Pogings om die kinders te red
“Ons het hier by die Wêreldspitsberaad vir Kinders byeengekom om ’n gesamentlike ooreenkoms aan te gaan en om ’n dringende, universele beroep op die mensdom te doen—om elke kind ’n beter toekoms te gee.”—Verenigde Nasies se Konferensie, 1990.
PRESIDENTE en eerste ministers uit meer as 70 lande het op 29 en 30 September 1990 in New York-stad byeengekom om die treurige toestand van die wêreld se kinders te bespreek.
Die konferensie het internasionale aandag gevestig op die betreurenswaardige lyding van kinders, ’n wêreldtragedie wat onder die tapyt probeer verberg is. Die Verenigde State se afgevaardigde, Peter Teeley, het gesê: “Indien daar elke dag 40 000 gevlekte uile doodgegaan het, sou mense woedend wees. Maar 40 000 kinders sterf, en dit word skaars opgemerk.”
Al die regeringshoofde by die spitsberaad het saamgestem dat iets gedoen moet word—en gou ook. Hulle het ’n “plegtige ooreenkoms aangegaan om prioriteit te gee aan die regte van kinders, aan hulle oorlewing en aan hulle beskerming en ontwikkeling”. Watter konkrete voorstelle het hulle aan die hand gedoen?
Meer as 50 miljoen jong lewens hang in die weegskaal
Die hoofdoel is om meer as 50 miljoen kinders te red wat waarskynlik gedurende die negentigerjare sal sterf. Baie van hierdie jong lewens kan gered word deur die volgende gesondheidsmaatreëls toe te pas.
• As alle moeders in ontwikkelende lande oortuig kon word om hulle babas ten minste vier tot ses maande lank te borsvoed, sou ’n miljoen kinders jaarliks gered word.
• Die grootskaalse gebruik van mondelikse rehidrasieterapie (MRT) kan die sterftesyfer weens diarree, wat jaarliks tot die dood van viermiljoen kinders lei, halveer.a
• Wêreldwye inenting en die gebruik van goedkoop antibiotika kan miljoene ander sterfgevalle voorkom wat te wyte is aan siektes soos masels, tetanus en longontsteking.
Is hierdie soort gesondheidsprogram uitvoerbaar? Die koste daaraan verbonde sal teen die einde van die dekade moontlik $2,5 miljard (R8,3 miljard) per jaar beloop. Dit is maar min in vergelyking met wat die wêreld aan ander dinge bestee. Amerikaanse tabakmaatskappye bestee jaarliks daardie bedrag—aan sigaretadvertensies alleen. Die nasies van die wêreld verspil daagliks daardie selfde bedrag aan krygsbesteding. Kon sulke fondse eerder aan die gesondheid van kinders bestee word wat in lewensgevaar verkeer? Die Verenigde Nasies se Verklaring van die Regte van die Kind sê pertinent dat “die mensdom die beste wat hy kan gee aan die kind verskuldig is”.
Om “elke kind ’n beter toekoms” te gee, behels natuurlik baie meer as om hulle net van ’n vroeë dood te red. Sandra Huffman, president van die Sentrum vir die Voorkoming van Kinderondervoeding, verduidelik in die tydskrif Time dat “MRT nie diarree voorkom nie, dit voorkom net dat kinders daaraan sterf. . . . Wat ons nou te doen staan”, voeg sy by, “is om ons toe te spits op hoe ons die siekte, nie net die sterfgevalle nie, kan voorkom.”
Verskeie ambisieuse programme is al van stapel gestuur en hulle oogmerk is om die lewe van miljoene kinders te verbeter—en ook te red. (Sien die venster op bladsy 6.) Nie een van hierdie oogmerke sal maklik uitvoerbaar wees nie.
Skoon water binne loopafstand
Felicia Onu het gewoonlik elke dag vyf uur daaraan bestee om water vir haar gesin te gaan haal. Die water wat sy huis toe gedra het, was dikwels besmet. (Sulke water is die oorsaak van ’n jaarlikse plaag van die guinee-wurmbesmetting en dra tot die uitbreek van diarree by.) Maar in 1984 is daar in haar dorpie, Ugwulangwu in Oos-Nigerië, ’n put gegrawe en ’n handpomp aangebring.
Nou hoef sy net ’n paar honderd meter te loop om skoon water te kry. Haar kinders is gesonder en haar lewe is baie makliker. Gedurende die tagtigerjare het meer as ’n miljard mense soos Felicia toegang tot skoon water verkry. Maar miljoene vroue en kinders dra steeds elke dag baie ure lank swaar aan emmers wat minder water bevat as die hoeveelheid wat sommerso deur ’n gewone Westerse toilet weggespoel word.
Die positiewe en negatiewe sy van opvoeding
Maximino is ’n intelligente 11-jarige seun wat in ’n afgeleë gebied van Colombia woon. Ondanks die feit dat hy sy pa etlike ure per dag met die versorging van hulle gesaaides help, vaar hy goed op skool. Hy gaan na ’n Escuela Nueva, of Nuwe Skool, wat ’n aanpasbare program het waardeur kinders gehelp word om werk in te haal as hulle ’n paar dae lank nie by die skool was nie—iets wat algemeen gebeur, veral gedurende die oestyd. Daar is ’n tekort aan onderwysers in Maximino se skool. Handboeke is skaars. Die kinders word aangemoedig om mekaar te help as hulle iets nie verstaan nie, en hulle doen self die meeste van die werk om die skool aan die gang te hou. Hierdie nuwe stelsel—wat spesiaal daarop toegespits is om in die behoeftes van die arm, plattelandse gemeenskappe te voorsien—word in baie ander lande op die proef gestel.
Duisende kilometer van Colombia af, in ’n groot Asiatiese stad, woon ’n ander intelligente 11-jarige met die naam Melinda. Sy het onlangs die skool verlaat om 12 uur per dag stukkies metaal en plastiek op een van die stad se groot vullishope bymekaar te maak. “Ek wil my pa graag help sodat ons elke dag iets kan hê om te eet”, sê Melinda. “As ek hom nie help nie, sou ons dit miskien glad nie kon bekostig om te eet nie.” Selfs op ’n goeie dag bring sy maar net sowat R1,15 huis toe.
Kinders wat gesondheidswerkers is
Aan die buitewyke van die Indiese stad Bombaai is ’n plakkersdorp met die naam Malvani, waar siekte al lank endemies is. Eindelik is dinge besig om deur die toedoen van energieke gesondheidswerkers soos Neetu en Aziz te verbeter. Hulle besoek gesinne om vas te stel of die jong kinders al ingeënt is en of hulle aan diarree, jeuksiekte of bloedarmoede ly. Neetu en Aziz is maar net 11 jaar oud. Hulle het hulle vrywillig aangebied om deel te neem aan ’n program waar ouer kinders die gesondheid van kinders onder vyf kontroleer. Vanweë die pogings van Neetu en Aziz—en die pogings van baie ander kinders soos hulle—is bykans al die jong kinders van Malvani al geïmmuniseer, weet die meeste ouers hoe om mondelikse rehidrasieterapie toe te dien en het die algemene gesondheid verbeter.
Regoor die wêreld word ontsaglike stappe gedoen om jong kinders teen die algemeenste siektes in te ent. (Sien die tabel op bladsy 8.) Meer as 70 persent van die babas in Bangladesh is nou al geïmmuniseer en in China is meer as 95 persent geïmmuniseer. As elke ontwikkelende land die kerf van 90 persent kan bereik, sal die resultaat volgens gesondheidsdeskundiges ’n kollektiewe immuniteit wees. Wanneer die oorgrote meerderheid geïmmuniseer is, is die siekte baie moeiliker oordraagbaar.
Armoede, oorlog en vigs
Hoewel daar vooruitgang op die gebied van gesondheidsorg en opvoeding gemaak is, is die droewige werklikheid nietemin dat ander probleme steeds net so diepgewortel as ooit tevore is. Drie van die hardnekkigste probleme is armoede, oorlog en vigs.
Gedurende onlangse jare het die arm mense van die wêreld armer geword. Die werklike inkomste in verarmde gebiede van Afrika en Latyns-Amerika het gedurende die afgelope dekade met 10 persent of meer gedaal. Ouers in hierdie lande—waar 75 persent van die gesin se inkomste aan kos bestee word—kan dit net nie bekostig om hulle kinders ’n gebalanseerde dieet te gee nie.
‘Gee die kinders groente en piesangs’, het Grace by haar plaaslike gesondheidskliniek gehoor. Maar Grace, ’n ma van tien kinders, wat in Oos-Afrika woon, het nie geld vir kos nie en daar is nie genoeg water om daardie gewasse op die gesin se stukkie grond van 0,1 hektaar te kweek nie. Hulle het geen ander keuse as om van mielies en bone te leef of soms honger te bly nie. Indien dinge so voortgaan, is dit onwaarskynlik dat vooruitsigte vir Grace se gesin of miljoene ander gesinne soos hare sal verbeter.
Grace se kinders, al is hulle arm, vaar beter as die agtjarige Kim Seng van Suidoos-Asië, wie se pa in ’n broederoorlog omgekom het en wie se ma daarna ’n hongerdood gesterf het. Kim Seng, wat ook byna van ondervoeding gesterf het, het uiteindelik veiligheid in ’n vlugtelingkamp gevind. Baie van die vyfmiljoen kinders wat hulle onder haglike omstandighede in vlugtelingkampe oor die wêreld bevind, het soortgelyke ontberinge verduur.
By die eeuwisseling was net 5 persent van die oorlogslagoffers burgerlikes. Nou het daardie syfer tot 80 persent gestyg, en die meerderheid van hierdie oorlogslagoffers is vroue of kinders. Diegene wat dalk nie fisies beseer word nie, ly nogtans emosioneel. “Ek kan nie vergeet hoe my ma doodgemaak is nie”, sê een kindervlugteling van ’n land in Suidsentraal-Afrika. “Hulle het my ma gegryp en slegte dinge aan haar gedoen. Daarna het hulle haar vasgebind en haar gesteek. . . . Soms droom ek daarvan.”
Namate gewelddadige konflikte in die een land na die ander bly uitbreek, lyk dit asof dit onvermydelik is dat onskuldige kinders steeds weens die verwoestende gevolge van oorlog gaan ly. Boonop het die internasionale spanning ook ’n nadelige uitwerking op kinders wat nie regstreeks by die konflikte betrokke is nie. Die leër verslind geld wat aan die voorsiening van beter opvoeding, sanitasie en gesondheidsorg bestee kon word. Al die nywerheidslande se krygsbesteding is meer as die gesamentlike jaarlikse inkomste van die armste helfte van die mensdom. Selfs die 46 armste lande van die wêreld bestee net soveel aan krygstuig as aan gesondheid en opvoeding saam.
Afgesien van armoede en oorlog is daar ’n ander doodsgevaar wat die kinders van die wêreld bedreig. Terwyl daar gedurende die tagtigerjare noemenswaardige vooruitgang in die stryd teen masels, tetanus en diarree gemaak is, het ’n nuwe gesondheidsnagmerrie te voorskyn gekom: vigs. Die Wêreldgesondheidsorganisasie raam dat tienmiljoen kinders teen die jaar 2000 met die virus besmet sal wees. Die meeste van hierdie kinders sal nooit hulle tweede verjaarsdag bereik nie en byna nie een van hulle sal langer as vyf jaar leef nie. Dr. Reginald Boulos, ’n Haïtiese kinderarts, sê: “Tensy iets spoedig gedoen word, dreig vigs om al die vordering uit te wis wat ons die afgelope 10 jaar met kinderoorlewing gemaak het.”
Uit hierdie kort oorsig is dit duidelik dat die doel om ‘elke kind ’n beter toekoms te gee’, ondanks sommige prysenswaardige prestasies, steeds ’n reusetaak is. Is daar enige hoop dat die droom eendag bewaarheid sal word?
[Voetnote]
a MRT voorsien kinders van die vloeistof, sout en glukose wat nodig is om die dodelike ontwateringsgevolge van diarree teë te werk. Die Wêreldgesondheidsorganisasie het in 1990 gesê dat daar jaarliks reeds meer as eenmiljoen lewens deur hierdie metode gered word. Sien die Ontwaak! van 22 September 1985, bladsye 23-5, vir meer besonderhede.
[Venster op bladsy 6]
Doelwitte vir die negentigerjare —Die uitdaging om die kinders te red
Die nasies wat die Wêreldspitsberaad vir Kinders bygewoon het, het verskeie konkrete beloftes gemaak. Die volgende is wat hulle beoog om teen die jaar 2000 te bereik.
Inenting. Die huidige inentingsprogramme red jaarliks driemiljoen kinders. Maar tweemiljoen ander kinders sterf steeds. Deur 90 persent of meer van die wêreld se kinders teen die algemeenste siektes te immuniseer, kan die meerderheid van hierdie sterfgevalle voorkom word.
Opvoeding. Gedurende die tagtigerjare het skoolinskrywings in baie van die wêreld se armste lande in werklikheid gedaal. Die doel is om daardie tendens te verander en te verseker dat elke kind teen die einde van die dekade die geleentheid sal hê om skool toe te gaan.
Ondervoeding. Amptenare van die Verenigde Nasies se Kinderfonds meen dat “met die regte beleide, . . . die wêreld nou in ’n posisie is om die hele wêreld se kinders te voed en om die ergste vorme van ondervoeding te bowe te kom”. Voorstelle is gedoen om die aantal ondervoede kinders gedurende die huidige dekade met die helfte te verminder. So ’n prestasie sou 100 miljoen kinders uit die smarte van honger red.
Skoon water en sanitasie. In 1987 het die Brundtland-verslag verduidelik: “In die ontwikkelende wêreld is die aantal nabygeleë krane ’n beter aanduiding van ’n gemeenskap se gesondheid as die aantal hospitaalbeddens.” Tans is daar meer as ’n miljard mense wat geen toegang tot skoon water het nie, en twee keer soveel het geen sanitêre rioolfasiliteite nie. Die doel is om mense op wêreldskaal toegang tot veilige drinkwater te gee en hulle van sanitêre rioolfasiliteite te voorsien.
Beskerming. Tydens die afgelope dekade was meer as vyfmiljoen kinders die slagoffers van oorloë. Vyfmiljoen ander kinders is haweloos gelaat. Hierdie vlugtelinge sowel as die miljoene straatkinders en kinderwerkers het dringend beskerming nodig. Die Konferensie vir die Regte van die Kind—wat nou deur meer as honderd lande bekragtig is—wil al hierdie kinders teen geweld en uitbuiting beskerm.
[Tabel op bladsy 7]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
VERNAAMSTE OORSAKE VAN KINDERSTERFGEVALLE
(Kinders onder vyf)
MILJOENE STERFGEVALLE ELKE JAAR (1990-skatting):
0,51 MILJOEN Kinkhoes
0,79 MILJOEN Neonatale tetanus
1,0 MILJOEN Malaria
1,52 MILJOEN Masels
2,2 MILJOEN Ander asemhalingsinfeksies
4,0 MILJOEN Diarreesiekte
4,2 MILJOEN Ander oorsake
BRON: WHO and UNICEF
[Tabel op bladsy 8]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
VORDERING MET DIE INENTING VAN KINDERS IN DIE ONTWIKKELENDE WÊRELD 1980-1988
Persentasie kinders onder 12 maande wat al ingeënt is
JARE
1980 1988
DPT3* 24% 66%
POLIO 20% 66%
TUBERKULOSE 29% 72%
MASELS 15% 59%
* DPT3: ’n Gekombineerde entstof teen WITSEERKEEL, KINKHOES en TETANUS.
BRON: WGO en UNICEF (1980-syfers sluit nie China in nie)
[Foto-erkenning op bladsy 4]
Photo: Godo-Foto