Brandhout—Is die toekoms besig om in rook op te gaan?
Deur Ontwaak!-medewerker in Nigerië
DIE son sak en omskep die Afrika-lug in ’n rooi gloed. Sampa kook rys vir haar man en hulle kinders. Sy skep water uit ’n emmer en gooi dit in ’n aluminiumpot wat swart van die rook is. Onder die pot knetter daar ’n klein vuurtjie, wat met drie dik stukke hout gestook word.
Daar naby lê nog ’n stapel hout. Sampa koop dit by die mans wat dit per vragmotor van die berge af aanry. Die hout is onontbeerlik. Sonder hout kan daar nie ’n vuur wees nie. Sonder ’n vuur kan jy nie rys kook nie.
Sampa se oudste seun sê: “Wanneer ons nie hout het nie, eet ons nie.” Hy beduie na die rykes se huise op die bult. “In daardie huise is daar elektrisiteit. Daar is stowe wat met elektrisiteit werk en ander stowe wat met gas werk.” Hy draai om na die vuur, trek sy skouers op en sê: “Ons gebruik hout.”
In hierdie opsig is daar baie ander wat in dieselfde omstandighede as Sampa se gesin verkeer. Uit elke 4 mense in die ontwikkelende wêreld is 3 van hout afhanklik as hulle enigste bron van brandstof vir kook- en verwarmingsdoeleindes. Maar daar is ’n ernstige houttekort.
Volgens die VLO (VN se Voedsel- en Landbou-Organisasie) is die omvang van die brandhoutkrisis waarlik baie ernstig. Ongeveer eenmiljard mense wat in ontwikkelende lande woon, staar ’n brandhouttekort in die gesig. As huidige tendense voortduur, kan hierdie syfer maklik teen die einde van die eeu verdubbel. ’n Verteenwoordiger van die VLO het gesê: “Dit is nutteloos om die wêreld se honger mense van kos te voorsien as hulle nie die middele het om dit mee gaar te maak nie.”
Waarom is daar ’n tekort?
Sedert die vroegste tye het die mens hout gebruik om vuur mee te maak. Die rede? Omdat hout so gerieflik is. Jy het nie duur toerusting of moderne tegnologie nodig om dit bymekaar te maak nie. Tensy dit oorbenut word, kan daar ’n konstante voorraad wees deur nuwe bome aan te plant. Wanneer hout vir kos en verwarming gebruik word, is stowe en verwarmers nie nodig nie. En hout is ideaal, omdat dit gratis en so beskikbaar soos die naaste boom is. Dit is maar eers gedurende die afgelope tweehonderd jaar wat die wêreld se welvarender nasies ander dinge, soos gas, steenkool en olie, begin gebruik het. Die res gebruik steeds hout.
Party deskundiges sê dat die kern van die hedendaagse probleem die buitengewone bevolkingsaanwas is. Namate die aantal mense vermeerder, word woude afgekap om nedersettings uit te brei, landbougrond te vergroot en hout vir nywerhede te voorsien sowel as om vuur mee te maak. Ontbossing wat teen ’n vinnige tempo geskied, kom in die ontwikkeling van byna elke land voor. Noord-Amerika en Europa het deur so ’n stadium gegaan.
Maar die hedendaagse bevolking neem teen ’n onrusbarende tempo toe. Daar is reeds ongeveer vyf en ’n half miljard mense op hierdie planeet. In ontwikkelende lande verdubbel die bevolking elke 20 tot 30 jaar. Namate die aantal mense vermeerder, neem die vraag na hout ook toe. Dit is asof die bevolking ’n reusagtige, woudetende monster met ’n onversadigbare eetlus geword het, ’n monster wat by die dag groter en hongeriger raak. Die voorraad brandhout word gevolglik verslind voor dit vervang kan word. Volgens die VLO kan meer as honderdmiljoen mense in 26 lande reeds nie genoeg brandhout kry om selfs in hulle mees basiese behoeftes te voorsien nie.
Maar nie almal wat in lande met ’n ernstige skaarste woon, word ewe veel daardeur geraak nie. Diegene wat dit kan bekostig, begin eenvoudig ander dinge, soos paraffien of vloeibare gas, gebruik. Die brandhoutkrisis is die armes se krisis, en hulle word al hoe meer.
Die uitwerking wat dit op mense het
In onlangse jare het die houtprys verdubbel, verdrievoudig en op party plekke het dit verviervoudig. Hedendaagse pryse hou aan styg namate gebiede rondom stede heeltemal ontbos word. In Asië en Afrika word baie stede nou deur gebiede omring wat feitlik heeltemal ontbos is. Party stede moet hout van plekke af kry wat meer as 160 kilometer daarvandaan is.
Stygende pryse vergroot die las van diegene wat reeds verskriklik arm is. Studies het getoon dat gesinne in die arbeidersklas in dele van Sentraal-Amerika en Wes-Afrika tot 30 persent van hulle totale inkomste aan brandhout bestee. Die rande moet gerek word sodat al die ander dinge—kos, klere, huisvesting en opvoeding—met die orige geld verkry kan word. In hulle geval is die gesegde waar wat sê dat “wat onder die pot is, meer kos as wat in die pot is”.
Hoe kom hulle klaar? Wanneer hout skaars of duur is, eet mense minder warm maaltye. Hulle koop goedkoop of minder kos, wat ’n minder gebalanseerde dieet tot gevolg het. Hulle kook hulle kos ook minder. Kieme en parasiete word nie vernietig nie, en die liggaam absorbeer minder voedingstowwe. Hulle kook nie hulle drinkwater nie. Hulle soek na enigiets wat sal brand.
Miljoene mense het oorgeslaan na vuurmaakgoed van ’n lae gehalte, soos strooi, stronke of droë dieremis. Waar hout duur is en mis nie, lyk dit ekonomies verstandig om mis op die vuur te sit pleks van dit in die landerye te gebruik. Hulle het dikwels geen ander keuse nie. Maar dit word ten koste van die grond gedoen, omdat dit van waardevolle organiese stowwe ontneem word. Mettertyd verloor die grond sy vrugbaarheid en droog dit uit.
Hoewel diegene wat op die platteland woon gewoonlik nie vir hulle hout hoef te betaal nie, veroorsaak die skaarste daaraan dat baie meer tyd bestee word om dit bymekaar te maak. In dele van Suid-Amerika bestee vroue 10 persent van hulle dag daaraan om hout bymekaar te maak. In party lande in Afrika is die hout wat in een volle dag bymekaargemaak word net genoeg vir drie dae se gebruik. Soms wys gesinne een kind aan om voltyds hout bymekaar te maak.
Die platteland word alte dikwels opgeoffer om aan die stad se eise te voldoen. Hout word baie vinniger afgekap en verkoop as wat dit groei. Die voorraad verminder dus en gesinne verhuis óf na die stede óf bestee meer tyd daaraan om vir hulle hout bymekaar te maak.
Gevolglik bestee miljoene mense meer tyd en geld daaraan om in hulle basiese behoefte aan vuurmaakgoed te voorsien. Wat is hulle ander keuse? Vir die armes beteken dit dat hulle minder eet, koud kry en saans geen lig het nie.
Wat gedoen word
’n Paar jaar gelede het die erns van die brandhoutkrisis internasionale aandag begin kry. Die Wêreldbank en ander instansies het geld in bosbouprojekte gestort. Hoewel nie al hierdie projekte geslaagd was nie, is baie daaruit geleer. Ondervinding het getoon dat die brandhoutkrisis nie net deur die aanplanting van meer bome opgelos kon word nie. Een probleem was dat beplanners soms nie die plaaslike mense se gevoelens in ag geneem het nie. In een land in Wes-Afrika het dorpenaars gevolglik die saailinge vernietig omdat dit op tradisionele weivelde geplant is.
Nog ’n struikelblok is dat herbebossing ’n langtermynprojek is. Dit kan tot 25 jaar neem voordat bome brandhout op ’n selfonderhoudende basis kan voorsien. Dit beteken dat daar ’n vertraging tussen die belegging en wins is. Dit beteken ook dat aanplanting niks doen om aan die huidige vraag te voldoen nie.
Baie lande is besig met herbebossingsprojekte. Maar sal hulle aan die toekomstige vraag voldoen? Bosboudeskundiges sê nee. Bome word baie vinniger afgekap as wat hulle vervang word. ’n Navorser van die Worldwatch-instituut skryf: “Ongelukkig ontbreek die politieke wilskrag en aanwending van fondse om die kringloop te verbreek wat ontbossing in baie tropiese dele van die Derde Wêreld bevorder het. Tans word slegs een [hektaar] bome aangeplant vir elke tien [hektaar] wat afgekap word. Die gaping is verreweg die grootste in Afrika, waar die verhouding tussen die bome wat afgekap word en díe wat aangeplant word nege-en-twintig tot een is. ’n Dertienvoudige vermeerdering in die hoeveelheid bome wat tans vir nie-industriële gebruik aangeplant word, is nodig om teen [die jaar] 2000 in die Derde Wêreld se verwagte brandhoutbehoeftes te voorsien.”
Vooruitsigte vir die toekoms
Talle opregte mense is vandag aktief daarby betrokke om die brandhouttekort te probeer oplos. Maar hulle voorspellings vir die toekoms is dikwels pessimisties. Navorsers van Earthscan skryf in hulle boek Fuelwood—The Energy Crisis That Won’t Go Away: “Al hierdie maatreëls saam [om die brandhoutkrisis te bekamp] sal nie die las van ’n brandhouttekort en stygende houtpryse op die armes heeltemal kan verlig nie.” Die VLO se handboek The Fuelwood Crisis and Population—Africa sê: “Enige poging om die probleem op te los sal min kans op sukses hê totdat die bevolkingsaanwas gestuit word.” Dieselfde publikasie toon egter dat die bevolking steeds sal aanwas “omdat môre se ouers meer is as vandag se ouers. Môre se ouers is reeds gebore.”
In teenstelling met sulke donker voorspellings toon Bybelprofesieë duidelik dat die Almagtige God se voorneme niks anders is as om hierdie aarde heeltemal tot ’n Paradys te herstel nie (Lukas 23:43). Hy het die vermoë om die ingewikkelde probleme met betrekking tot brandhout, die bevolking en armoede op te los.—Jesaja 65:17-25.
Is die toekoms besig om in rook op te gaan? Beslis nie! Dié profesie met betrekking tot ons liefdevolle Skepper sal binnekort in vervulling gaan: “U maak u hand oop en versadig alles wat lewe met welbehae.”—Psalm 145:16.
[Lokteks op bladsy 14]
‘Dit is nutteloos om kos te voorsien as hulle nie die middele het om dit mee gaar te maak nie’