Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 9/22 bl. 26-27
  • Tinnitus—’n geraas waarmee jy moet saamleef?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Tinnitus—’n geraas waarmee jy moet saamleef?
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waardeur word die kwaal veroorsaak?
  • Hoe word dit behandel?
  • Hoe om met die kwaal saam te leef
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1997
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1992
  • Beskerm jou gehoor!
    Ontwaak!—2002
  • Geraas—Wat jy daaromtrent kan doen
    Ontwaak!—1997
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 9/22 bl. 26-27

Tinnitus—’n geraas waarmee jy moet saamleef?

BEETHOVEN, die Duitse skrywer Goethe en die Italiaanse beeldhouer Michelangelo—hulle almal het dit dalk gehad. Die eertydse Egiptenare was miskien ook daarvan bewus en het die kwaal blykbaar “’n betowerde oor” genoem. Vandag word dit tinnitus genoem, en ’n geraamde 15 persent van die Westerse wêreld se bevolking ly dikwels of permanent daaraan. Ongeveer 5 mense uit 1000 word erg daardeur geteister.

Wat is hierdie hinderlike kwaal presies? Die woord “tinnitus” kom van die Latynse tinnire, “om te klingel”, en word beskryf as ’n “geluid in die ore wat nie deur enige eksterne prikkeling veroorsaak word nie”. Volgens The Merck Manual of Diagnosis and Therapy kan dit soos ’n “gegons, gesuis, gedreun, gefluit of gesis klink of kan dit ingewikkelder geluide insluit wat met die tyd wissel. Dit kan onderbroke, aaneenlopend of kloppend wees.” Die geluidsterkte van hierdie geraas kan wissel van ’n skaars hoorbare tot ’n irriterend harde geluid. En dit is ’n geluid wat lyers nie kan afskakel nie. Die onophoudelike geraas kan dus ’n magdom newe-effekte veroorsaak: ontsteltenis, slaapprobleme, pyn, moeite met konsentrasie, moegheid, kommunikasieprobleme en terneergedruktheid.

Waardeur word die kwaal veroorsaak?

Wanneer iemand aan tinnitus begin ly, wonder hy dalk angstig wat verkeerd geloop het. Hy is moontlik bevrees dat hy breinbloeding het, aan ’n geestesiekte ly of ’n gewas het. Gelukkig word tinnitus selde deur ’n ernstige kwaal veroorsaak. Sommige het tinnitus ná ’n kopbesering ontwikkel. En professor Alf Axelsson, van Gotenburg, Swede, ’n navorser en deskundige op die gebied van tinnitus, het vir Ontwaak! gesê: “Party geneesmiddels, soos groot dosisse aspirien, kan tinnitus as ’n tydelike newe-effek tot gevolg hê.”

Maar oor die algemeen is tinnitus die gevolg van ’n oorkwaal. Professor Axelsson het verduidelik: “Die probleem is gewoonlik in die deel van die binneoor wat die koglea genoem word, met sy sowat 15 000 mikroskopiese, sensoriese haarselle. As party van hulle beskadig is, kan hulle ’n ongebalanseerde stroom senuprikkels uitstuur en ontvang. Dit word deur die lyer as geraas waargeneem.”

Wat is die oorsaak van hierdie skade aan die oor? Volgens professor Axelsson is een oorsaak van tinnitus blootstelling aan harde geluide. Diegene wat stereo-oorfone dra, benadeel hulleself dikwels deur byvoorbeeld hulle musiek op hoë desibelvlakke te speel. Tinnitus is een moontlike gevolg.

Dit is natuurlik goed om Richard Hallam se opmerking in sy boek Living With Tinnitus in gedagte te hou: “Die liggaam is nie ’n plek wat heeltemal stil is nie, en daarom is ’n sekere mate van ‘tinnitus’ normaal. Geluide word veroorsaak deur die meganiese beweging van spiere, bene, bloed en lug. . . . Daar word gemeen dat hierdie agtergrondgeluide onder normale omstandighede gedemp word deur die harder geluide in die omgewing—hulle word eenvoudig nie gehoor nie.” Wanneer jy hierdie artikel lees, maak dit jou miskien bewuster van daardie agtergrondgeluide. Maar hulle is vir die meeste mense nie ’n probleem nie.

Hoe word dit behandel?

Sê nou jy word erg deur hierdie kwaal geteister? Dan moet jy eerstens jou dokter raadpleeg. Hy sal jou help vasstel of die kwaal wat tot jou simptome aanleiding gee, behandel kan word. Ongelukkig is daar in die meeste gevalle geen genesing vir die geraas nie. Maar daar is ’n aantal dinge wat gedoen kan word om jou te help om dit te verdra:

▪ ’n Operasie: Die brosjure Tinnitus, wat deur Die Britse Vereniging vir Tinnitus uitgegee word, sê: “Soms word tinnitus deur ’n steurnis in die middeloor veroorsaak, en nou en dan deur ’n onreëlmatigheid in bloedvate of spiere in of naby die oor. In hierdie baie seldsame gevalle is daar ’n moontlikheid om tinnitus heeltemal te genees deur ’n operasie.”

▪ Medikasie: As ’n lyer moeilik slaap of angstig, gespanne of neerslagtig is, kan ’n dokter kalmeermiddels of gemoedsopheffers voorskryf om hierdie simptome te verlig.

▪ Gehoortoestelle en “vermommers”: As jy effens hardhorend is, kan ’n gehoortoestel jou baie help. Daar is ook ’n toestel wat ’n vermommer genoem word, en dit lyk soos ’n gehoortoestel. Dit bring ’n agtergrondgeluid voort om die tinnitusgeluide te vermom. Soms kan dieselfde uitwerking egter verkry word deur bloot die radio te laat speel of ’n waaier aan te skakel.

▪ Ander behandelingsmetodes: Professor Axelsson het vir Ontwaak! gesê: “Hiperbariese suurstofterapie kan party pasiënte help. Dit behels dat die lyer in ’n drukkamer geplaas word, waar hy aan suiwer suurstof blootgestel word. Dit kan die genesing van die binneoor bevorder.” En aangesien dit lyk asof die simptome van tinnitus by sommige pasiënte vererger wanneer hulle gespanne of angstig is, het party dokters verskeie ontspanningsterapieë aanbeveel.a Maar dit kan ook help om te leer ontspan en om fisiese sowel as verstandelike druk soveel moontlik te vermy.

Hoe om met die kwaal saam te leef

Daar is tot nog toe geen werklike genesing vir tinnitus in die vooruitsig nie. Tinnitus is dus ’n geraas waarmee jy moontlik moet leer saamleef. Die boek Living With Tinnitus sê: “Ek en my kollegas is nou daarvan oortuig dat die normale reaksie op tinnitus die geleidelike ontwikkeling van verdraagsaamheid is.”

Ja, jy kan jou brein leer om die geluid te ignoreer, om dit as iets te beskou waaraan jy jou nie moet steur nie. Woon jy in ’n lawaaierige buurt? Of gebruik jy ’n waaier of ’n lugversorger? In die begin het daardie geluide jou miskien geïrriteer, maar ná ’n rukkie het jy hulle eenvoudig geïgnoreer. Trouens, jy het dalk selfs geleer om ondanks daardie geluide te slaap! Net so kan jy leer om jou nie te veel aan jou tinnitus te steur nie.

Tinnitus is een van baie kwale wat verduur moet word totdat God se komende nuwe wêreld aanbreek, waarin “geen inwoner sal sê: Ek is siek nie” (Jesaja 33:24). Intussen kan tinnitus ’n frustrerende probleem wees, maar dit hoef nie jou lewe te bederf of te oorheers nie. Wees verseker dat dit ’n geraas is waarmee jy kan saamleef!

[Voetnoot]

a ’n Christen sal hom daarvan wil vergewis dat sulke terapieë nie Bybelbeginsels skend nie. Sien byvoorbeeld die artikels oor outogeniese oefening in die Ontwaak! van 22 Junie 1984.

[Prent op bladsy 26]

’n Ondersoek deur ’n gekwalifiseerde geneesheer kan die eerste stap wees om te leer om met tinnitus saam te leef

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel