Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g03 2/22 bl. 5-9
  • Diepgewortelde oorsake, verreikende gevolge

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Diepgewortelde oorsake, verreikende gevolge
  • Ontwaak!—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat is die oorsake van wanvoeding?
  • Verreikende gevolge
  • Diepgewortelde oorsake
  • Behandeling en voorkoming
  • ’n Reusetragedie
    Ontwaak!—2003
  • Hoe voedsaam is jou voedsel?
    Ontwaak!—1995
  • Kinders in ’n krisis
    Ontwaak!—1992
  • Hoe heilsame voedsel jou gesondheid kan verbeter
    Ontwaak!—1995
Sien nog
Ontwaak!—2003
g03 2/22 bl. 5-9

Diepgewortelde oorsake, verreikende gevolge

“Ek was honger en julle het ’n komitee gevorm om my gebrek aan kos te ondersoek. Ek was dakloos en julle het ’n verslag opgestel oor my situasie. Ek was siek en julle het ’n seminaar gehou oor die toestand van die minderbevoorregtes. Julle het al die aspekte van my situasie ondersoek en tog is ek nog steeds honger, dakloos en siek.”—Skrywer onbekend.

HOEWEL internasionale agentskappe al talle pogings aangewend het om wanvoeding te beëindig, het dit nie aan die verwagtinge voldoen nie. In 1996 het die Wêreldvoedselspitsberaad van die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-Organisasie (VLO) dit as ’n doelwit gestel om die aantal ondervoede mense in die wêreld teen die jaar 2015 met die helfte—ongeveer 400 miljoen mense—te verminder.a

Dit is prysenswaardig dat vordering al gemaak is. Maar die VLO se onlangse verslag, The State of Food Insecurity in the World 2001, het ongelukkig erken: “Dit is duidelik dat ondervoeding in die wêreld nou stadiger afneem as in die verlede.” Dit lyk dus of die doelwit van die spitsberaad nog buite bereik is. Trouens, die verslag erken dat “die aantal ondervoede mense in die meeste ontwikkelende lande aansienlik toegeneem het”.

Waarom is dit so moeilik om hierdie stryd te wen? Om ’n antwoord hierop te vind, sal ons eers wanvoeding definieer en dan die verreikende gevolge en die diepgewortelde oorsake daarvan ondersoek.

Wat is die oorsake van wanvoeding?

Wanvoeding word veroorsaak wanneer die liggaamselle nie genoeg voedingstowwe inneem nie, en twee faktore gee gewoonlik daartoe aanleiding: (1) ’n onvoldoende inname van proteïene, kilojoules, vitamiene en minerale en (2) herhaalde infeksies.

Siektes soos diarree, masels, malaria en asemhalingsiektes put die liggaam uit en veroorsaak ’n verlies aan voedingstowwe. Dit verminder eetlus en voedselinname, wat tot wanvoeding bydra. Aan die ander kant is die ondervoede kind vatbaarder vir infeksies. Op hierdie manier ontstaan ’n wrede kringloop wat die sterftesyfer weens proteïen-energietekort (PEM) verhoog.

Waarom loop kinders groter gevaar om aan wanvoeding te ly? Hulle is in ’n fase van vinnige fisiese ontwikkeling wat beteken dat hulle meer kilojoules en proteïene nodig het. Swanger en sogende vroue is om soortgelyke redes vatbaar vir wanvoeding.

Dikwels begin die baba se probleem selfs voor geboorte. As ’n moeder voor en gedurende swangerskap aan ondervoeding of wanvoeding ly, sal die baba by geboorte min weeg. As die baba vroeg gespeen word, nie behoorlik gevoed word nie en aan onhigiëniese toestande blootgestel word, kan dit tot wanvoeding lei.

’n Tekort aan die nodige voedingstowwe veroorsaak dat die kind nie meer behoorlik groei en ontwikkel nie. Hy huil baie en is vatbaar vir siektes. Namate die toestand versleg, vererger die gewigsverlies, die oë en fontanel (die sagte plekkie bo-op die kop) sink in, die vel en weefsel verloor elastisiteit en die vermoë om die liggaamstemperatuur te handhaaf, neem af.

Ondervoeding kan ander vorme aanneem. Dit kan ook die fisiese ontwikkeling van kinders vertraag. Byvoorbeeld, die onvoldoende inname van minerale—hoofsaaklik yster, jodium en sink—en van vitamiene—veral vitamien A—kan daartoe lei. Die Verenigde Nasies-kinderfonds (UNICEF) sê dat ongeveer 100 miljoen klein kinders in die wêreld ’n vitamien A-tekort het, wat blindheid veroorsaak. Dit verswak ook die immuunstelsel, wat die kind se weerstand teen infeksies laat afneem.

Verreikende gevolge

Wanvoeding rig groot skade in die liggaam aan, veral by kinders. Elke liggaamsorgaan en -stelsel—insluitende die hart, niere, maag, ingewande, longe en brein—kan aangetas word.

Verskillende studies het getoon dat daar ’n verband is tussen die belemmerde fisiese ontwikkeling van ’n kind en vertraagde verstandelike ontwikkeling asook swak prestasie op skool en intellektuele gebied. ’n Verslag van die Verenigde Nasies noem dit “die ernstigste langtermyngevolg van wanvoeding.

As kinders wanvoeding oorleef, kan hulle selfs wanneer hulle volwasse is, die nadraai daarvan ondervind. Dit is waarom UNICEF gesê het: “Hierdie grootskaalse afname van menslike intelligensie—vir redes wat byna heeltemal voorkombaar is—is ’n skandelike, selfs kriminele, verlies.” Die langtermyngevolge van wanvoeding is dus baie kommerwekkend. Onlangse navorsing verbind ondervoeding tydens die kinderjare aan ’n vatbaarheid vir chroniese siektes by volwassenes soos hartsiekte, suikersiekte en hoë bloeddruk.

Maar ernstige wanvoeding is nie die grootste probleem nie, soos UNICEF erken: “Meer as driekwart van al [die] wanvoedingsverwante sterftes hou nie verband met ernstige wanvoeding nie, maar met ligte en matige vorme daarvan.” (Ons kursiveer.) Kinders wat aan ligte of matige wanvoeding ly, loop groot gevaar om op die langtermyn gesondheidsprobleme te hê. Dit is derhalwe noodsaaklik dat die simptome van ondervoeding by kinders geïdentifiseer word sodat hulle behoorlike behandeling kan kry.—Sien die venster op bladsy 7.

Diepgewortelde oorsake

Soos vroeër gesê is, is die hoofoorsaak van wanvoeding ’n gebrek aan kos. Maar daar is dieperliggende maatskaplike, ekonomiese, kulturele en omgewingsoorsake. Die vernaamste hiervan is armoede, wat miljoene mense raak, veral in ontwikkelende lande. Maar behalwe dat armoede ’n oorsaak is, is dit ook ’n gevolg, aangesien ondervoeding mense minder produktief en dus armer maak.

Daar is ander bydraende faktore. Gebrekkige kennis lei tot swak eetgewoontes. Infeksies, soos ons gesien het, speel ’n rol. Daar is ook maatskaplike en kulturele oorsake, soos die oneweredige verspreiding van kos en diskriminasie teen vroue. Vroue eet dikwels “laaste en die minste”—met ander woorde ná mans en minder as mans. Vroue word ook opvoedkundige geleenthede ontsê wat hulle sou help om beter na hulle kinders om te sien.

Verder veroorsaak omgewingsfaktore ’n afname in voedselproduksie. Dit sluit natuurrampe en oorloë in. Net tussen Oktober 1999 en Junie 2001, sê The State of Food Insecurity in the World 2001, is 22 lande deur droogte geteister, 17 deur orkane of oorstromings, 14 deur burgeroorloë of -konflikte, 3 deur uiters koue winter en 2 deur aardbewings.

Behandeling en voorkoming

Hoe kan ’n kind vir wanvoeding behandel word? As die kind aan ernstige ondervoeding ly, sal dit dalk goed wees dat hy hospitaal toe geneem word vir die aanvanklike behandeling. Volgens ’n handleiding vir geneeshere wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie gepubliseer is, sal die dokters die kind se toestand evalueer en enige infeksies of dehidrasie behandel. Voeding kan geleidelik begin, dikwels eers met ’n buis. Hierdie eerste fase kan tot ’n week duur.

Dit word gevolg deur ’n rehabilitasiefase. Die kind begin weer moedersmelk drink en word gehelp om soveel as moontlik te eet. Emosionele en fisiese stimulasie is belangrik gedurende hierdie fase. Goeie sorg en liefde kan ongelooflik baie doen vir die kind se ontwikkeling. Op hierdie stadium kan die moeder geleer word om vir haar kind te sorg deur ’n behoorlike dieet te voorsien en goeie higiëne toe te pas, wat ’n terugslag sal voorkom. Dan word die kind uit die hospitaal ontslaan. Dit is belangrik dat die kind vir opvolgbesoeke na die hospitaal of kliniek geneem word.

Maar voorkoming is beslis die beste. Dit is waarom regerings en privaatorganisasies in baie lande begin het met voedselaanvullingsprogramme of programme om voedsel vir algemene gebruik te verryk. Gemeenskappe dra ook op baie maniere by tot die voorkoming van wanvoeding, soos deur dieetkundige opleidingsprogramme te voorsien, drinkwater te beskerm, toilette te bou, die omgewing skoon te hou, inentingsveldtogte te borg en toesig te hou oor die groei en ontwikkeling van kinders.

Maar wat kan individue doen om wanvoeding te voorkom? Die venster op bladsy 8 het ’n paar nuttige wenke. Verder beveel die kindervoedingkundige Georgina Toussaint aan dat die moeder haar kinderarts of gesondheidskliniek weer besoek sewe dae ná die geboorte van haar kind, wanneer die baba ’n maand oud is en elke maand daarna. Die moeder moet ook professionele gesondheidsorg probeer kry as die baba simptome van dehidrasie, ernstige diarree of koors het.

Hoewel hierdie wenke nuttig is om kinders se dieet te verbeter, is wanvoeding nog steeds ’n groot probleem—so groot dat mense dit nie kan oplos nie. Die Encyclopædia Britannica erken: “Die verskaffing van genoeg kos en dieetkundige opleiding aan alle mense bly egter ’n kritieke probleem.” Is daar dus hoop dat hierdie “stille noodtoestand” ooit sal eindig?

[Voetnoot]

a Sien die Ontwaak! van 8 Augustus 1997, bladsye 12-14, vir meer inligting oor die Wêreldvoedselspitsberaad.

[Venster op bladsy 7]

LY JOU KIND AAN WANVOEDING?

Hoe bepaal gesondheidsorgwerkers of ’n kind ondervoed is? Hulle sal dalk verskillende tekens en simptome ontleed, vrae oor sy eetgewoontes vra en laboratoriumtoetse laat doen. Maar hulle laat hulle meestal deur redelik eenvoudige mates lei. Hulle meet die kind se liggaam en vergelyk die syfers met sekere standaardmates. Dit help hulle om te bepaal aan watter soort wanvoeding ’n kind ly en hoe ernstig dit is.

Die belangrikste aanduidings is gewig, lengte en die omtrek van die arm. ’n Vergelyking van die gewig en die ouderdom dui die graad van die ondervoeding aan; as dit ernstig is, is die kind uitgeteer en baie maer. Die graad van die siekte word as ernstig beskou as die kind se gewig meer as 40 persent onder normaal is, matig as dit 25 tot 40 persent onder normaal is en gering as dit 10 tot 25 persent onder normaal is. As die lengte:ouderdom-verhouding ver onder die gemiddelde is, kan dit dui op chroniese ondervoeding—die kind se groei is belemmer.

Die ernstigste vorme van proteïen-energietekort (PEM) is marasmus en kwasjiorkor, en ’n kombinasie van die twee. Marasmus (progressiewe uittering) kom voor by sogende babas tussen 6 en 18 maande. Dit begin stadig in die vorm van ’n chroniese tekort aan kilojoules en voedingstowwe en ontwikkel as gevolg van onvoldoende borsvoeding of die gebruik van uiters verdunde plaasvervangers vir moedersmelk. Die baba verloor baie gewig, die spiere is so dun dat die vel aan die bene vaskleef en die groei is belemmer. Die baba het ook “’n oumensgesig”, is neulerig en huil baie.

Die term kwasjiorkor, wat van ’n Afrikadialek kom, beteken “kind wat verdring” is. Dit verwys na wat gebeur wanneer ’n kind deur ’n nuwe baba vervang word by die ma se bors. Hierdie toestand kom voor nadat die kind gespeen is, en hoewel dit ’n tekort aan kilojoules insluit, ontwikkel dit weens ’n ernstige tekort aan proteïene. Dit veroorsaak ’n ophoping van vloeistof in die liggaam, wat die kind se hande en voete sowel as sy maag geswolle laat lyk. Soms tas dit ook die gesig aan, wat dit soos ’n volmaan laat lyk. Velletsels verskyn en die kleur en tekstuur van die hare verander. Kinders met hierdie toestand se lewer swel en hulle is lusteloos en neerslagtig. Dit is wat met Erik gebeur het wat vroeër genoem is. Sy ma het hom net vir die eerste maand van sy lewe geborsvoed; toe het sy vir hom baie verdunde beesmelk gegee. Toe hy drie maande oud was, is hy groentesop en suikerwater gegee en in die sorg van ’n buurvrou gelaat.

Die derde soort PEM sluit simptome van marasmus sowel as kwasjiorkor in. Al hierdie toestande is noodlottig as dit nie betyds behandel word nie.

[Venster/Prent op bladsy 8]

BESKERM JOU KIND TEEN WANVOEDING!

◼ Dit is noodsaaklik om die dieet van die moeder te verbeter. Swanger en sogende vroue moet meer kilojoules en proteïene inneem. Veral proteïene help in die produksie van moedersmelk. As daar ’n tekort aan kos is, moet daar dus voorkeur gegee word aan vroue van vrugbare leeftyd en aan klein kinders.

◼ In omtrent alle gevalle is die beste kos vir ’n baba sy ma se melk. Dit is veral so gedurende die eerste dae ná geboorte, aangesien moedersmelk teenliggaampies bevat wat die baba teen infeksie beskerm. Gedurende ongeveer die eerste vier maande voorsien borsmelk al die voedingstowwe wat die baba nodig het om behoorlik te groei en te ontwikkel.

◼ Hoewel moedersmelk tussen die vierde en sesde maand nog die belangrikste deel van die baba se dieet uitmaak, is hy dan gereed vir ander kossoorte. Fyngemaakte vrugte en groente kan geleidelik by die dieet gevoeg word. Voeg een nuwe kossoort op ’n slag by. Gee die baba twee of drie dae om daaraan gewoond te raak voordat jy hom nog een laat proe. Natuurlik is geduld en baie probeerslae dikwels nodig voordat die baba ’n nuwe kossoort sal begin eet. Wanneer jy sulke kos voorberei, moet jy onthou dat alles absoluut silwerskoon moet wees! Was kos en kombuisgerei behoorlik!

◼ Tussen die vyfde en negende maand begin babas gewoonlik meer kilojoules en proteïene nodig hê as wat melk kan gee. Voeg voortdurend ander kossoorte by die dieet. Graankos en groentepurees vir babas kom gewoonlik eerste, dan vleis en suiwelprodukte. Die kos word aanvanklik fyngedruk tot ’n puree, maar van die sesde maand af kan dit fyngekap word. Dit is nie nodig of wenslik om sout en suiker by te voeg nie.

◼ Ná agt maande is moedersmelk nie meer die vernaamste deel van die baba se dieet nie, maar slegs ’n aanvullende deel daarvan. Die baba begin dieselfde kos as die res van die gesin eet. Die kos moet baie skoon gehou word, en dit moet fyngekap wees sodat dit makliker is om te kou. Die ideale dieet sluit vrugte en groente, graankosse en peulgroente sowel as vleis en suiwelprodukte in.b Kinders het veral kos nodig wat ryk is aan vitamien A. ’n Paar voorbeelde is borsmelk, donkergroen blaargroente en oranje of geel vrugte en groente soos mango’s, wortels en papajas. Kinders onder drie moet vyf of ses keer per dag eet.

◼ Die groots moontlike verskeidenheid kossoorte in verskillende kombinasies voorsien voedingstowwe wat jou baba beskerm. Die moeder moet probeer om die kind gesonde kos te gee en hom nie dwing om te eet as hy versadig is nie en ook nie kos van die kind weerhou as dit lyk of hy nog wil hê nie.

[Voetnoot]

b Jy sal nog inligting in die artikel “Voedsame kos binne jou bereik” in die Ontwaak! van 8 Mei 2002 vind.

[Prent]

Deskundiges stem saam dat moedersmelk amper altyd die beste kos vir ’n pasgebore baba is

[Erkenning]

© Caroline Penn/Panos Pictures

[Prent op bladsy 7]

Kinders wat stampkoring en groente by ’n skool in Boetan eet

[Erkenning]

FAO photo/WFP photo: F. Mattioli

[Prent op bladsy 9]

Jy kan stappe neem om jou kind se dieet te verbeter

[Erkenning]

FAO photo

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel