer ’n enkele pond garnale”. Hierdie ongewenste vis en skulpdiere word byvangs genoem. ’n Federale bioloog het die situasie betreur en gesê: “Die gemiddelde verhouding van byvangs is ongeveer vier tot een.” Geen wonder ons oseane het die slagvelde van talle bedreigde spesies geword nie!

[Venster/Prent op bladsy 9]

Die onontdekte lewe in die woude

Die woude van ons planeet wemel van lewe en is ook die tuiste van spesies wat nog deur die mens ontdek moet word. Die ekologiese wetenskaplike John Harte het gesê: “Tropiese reënwoude beslaan minder as twee persent van die planeet en is nogtans die enigste tuiste van ten minste 50 persent en moontlik tot 90 persent van alle spesies op aarde. Die hoër skatting is gebaseer op die veronderstelling dat ’n groot deel van die spesies wat nog ontdek moet word, in tropiese gebiede sal wees omdat die biologiese verkenning van die trope so gefragmenteerd is. Maar ander habitats is ook nie deeglik verken nie en bevat ongetwyfeld baie spesies wat vandag onbekend vir die wetenskap is. Dit sluit die grondsoorte van gematigde woude in, soos die vogtige ou woude in die Pasifiese Noordweste van die Verenigde State.”

Wie weet watter verrassings op die mens wag as hy ooit die geleentheid sou kry om die onontdekte lewe in die woude te verken?

[Prent op bladsy 5]

Die trekduif, nou uitgestorwe

[Erkenning]

U.S. Fish & Wildlife Service, Washington, D.C./Luther C. Goldman

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel